Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 9/8 bl. 3-4
  • ’n Geslag wat in gevaar verkeer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Geslag wat in gevaar verkeer
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verwoestende uitwerking
  • ’n Sorgvrye lewe?
  • Wat is die oorsake?
    Ontwaak!—2001
  • Herken die tekens
    Ontwaak!—2001
  • Hoe jy kan help
    Ontwaak!—2001
  • Depressie onder tieners—Waarom? Wat kan help?
    Ontwaak!—2017
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 9/8 bl. 3-4

’n Geslag wat in gevaar verkeer

“Tot twee maande gelede was ek gelukkig en bedrywig. Wanneer ek nou die geleentheid kry om iets te doen, is ek te moeg. Ek voel ellendig en is so kort van draad, ek weet nie hoe enigiemand my kan verdra nie. Dis moeilik om te sê waarom ek skielik so sleg voel.”—Paul.

“Ek huil baie en voel dikwels seergemaak. Wanneer ek nie seer voel nie, voel ek net dood. Ek geniet niks nie. Ek hou nie meer daarvan om saam met my vriende te wees nie. Ek slaap baie. Die meeste dae kan ek nie opstaan om skool toe te gaan nie, en my punte het baie versleg.”—Melanie.

PAUL en Melanie is nie alleen nie. Studies toon dat ongeveer 8 persent van die jongmense in die Verenigde State aan ’n vorm van depressie ly en dat omtrent 4 persent elke jaar ernstig depressief raak. Maar hierdie statistiek vertel nie die volle verhaal nie, want depressie word dikwels verkeerd gediagnoseer of heeltemal geïgnoreer. “Trouens”, skryf die jeugsielkundige David G. Fassler, “nadat ek die navorsing oor kinders en tieners hersien het, dink ek dat meer as een uit vier jongmense ’n ernstige geval van depressie sal ondervind teen die tyd dat hulle agtien is.”

Verwoestende uitwerking

Depressie het ’n verwoestende uitwerking op tieners. Trouens, kenners glo dat dit onder jongmense ’n betekenisvolle rol speel in eetversteurings, psigosomatiese kwale, probleme op skool, asook sekere gevalle waar dwelms en alkohol misbruik word.

Selfs tragieser is die feit dat depressie met tienerselfmoord verbind word. Volgens die Amerikaanse Nasionale Instituut van Geestesgesondheid pleeg tot 7 persent van die jongmense wat aan ernstige depressie ly, selfmoord.a Selfs dit dui nie die volle omvang van die probleem aan nie, aangesien daar gemeen word dat daar vir elke jongmens wat sy of haar lewe neem, baie meer is wat dit probeer doen. Dit is dus met goeie rede dat ’n verslag deur die Carnegie-raad vir Jeugontwikkeling sê: “’n Mens soek moeilikheid as jy jongmense se probleme vandag ligtelik opneem. Sulke verwaarlosing stel waarlik ’n geslag in gevaar.”

’n Sorgvrye lewe?

Party vind dit moeilik om te glo dat tieners werklik depressief kan wees. ‘Hulle is net kinders’, redeneer volwassenes moontlik. ‘Hulle lei ’n sorgvrye lewe, en hulle het beslis nie die bekommernisse wat volwassenes het nie.’ Of het hulle? Feit is dat jongmense druk moet verduur wat baie erger is as wat baie volwassenes besef. Dr. Daniel Goleman sê: “Wêreldwyd het elke opeenvolgende geslag sedert die begin van die [20ste] eeu in groter gevaar verkeer as hulle ouers om gedurende hulle lewe aan ernstige depressie te ly—nie net droefheid nie, maar ’n verlammende lusteloosheid, neerslagtigheid en selfbejammering en ’n oorweldigende gevoel van wanhoop. En hulle begin dit op ’n al hoe jonger ouderdom ondervind.”

Baie ouers maak nietemin beswaar: ‘Ons het dit gemaak deur adolessensie sonder om depressief te word. Waarom word ons kind deur negatiewe gevoelens oorweldig?’ Maar volwassenes moet nie hulle ondervinding as jongmense met dié van jongmense van vandag vergelyk nie. Individue verskil bowendien in die manier waarop hulle die wêreld om hulle sien en hoe hulle daarop reageer.

Vandag se tieners kom boonop voor ’n bykomende uitdaging te staan. “Hulle word groot in ’n wêreld wat heeltemal anders is as toe hulle ouers jonk was”, skryf dr. Kathleen McCoy in haar boek Understanding Your Teenager’s Depression. Nadat sy ’n aantal groot veranderinge gemeld het wat in onlangse dekades plaasgevind het, het dr. McCoy die gevolgtrekking gemaak: “Tieners van vandag voel minder veilig, het minder selfvertroue en het minder hoop as wat ons ’n geslag tevore gehad het.”

In die lig van die hoë voorkoms van depressie onder tieners sal die volgende artikels drie vrae bespreek:

• Wat is van die simptome van tienerdepressie?

• Wat gee daartoe aanleiding?

• Hoe kan tieners wat aan depressie ly, gehelp word?

[Voetnoot]

a Party kenners glo dat die ware syfer baie hoër is, aangesien verskeie sterfgevalle wat as ongelukke bestempel is, selfmoorde kon gewees het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel