Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/22 bl. 22-24
  • Newgrange—Meer vrae as antwoorde?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Newgrange—Meer vrae as antwoorde?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom is dit gebou?
  • Die raaisel van die steensnykuns
  • “’n Intellektueel gevorderde volk”
  • Die raaisel van die dolmens—Waarom, wanneer en hoe?
    Ontwaak!—1998
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Jesus lewe
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/22 bl. 22-24

Newgrange—Meer vrae as antwoorde?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND

IN DIE vroeë Ierse letterkunde word die plek Brú na Bóinne genoem, wat “die huis of statige woonplek van die Boyne” beteken. Vandag word daar in hierdie geheimsinnige gebied by ’n draai van die rivier Boyne, ongeveer 50 kilometer noord van Dublin, van die wêreld se oudste grafkelders opgegrawe. Een van hulle word Newgrange genoem. Niemand weet presies hoe oud dit is nie—hoewel party glo dat dit ouer is as die groot piramide van Giza in Egipte. Elke jaar met die wintersonstilstand stroom toeriste na Newgrange om ’n uiters skouspelagtige bewys van die vermoëns van die ou volke te sien.

Waarom is dit gebou?

Hierdie geheimsinnige monument moes ongetwyfeld baie belangrik vir die bouers gewees het. (Sien venster op bladsy 24.) Waarom het hulle soveel tyd, moeite en middele bestee? Waarom het hulle hierdie merkwaardige graf gebou?

Brú na Bóinne, of Brugh na Boinne, is blykbaar nie net as ’n heilige graf beskou nie, maar ook as ’n plek vir rituele aanbidding. Professor Michael O’Kelly, wat die terrein opgegrawe het, het gesê: “Die Brú is met die Dagda, die Goeie God; sy vrou, Boann en sy seun Oengus geassosieer; wat almal aan die Tuatha Dé behoort het, ’n volk wat Ierland glo voor die aankoms van die Gaele of Kelte bewoon het en wat daarna in die heuwels en forte van die feëwêreld van Ierland gaan skuil het. Hulle is . . . as bonatuurlike wesens beskou wat dade bo die krag van sterflike mense kon doen.”—Newgrange—Archaeology, Art and Legend.

Boann was die mitiese godin na wie die rivier Boyne vernoem is. Met die rivier aan drie kante van die grafheuwel het die bouers dalk geglo dat Boann die terrein teen onheil sou beskerm. Volgens die navorser Martin Brennan het hulle dalk ook gedink dat party van die gode werklik in die heuwel gewoon het. Trouens, hy sê dat die vroegste mitologie aangaande die heuwels daarop dui dat dit “as wonings van lewende gode beskou is wat daar gebore is”.—The Stars and the Stones.

Maar Newgrange was meer as net ’n graf vir die dooies en ’n woning vir die gode. Dit is een van die oudste monumente in die wêreld wat in lyn met die sterre opgestel is. Die argitekte het die lang gang en grafkelder noukeurig opgestel in lyn met die plek op die horison waar die son tydens die wintersonstilstand opkom. Toe het hulle ’n spesiale opening bo die ingang van die grafkelder gemaak. Gevolglik kon die strale van die opkomende son tot binne-in die graf skyn.

Selfs vandag nog kom toeriste elke wintersonstilstand by Newgrange byeen wanneer die sonlig 15 minute lank in die binnekamer inskyn. Clare Tuffy, bestuurderes van die Brú na Bóinne-besoekersentrum, het gesê: “Party mense glo dat die sonlig wat die heuwel diep binnedring, ’n soort huwelik tussen die moedergodin en die songod voorgestel het en dat die mense van daardie tyd gedink het dat dit die grond vrugbaar sou maak.”

Die raaisel van die steensnykuns

Sover ons weet, het die geheimsinnige grafbouers geen geskrewe verslae nagelaat nie. Maar hulle het hulle merk gelaat in die vorm van ’n paar buitengewone steensnykunswerke. Hulle het spirale, chevrons, reghoeke, driehoeke, geboë lyne, sirkels en ander vorms gegraveer, deur waarskynlik net ’n stuk vuursteen of kwarts en ’n kliphamer te gebruik. Brennan noem hierdie erfenis van Ierland “die grootste versameling megalitiese kuns in die wêreld”.

Party voel dat die kriptiese snywerk geïnterpreteer kan word en dat dit ’n deeglike kennis van die sterrekunde weerspieël. Brennan meen dat dit son- en maanaktiwiteit uitbeeld. “Dit is moontlik dat . . . beide die heuwels en die simbole aan die son en maan gewy was”, sê hy. “Net hierdie bevestiging verduidelik al grotendeels baie oor die kuns.” Maar ander deskundiges stem saam met O’Kelly, wat vroeër aangehaal is en geskryf het dat die snywerk “iets moes beteken het vir diegene wat dit gesien het, maar dat ons waarskynlik nooit sal weet wat daardie betekenis was nie. Dit moet deel van die raaisel bly wat met die Brú of statige woonplek van die eertydse gode verband hou.”

“’n Intellektueel gevorderde volk”

Dit lyk dalk of Newgrange net vrae sonder enige antwoorde is. Die geheimsinnigheid wat die grafbouers van Brú na Bóinne omhul, bly grootliks ’n raaisel. Maar ten minste is een ding seker. Die bouers was glad nie barbare nie. Trouens, O’Kelly het gesê dat die argitekte, kunstenaars en vakmanne van Newgrange “op ’n hoë kulturele vlak moes gewees het”. Die skrywer Peter Harbison sê dat die bouers “nie naastenby die primitiewe, barbaarse grotmense was soos gewilde legendes toon nie . . . Hulle was ’n intellektueel gevorderde volk.”

Ons weet nou wel nie wie Newgrange by Brú na Bóinne gebou het nie. Tog lewer dit sprekende bewys van die vindingrykheid en intelligensie van sy eertydse argitekte en bouers—wie hulle ook al was.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Die bouers en die gebou

Wat weet ons omtrent die bouers van Newgrange? “Baie min”, het Clare Tuffy gesê, bestuurderes van die Brú na Bóinne-besoekersentrum. “Maar ons het ’n paar dinge geleer. Ons weet dat hulle landbouers was. Hulle was ook ryk—hulle moes gewees het om die middele te hê om só ’n indrukwekkende grafkelder te bou. En hulle het geen metaalgereedskap gehad nie.”

Met ontsaglike klipblokke wat tot tien ton weeg, het die bouers ’n gang gebou wat ongeveer 19 meter lank, 2 meter hoog en wyd genoeg is sodat ’n man met gemak daardeur kan loop. Die gang lei na ’n ses meter wye grafkelder met drie alkowe. Die gang en die kelder is in die vorm van ’n lang kruis.

Oor hierdie grafkelder het hierdie vernuftige bouers ’n gewelfde dak van ses meter met ander massiewe klippe gebou sonder om messelklei te gebruik. Hulle het toe bo-op die grafkelder ’n massiewe heuwel gebou wat ongeveer 80 meter in deursnee en 12 meter hoog was. Hulle het ook ’n steunmuur van groot klippe gebou en die voorkant daarvan met kwartsklippies bedek. Rondom die kant van die heuwel het hulle 97 enorme randstene gelê, wat elk twee tot vyf ton weeg. Op een stadium in die verlede was die randstene en die ingang na die graf met grond bedek. In 1699 het ’n werker wat na klippe gesoek het, onverwags op die ingang afgekom, en hierdie antieke grafingang is weer ontdek.

[Prent]

Ingang tot Newgrange-gang

[Kaart op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Newgrange

DUBLIN

[Prente op bladsy 23]

Bo: Elke jaar gedurende die wintersonstilstand skyn sonlig ongeveer 15 minute lank in die binnekamer in

Onder: Grafkelder van die binneste gedeeltes af; let op die drie spirale wat in die klip gegraveer is

[Erkenning]

Al die prente op bladsye 22-3, behalwe die kaart: Dúchas, The Heritage Service, Ireland

[Prent op bladsy 24]

Megalitiese heuwel en graf

[Erkenning]

Dúchas, The Heritage Service, Ireland

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel