Die maraboe—’n Onderskatte voël
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
“As daar iewers . . . ’n groter ongeluksvoël as die maraboe is, moet ek hom nog ontmoet.”—The World’s Wild Places—Africa’s Rift Valley.
VAN die baie voëlsoorte wat in Afrika gevind word, het min so kwaai onder kritiek deurgeloop as die maraboe. Die voël word gewoonlik uitgebeeld as gemeen en lelik en sonder goeie motiewe. Die maraboe het beslis ’n ernstige probleem met sy openbare beeld.
Hou jy van voëls wat mooi lyk en melodieuse roepe het? Wel, die maraboe voldoen nie aan hierdie beskrywing nie. Met ’n pienk veerlose kop en nek lyk die voël nors en ellendig. Aan die volwassenes se keel hang daar ’n rooierige opblaasbare sak wat soos ’n dik, ronde das lyk. Die meeste mense meen dat die keelsak nie veel doen om die voël te verfraai nie. Maar dr. Leon Benun, hoof van die Departement van Voëlkunde by die Nasionale Museums van Kenia, herinner ons hieraan: “Net omdat die keelsak vir ons lelik lyk, beteken dit nie dat dit vir die maraboe lelik is nie.” Nietemin weet niemand nog wat die biologiese funksie van hierdie keelsak is nie.
Die voël se eetgewoontes doen ook nie veel om hom by waarnemers bemind te maak nie. Om maar een ding te noem, hy is ’n aasvreter. Wanneer daar nie karkasse te vinde is nie, is dit bekend dat hy al ander voëls doodgemaak het om sy gesonde eetlus te bevredig. Dit is geen wonder dat baie mense niks van hierdie voël hou nie.
Maar ten spyte van sy onaantreklike voorkoms en gewoontes het die maraboe verskeie voortreflike eienskappe. Kom leer gerus saam met ons meer aangaande hierdie voël wat so verafsku word.
’n Reus onder die voëls
Die maraboe is ongetwyfeld die grootste lid van die ooievaarfamilie. ’n Volgroeide mannetjie kan ’n hoogte van tot 1,5 meter bereik en meer as agt kilogram weeg. Die wyfies is ietwat kleiner. Die voël se swaar, wigvormige snawel kan meer as 25 sentimeter lank word—’n kragtige instrument om stukke vleis van ’n karkas af te skeur.
Al is hierdie ooievaar so groot, kan hy besonders goed vlieg. Met ’n vlerkspan van meer as 2,5 meter kan die maraboe saam met die bestes sweef. Wanneer hy vlieg, lyk hy baie grasieus, met sy kop effens tussen sy skouers ingetrek en sy lang bene wat agter sy liggaam uitgestrek is. Hy het die gebruik van die warm lugstrome bemeester en kan so hoog vlieg dat hy soms amper nie van die grond af gesien kan word nie! Dit is immers bekend dat maraboes tot 4 000 meter hoog vlieg!
Verantwoordelike ouers
Wat veral bewonderenswaardig is, is die rol wat die maraboe as ’n ouer vervul. Ouerskap is inderdaad ’n veeleisende taak wat met die bou van ’n nes begin. Nadat die mannetjie ’n geskikte plek gekies het, begin hy met die bouwerk, en later sluit ’n wyfie by hom aan. Die nes, wat soms 30 meter bo die grond gebou word, is niks spoggerigs nie. Die meter wye bouwerk is bloot ’n rowwe, oop platform van droë stokkies, boomtakke en blare. Trouens, ’n broeivoël sal soms ’n ou nes erf en dit opknap deur takkies en ander boumateriale daarby te voeg. Dit is bekend dat party kolonies maraboes hulle neste 50 jaar lank in stand gehou het.
Terwyl ’n nuwe tuiste nog in aanbou is, begin die maraboemannetjie die proses om ’n maat te vind. Anders as wat gewoonlik onder baie voëlsoorte gebeur, wag die mannetjie dat die wyfie hom nader. Verskeie voornemende maats sal hulleself aanbied met die hoop om in die mannetjie se guns te kom. Baie word verwerp. Maar volharding word beloon, en ’n wyfie sal uiteindelik aanvaar word. Gedurende die daaropvolgende hofmakery sal albei voëls, met hulle keelsakke heeltemal opgeblaas, klanke voortbring om ongewenste besoekers af te skrik. Dit is al beskryf as ’n geloei, gekerm en gefluit—die enigste klanke van maraboes wat bekend is, behalwe die geklap van hulle groot snawels af en toe. ’n Sterk band ontwikkel, wat verinnig word deur ’n gereelde “op-en-af”-groet wat herhaal word elke keer as ’n maat na die nes terugkeer. Dit behels dat die kop agteroor gegooi en laat sak word, waarna daar dan ’n lang geklap van die snawel is.
Die paartjie voltooi die nes saam. Die twee sal ook om die beurt op die eiers sit. Ná ’n broeityd van een maand sal twee of drie pienkerige, kaal kuikentjies uit die krytwit eiers kom, wat albei ouers se aandag in beslag sal neem. Hierdie jong maraboes word baie goed versorg. Daar word nou met ’n besige voedingsprogram begin wat uit voedsame kos, soos vis, bestaan. In vleilande, waar maraboes dikwels besoek aflê, kan die ouers ’n goeie voorraad paddas kry, nog iets algemeens op die voëls se spyskaart. Die kuikens eet die kos wat die ouers in die nes uitbraak. Die jong voëls groei stadig, en dit is eers wanneer hulle vier maande oud is—wanneer hulle ook weg van die nes af kan vlieg—dat hulle op hulle eie kan voortbestaan.
Vullisverwyderaars
Hoewel daar al dikwels op die maraboe neergesien is as ’n aasvreter, verrig hy eintlik ’n baie nuttige diens. Roofdiere laat oral op die Afrikavlaktes verrottende karkasse agter. As hierdie karkasse net so gelos word, kan dit maklik siektes versprei en vir mense en diere gevaarlik wees. Die maraboe verrig egter die nuttige taak van vullisverwydering. Saam met die aasvoëls—ook roofvoëls met ’n gesonde eetlus—bespied hulle die vlaktes vir karkasse wat agtergelaat is. Wanneer hulle op een afkom, sal die maraboes vir die aggressiewer aasvoëls wag om die karkas met hulle sterk geboë snawels oop te breek. Op ’n geleë oomblik sal ’n maraboe, met sy lang snawel gereed soos ’n operasiemes, vinnig op die aas afpyl, ’n stuk vleis gryp en op ’n veilige afstand vir nog ’n kans gaan wag. Wanneer die aasvoëls versadig is, is dit die maraboes se beurt om oor enige stukkies vleis wat oorgebly het, te baklei. Die maraboes sal feitlik enigiets eet wat in hulle kele kan afgaan, behalwe die bene. Stukke vleis wat tot 600 gram weeg, word maklik ingesluk.
In onlangse jare maak die maraboe meer as net die veld skoon. Die voël het sy vrees vir mense grotendeels verloor en is nou ’n gereelde besoeker by die vullishope in stede en dorpe. Die gevolg? ’n Skoner omgewing. Die maraboe soek selfs deur die afvalwater van slaghuise na stukkies vleis wat oorgebly het. Presies hoe taai hierdie voël kan wees, kan deur die volgende voorbeeld toegelig word. Terwyl ’n maraboe deur die afval van ’n slaghuis in westelike Kenia gesoek het, het hy ’n slagtersmes ingesluk. ’n Paar dae later is die mes—skoon en blink—naby dieselfde plek gevind. Die maraboe wat dit uitgebraak het, het soos gewoonlik voortgegaan om kos te soek, aangesien hy blykbaar geen beserings opgedoen het nie!
Die maraboe se toekoms
Terwyl sy naaste familielid, die groter adjudantooievaar van Asië, se getalle afneem, floreer die maraboe in Afrika. Hy het sover bekend geen natuurlike vyande nie. In die verlede was die maraboe se wreedste vyand die mens. Die groot ooievaar is gejag en sy sagte onderstertvere is gepluk om vrouehoedens mee te versier. “Dit is amper ondenkbaar”, sê die boek Storks, Ibises and Spoonbills of the World, “dat sulke sagte en pragtige vere, wat gebruik word om ’n waaier of ander versierings wat na aan ’n vrou se hart is, te tooi, die produk is van hierdie groot, aaklige en afstootlike aasvreter.” Gelukkig vir hierdie voëls het sulke moedswillige uitroeiing oor die jare afgeneem, en hulle getalle neem weer toe. Ons vlugtige kykie na die maraboe het ongetwyfeld getoon dat hy eenvoudig nie verdien om bespot en verafsku te word nie. Die doeltreffende en vlytige wyse waarop hy die omgewing skoonhou, is vir ons almal van groot nut. Hoewel hy nou nie een van die mooiste voëls is nie, verheerlik hy nog steeds die Skepper op sy eie nederige manier.—Psalm 148:7, 10.
[Prent op bladsy 16]
Die voël se swaar, wigvormige snawel kan meer as 25 sentimeter lank word
[Prent op bladsy 16, 17]
Die maraboe het ’n vlerkspan van meer as 2,5 meter
[Erkenning]
© Joe McDonald
[Prent op bladsy 17]
Jong maraboes word baie goed versorg
[Erkenning]
© M.P. Kahl/VIREO
[Prent op bladsy 18]
Die biologiese funksie van die maraboe se keelsak is nog onbekend
[Prent op bladsy 19]
Dies nes word soms 30 meter bo die grond gebou