Die raaisel van die dolmens—Waarom, wanneer en hoe?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NEDERLAND
‘WAT is ’n dolmen?’ vra jy dalk. Dit is ’n prehistoriese terrein wat bestaan uit twee of meer swaar, regopstaande klippe met ’n dekklip, wat gewoonlik ’n kamer vorm en oor die algemeen as ’n grafkelder gebruik word. Hulle word hoofsaaklik in westelike, noordelike en suidelike Europa gevind.
In die Nederlandse provinsie Drenthe is dolmens gewoonlik in aantreklike, skilderagtige gebiede geleë. Die bekende skilder Vincent van Gogh het in een van sy briewe geskryf: ‘Drenthe is so mooi dat ek dit liewer nie moes gesien het as ek nie vir altyd hier kan bly nie.’ Natuurliefhebbers sowel as diegene wat in argeologie belangstel, kry alles waarna hulle verlang wanneer hulle die dolmens in Drenthe besoek.
Maar waarom moet ons in ou versamelings klippe belangstel? Een antwoord is nuuskierigheid. Waarom sou volke van die ou tyd soveel moeite doen om hierdie geweldige swaar klippe te beweeg en te vorm en op te lig? Party klippe weeg tonne. En in daardie tye het hulle nie moderne krane gehad om die klippe op te lig nie! Wat kan ons dus aangaande dolmens uitvind?
Megalitiese monumente
Dolmens word as megalitiese monumente geklassifiseer (“megaliet”, uit Grieks, beteken “groot klip”). Jy weet dalk van die menhirs in Frankryk, wat afgelei is van ’n Bretonse woord wat “lang klip” beteken. Die Baleariese eiland Minorka het megaliete wat as taulas (tafels) bekend staan en uit ’n swaar klipplaat bestaan wat horisontaal op ’n vertikale klip geplaas is en dus ’n massiewe T vorm.
Mense word steeds geboei deur Stonehenge, in Engeland, ’n sirkel van baie groot klippe, waarvan party tot 50 ton weeg. Ongeveer 80 blousteenpilare is meer as 380 kilometer vanaf die Preseliberge in Wallis vervoer. Volgens die boek Mysteries of Mankind—Earth’s Unexplained Landmarks van die National Geographic Society “vermoed geleerdes dat die monument [Stonehenge] . . . ’n tempel was wat moontlik die ewige, sikliese bewegings van die son, maan en sterre deur die hemelruim weerspieël het, maar geen ander nut gehad het nie”.
’n Dolmen van vandag is net ’n geraamte van ’n grafmonument, aangesien die reusagtige rotse oorspronklik onder ’n hoop sand of grond begrawe was. Ontdekkings het onthul dat die dolmen ’n gemeenskaplike grafkelder was. Sommige bewyse dui daarop dat meer as honderd mense in een spesifieke dolmen begrawe is—dit was feitlik ’n begraafplaas!
In Nederland is 53 dolmens tot in ons dag bewaar; 52 van hulle is in die provinsie Drenthe geleë. Dit is merkwaardig dat hulle nie willekeurig opgerig is nie, maar die meeste is van oos na wes opgestel, met die ingang aan die suidekant, wat moontlik iets te doen het met die seisoenposisies van die son. Die bouers van die ou tyd het vertikale steunrotse en groot dekklippe gebruik, terwyl die openinge tussen die rotse met stukke klip toegemaak is. Die vloer is met klip geplavei. Die grootste dolmen in Nederland, naby die dorpie Borger, is 22 meter lank en bestaan nog uit 47 rotse. Een van die dekklippe is ongeveer drie meter lank en weeg 20 ton! Dit alles laat ’n aantal vrae ontstaan.
Wanneer is hulle gebou? Deur wie, hoe en waarom?
Antwoorde op sulke vrae is baie vaag omdat daar geen geskrewe geskiedenis uit Europa van daardie tyd is nie. Dit is dus gepas om na dolmens te verwys as raaiselagtige monumente. Wat weet ons dan van hulle? Watter bewerings word altans gemaak?
In 1660 het “dominee” Picardt, van die stadjie Coevorden, in Drenthe, tot die gevolgtrekking gekom dat hulle deur reuse gebou is. Mettertyd het plaaslike owerhede in hierdie grafte begin belangstel. Omdat die klippe gebruik is om dyke te versterk sowel as om kerke en huise te bou, het die Landskapsadministrasie van Drenthe op 21 Julie 1734 ’n wet uitgevaardig om die dolmens te beskerm.
Eers in 1912 is verskeie dolmens deeglik deur deskundiges ondersoek. Potskerwe (stukke erdewerk), gereedskap (flintbyllemme, -pylpunte) en versiersels, soos amberkrale, is in dolmens gevind, maar daar was min oorblyfsels van geraamtes, aangesien dit nie goed bewaar is in die sanderige grond nie. Soms is potskerwe van tot 600 houers gevind. As ons aanneem dat daar twee of drie houers voedsel vir elke dooie mens was, was ’n hele aantal mense in party grafkelders begrawe.
Wetenskaplikes beweer dat die dolmens met swerfklippe uit Skandinawië gebou is wat gedurende ’n oerystyd deur gletsers vervoer is. Daar word aangevoer dat die bouers boere was van wat die “Tregterbeker”-kultuur genoem word, wat so genoem is weens die kenmerkende tregtervormige bekers wat gevind is.
Een teorie oor die boumetode sê: “Die swaar rotse is waarskynlik op houtrollers gesit en met behulp van leertoue getrek. ’n Helling van sand en klei is vermoedelik gebou om die dekklippe bo te kry.” Maar niemand is werklik seker hoe dit gedoen is nie. Waarom is die dooies nie net op die gewone manier begrawe nie? Watter begrip het die bouers van lewe na die dood gehad? Waarom is artefakte in die grafte gelaat? Navorsers kan slegs gis oor die antwoorde. Omdat die dolmens lank gelede gebou is, is dit nie moontlik om presies te sê wanneer, deur wie, waarom en hoe nie.
Wanneer die dooies op God se bestemde tyd opgewek word, sal diegene wat terugkeer dalk van hierdie vrae kan beantwoord (Johannes 5:28; Handelinge 24:15). Dolmenbouers sal dan uiteindelik kan bekend maak wanneer hulle gelewe het, wie hulle was, waarom hulle hulle indrukwekkende monumente gebou het en hoe hulle dit gedoen het.
[Prent op bladsy 25]
’n “Taula” in Minorka, Spanje
[Prent op bladsy 25]
Dolmen naby Havelte, Nederland
[Prente op bladsy 26, 27]
Stonehenge, Brittanje
Onder: Die Groot Dolmen, naby Borger, Nederland
[Prent op bladsy 26]
’n Herboude dolmen naby die dorpie Schoonoord, Nederland, wat die grondhoop en blootgestelde klippe wys
[Prent op bladsy 27]
Lang graf in Emmen (Schimmeres), Nederland