Gesondheidsinspekteurs van die lug
As mense gevra word watter voël hulle die minste van sal hou om raak te loop, sal baie sê die aasvoël.
Min voëls is al so beswadder soos die aasvoël. Dit is die verdoemde voël wie se onheilspellende silhoeët oor die dooies en die sterwendes sirkel. Sy verskyning dui glo op slagting, verwoesting en wanhoop. Maar dit is hoe hy in fiksieliteratuur uitgebeeld word.
Wat die feite betref: Baie mense is al geboei deur die aasvoël se grasie in die lug en die tere manier waarop hy vir sy kuikens sorg. Hulle het ook besef dat hy ’n belangrike ekologiese rol speel. Vir sulke mense is die aasvoël indrukwekkend sowel as onontbeerlik.
Daar is weliswaar ’n paar dinge wat teen aasvoëls tel, afgesien van hulle nare eetgewoontes. Hulle sal beslis geen skoonheidswedstryd wen nie, en hulle roep is al onderskeidelik as ’n geskreeu, ’n gekekkel, ’n gegrom, ’n gekras en ’n gesis beskryf. Maar hulle het wel ’n paar innemende eienskappe.
Die aasvoël neem ouerskap baie ernstig op. Elke jaar geniet ’n “enigste kind” albei sy ouers se onverdeelde aandag tot hy vir homself kan sorg. ’n Jong aasvoëlkuiken wat etlike maande lank hulpeloos op ’n onbereikbare rotslys sit, het beslis die tere sorg van albei ouers nodig. Trouens, ’n jong Andeskondor moet ses maande lank gevoer word voordat hy die nes kan verlaat, en teen dié tyd is die “kuiken” feitlik uitgegroei.
Aasvoëls het ook die deug dat hulle besonder nuttig is. Hoewel talle voëls die mens op die een of ander manier bevoordeel, verrig aasvoëls ’n unieke diens. Hulle is gesondheidsinspekteurs van die lug.
Gesondheidsinspeksie
Die opruiming van karkasse is nie iets wat baie mense as ’n geliefkoosde daaglikse takie sal beskou nie, maar dit is ’n belangrike werk. Behoorlike sanitasie vereis die onmiddellike opruiming van karkasse wat gevaarlike bronne van aansteeklike siektes vir mense sowel as diere kan wees.
Hier kom die aasvoëls tot hulle reg. Hulle vreet selfs vleis wat met antraks of botulien besmet is op sodat net die bene oorbly sonder dat hulle iets daarvan oorkom.
Party aasvoëls spesialiseer selfs daarin om bene te eet. Die lammergeier van Eurasië en Afrika laat bene van ’n hoogte af op ’n rotsagtige oppervlak val. Wanneer die bene oopbreek, eet die lammergeier die murg en die kleiner stukkies been.
Gelukkig het hierdie gesondheidsinspekteurs, anders as hulle menslike ampsgenote, nog nooit gestaak nie. As die aasvoëls se werk nie gedoen word nie, sal dit iets algemeens wees om tropiese vlaktes te sien wat besaai is met karkasse waardeur siektes versprei kan word.
Maar kom ons kyk hoe verloop ’n span aasvoëls se tipiese werksdag.
Lugpatrollie
Kort ná sonop vlieg hulle die lug in en elkeen dek ’n sekere gebied. Heeldag lank patrolleer ons eskader aasvoëls onvermoeid die lug op soek na dooie diere. Wanneer een van hulle eindelik ’n karkas sien, duik hy regaf ondertoe. Dit trek die aandag van die ander voëls wat ook vinnig na die buit toe vlieg. Binne minute is daar tientalle voëls op die toneel.
Voor hulle eet, spring die voëls aarselend om die karkas rond. Ten spyte van hulle reputasie is hulle uiters skugter diere. Eindelik begin een van hulle aan die karkas pluk en dit is die teken vir die hele groep om met die maaltyd te begin. Daar is baie onenigheid en gesis, gestamp en getrek, wat dit baie na ’n rugbyskrum laat lyk. Die hongerste aasvoëls wat die grootste geraas maak, eet gewoonlik eerste. As dit ’n groot karkas is, sal daar genoeg kos vir almal wees.
Binne ’n paar minute is die maaltyd oor en die swerm, wat net die bene agterlaat, vlieg die lug in om die soektog voort te sit. ’n Aasvoël het nie ’n maklike lewe nie. Twee of drie dae kan verbygaan voordat hulle weer ’n maaltyd geniet.
Gesigsvermoë en spanwerk
Aasvoëls is onverbeterlik vir lugwaarneming toegerus. Hulle groot vlerke is volmaak ontwerp om hulle te laat sweef en in die lug te laat hang, sodat hulle ure lank kan vlieg sonder om juis hulle vlerke te klap. Hulle is gekonfyt in die gebruik van termieke, of opstygende warm lugstrome, wat help dat hulle met die minste inspanning in die lug bly. Dean Amadon, ’n vooraanstaande Amerikaanse ornitoloog, het hulle as een van “die natuur se treffendste voorbeelde van vlug” beskryf.
’n Vraag waaroor ornitoloë jare lank gewonder het, was: Hoe spoor aasvoëls karkasse so vinnig op?
Dit het geblyk dat die antwoord ’n kombinasie van goeie gesigsvermoë en spanwerk is. Na raming kan ’n aasvoël wat op ’n hoogte van ongeveer 750 meter bo in die lug sirkel ’n voorwerp wat minder as 13 sentimeter lank is op die grond raaksien. Maar selfs met so ’n skerp gesigsvermoë sal ’n enkele aasvoël noustrop trek om voedsel te vind.
Daarom is spanwerk noodsaaklik. Daar is al opgemerk dat aasvoëls uitmekaargaan om verskillende gebiede te patrolleer. As een aasvoël na ’n karkas toe afvlieg, is sy kenmerkende duik vir die voëls in die omgewing die teken dat daar kos naby is, en hulle vlieg dadelik in daardie rigting. Net so sien voëls wat verder is hulle verandering van koers raak en vlieg ook vinnig na die plek toe. Hierdie lugtelegraafstelsel is verbasend doeltreffend, in so ’n mate dat dit vir ’n waarnemer kan lyk asof al die voëls feitlik tegelyk by die karkas aankom.
Ongelukkig was hierdie doeltreffendheid en onmiskenbare nut nie genoeg om die aasvoël se beskerming en oorlewing te waarborg nie.
Die terugkeer van die kondor
Al word aasvoëls onder die grootste en indrukwekkendste roofvoëls gereken, word hulle in baie wêrelddele deur uitwissing in die gesig gestaar. Hulle tradisionele prooi het van die vlaktes af verdwyn en die karkasse wat hulle wel vind, is dikwels vergiftig. Hulle stadige broeitempo bemoeilik ook die herstel van hulle uitgedunde bevolkings.
Maar daar is ’n paar bemoedigende suksesverhale. Dit lyk asof daar sukses behaal word met ’n program vir die kunsmatige aanteling van Kaliforniese kondors, en hopelik sal meer voëls binnekort na die natuur teruggeneem kan word. Danksy die pogings van Franse bewaringsgesindes is die vaalaasvoël ná ’n afwesigheid van baie jare in die Sentrale Hoogland, Frankryk, hervestig.
Die voël wat eers deur mense gehaat is, het dus ’n simbool geword van die mens se pogings om daardie spesies te red wat hy in gevaar gestel het. Die indrukwekkende vlug van die kondor oor die siërras van Noord- en Suid-Amerika is ’n gesig wat ongetwyfeld te kosbaar is om te laat verdwyn.
Intussen verrig die aasvoëls in Afrika en Asië steeds op beskeie wyse hulle ondankbare werk as gesondheidsinspekteurs van die lug.
[Venster op bladsy 12]
Aasvoëlrekord
AASVOËLS word onder die skaarsste en grootste voëls ter wêreld gereken. En hulle hou ook die rekord vir voëls wat die hoogste vlieg.
Die Kaliforniese kondor is een van die mees bedreigde spesies ter wêreld. Ywerige pogings word aangewend om hierdie aasvoël van uitwissing te red deur middel van ’n broeiprogram onder die 24 voëls in gevangenskap. In 1986 was daar net drie Kaliforniese kondors in die natuur oor.
Die Andeskondor en die maraboe-ooievaar van Afrika het die grootste vlerkspan van alle landvoëls, meer as drie meter. Die Andeskondor is ook die swaarste roofvoël en weeg soms meer as 14 kilogram.
Aasvoëls kan ook hoog vlieg. In 1973 het ’n Afrika-aasvoël (Gyps rueppellii) teen ’n vliegtuig gebots wat op ’n hoogte van 11 300 meter oor Côte d’Ivoire, Wes-Afrika, gevlieg het.
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Photo: Courtesy of Madrid Zoo, Madrid, Spain