Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 9/22 bl. 22-24
  • Die verbasende mossel openbaar sy geheime

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verbasende mossel openbaar sy geheime
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mossel-supergom
  • Die stofsuier
  • Ander vermoëns
  • Lastige watersuiweraars
    Ontwaak!—2003
  • Die bissus van die seemossel
    Ontwaak!—2016
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2016
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 9/22 bl. 22-24

Die verbasende mossel openbaar sy geheime

WAT vervaardig ’n waterdigte supergom, werk soos ’n stofsuier en leer wetenskaplikes selfs hoe om gene te herstel? Die nederige skulpdiertjie wat as die mossel bekend staan!

Mossels word wêreldwyd gevind. Party lewe in die see. Ander lewe in varswaterstrome en -mere. Binnein hulle tweekleppige skulp Iê ’n sagte liggaam wat bedek word deur ’n huidagtige orgaan wat ’n mantel genoem word. Soos in die geval van aIle skulpdiere, vorm die mantel die skulp deur kalsium en koolstofdioksied te meng, wat uit die diertjie se kos en die water om hom onttrek word. As ons as mense dit wou nadoen, sou ons rotsbrokkies moes eet, dit binnein ons moes verwerk en dit dan as voorafvervaardigde boumateriaal moes vrystel wat vanself mure en dakke sou vorm! Dit is egter nie die skulp wat navorsers opgewonde maak nie, maar wel die seemossel se voet.

Mossel-supergom

Probeer maar ’n mossel van ’n rots loswikkel, en jy sal sien hoe ongelooflik stewig hy daaraan vasklou—’n noodsaaklike vereiste as die mossel die skerp snawel van ’n honger seëvoel of die bruisende branders van die see moet weerstaan. Hoe klou hy so stewig vas? Wanneer ’n mossel ’n plekkie kies waar hy gaan huis opsit, steek hy sy tongvormige voet uit sy skulp uit en druk dit teen ’n soliede oppervlak vas. Spesiale kliere skei ’n vloeibare mengsel van proteïene af in ’n groefie wat oor die lengte van die voet loop. Hierdie vloeistof verhard gou en vorm ’n dun, elastiese draadjie wat sowat twee sentimeter lank is. Dan spuit iets kleins en platterigs aan die punt van hierdie draadjie ’n bietjie natuurlike kleefstof uit, die mossel lig sy voet op en die eerste ankerdraad is voltooi. Hierdie strategies geleë drade vorm ’n bondel wat die bissus genoem word en wat die mossel aan sy nuwe huis anker soos stormtoue ’n tent vashou. Die hele proses duur net drie of vier minute.—Sien diagram.

Stel jou voor dat jy ’n baie sterk gom het wat nie giftig is nie, wat so vormbaar is dat dit tot in die kleinste gaatjies kan indring en wat aan enige oppervlak kan kleef, selfs onder water. Skeepsbouers sal dit baie graag wil hê om skepe te herstel sonder om die onkoste aan te gaan om dit na die droogdok te neem. Mense wat aan motors se bakwerk werk, sal graag ’n waterdigte verf wil hê wat die roes uithou. Snydokters sal ’n veilige kleefstof waardeer om gebreekte bene te heg en wonde toe te maak. Tandartse sou gaatjies daarmee kon stop en stukkies tand wat afgebreek het, daarmee kon herstel. Dit lyk of daar geen einde aan die moontlike gebruike daarvoor is nie.

Maar die wetenskaplikes dink nie daaraan om die mossels self hierdie supergom te laat vervaardig nie. Omtrent 10 000 van die diertjies sou nodig wees om net een gram gom te maak. As genoeg mossels dus bymekaargemaak sou word om die wêreld se vraag na supergom te bevredig, sou dit die mosselbevolking uitwis, waarvan baie spesies alreeds bedreig word. Amerikaanse navorsers het eerder die gene vir vyf proteïene in mosselkleefstof geïsoleer en gekloon, en hulle is gereed om dit op groot skaal in die laboratorium te vervaardig sodat dit in die nywerheid getoets kan word. Britse wetenskaplikes doen ook navorsing oor een van hierdie proteïene in die kleefstof. Maar die mossel is hulle nog altyd een voor. Net die mossel weet instinktief watter kombinasie proteïene vir elke soort oppervlak nodig is. Molekulêre bioloog Frank Roberto het vol bewondering gevra: “Hoe gaan ’n mens dít ooit kan nadoen?”

Die stofsuier

Mossels kry hulle voedsel deur ’n filtreerproses. By die meeste soorte trek elke mossel daagliks etlike liters water in sy liggaam in, en dit sif nie net kos en suurstof uit nie, maar ook besoedelstowwe soos skadelike bakterieë en giftige chemikalieë. Hierdie vermoë maak mossels uitstekende watersuiweraars. Hulle is ook nuttig om waterbesoedeling vroegtydig te ontdek. Honderde mossels is byvoorbeeld om die Ekofiskolieveld naby die Noorweegse kus in die see gesit. Elke paar maande wikkel wetenskaplikes hulle los en meet hulle die hoeveelheid besoedelstowwe in hulle skulpe om te sien of die chemikalieë wat in die see vrygelaat word, die seelewe beskadig. Van 1986 af word mossels en oesters in die Mosselwagprojek in Noord-Amerika in kus- en binnelandse waters gebruik. Navorsers kan ’n goeie idee vorm van enige veranderinge in die gehalte van die water as hulle jaarliks die skulpdiertjies ondersoek om te sien of chemikalieë in hulle opgebou het. Hoe nuttig is dit tog!

Een varswatersoort, die gestreepte sebramossel, word dikwels as ’n plaag beskou. Hierdie mossel wat so groot soos jou duimnael en inheems aan Oos-Europa is, is moontlik per ongeluk in die middel-1980’s na Noord-Amerika gebring toe ’n transatlantiese skip die water in sy ballastenke uitgetap het. Ver van hulle natuurlike vyande af het die sebramossels vinnig in die Groot Mere en aangrensende waterweë vermeerder en miljoene rande se skade aangerig deur waterinlaatpype te verstop en deur hulle aan bote, piere en brûe vas te heg. Hulle het ook ’n paar inheemse mosselsoorte verdring.

Daar is egter ’n positiewe sy. Omdat sebramossels uitstekende filtreerders is, maak hulle troebel meerwater gou skoon deur vinnig met drywende alge klaar te speel. Groen plante wat onder water groei, kan dan weer floreer en ander meerbewoners van ’n tuiste voorsien. Wetenskaplikes ondersoek tans die moontlikheid om die mossels se filtreervermoëns in te span om skadelike bakterieë uit openbare waterbronne te verwyder en selfs om rioolwater by rioolwatersuiweringswerke te suiwer.

Ander vermoëns

Het jy geweet dat sekere varswatermossels natuurlike pêrels maak, waarvan party nogal waardevol is? As jy al ooit juweliersware met inlegsels van perlemoen gedra het of pêrelknopies gebruik het, is dit ook heel moontlik uit mossels verkry. Blink, reënboogkleurige perlemoen kom van die binnelaag van die skulp af, en dit word dikwels in die pêrelkweekbedryf gebruik. ’n Piepklein perlemoenkraletjie wat uit ’n mosselskulp gesny is, word in ’n oester gesit. Die oester word gestimuleer om die irritasie met lae perlemoen te bedek en bring uiteindelik ’n pêrel voort.

Sekere seemossels voed ons natuurlik ook! Mense geniet al eeue lank die mossel se delikate, voedsame vleis in ’n verskeidenheid vorme. In Franse huise kry jy dalk moules mariniere, dit wil sê mossels wat in ’n aftreksel van witwyn en salotuie gestowe is. Die Spanjaarde verkies dit in die kleurryke gereg paella, terwyl die Belge dit in ’n groot, stomende pot saam met aartappelskyfies opdien. Dit is wêreldwyd ’n groot bedryf om mossels vir die handel te oes, maar in party Europese lande is daar nog steeds familieondernemings wat dit doen. ’n Vriendelike waarskuwing: As jy hierdie smaaklike kossoort wil probeer, moet jy sorg dat jou mossels van ’n betroubare bron af kom, en moet nooit jou eie mossels op die strand optel tensy jy doodseker is dat die water nie besoedel is nie.

Wie weet watter ander geheime die mossel nog sal openbaar? Baie van hierdie diertjies word immers glo meer as ’n eeu oud! Die mossel het ’n klein hartjie wat helder bloed deur sy liggaam pomp, maar hy het nie ’n brein nie. Hoe doen die mossel dan die verbasende dinge wat hierbo genoem word? Die Bybel antwoord: “Spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?”—Job 12:8, 9.

[Venster op bladsy 24]

Die geenhersteller

Die diepseemossel woon in een van die onherbergsaamste plekke op die aarde, die Mid-Atlantlese Rug, waar warmwateropeninge uiters giftige chemikalieë uitspu wat die diertjie se genetiese samestelling voortdurend beskadig. En tog stel spesiaIe ensieme hierdie mossel in staat om sy DNS heeltyd te herstel. Wetenskaplikes bestudeer hierdie ensieme in die hoop dat hulle sal uitvind hoe om menslike DNS te herstel wat deur siekte of veroudering beskadig is.

[Diagram/Prent op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoe talle mossels hulleself anker

Voet

Steel

Bissusdrade

Draad

Plaak

[Prent op bladsy 22]

Mossels is uitstekende watersuiweraars

[Erkenning]

Ontario Ministry of Natural Resources/Michigan Sea Grant

[Prente op bladsy 23]

Asiatiese groenmosssel

Bloumossel

Sebramossel

Kaliforniese mossel

Villosa iris

(Mossels is nie volgens skaal nie)

[Erkennings]

Asiatiese groenmossel: Courtesy of Mote Marine Laboratory; sebramossel: S. van Mechelen/University of Amsterdam/Michigan Sea Grant; villosa iris en links onder: © M. C. Barnhart

[Prent op bladsy 24]

Paella, ’n kleurryke Spaanse gereg wat dikwels mossels bevat

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel