Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/22 bl. 19-21
  • Hoe word jy telefonies verbind?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe word jy telefonies verbind?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verbind deur ’n telefoonnetwerk
  • Kabels oor die oseaan
  • Onsigbare kabels verbind verafgeleë plekke
  • Kan jy die verskil hoor?
  • Suksesvolle telefoongetuieniswerk
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Telefoongetuieniswerk kan doeltreffend wees
    Ons Koninkryksbediening—2009
  • Hoe is jou telefoon-maniere?
    Ontwaak!—1996
  • Telefoon-getuieniswerk—’n Manier om baie mense te bereik
    Ons Koninkryksbediening—1993
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/22 bl. 19-21

Hoe word jy telefonies verbind?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

IN Japan, ’n land met ongeveer net soveel telefone as mense, word meer as 300 miljoen telefoonoproepe elke dag gemaak. Japan ontvang ook sowat eenmiljoen internasionale oproepe elke dag, en ongeveer dieselfde aantal oorsese telefoonoproepe word gemaak.

Jy gebruik waarskynlik ook amper elke dag die telefoon—hetsy ’n gewone telefoon (vaste lyn) of ’n selfoon. Namate die wêreld meer gemoderniseer word, word dit vir baie mense iets alledaags om iemand op ’n ander vasteland te bel. Maar het jy al ooit gewonder hoe jou telefoon verbind word met die telefoon van die persoon aan die ander kant van die lyn?

Verbind deur ’n telefoonnetwerk

Eerstens moet jou telefoon met ’n telefoonnetwerk verbind wees. As jy die draad volg wat aan ’n gewone telefoon verbind is, sal dit jou na ’n modulêre klink of ’n aansluitkas lei, wat met die bedrading in jou huis verbind is.a As jy die draad verder volg, sal jy vind dat hierdie lyn met ’n kabel, aan ’n elektriese paal of onder die grond, verbind is wat na ’n telefoonsentrale in ’n plaaslike telefoonkantoor gaan. Hierdie sentrale is weer met ’n groter sentrale verbind, wat sodoende ’n telefoonnetwerk vorm. Wanneer jy dus ’n vriend in dieselfde dorp bel, word ’n telefoonverbinding deur ’n netwerk tussen jou telefoon en jou vriend s’n bewerkstellig.

Wat gebeur in die geval van ’n sellulêre telefoon? Hoe word dit verbind? Die beginsel bly dieselfde as met die gewone telefoon. ’n Onsigbare “draad”, naamlik ’n radiogolf, verbind jou sellulêre telefoon met ’n nabygeleë mobiele telefoonsentrale wat met ’n telefoonnetwerk verbind is. Maar sê nou jy praat met iemand op ’n ander vasteland?

Kabels oor die oseaan

Dit is ’n reusetaak om twee vastelande wat deur ’n oseaan geskei word, met ’n kabel te verbind. Dit vereis dat ’n kabel van duisende kilometer onder die see gelê moet word en dat ondersese trôe en berge gekruis moet word. Tog is dit hoe interkontinentale telekommunikasie begin het. Die heel eerste transatlantiese ondersese telefoonkabel is in 1956 voltooi.b Dit het Skotland met Newfoundland verbind en het 36 telefoonverbindings gehad. In 1964 is die eerste kabel oor die Stille Oseaan tussen Japan en Hawaii gelê. Daardie kabel het 128 telefoonverbindings gehad. ’n Aantal ander ondersese kabels is later gelê, wat vastelande en eilande verbind het.

Watter soort kabels word op die seebodem vir telefoonverbindings gelê? Aanvanklik is koaksiale kabels met koper as geleidraad en koper- of aluminiumfoelie as geleiomhulsel algemeen gebruik. Een van die laaste koaksiale kabels is in 1976 gelê, en dit het die kapasiteit gehad om tot 4 200 telefoonverbindings te hanteer. Maar in die 1980’s het optieseveselkabel beskikbaar geword. Die eerste interkontinentale kabel wat hiervan gemaak is, en in 1988 gelê is, kon met behulp van digitale tegnologie 40 000 telefoongesprekke gelyktydig hanteer. Sedertdien is die kapasiteit van kabels vergroot. Party transatlantiese kabels kan 200 miljoen telefoonverbindings hanteer!

Hoe word telekommunikasiekabels onder die water gelê? Hulle word op die seevloer geplaas en loop al langs die seebodem. Naby die kus word die kabel deur ’n soliede omhulsel beskerm en in ’n sloot geplaas wat deur ’n afstandbeheerde voertuig gegrawe word. Die omhulsel beskerm die kabel teen skade deur ankers of visnette. Wanneer jy dus jou vriend op ’n ander vasteland bel, dra een van hierdie kabels jou stem oor die diepsee.

Onsigbare kabels verbind verafgeleë plekke

Maar ’n ondersese kabel is nie die enigste manier om vastelande en eilande te verbind nie. ’n Onsigbare “draad”—’n radiogolf—word ook dikwels gebruik. Hierdie soort golf, wat ook ’n mikrogolf genoem word, verbind verafgeleë plekke vir internasionale telekommunikasie. Aangesien ’n mikrogolf soos ’n dun ligstraal in ’n reguit lyn beweeg, kan dit slegs plekke verbind wat in die gesigslyn is. Weens die kromming van die aarde se oppervlak kan plekke aan die ander kant van die aarde nie direk verbind word nie. Satellietkommunikasie moet gebruik word om sulke verafgeleë plekke te verbind.

As ’n satelliet bo die ewenaar op ’n hoogte van ongeveer 35 800 kilometer geplaas word, wat as die geostasionêre baan bekend staan, neem dit ongeveer 24 uur om rondom die aarde te wentel—dieselfde as die aarde se omwentelingstyd. Gevolglik bly dit bo feitlik dieselfde streek van die aarde. Aangesien hierdie satelliet ’n streek kan sien wat ’n derde van die aarde dek, kan aardstasies—plekke wat mikrogolwe stuur en ontvang—in hierdie streek met die satelliet kommunikeer. Hoe kan twee verafgeleë plekke dan deur ’n satelliet met mekaar verbind word?

’n Aardstasie wat in die gebied is wat deur ’n satelliet gedek word, stuur ’n mikrogolfsein na die satelliet. Wanneer dit die golf ontvang, verlaag ’n radioversterker, of ’n antwoordsender, op die satelliet eenvoudig die frekwensie en word dit weer uitgestuur sodat dit deur ’n ander aardstasie opgevang kan word. Sodoende kan twee aardstasies wat nie direk met mekaar kan kommunikeer nie, deur middel van ’n onsigbare draad via ’n satelliet verbind word.

Die eerste kommersiële kommunikasiesatelliet, INTELSAT 1, wat ook as Early Bird bekend gestaan het, is in 1965 gelanseer. Nou verbind ongeveer 200 kommunikasiesatelliete, waarvan die meeste geostasionêr is, plekke regoor die wêreld. Hierdie satelliete word nie net vir internasionale telekommunikasie gebruik nie, maar ook vir televisieuitsendings, weerwaarneming en ander doeleindes. Hierdie satelliete het baie antwoordsenders en kan meerkanaalverbindings bewerkstellig. Die Early Bird kon byvoorbeeld een televisieverbinding of 240 telefoonverbindings gelyktydig herlei. Die INTELSAT VIII-reeks, wat sedert 1997 in gebruik is, kan drie televisieuitsendings en tot 112 500 telefoonverbindings gelyktydig hanteer.

Kan jy die verskil hoor?

Al hierdie veranderinge het die koste van internasionale telefoonoproepe drasties verminder. Miskien kan jy nou meer dikwels met jou vriende en familie op ’n ander vasteland gesels. Hoe weet jy of jy deur middel van ’n ondersese kabel of ’n satelliet verbind is?

Met ’n satellietverbinding is die lengte van die onsigbare draad (wat die transmissie na en van die satelliet insluit) ongeveer 70 000 kilometer. Dit is amper gelyk aan twee keer die afstand om die aarde. Hoewel mikrogolwe so vinnig soos ’n ligstraal beweeg, neem dit hulle amper ’n kwartsekonde om die afstand van een aardstasie na ’n ander via ’n satelliet af te lê. Dit beteken dat jou stem die ander persoon ’n kwartsekonde later bereik, en dit geld ook vir die teenoorgestelde rigting. Daar is dus ’n vertraging van ’n halwe sekonde. Omdat jy nie gewoond is aan hierdie vertraging in alledaagse gesprekke nie, sal jy dalk vind dat jy begin praat terwyl die ander persoon nog praat. As dit al met jou gebeur het, kan dit beteken dat jy via ’n satellietverbinding praat. Maar wanneer jy op ’n volgende keer dieselfde nommer skakel, is daar dalk geen vertraging nie. Dit is miskien omdat jy nou deur middel van ’n ondersese optieseveselkabel verbind is. Die keuse van hoe om jou met die ander deel van die wêreld te verbind, word agter die skerms deur ’n ingewikkelde telefoonnetwerk gedoen.

Die kundigheid en harde werk van baie mense is nodig om die ingewikkelde telefoonnetwerk van ondersese kabels, aardstasies en satelliete in stand te hou wat kommunikasie vir ons so maklik maak. Wanneer jy dus weer ’n vriend bel, kan jy gerus dink aan alles wat gedoen is om julle te verbind.

[Voetnote]

a Aangesien daar altyd ’n sekere elektriese stroomspanning in telefoondrade is, wat toeneem wanneer die telefoon lui, is dit gevaarlik om aan die binnekant van ’n aansluitkas of die metaaldele wat daaraan gekoppel is, te raak.

b ’n Telegraafkabel is in 1866 oor die Atlantiese Oseaan tussen Ierland en Newfoundland gelê.

[Diagram/Prente op bladsy 20, 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

RADIOGOLWE

Transmissie na satelliet

Transmissie na aardstasie

[Diagram/Prente op bladsy 20, 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ONDERSESE KABELS

Sellulêre telefoon

[Prent op bladsy 20]

Moderne optieseveselkabels kan 200 miljoen telefoon- verbindings hanteer

[Prent op bladsy 21]

Bemanningslede van die pendeltuig werk aan die INTELSAT VI

[Erkenning]

NASA photo

[Prent op bladsy 21]

Skepe lê die kabels en hou hulle in stand

[Erkenning]

Courtesy TyCom Ltd.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel