Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 12/22 bl. 19-23
  • Onderskraag deur vertroue op God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onderskraag deur vertroue op God
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek verander van godsdiens
  • Ek moet skuil, maar hou aan preek
  • In hegtenis geneem
  • Ek weier om wapens te maak
  • Ek oorleef die einde van die oorlog
  • Herenig met mede-Getuies
  • Na-oorlogse bedrywigheid
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Dankbaar dat ek Jehovah kan dien, selfs tydens beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderskraag tydens verskriklike beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Wat ’n vreugde om aan Jehovah se tafel te sit!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 12/22 bl. 19-23

Onderskraag deur vertroue op God

SOOS VERTEL DEUR RACHEL SACKSIONI-LEVEE

TOE ’N WAG MY HERHAALDELIK DEUR DIE GESIG GESLAAN HET OMDAT EK GEWEIER HET OM AAN ONDERDELE VIR NAZI-BOMWERPERS TE WERK, HET ’N ANDER WAG VIR HAAR GESÊ: “JY KAN NET SOWEL OPHOU. HIERDIE ‘BIBELFORSHER’ SAL HULLE LAAT DOODSLAAN VIR HULLE GOD.”

DIT het plaasgevind in Desember 1944 in Beendorff, ’n vrouestrafkamp naby die soutmyne in die noorde van Duitsland. Laat ek verduidelik hoe ek daar beland het en hoe ek die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog oorleef het.

Ek is in 1908 in Amsterdam, Nederland, uit ’n Joodse gesin gebore, die tweede van drie dogters. My pa was ’n diamantslyper, soos baie Jode in Amsterdam voor die Tweede Wêreldoorlog. Hy is oorlede toe ek 12 was, en daarna het my oupa by ons kom bly. My oupa was ’n vroom Jood, en hy het toegesien dat ons volgens Joodse tradisies opgevoed word.

Ek het in my pa se voetspore gevolg en ’n diamantslyper geword, en in 1930 is ek met ’n kollega getroud. Ons het twee kinders gehad—Silvain, ’n lewendige en avontuurlustige seun, en Carry, ’n liewe, stil dogtertjie. Ongelukkig het ons huwelik nie lank gehou nie. In 1938, kort ná die egskeiding, het ek met Louis Sacksioni getrou, wat ook ’n diamantslyper was. In Februarie 1940 is ons dogter, Johanna, gebore.

Al was Louis ’n Jood, het hy nie sy godsdiens beoefen nie. Ons het dus nie meer die Joodse feeste gevier wat my as kind so gefassineer het nie. Ek het dit baie gemis, maar in my hart het ek aan God bly glo.

Ek verander van godsdiens

Vroeg in 1940, die jaar toe die Duitsers Nederland beset het, het ’n vrou aan ons deur geklop en met my oor die Bybel gepraat. Ek het nie veel verstaan van wat sy gesê het nie, maar ek het elke keer lektuur by haar geneem wanneer sy gekom het. Ek het egter nie die lektuur gelees wat sy by my gelaat het nie, want ek wou niks met Jesus te doen hê nie. Ek is geleer dat hy ’n afvallige Jood was.

Toe het ’n man eendag na my deur toe gekom. Ek het hom vrae gevra soos: “Waarom het God nie ander mense geskep nadat Adam en Eva gesondig het nie? Waarom is daar soveel lyding? Waarom haat mense mekaar en voer hulle oorlog?” Hy het my die versekering gegee dat hy my vrae uit die Bybel sou beantwoord as ek geduldig is. ’n Tuisbybelstudie is dus gereël.

Ek het nogtans die idee verwerp dat Jesus die Messias is. Maar nadat ek oor die saak gebid het, het ek die Messiaanse profesieë in die Bybel begin lees en dit uit ’n ander oogpunt begin beskou (Psalm 22:8, 9, 19; Jesaja 53:1-12). Jehovah het my gehelp om te sien dat daardie profesieë in Jesus vervul is. My man het nie belanggestel in wat ek geleer het nie, maar hy het nie omgegee dat ek een van Jehovah se Getuies word nie.

Ek moet skuil, maar hou aan preek

Die Duitse besetting van Nederland was vir my ’n gevaarlike tyd. Ek was nie net ’n Jood, wat deur die Duitsers in konsentrasiekampe gegooi is nie, maar ek was ook een van Jehovah se Getuies, ’n godsdiensorganisasie wat die Nazi’s probeer vernietig het. Ek het nogtans bedrywig gebly en gemiddeld 60 uur per maand daaraan bestee om ander van my nuutgevonde Christelike hoop te vertel.—Matteus 24:14.

Een aand in Desember 1942 het my man nie van die werk af huis toe gekom nie. Hy en sy kollegas is by die werk in hegtenis geneem. Ek het hom nooit weer gesien nie. My mede-Getuies het my aangeraai om êrens met my kinders te gaan skuil. Ek het by ’n Christensuster aan die ander kant van Amsterdam gaan bly. Omdat dit vir ons vier te gevaarlik was om saam op een plek te bly, moes ek my kinders by ander los.

Ek het dikwels naelskraap ontkom. Een aand het ’n Getuie my op sy fiets na ’n nuwe skuilplek geneem. Maar sy fiets se lig het nie gewerk nie, en ons is deur twee Nederlandse polisiemanne voorgekeer. Hulle het met hulle flitse in my gesig geskyn en kon sien dat ek Joods was. Gelukkig het hulle net gesê: “Gaan maar verby, maar eerder te voet.”

In hegtenis geneem

Een oggend in Mei 1944, toe ek net met my bediening wou begin, is ek in hegtenis geneem—nie omdat ek ’n Getuie was nie, maar omdat ek ’n Jood was. Ek is na ’n gevangenis in Amsterdam geneem, waar ek tien dae gebly het. Toe is ek saam met ander Jode per trein na Westerbork geneem, die deurgangskamp in die noordoostelike deel van Nederland. Van daar af is Jode na Duitsland vervoer.

In Westerbork het ek my swaer en sy seun teëgekom, wat ook gevange geneem is. Ek was die enigste Getuie onder die Jode daar, en ek het voortdurend tot Jehovah gebid om my te onderskraag. Twee dae later het ek, my swaer en sy seun in ’n veetrok gesit van ’n trein wat op die punt was om na Auschwitz of Sobibor, doodskampe in Pole, te vertrek. Skielik is my naam uitgeroep, en ek is na ’n ander trein geneem—’n gewone passasierstrein.

Op die trein was voormalige kollegas van die diamantbedryf. Omtrent honderd diamantwerkers is na Bergen-Belsen in die noordelike deel van Duitsland vervoer. Later het ek gehoor dat my ambag my lewe gered het, want die Jode wat na Auschwitz en Sobibor geneem is, het gewoonlik reguit na die gaskamers gegaan. Dit is wat met my man, twee van my kinders en ander familielede gebeur het. Maar ek het op daardie stadium nie geweet wat met hulle gebeur het nie.

In Bergen-Belsen het dié van ons wat diamantslypers was, in ’n spesiale barak gebly. Om ons hande vir ons delikate werk te beskerm, het hulle ons nie ander werk laat doen nie. Ek was die enigste Getuie in ons groep, en ek het mede-Jode moedig van my nuutgevonde geloof vertel. Maar hulle het my as ’n afvallige beskou, net soos die apostel Paulus in die eerste eeu beskou is.

Ek het nie ’n Bybel gehad nie en het na geestelike voedsel gesmag. ’n Joodse dokter in die kamp het een gehad en hy het dit vir my gegee in ruil vir ’n paar snytjies brood en ’n bietjie botter. Ek was sewe maande lank saam met daardie ‘diamantgroep’ in Bergen-Belsen. Ons is redelik goed behandel, wat daartoe gelei het dat ander Joodse gevangenes ons vyandiggesind was. Maar op die ou end was daar nie diamante waaraan ons kon werk nie. Op 5 Desember 1944 is omtrent 70 van ons Joodse vroue dus na ’n vrouestrafkamp in Beendorff vervoer.

Ek weier om wapens te maak

Die gevangenes moes in die myne naby die kamp, sowat 400 meter ondergronds, onderdele vir bomwerpers maak. Toe ek weier om hierdie werk te doen, het ek ’n paar harde klappe gekry (Jesaja 2:4). Die wag het my toegesnou dat ek die volgende dag moes sorg dat ek reg is om te werk.

Die volgende oggend was ek nie daar toe ons name uitgeroep is nie; ek het in die barak gebly. Ek was seker dat hulle my sou skiet, en daarom het ek tot Jehovah gebid om my vir my geloof te beloon. Ek het hierdie Bybelpsalm oor en oor by myself opgesê: “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen?”—Psalm 56:12.

Die barak is deursoek, en ek is uitgebring. Dit was toe dat een van die wagte my herhaaldelik geslaan en gevra het: “Wie verbied jou om te werk?” Elke keer het ek vir haar gesê dat dit God is. Toe het die ander wag vir haar gesê: “Jy kan net sowel ophou. Hierdie Bibelforshera sal hulle laat doodslaan vir hulle God.” Haar woorde het my geweldig aangemoedig.

Aangesien die werk om toilette skoon te maak, gewoonlik as straf opgelê is en die vuilste werk was waaraan ek kon dink, het ek aangebied om dit te doen. Ek was bly toe ek daardie werk gegee is, want dit was iets wat ek met ’n skoon gewete kon doen. Een oggend het die kampbevelvoerder, wat deur almal gevrees is, na my toe aangestap gekom. Hy het voor my kom staan en gesê: “So, jy is die Jood wat nie wil werk nie?”

“U kan sien dat ek wel werk”, het ek geantwoord.

“Maar jy sal nie werk om die oorlog te ondersteun nie?”

“Nee”, het ek geantwoord. “God verbied dit.”

“Maar jy sal tog nie self mense daardeur doodmaak nie?”

Ek het verduidelik dat dit my Christelike gewete sou skend as ek wapens help maak.

Hy het my besem gevat en gesê: “Ek kan jou hiermee doodmaak, nie waar nie?”

“O ja”, het ek geantwoord, “maar ’n besem is nie daarvoor gemaak nie. ’n Geweer is wel.”

Ons het daaroor gepraat dat Jesus ’n Jood was en dat ek, hoewel ek Joods was, een van Jehovah se Getuies geword het. Toe hy weggestap het, het medegevangenes na my toe gekom, verbaas dat ek die moed gehad het om so kalm met die kampbevelvoerder te praat. Ek het vir hulle vertel dat dit nie ’n geval van moed was nie, maar dat ek dit kon doen omdat my God my die krag daarvoor gegee het.

Ek oorleef die einde van die oorlog

Op 10 April 1945, terwyl die Geallieerdes Beendorff genader het, moes ons bykans die hele dag in die binneplein staan terwyl ons name uitgeroep is. Daarna is ongeveer 150 van ons vroue in veetrokke geprop, sonder kos of water. Die treine het na ’n onbekende bestemming vertrek, en ons het dae lank heen en weer tussen die gevegslinies gereis. Party het hulle medegevangenes verwurg sodat daar meer plek in die trokke kon wees, en as gevolg hiervan het baie vroue ’n senuwee-ineenstorting gehad. Wat my aan die gang gehou het, was my vertroue in Jehovah se sorg.

Eendag het ons trein naby aan ’n kamp vir mans gestop, en ons is toegelaat om uit te klim. ’n Paar van ons is emmers gegee om water by die kamp te gaan haal. Toe ek by die kraan kom, het ek eers met lang teue gedrink en daarna my emmer vol gemaak. Toe ek terugkom, het die vroue soos wilde diere op my afgestorm. Al die water is uit die emmer gestamp. Die SS (lede van Hitler se keurwag) het net daar gestaan en lag. Elf dae later het ons in Eidelstedt aangekom, ’n kamp in ’n voorstad van Hamburg. Omtrent die helfte van ons groep het gesterf as gevolg van die ontberinge op die reis.

Terwyl ek in Eidelstedt was, het ek eendag vir ’n paar van die vroue uit die Bybel gelees. Skielik het die kampbevelvoerder by die venster gestaan. Ons was baie bang, want die Bybel was ’n verbode boek in die kamp. Die bevelvoerder het ingekom, die Bybel gevat en gesê: “So, dit is ’n Bybel?” Tot my groot verligting het hy dit teruggegee en gesê: “As een van die vroue sterf, sal jy iets daaruit moet voorlees.”

Herenig met mede-Getuies

Nadat ons 14 dae later vrygelaat is, het die Rooi Kruis ons na ’n skool naby Malmö, in Swede, geneem. Daar is ons ’n ruk lank onder kwarantyn geplaas. Ek het een van die vroue wat na ons omgesien het, gevra of sy vir Jehovah se Getuies sal laat weet dat ek in die vlugtelingkamp is. ’n Paar dae later is my naam uitgeroep. Toe ek die vrou vertel dat ek ’n Getuie is, het sy begin huil. Sy was ook ’n Getuie! Nadat sy tot bedaring gekom het, het sy my vertel dat die Getuies in Swede altyd vir hulle Christenbroers en -susters in die Nazi-konsentrasiekampe gebid het.

Van toe af het daar elke dag ’n suster gekom met koffie en iets soets om te eet. Nadat ek die vlugtelingkamp verlaat het, is ek na ’n plek naby Göteborg oorgeplaas. Daar het die Getuies een middag ’n groot samekoms vir my gereël. Al kon ek nie hulle taal verstaan nie, was dit hartverblydend om weer eens tussen my broers en susters te wees.

Terwyl ek in Göteborg was, het ek ’n brief van ’n Getuie in Amsterdam ontvang wat my meegedeel het dat my kinders Silvain en Carry en al my familielede gevange geneem is en nooit weer teruggekeer het nie. Net my dogter Johanna en my jongste suster het oorgebly. Ek het onlangs die name van my seun en my dogter in ’n register gesien van Jode wat in Auschwitz en Sobibor vergas is.

Na-oorlogse bedrywigheid

Toe ek terug was in Amsterdam en herenig is met Johanna, wat toe vyf was, het ek onmiddellik weer met die bediening begin. Soms het ek persone ontmoet wat lede was van die NSB, die Nederlandse Nasionaal-Sosialistiese Beweging, die politieke party wat met die Duitsers saamgewerk het. Hulle was aandadig aan die uitwissing van feitlik my hele familie. Ek moes negatiewe gevoelens oorkom om die goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle bekend te maak. Ek het daaraan bly dink dat Jehovah die hart sien en dat dit hy is wat uiteindelik sal oordeel, nie ek nie. En hoe is ek tog nie geseën hiervoor nie!

Ek het ’n Bybelstudie begin met ’n vrou wie se man in die gevangenis was omdat hy met die Nazi’s saamgewerk het. Wanneer ek die trappe opgeloop het na hulle huis toe, het ek die bure hoor sê: “Kyk! Daardie Joodse vrou besoek weer die NSB-mense.” Maar ten spyte van hewige teëstand van haar anti-Semitiese man in die gevangenis, het hierdie vrou en haar drie dogters almal Getuies van Jehovah geword.

Tot my groot vreugde het my dogter Johanna later haar lewe aan Jehovah toegewy. Ek en sy het verhuis na waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Ons het baie geestelike seëninge geniet. Ek woon nou in ’n dorpie in die suide van Nederland, waar ek so dikwels as wat ek kan saam met die gemeente aan die predikingswerk deelneem. Wanneer ek terugkyk, kan ek net sê dat ek nooit gevoel het dat Jehovah my verlaat het nie. Ek het altyd gevoel dat Jehovah en sy geliefde Seun, Jesus, by my is, selfs in die moeilikste tye.

Gedurende die oorlog het ek my man, twee van my kinders en die meeste van my familielede verloor. Maar ek hoop om hulle almal binnekort in God se nuwe wêreld weer te sien. Wanneer ek alleen is en terugdink aan wat ek deurgemaak het, dink ek met vreugde en waardering aan die psalmis se woorde: “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”—Psalm 34:8.

[Voetnoot]

a Die naam waaronder Jehovah se Getuies destyds in Duitsland bekend was.

[Prent op bladsy 20]

Jode word van die kamp in Westerbork na Duitsland geneem

[Erkenning]

Herinneringscentrum kamp Westerbork

[Prent op bladsy 21]

Saam met my kinders Carry en Silvain, wat albei in die Slagting omgekom het

[Prent op bladsy 22]

Terwyl ek in Swede onder kwarantyn was

[Prent op bladsy 22]

Tydelike identiteitskaart vir my terugkeer na my geboorteland

[Prent op bladsy 23]

Vandag saam met my dogter Johanna

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel