Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 11/22 bl. 12-14
  • Waarom moet jy hardop vir jou kinders lees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet jy hardop vir jou kinders lees?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wek ’n liefde vir lees
  • Help hulle om die wêreld om hulle te verstaan
  • Bou ’n hegte verhouding op
  • Skerp belangrike lewensvaardighede in
  • Maak lees ’n genot
  • Wees selektief in jou keuse van boeke
  • Leer jou kinders om lief te wees vir lees en studie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hoekom dit belangrik is dat kinders moet lees – Deel 1: Lees of kyk?
    Hulp vir die gesin
  • Die voordele om vir kinders te lees
    Ontwaak!—2004
  • Waak teen ageletterdheid
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 11/22 bl. 12-14

Waarom moet jy hardop vir jou kinders lees?

“Sy het na my toe gekom, op my skoot geklouter met ’n boek waarvan die bladsye omgekrul en met . . . grondboontjiebotter besmeer is, en gevra . . . : ‘Help my om dit te lees, Pappa; help my om dit te lees.’”—Dr. Clifford Schimmels, professor in die opvoedkunde.

KINDERS—hulle leer so vinnig. Navorsing toon dat die brein van kinders onder drie jaar baie vinnig ontwikkel. Doodgewone dinge wat ouers doen, soos om te lees, te sing en liefde te betoon, kan ’n noodsaaklike rol in ’n kind se gesonde ontwikkeling speel. Maar volgens een studie lees net sowat die helfte van alle ouers van kinders tussen die ouderdomme van twee en agt jaar daagliks vir hulle kinders. Jy wonder dalk: ‘Maak dit werklik ’n verskil as ek vir my kind lees?’

Wek ’n liefde vir lees

Volgens deskundiges is die antwoord ja. “Die allerbelangrikste manier om die kennis oor te dra wat ’n mens nodig het om uiteindelik goed te kan lees, is om hardop vir kinders te lees. Dit geld veral gedurende die voorskoolse jare”, sê die verslag Becoming a Nation of Readers.

Wanneer kinders luister na verhale wat uit ’n boek voorgelees word, leer hulle op ’n vroeë leeftyd dat die letters op die bladsy met ons gesproke woordeskat ooreenstem. Hulle raak ook vertroud met die taal in boeke. “Elke keer as ons vir ’n kind lees, stuur ons ’n ‘genot’-boodskap na die kind se brein. Jy sou dit selfs ’n advertensie kon noem, wat die kind kondisioneer om boeke en drukwerk met genot te assosieer”, sê een handleiding oor voorlesing. Ouers wat hierdie liefde vir boeke aanwakker, sal by hulle kinders ’n lewenslange begeerte wek om lesers te wees.

Help hulle om die wêreld om hulle te verstaan

Ouers wat hardop vir hulle kinders lees, kan hulle ’n waardevolle geskenk gee—kennis van mense, plekke en dinge. Deur te lees, kan hulle deur die wêreld “reis” sonder om baie geld uit te gee. Neem byvoorbeeld die geval van die tweejarige Anthony, wie se ma al van sy geboorte af vir hom lees. Sy sê: “Sy eerste besoek aan die dieretuin was ’n reis van herontdekking.” Herontdekking? Ja, hoewel Anthony sebras, leeus, kameelperde en ander diere vir die eerste keer in lewende lywe gesien het, het hy reeds met hierdie diere kennis gemaak.

Sy ma verduidelik verder: “Anthony het dit geniet om in sy eerste twee lewensjare met talle mense, diere, dinge en idees kennis te maak, alles in boeke.” Ja, as daar hardop vir kinders gelees word wanneer hulle jonk is, kan dit grootliks bydra tot hulle begrip van die wêreld waarin hulle leef.

Bou ’n hegte verhouding op

Gedurende die vormingsjare leer jong kinders gesindhede aan wat hulle dade in latere jare sal beïnvloed. Daarom moet ouers die grondslag lê vir ’n hegte verhouding wat deur vertroue, wedersydse agting en begrip gekenmerk word. Lees kan tot hierdie proses bydra.

Wanneer ouers die tyd inruim om hulle kinders in hulle arms te hou en vir hulle te lees, is die boodskap duidelik: “Ek is lief vir jou.” Phoebe, ’n ma in Kanada, het die volgende gesê oor die feit dat sy vir haar seun, wat nou agt jaar oud is, gelees het: “Ek en my man meen dat dit grootliks daartoe bygedra het dat Nathan na aan ons voel. Hy is openhartig met ons en vertel ons dikwels hoe hy voel. Dit het ’n besondere band laat ontstaan.”

Cindy het ’n gewoonte daarvan gemaak om hardop vir haar dogter te lees vandat sy ongeveer ’n jaar oud was en ’n minuut of wat kon stilsit en luister. Was dit al die tyd en inspanning werd? Cindy sê: “Die vriendelike, rustige atmosfeer wanneer ons saam lees, is dikwels al wat nodig is om Abigail sover te kry om ons van die een of ander voorval by die skool of probleem met ’n maat te vertel. Watter ouer wil nie graag so ’n reaksie hê nie?” As ’n ouer hardop vir ’n kind lees, kan dit beslis tot ’n hegte band tussen hulle bydra.

Skerp belangrike lewensvaardighede in

“Ons kinders neem vandag soveel verstandelike gemors deur die televisie en uit ander bronne in dat hulle meer as ooit tevore verstandelike voeding, helder denke, wysheid, verstandelike ankers nodig het wat hulle sal help om hulle waardes na te leef en hulle lewe in perspektief te sien”, sê die boek 3 Steps to a Strong Family. Ouers is in die beste posisie om ’n positiewe en opbouende invloed uit te oefen.

As ’n kind blootgestel word aan saamgestelde sinne met goeie sinsbou wat in boeke gevind word, kan dit hom help om te leer hoe om hom uit te druk wanneer hy praat sowel as skryf. Dorothy Butler, skryfster van Babies Need Books, sê: “Die gehalte van iemand se denke sal van die gehalte van sy taal afhang. Taal is inderdaad die grondslag van kennis en verstand.” Goeie kommunikasievermoë is die lewensbloed van goeie verhoudings.

Voorlesing uit gepaste boeke kan ook goeie sedes en waardes versterk. Ouers wat saam met hulle kinders lees en redeneer, kan hulle help om die vermoë te ontwikkel om probleme op te los. Terwyl Cindy saam met haar dogter Abigail gelees het, het sy Abigail se reaksie op situasies wat in verhale uitgebeeld word, noukeurig waargeneem. “As ouers kan ons meer omtrent haar verborge karaktertrekke leer en haar hopelik help om verkeerde denkpatrone baie vroeg al reg te stel.” Ja, as ’n mens hardop saam met kinders lees, kan die verstand sowel as die hart opgelei word.

Maak lees ’n genot

Lees “sonder om druk uit te oefen”, en hou die atmosfeer ontspanne, informeel en aangenaam. Oplettende ouers weet wanneer om op te hou lees. Lena sê: “Andrew, wat twee jaar oud is, is soms baie moeg en sit nie baie lank stil nie. Ons maak ons leestyd korter om by sy luim aan te pas. Ons wil nie hê dat Andrew enige negatiewe gevoelens omtrent lees moet hê nie, en daarom dwing ons hom nie om dit langer te doen as wat hy wil nie.”

Om hardop te lees, behels baie meer as om bloot die gedrukte woorde uit te spreek. Jy moet weet wanneer om in ’n prenteboek om te blaai sodat jy afwagting kan wek. Lees vloeiend. Stembuiging en beklemtoning kan ook baie tot die verhaal bydra. Die hartlikheid in jou stem kan jou kind ’n gevoel van veiligheid gee.

Dit het die grootste nut as jou kind ’n daadwerklike aandeel het. Bly van tyd tot tyd stil, en vra vrae wat ’n reaksie uitlok. Vul jou kind se antwoorde aan deur ander moontlikhede te noem.

Wees selektief in jou keuse van boeke

Maar die belangrikste faktor is moontlik om goeie boeke te kies. Dít verg dat jy ’n bietjie huiswerk doen. Keur boeke sorgvuldig, en bly by dié wat ’n positiewe of leersame boodskap het en wat ’n goeie sedeles bevat. Let noukeurig op die voorblad, die prente en die algemene skryftrant. Kies boeke wat vir die ouer sowel as die kind interessant is. Kinders sal dikwels vra dat dieselfde verhaal oor en oor gelees moet word.

Ouers oor die hele wêreld het veral My boek met Bybelverhale waardeer.a Dit is so saamgestel dat ouers dit saam met hulle jong kinders kan lees, en dit kan kinders nie net help om goeie lesers te word nie, maar sal dalk ook hulle belangstelling in die Bybel aanwakker.

Ouers wat hardop vir hulle kinders lees, kan hulle leer om goeie leesgewoontes aan te kweek, wat hulle hele lewe lank nuttig sal wees. JoAnne het van haar dogter gesê: “Jennifer het nie net leer lees en skryf voordat sy skool toe gegaan het en lief geword vir lees nie, maar nog belangriker, sy het ’n liefde aangekweek vir ons Grootse Skepper, Jehovah. Jennifer het geleer om op sy geskrewe Woord, die Bybel, te vertrou om haar in al haar besluite te rig.” Wat jy ’n kind help om lief te kry, kan inderdaad belangriker wees as wat jy hom of haar leer.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 14]

Wanneer jy vir jou kind lees

• Begin wanneer hy of sy nog ’n baba is.

• Laat tyd toe sodat jou kind tot rus kan kom wanneer julle lees.

• Lees verhale waarvan julle al twee hou.

• Lees so dikwels as wat jy kan en met gevoel.

• Betrek jou kind deur vrae te vra.

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Photograph taken at the Wildlife Conservation Society’s Bronx Zoo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel