Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/22 bl. 14-15
  • Die Dalmatin-Bybel—Skaars maar nie vergete nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Dalmatin-Bybel—Skaars maar nie vergete nie
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe hy ’n vertaler geword het
  • Dalmatin se vroeë agtergrond
  • Vertaling begin
  • Struikelblokke wat oorkom moes word
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Die hardwerkende Carnica-by
    Ontwaak!—2004
  • ’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/22 bl. 14-15

Die Dalmatin-Bybel—Skaars maar nie vergete nie

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SLOWENIË

DIE laaste van die vate met hulle kosbare inhoud het in die laat 1500’s in Slowenië aangekom. Hulle is twee jaar lank op verskillende roetes vervoer. Die vate is gemerk “speelkaarte” of “winkelvoorraad” om die inhoud geheim te hou. Binne-in die vate was bundels met leeromslae van die eerste volledige Bybel in Sloweens versteek.

Die kosbare besending was die vervulling van ’n droom vir twee toegewyde mans—Joeri Dalmatin en Primoz Troebar, wat hulle lewe gewy het aan die vertaling van die Bybel in die omgangstaal van hulle volk. Hoewel hierdie mans se prestasie dalk nie in baie geskiedenisboeke opgeteken is nie, kan hulle name gevoeg word by die lys van diegene wat ’n groot bydrae tot vroeë Bybelvertaling gelewer het.

Dalmatin, die man wat vir die geheime versending van die Bybels verantwoordelik was, het ’n spesiale eksemplaar wat ryklik versier en mooi gebind was, vir Troebar, sy vriend en raadgewer, ingesluit. Kom ons kyk na van die uitdagings waarvoor hierdie twee mans te staan gekom het om die Bybel in die omgangstaal van hulle landgenote beskikbaar te maak.

Hoe hy ’n vertaler geword het

In die 16de eeu het die Heilige Romeinse Ryk, wat hegte bande met die Rooms-Katolieke Kerk gehad het, nog ’n groot invloed op die grootste deel van Europa uitgeoefen. Die Protestantse Hervorming was egter besig om momentum te kry, en die invloed van die beweging is gevoel in die stede en dorpe van wat vandag Slowenië is. Troebar, ’n plaaslike geestelike, was onder die eerstes wat Protestantse oortuigings aangeneem het.

Aangesien Latyn die taal van die Katolieke Kerk was, kon net ’n paar bevoorregte mense wat in daardie ou taal onderrig is, die kerkdienste en die Bybel verstaan. Die Hervormers het egter gesê dat kerkdienste in ’n taal gehou moet word wat almal verstaan. Teen die middel van die 16de eeu is ’n paar uittreksels uit die Bybel gedurende kerkdienste in alledaagse Sloweens gelees. Dit was moontlik omdat die Sloweense ekwivalent van sekere tekste in die kantlyn geskryf was van die Latynse misboek wat die geestelikes gebruik het.

Troebar wou egter die hele Bybel in Sloweens gehad het. Aangesien daar toe nog nie ’n Sloweense alfabet was nie, moes Troebar een saamstel, en in 1550 het hy die eerste boek geskryf wat in Sloweens gedruk is. Daarin het hy sekere Bybeltekste uit Genesis ingesluit. Later het hy ook die Psalms in Sloweens vertaal en uiteindelik die hele Nuwe Testament, of Christelike Griekse Geskrifte.

Maar Troebar het besef dat hy nie die taalvaardighede gehad het om sy ambisie te verwesenlik om die hele Bybel in Sloweens te vertaal nie. In Joeri Dalmatin, ’n begaafde jong student, het hy iemand gesien wat hom kon help om sy doelwit te bereik.

Dalmatin se vroeë agtergrond

Dalmatin, die seun van ’n arm gesin, is in omstreeks 1547 gebore in ’n dorpie wat vandag in suidelike Slowenië geleë is. As ’n seun het hy na die plaaslike skool gegaan waar die skoolhoof ’n vroeë bekeerling tot Protestantisme was, en dit het sy latere godsdienssienings grootliks beïnvloed. Met die ondersteuning van Troebar, asook ’n skoolonderwyser en die plaaslike gemeente het Dalmatin ’n kerkskool bygewoon en later na ’n universiteit in Duitsland gegaan. Dit het hom in staat gestel om sy Latyn en Duits te vervolmaak, Hebreeus en Grieks te leer en sy studies in die filosofie en teologie te voltooi.

Hoewel Dalmatin in die buiteland gestudeer het, het Troebar hom aangemoedig om sy moedertaal, Sloweens, te koester en sy kennis daarvan te verbreed. Toe Dalmatin op universiteit was, terwyl hy nog in sy twintigerjare was, het hy die reusetaak begin om die Bybel in die taal van sy landgenote te vertaal. Troebar se hartsbegeerte om die volledige Bybel in Sloweens te hê, het nou Dalmatin se hoofdoel in die lewe geword.

Vertaling begin

Dalmatin het die projek met groot geesdrif aangepak en met die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte begin. Hy het blykbaar uit die oorspronklike tale vertaal, maar het Martin Luther se Duitse vertaling van die Latynse Vulgaat gereeld geraadpleeg. Wat Troebar betref, hy het teen 1577 die hele Christelike Griekse Geskrifte in Sloweens vertaal, soos vroeër genoem is. Dalmatin het nou Troebar se teks nagesien en verbeter, en hy het weer eens grootliks staatgemaak op Luther se Duitse Bybelvertaling. Hy het baie van Troebar se Germanismes uitgehaal en die vertaling konsekwenter gemaak. Dalmatin het moontlik sy kennis van Grieks in sy vertaalwerk gebruik, maar geleerdes is dit nog steeds nie eens of hy vroeë Griekse tekste geraadpleeg het of nie.

Struikelblokke wat oorkom moes word

Omdat die Sloweense alfabet net ’n paar dekades vroeër in gebruik geneem is, het Dalmatin voor ’n reusetaak te staan gekom. Daarbenewens was die woordeskat klein, en daar was geen Sloweense naslaanwerke nie. Gevolglik het dit baie vernuf geverg om die teks in verstaanbare Sloweens te vertaal.

Die Teenhervormingsbeweging het sake ook bemoeilik. Aangesien die drukker in Slowenië verban is, moes die Bybel in die buiteland gedruk word. Dit is waarom die Bybels versteek moes word toe dit in die land ingebring is. Maar ten spyte van die struikelblokke het Dalmatin sy doelwit in net tien jaar bereik, blykbaar terwyl hy nog in sy vroeë dertigerjare was.

Onder Dalmatin se toesig is 1 500 eksemplare van die Bybel se eerste oplaag in sewe maande gedruk. Baie mense het die Bybel ’n letterkundige meesterstuk en ’n kunswerk genoem, aangesien dit pragtig geïllustreer is met 222 houtgravures. Baie van die oorspronklike Bybels bestaan nog, en die vertaling is as ’n grondslag gebruik vir moderne weergawes van die Bybel in Sloweens. Die werk van hierdie twee mans het daartoe bygedra dat Slowene God se Woord vandag in hulle moedertaal kan lees.

[Venster/Prent op bladsy 15]

DIE GODDELIKE NAAM

Dalmatin het die volgende verduideliking in die voorwoord van sy vertaling van die Heilige Bybel ingesluit: “Waar die woord HERE in hoofletters gedruk is, verwys dit na die HERE God alleen wie se naam in die Joodse taal יהזה, Jehovah, is. Hierdie naam behoort net aan die HERE God en aan niemand anders nie.”

[Prente op bladsy 14, 15]

Primoz Troebar

Voorblad van die Sloweense Bybel

[Erkenning]

Alle prente behalwe tetragrammaton: Narodna in univerzitetna knjižnica—Slovenija—Ljubljana

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel