Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/8 bl. 20-22
  • Skilder met woorde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skilder met woorde
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is digkuns?
  • ’n Manier om elke emosie oor te dra
  • Gedigte help die geheue
  • Wil jy graag gedigte skryf?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
  • Spreuke 17:17 – “Die vriend het altyd lief”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Ek dien die allergrootste kunstenaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wat is die Bybel?
    Antwoorde op Bybelvrae
Ontwaak!—2001
g01 6/8 bl. 20-22

Skilder met woorde

DIGTERS is ’n kombinasie van kunstenaar en liedjieskrywer. Hulle pen word net soveel deur hulle hart as deur hulle verstand aangedryf. Gevolglik kan goeie gedigte jou inspireer. Dit kan jou ook laat dink, lag of huil. Die boek The Need for Words sê: “Gedigte is dikwels niks anders as woorde wat gerangskik is om ’n groot, skielike impak te hê nie. Dit is deels die rede waarom meesterlike gedigte . . . in elke opsig onvergeetlik is.”

Pragtige gedigte is selde die werk van ’n ligsinnige verstand. Gedigte word al lank geassosieer met wat die meeste in die lewe saak maak—verhoudinge, liefde, geestelikheid, die natuur en die betekenis van die lewe. Dit is dus glad nie verbasend dat die digkuns een van die oudste kunsvorme is nie. ’n Beroemde digter wat digkuns met prosa (gewone skryftaal) vergelyk het, het gesê dat as albei vorme gebruik is om dieselfde onderwerp te beskryf en albei ewe goed geskryf is, “sal die gedig ’n honderd keer gelees word, terwyl die prosastuk net een keer gelees word”.

Maar soos jy seker al opgemerk het, is daar verskillende soorte gedigte. Dit rym of rym dalk nie. Soms kom dit selfs ’n bietjie met prosa ooreen. So, presies wat is digkuns?

Wat is digkuns?

The Macquarie Dictionary definieer digkuns as “die kuns van ritmiese komposisie, hetsy dit geskryf of voorgedra word, om plesier te verskaf deur die gebruik van pragtige, verbeeldingryke of verhewe gedagtes” en as ’n “letterkundige werk in metriese vorm; verskuns”. Let op die twee belangrike elemente van digkuns—ritme en versmaat. Ritme is deel van die wêreld om ons. Ons sien dit in die seegetye, in die seisoene en selfs in ons hartklop. In die digkuns is ritme die vloei van klank wat deur die taal voortgebring word; ons besef dat iets herhaal word terwyl ons dit lees. Versmaat is die patroon van ritme, en dit verskil dalk van gedig tot gedig. ’n Ander gewilde tegniek wat digters gebruik, is rym. Die dele wat rym, is gewoonlik die laaste woorde in ’n versreël. Die rympatroon kan natuurlik wissel. Soms verskyn die rymwoord onmiddellik in die volgende versreël, of dit kom dalk eers later.

Japannese haikoe, wat nie op rym staatmaak nie, is daarvoor bekend dat dit pragtige gedagtes met verbasende bondigheid oordra. Dit vat ’n gedagte in net drie reëls saam wat uit 17 lettergrepe bestaan—5 in die eerste en derde reël en 7 in die tweede.a Vir baie, selfs vir kleuters, is die prag en eenvoud van haikoe ’n aangename inleiding tot die digkuns.

Gedigte is tradisioneel daarvoor bekend dat dit ’n aansienlike hoeveelheid gedagtes in ’n paar woorde kan saamvat. The World Book Encyclopedia sê dat poëtiese woorde “baie meer voorstel as wat dit sê. Dit prikkel jou verbeelding . . . Die taal in gedigte is propvol betekenis, en die betekenis van ’n enkele woord kan jou op ’n verbeeldingsvlug stuur, wat die hele gedig in jou verbeelding laat vorm aanneem.” Jy sal natuurlik party gedigte ’n paar keer moet lees voordat hulle in jou verstand “vorm aanneem” en jou in staat stel om die sin daarvan te begryp.

Om die gewenste effek te skep, kies digters hulle woorde soos wat ’n juwelier sy edelstene kies. Koning Salomo van Israel, ’n skrywer van spreuke en liedere, “het gepeins en ’n deeglike ondersoek ingestel” sodat hy “welgevallige woorde” en “korrekte woorde van waarheid” kon vind.—Prediker 12:9, 10, NW; 1 Konings 4:32, NW.

Salomo en sy vader, Dawid, het in die gewone Hebreeus van hulle dag geskryf. Hebreeuse gedigte, wat dikwels met musiekbegeleiding gesing is, maak nie op rym staat nie. Dit is eerder bekend vir die ritme van gedagtes of idees—’n letterkundige vorm wat parallelisme genoem word. Die versreëls kan sinonieme wees, of dit skets dalk teenstellende gedagtes (Psalm 37:6, 9). Die tweede versreël brei gewoonlik uit op die gedagte van die eerste versreël deur iets nuuts by te voeg. Kyk hoe dit in Psalm 119:1 (NW) gedoen word:

Gelukkig is dié wat onberispelik is in hulle weg,

Dié wat in die wet van Jehovah wandel.

Let op hoe die tweede versreël verduidelik wat dit beteken om onberispelik te wees, naamlik om in die wet van Jehovah te wandel. Omdat Bybelse Hebreeus parallelisme, of betekenisvolle ritme, gebruik en nie rym nie, word dit makliker vertaal.b

’n Manier om elke emosie oor te dra

Tesame met musiek is gedigte ’n uitstekende manier om ’n groot verskeidenheid emosies oor te dra. Let op hoe Adam terselfdertyd uiting gee aan sy louter vreugde en die gevoel van geduld wat beloon is toe Jehovah Eva na hom toe gebring het in die tuin van Eden:

Dit is eindelik been van my gebeente

En vlees van my vlees.

Sy sal Mannin genoem word,

Want sy is uit die man geneem.

—Genesis 2:23, NW.

Wat werklik merkwaardig omtrent hierdie gedeelte is, is hoe baie dit in letterlike en emosionele sin in net ’n paar reëls oordra—ekonomiese woordgebruik wat selfs duideliker in die oorspronklike taal is. Die poëtiese boeke Job, Psalms, Spreuke en Klaagliedere gee eweneens ’n indrukwekkende verskeidenheid emosies weer en leer ons boonop lewensbelangrike geestelike waarhede. Trouens, in die oorspronklike Hebreeuse taal begin die eerste psalm met die woord “gelukkig” of “geseënd”. Hoe sou jy die gevoelens van die skrywer in die volgende woorde van Psalm 63:1 (NW) beskryf? Let op die ryk beeldspraak, ’n uitstaande kenmerk van Hebreeuse digkuns.

O God, u is my God, ek bly u soek.

My siel dors na u.

Na u het my vlees met verlange gesmag

In ’n dor en uitgeputte land, waar daar geen water is nie.

Die boek Klaagliedere gee eweneens ’n ander emosie weer. Daarin betreur Jeremia die onheil wat Jerusalem in 607 v.G.J. getref het toe die Babiloniërs dit aangeval het. Hy stort sy hart in vyf liriese treurliedere uit wat die profeet se droefheid toon, maar ook sy bewustheid dat Goddelike geregtigheid geseëvier het.

Gedigte help die geheue

Weens die kenmerkende eienskappe van gedigte, is dit dikwels maklik om te memoriseer. Die oudste Griekse gedigte wat behoue gebly het, die Ilias en die Odussee, is uit die hoof voorgedra by Griekse feeste—nogal ’n prestasie as ’n mens dink hoe lank hierdie epiese werke is! Talle Bybelse psalms is blykbaar ook gememoriseer. Kyk hoe beeldspraak, eenvoud en onweerlegbare logika deur die ritme van die volgende reëls in Psalm 115:4-8 (NW) oorgedra word, waarin die dwaasheid van afgodediens uitbeeld word:

Hulle afgode is silwer en goud,

Die handewerk van die mens.

’n Mond het hulle, maar hulle kan nie praat nie;

Oë het hulle, maar hulle kan nie sien nie;

Ore het hulle, maar hulle kan nie hoor nie.

’n Neus het hulle, maar hulle kan nie ruik nie.

Hande het hulle, maar hulle kan nie voel nie.

Voete het hulle, maar hulle kan nie loop nie;

Hulle uiter geen geluid met hulle keel nie.

Dié wat hulle maak, sal net soos hulle word,

Almal wat op hulle vertrou.

Die meeste mense sal dit ongetwyfeld maklik vind om so ’n beskrywende, kragtige gedeelte te onthou.

Wil jy graag gedigte skryf?

Van kinderrympies tot klingelrympies in advertensies is digkuns ’n deel van ons lewe. Gevolglik is die meeste mense vertroud met ten minste die basiese beginsels van digkuns. Maar as jy self gedigte wil skryf, sal jy dalk eers ’n groot verskeidenheid gedigte wil lees. Dit sal jou help begryp wat die verskillende beginsels van komposisie is en boonop jou woordeskat uitbrei. Jy moet natuurlik selektief wees sodat jy jou nie aan enigiets blootstel wat skadelik of verdorwe is nie (Filippense 4:8, 9). Die beste manier om gedigte te leer skryf, is natuurlik om met ’n pen en papier te gaan sit en te begin skryf.

Mettertyd sal jy dalk selfs gedigte vir die genot van familie en vriende kan skryf. Waarom probeer jy nie jou gedagtes in ’n gedig uitdruk wanneer jy vir iemand ’n dankiesê- of word-gou-gesond-kaartjie stuur nie? Jou gedig hoef nie lank of uitsonderlik te wees nie. Skryf net ’n paar reëltjies oor wat in jou hart is. Die uitdaging sal jou nie net plesier verskaf en ’n gevoel van tevredenheid gee nie, maar sal ook die ontvanger ongetwyfeld verbly wanneer hy of sy sien hoeveel moeite jy gedoen het om jou gedagtes op só ’n verbeeldingryke en opregte manier te stel.

Jy hoef nie ’n begaafde digter te wees om dit te geniet om gedigte te skryf nie, net so min as wat jy ’n bedrewe kok moet wees om genot te put uit die voorbereiding van ’n maaltyd. Meng gelyke hoeveelhede begeerte, verbeelding, inspanning en deursettingsvermoë met die verborge digter in jou, en jy sal dalk aangenaam verras wees oor wat jy met woorde kan skilder.

[Voetnote]

a Sien asseblief die Ontwaak! van 8 Januarie 1989 vir ’n bespreking oor haikoe.

b Ontwaak! word in 83 tale vertaal. Daarom het ons besluit om eerder Bybelse, as nie-Bybelse, gedigte as voorbeelde in hierdie artikel te gebruik.

[Prent op bladsy 21]

’n Groot deel van die Hebreeuse Geskrifte bestaan uit gedigte

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel