Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 7/8 bl. 6-8
  • Dwelms—Waarom misbruik mense dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dwelms—Waarom misbruik mense dit?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vermaaklikheidswêreld
  • Waarom raak party verslaaf?
  • Ecstasy en raves
  • Hoe maklik verkrygbaar?
  • Wat is die grondoorsaak?
  • Hoe onwettige dwelms jou lewe benvloed
    Ontwaak!—1999
  • Kan die stryd teen dwelms gewen word?
    Ontwaak!—1999
  • Jongmense en dwelms
    Ontwaak!—2003
  • Dwelms—Wie gebruik dit?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 7/8 bl. 6-8

Dwelms—Waarom misbruik mense dit?

“EK WAS 13 jaar oud, en my beste vriend se suster het ons een aand na hulle woonstel toe genooi. Almal het dagga begin rook. Ek het eers nee daarvoor gesê, maar nadat dit ’n paar keer omgestuur is, het ek dit uiteindelik probeer.” Dit is hoe Michael, van Suid-Afrika, sy eerste kennismaking met dwelms beskryf het.

“Ek het uit ’n konserwatiewe gesin gekom wat professioneel by klassieke musiek betrokke was. Ek het in ’n orkes gespeel, en een van die musikante het gereeld gedurende die pouses dagga gerook. Oor ’n tydperk van ’n paar maande het hy dit herhaaldelik vir my aangebied. Ek het dit uiteindelik probeer en dit toe gereeld begin rook.” Dit is hoe Darren, ’n Kanadees, dwelms begin gebruik het.

Albei hierdie persone het uiteindelik ander dwelms gebruik, soos LSD, opium en stimulante. As hulle nou as voormalige dwelmslawe terugkyk, stem hulle saam dat die invloed van portuurs die hoofrede is waarom hulle dwelms begin misbruik het. “Ek het nooit gedink dat ek ooit dwelms sou gebruik nie”, sê Michael, “maar daardie jongmense was die enigste vriende wat ek gehad het, en dis net natuurlik om met hulle saam te gaan.”

Die vermaaklikheidswêreld

Portuurdwang speel beslis ’n groot rol daarin om baie mense aan dwelms verslaaf te kry, en jongmense is veral hiervoor vatbaar. Daarbenewens sien hulle die voorbeeld wat hulle afgode in die vermaaklikheidswêreld stel, wat ’n kragtige invloed op hulle jong bewonderaars uitoefen.

Die vermaaklikheidsbedryf word veral deur dwelmmisbruik geteister. Topkunstenaars in die musiekbedryf raak dikwels in die een of ander stadium van hulle loopbaan by harde dwelms betrokke. Baie rolprentsterre is ook aan dwelms verslaaf.

Vermaaklikheidskunstenaars kan dwelms dikwels so aantreklik laat lyk dat jongmense dit blykbaar onweerstaanbaar vind. Newsweek het in 1996 gesê: “Die strate van Seattle is vol kinders wat daarheen gegaan het om heroïen te gebruik, net omdat [die rockmusikant] Cobain dit doen.”

Tydskrifte, rolprente en televisie beeld die dwelmwêreld as aanloklik uit. Party vooraanstaande ontwerpers in die modewêreld het eweneens modelle verkies met ’n maer, uitgeteerde voorkoms, soos dwelmslawe.

Waarom raak party verslaaf?

Verskeie ander faktore dra tot die toename in dwelmmisbruik by. Dit sluit in ontnugtering, depressie en ’n gebrek aan ’n doel in die lewe. Bykomende redes is ekonomiese probleme, werkloosheid en die swak voorbeeld van ouers.

Party wat probleme het met menseverhoudinge, gebruik dwelms om hulle tydens sosiale situasies te help. Hulle glo dat dwelms hulle groter selfvertroue gee omdat dit hulle laat skerts en laat voel dat mense van hulle hou. Ander vind dit eenvoudig makliker om dwelms te gebruik as om die verantwoordelikheid te aanvaar om beheer oor hulle lewe te hê.

Verveeldheid is nog ’n rede waarom jongmense hulle tot dwelms wend. Die boek The Romance of Risk—Why Teenagers Do the Things They Do sê oor verveeldheid en die gebrek aan ouerlike toesig: “Seuns en meisies kom ná skool terug na leë huise toe. Hulle is natuurlik eensaam, en hulle wil nie alleen wees nie. Vriende kom kuier vir hulle, maar selfs wanneer hulle saam is, is hulle dikwels verveeld. Hulle kyk na eindelose televisie- en musiekvideo’s of blaai deur die Internet op soek na opwinding. Rokery, dwelmmisbruik en drinkery kan maklik ’n deel van hierdie prentjie word.”

Michael, wat vroeër genoem is, het oor sy gebrek aan ouerlike toesig by die huis gesê: “Ons het ’n gelukkige gesinslewe gehad. Ons gesin was besonder na aan mekaar. Maar albei my ouers het gewerk, en daar was gedurende die dag geen toesig nie. Ons ouers het ons ook al die vryheid in die wêreld gegee. Daar was geen dissipline nie. My ouers het glad nie geweet dat ek dwelms gebruik nie.”

Wanneer hulle eers verslaaf is, hou baie aan om dwelms te gebruik om ’n eenvoudige rede: Hulle geniet dit. Michael, wat elke dag dwelms gebruik het, het oor die uitwerking daarvan gesê: “Ek was in ’n droomwêreld. Ek kon wegkom van enige druk wat ek gehad het. Ek het nooit bedreig gevoel nie. Alles was pragtig.”

Nog ’n voormalige dwelmslaaf van Suid-Afrika, met die naam Dick, het die uitwerking beskryf wat dagga op hom gehad het toe hy dit op 13-jarige ouderdom begin gebruik het: “Ek het vir enige grap gelag. Alles was skreeusnaaks.”

Jongmense word blykbaar nie afgeskrik deur die waarskuwings dat dwelms skadelik is nie. Hulle is geneig om te dink dat “dit nie met my sal gebeur nie”. Die boek Talking With Your Teenager sê waarom tieners gesondheidswaarskuwings ignoreer: “Hulle weerstand is so goed en hulle is so vol lewe dat hulle nie dink dat hulle gesondheid daaronder sal ly nie. Hierdie gevoel van ‘onkwesbaarheid’ is baie algemeen onder adolessente. Tieners sien longkanker, alkoholisme, ernstige dwelmverslawing as iets wat met ouer mense gebeur, nie met hulle nie.” Baie is eenvoudig onbewus van die gevare, soos toegelig word deur die gewildheid van die dwelm ecstasy. Wat is dit?

Ecstasy en raves

Die dwelm MDMA met ’n amfetamienbasis, wat as ecstasy bekend staan, is gewild by deurnagdanssessies wat raves genoem word. Die verkopers laat mense glo dat die gebruik van ecstasy ’n veilige manier is om ’n euforiese gevoel te kry met die bykomende voordeel van eindelose energie om regdeur die nag te dans. Die dwelm help dansers om ure lank aan te hou totdat hulle uiteindelik in “’n soort beswyming” raak, soos een skrywer daarna verwys het. Een jeugdige het die aantrekkingskrag van ecstasy beskryf: “Die gevoel begin in jou tone, vul jou met ongelooflike warmte en liefde terwyl die tintelende sensasie stadig na jou kop toe beweeg.”

Breinskanderings van gereelde ecstasy-gebruikers het fisiese bewyse gelewer dat dit nie so ’n onskadelike dwelm is as wat verkopers beweer dit is nie. Ecstasy beskadig klaarblyklik senuvesels in die brein en verlaag serotonienvlakke. Sulke skade is moontlik permanent. Uiteindelik kan dit tot probleme soos depressie en geheueverlies lei. Party het al gesterf weens die gebruik van ecstasy. ’n Aantal dwelmhandelaars meng ook ecstasy met heroïen om hulle kliënte daaraan verslaaf te maak.

Hoe maklik verkrygbaar?

In baie lande het dwelms goedkoper geword namate die aanbod toegeneem het. Dit is veral te wyte aan politieke en ekonomiese veranderinge. Suid-Afrika is ’n tipiese voorbeeld, waar politieke veranderinge groter handel en samewerking met ander lande tot gevolg gehad het. Dit, tesame met beperkte grensbeheermaatreëls, het die dwelmhandel bevorder. Met al hoe meer wat werkloos is, is duisende van die dwelmhandel afhanklik vir ’n inkomste. Waar daar volop dwelms is, is daar gewoonlik ook geweld. Volgens ’n koerantberig word kinders in skole in Gauteng—waaronder party wat net 13 jaar oud is—deur die polisie vir dwelmsmokkelary dopgehou. ’n Aantal skole in die gebied het begin om dwelmtoetse op skoliere te doen.

Wat is die grondoorsaak?

Daar is beslis baie redes waarom mense dwelms misbruik. Maar dit is alles simptome van ’n diepliggender probleem, ’n grondoorsaak. Die skrywer Ben Whitaker het hierna verwys: “Die hedendaagse toename in dwelmgebruik is ’n waarskuwingsteken van swakhede en gebreke in ons samelewing, buiten eensaamheid en wanhoop: waarom sal ’n aansienlike aantal talentvolle en bevoorregte mense dwelms bo die werklikheid van die daaglikse lewe verkies?”

Dit is ’n goeie vraag, wat ons laat besef dat ons materialistiese, prestasiebehepte samelewing dikwels nie in ons emosionele en geestelike behoeftes voorsien nie. Selfs die meeste godsdienste kon nie in hierdie behoeftes voorsien nie omdat hulle die grondoorsaak van die mens se probleme geïgnoreer het.

Ons moet uitvind wat daardie grondoorsaak is en dit erken voor ons die enigste permanente oplossing vir die dwelmprobleem kan vind. Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Prent op bladsy 7]

Vermaaklikheidsterre laat dwelmgebruik soms aantreklik lyk

[Prente op bladsy 7]

Dwelmmisbruik is iets alledaags in die moderne musiekbedryf

[Prente op bladsy 8]

Die dwelm “ecstasy” is gewoonlik beskikbaar by “raves”

[Erkennings]

AP Photo/Greg Smith

Gerald Nino/U.S. Customs

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel