Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 6/1 bl. 28-31
  • Onderskraag tydens verskriklike beproewinge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onderskraag tydens verskriklike beproewinge
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Joodse agtergrond
  • Begin van beproewinge
  • My ergste beproewing
  • ’n Tyd van verligting
  • Ek oorleef Auschwitz
  • Ek oorleef ander kampe
  • Vrylating en die lewe daarna
  • Onderskraag deur vertroue op God
    Ontwaak!—2001
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • “Opgesluit weens hulle geloof”
    Ontwaak!—2006
  • Twee keer tot 25 jaar slawearbeid gevonnis
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 6/1 bl. 28-31

Onderskraag tydens verskriklike beproewinge

SOOS VERTEL DEUR ÉVA JOSEFSSON

’N Groepie van ons het in die distrik Ujpest in Boedapest, Hongarye, bymekaargekom vir ’n kort vergadering voordat ons in die Christelike bediening sou uitgaan. Dit was 1939, kort voor die begin van die Tweede Wêreldoorlog, en daar was ’n verbod op die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Hongarye. Diegene wat destyds in die openbaar aan die Bybelonderrigtingswerk deelgeneem het, is dikwels in hegtenis geneem.

AANGESIEN dit die eerste keer was dat ek hierdie werk sou doen, het ek seker ’n bietjie angstig en bleek gelyk. ’n Ouer Christenbroer het na my gekyk en gesê: “Éva, jy hoef nooit te vrees nie. Om Jehovah te dien, is die grootste eer wat ’n mens kan hê.” Daardie vriendelike en bemoedigende woorde het gehelp om my deur talle verskriklike beproewinge heen te onderskraag.

’n Joodse agtergrond

Ek was die oudste kind in ’n Joodse gesin met vyf kinders. My ma was nie tevrede met Judaïsme nie, en sy het ander godsdienste begin ondersoek. Dit is hoe sy Erzsébet Slézinger ontmoet het, ’n ander Joodse vrou wat ook na Bybelwaarheid gesoek het. Erzsébet het my ma met Jehovah se Getuies in aanraking gebring, en gevolglik het ek ook opreg in Bybelleringe begin belangstel. Kort voor lank het ek ander begin vertel wat ek geleer het.

Toe ek 18 geword het in die somer van 1941 het ek my toewyding aan Jehovah God gesimboliseer deur in die Donau-rivier gedoop te word. My ma is by dieselfde geleentheid gedoop, maar my pa het nie ons nuutgevonde Christelike geloof aangeneem nie. Kort nadat ek gedoop is, het ek planne gemaak om pionierdiens te doen, dit wil sê om aan die voltydse bediening deel te neem. Ek het ’n fiets nodig gehad, en daarom het ek in die laboratorium van ’n groot tekstielfabriek begin werk.

Begin van beproewinge

Die Nazi’s het Hongarye oorgeneem, en die fabriek waar ek gewerk het, het onder Duitse beheer gekom. Eendag is al die werkers geroep om voor die opsigters ’n eed van getrouheid aan die Nazi’s af te lê. Daar is vir ons gesê dat dit ernstige gevolge sou hê as ons dit nie doen nie. Gedurende die seremonie, waartydens daar van ons verwag is om heil Hitler te sê, het ek eerbiedig gestaan maar nie gedoen wat hulle van my verwag het nie. Ek is daardie selfde dag in die kantoor ingeroep, my salaris gegee en ontslaan. Aangesien werk skaars was, het ek gewonder wat van my planne sou word om pionierdiens te doen. Die volgende dag het ek egter ander werk gekry met selfs ’n beter salaris.

Nou kon my begeerte om pionierdiens te doen, vervul word. Ek het verskeie pioniermaats gehad, en my laaste een was Juliska Asztalos. Ons het slegs ons Bybel in die bediening gebruik, aangesien ons geen lektuur gehad het om aan te bied nie. Wanneer ons belangstellendes gevind het, het ons herbesoeke gedoen en lektuur aan hulle geleen.

Keer op keer moes ek en Juliska die gebied verander wat ons gewerk het. Ons moes dit doen, want sodra ’n priester uitgevind het dat ons ‘sy skape’ besoek, het hy ’n aankondiging in die kerk gedoen dat hulle vir hom of vir die polisie moet laat weet as Jehovah se Getuies hulle besoek. Wanneer gawe mense ons van so ’n aankondiging vertel het, het ons na ’n ander gebied gegaan.

Eendag het ek en Juliska ’n jong seun besoek wat belangstelling getoon het. Ons het ’n afspraak gemaak vir ’n herbesoek sodat ons vir hom iets kon leen om te lees. Maar toe ons terugkeer, was die polisie daar, en ons is in hegtenis geneem en na die polisiekantoor in Doenavecse geneem. Die seun is as ’n lokvink gebruik om ons te vang. Toe ons by die polisiekantoor aankom, het ons ’n priester daar gesien en geweet dat hy ook daarby betrokke was.

My ergste beproewing

Daar by die polisiekantoor is al my hare afgeskeer, en ek moes kaal voor ’n stuk of twaalf polisiemanne staan. Hulle het my ondervra en wou weet wie ons leier in Hongarye is. Ek het verduidelik dat ons geen leier behalwe Jesus Christus het nie. Toe het hulle my wreed met hulle knuppels geslaan, maar ek het nie my Christenbroers verraai nie.

Daarna het hulle my voete aan mekaar vasgebind en my hande bo my kop gehou en ook aan mekaar vasgebind. Daarna het hulle almal die een na die ander my verkrag, almal behalwe een polisieman. Ek is so styf vasgebind dat ek drie jaar later nog steeds merke aan my handgewrigte gehad het. Ek is so wreed mishandel dat ek twee weke in die kelder gehou is totdat my ergste beserings in ’n mate genees het.

’n Tyd van verligting

Later is ek na ’n gevangenis in Nagykanizsa geneem, waar daar baie Getuies van Jehovah was. Ondanks ons gevangeneming het twee betreklik gelukkige jare gevolg. Ons het al ons vergaderinge in die geheim gehou, en ons het min of meer soos ’n gemeente gefunksioneer. Ons het ook baie geleenthede gehad om informeel te getuig. Dit was in hierdie gevangenis wat ek Olga Slézinger ontmoet het, ’n vleeslike suster van Erzsébet Slézinger, die vrou wat my en my ma met Bybelwaarheid in aanraking gebring het.

Teen 1944 het die Nazi’s in Hongarye besluit om die Hongaarse Jode uit te wis, net soos hulle hulle in ander besette gebiede stelselmatig doodgemaak het. Eendag het hulle my en Olga kom haal. Ons is in veetrokke gelaai en ná ’n baie moeilike reis deur Tsjeggo-Slowakye het ons ons bestemming in die suide van Pole bereik—die dodekamp Auschwitz.

Ek oorleef Auschwitz

Ek het veilig gevoel wanneer ek saam met Olga was. Sy kon selfs in moeilike situasies humoristies wees. Toe ons in Auschwitz aankom, het ons voor die berugte dr. Mengele verskyn, wie se taak dit was om die nuwe aankomelinge wat liggaamlik ongeskik was vir werk van die gesondes te skei. Eersgenoemdes is na gaskamers gestuur. Toe dit ons beurt was, het Mengele vir Olga gevra: “Hoe oud is jy?”

Sy het moedig, en met ’n humoristiese vonkeling in haar oë, geantwoord: “20”. In werklikheid was sy twee keer so oud. Maar Mengele het gelag en het haar na die regterkant gestuur en dus laat lewe.

Al die gevangenes in Auschwitz is met simbole op hulle gevangenisklere gemerk—Jode het die Ster van Dawid gehad, en Jehovah se Getuies het die pers driehoek gehad. Toe hulle die Ster van Dawid op ons klere wou vaswerk, het ons verduidelik dat ons Jehovah se Getuies is en dat ons die pers driehoek wou hê. Dit was nie omdat ons skaam was oor ons Joodse agtergrond nie, maar omdat ons nou Getuies van Jehovah was. Hulle het ons probeer dwing om die Joodse embleem te aanvaar deur ons te skop en te slaan. Maar ons het standvastig gebly totdat hulle ons as Jehovah se Getuies opgeneem het.

Mettertyd het ek my suster Elvira, wat drie jaar jonger as ek was, teëgekom. Ons hele gesin van sewe is na Auschwitz geneem. Net ek en Elvira is goedgekeur as geskik om te werk. My pa, ma en die drie ander kinders het in die gaskamers gesterf. Elvira was nie destyds ’n Getuie nie, en ons het nie in dieselfde deel van die kamp gebly nie. Sy het dit oorleef, na die Verenigde State geïmmigreer,’n Getuie geword in Pittsburgh, Pennsilvanië, en is later in 1973 daar oorlede.

Ek oorleef ander kampe

In die winter van 1944/45 het die Duitsers besluit om Auschwitz te ontruim, aangesien die Russe in aantog was. Ons is gevolglik na Bergen-Belsen in die noorde van Duitsland verskuif. Kort ná ons aankoms is ek en Olga na Braunschweig gestuur. Hier was ons veronderstel om puin te help opruim ná die hewige bomaanvalle deur die geallieerdes. Ek en Olga het die saak bespreek. Aangesien ons nie seker was of hierdie werk ons neutraliteit sou skend nie, het ons albei besluit om dit nie te doen nie.

Ons besluit het nogal opspraak verwek. Ons is met leerswepe geslaan en toe voor ’n vuurpeloton laat staan. Ons is een minuut gegee om oor die saak na te dink, en daar is vir ons gesê dat ons geskiet sou word as ons nie van gedagte verander nie. Ons het gesê dat ons geen tyd nodig het om daaroor te dink nie omdat ons alreeds besluit het. Maar aangesien die kampbevelvoerder nie teenwoordig was nie en hy die enigste een was wat die gesag gehad het om ’n teregstellingsbevel te gee, moes ons teregstelling uitgestel word.

Intussen is ons gedwing om die hele dag lank op die kampwerf te staan. Twee gewapende soldate, wat elke twee uur vervang is, het ons bewaak. Ons het geen kos gekry nie, en ons het vreeslik koud gekry, aangesien dit Februarie was. Ons het ’n week lank sulke behandeling ontvang, maar die bevelvoerder het nie opgedaag nie. Ons is gevolglik agterop ’n vragmotor gesit en tot ons verbasing is ons weer na Bergen-Belsen teruggeneem.

Teen daardie tyd was ek en Olga in ’n vreeslike toestand. Ek het die meeste van my hare verloor en het ’n hoë koors gehad. Dit was net met die grootste inspanning wat ek ’n bietjie kon werk. Die dun koolsop en klein stukkie brood wat ons daagliks gekry het, was nie genoeg nie. Maar dit was noodsaaklik dat ons werk, omdat diegene wat nie kon werk nie, tereggestel is. Duitse susters wat saam met my in die kombuis gewerk het, het my gehelp om ’n bietjie rus te kry. Wanneer wagte wat besig was met inspeksie op pad was, het die susters my gewaarsku, sodat ek by die werksbank kon staan en maak of ek hard werk.

Eendag het Olga net nie die krag gehad om na haar werksplek te gaan nie, en ons het haar daarna nooit weer gesien nie. Ek het ’n moedige vriendin en metgesel verloor, een wat my grootliks gehelp het gedurende daardie moeilike maande in die kampe. As ’n gesalfde volgeling van ons Here Jesus Christus het sy natuurlik haar hemelse beloning onmiddellik ontvang.—Openbaring 14:13.

Vrylating en die lewe daarna

Toe die oorlog in Mei 1945 geëindig het en ons vrygelaat is, was ek so swak dat ek my nie kon verbly oor die juk van die onderdrukkers wat uiteindelik verbreek is nie; ek kon ook nie saam met die konvooie gaan wat die bevryde mense na lande geneem het wat gewillig was om hulle te ontvang nie. Ek was drie maande in ’n hospitaal om weer my krag te herwin. Daarna is ek na Swede geneem, wat my nuwe tuiste geword het. Ek het onmiddellik met my Christenbroers en -susters in aanraking gekom en het mettertyd weer die kosbare voorreg geniet om aan die veldbediening deel te neem.

In 1949 is ek met Lennart Josefsson getroud, wat jare lank as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies gedien het. Hy is ook gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die gevangenis opgesluit omdat hy sy geloof gehandhaaf het. Ons het ons lewe saam as pioniers op 1 September 1949 begin, en ons is gestuur om in die dorpie Borås te gaan dien. Gedurende ons eerste paar jaar daar het ons gereeld elke week tien Bybelstudies met belangstellendes gehou. Ons het die vreugde gesmaak om te sien hoe die gemeente in Borås binne nege jaar drie gemeentes word, en nou is daar vyf.

Ek kon nie lank ’n pionier bly nie omdat ons in 1950 ’n dogter gehad het en twee jaar later ’n seun. Ek het dus die vreugdevolle voorreg gehad om ons kinders die kosbare waarheid te leer wat die dierbare broer in Hongarye my geleer het toe ek maar 16 was, naamlik: “Om Jehovah te dien, is die grootste eer wat ’n mens kan hê.”

Wanneer ek op my lewe terugkyk, besef ek dat ek die waarheid ondervind het van wat die dissipel Jakobus geskryf het toe hy ons aan Job se volharding herinner het: “Jehovah [is] baie teer in geneentheid en barmhartig” (Jakobus 5:11). Hoewel ek ook verskriklike beproewinge gehad het, is ek ryklik geseën met twee kinders, hulle huweliksmaats en ses kleinkinders—wat almal aanbidders van Jehovah is. Daarbenewens het ek baie, baie geestelike kinders en kleinkinders, waarvan party as pioniers en sendelinge dien. My vurige verwagting is nou om verenig te word met geliefdes wat in die dood slaap en om hulle te omhels wanneer hulle uit hulle gedenkgrafte opstaan.—Johannes 5:28, 29.

[Prent op bladsy 31]

In die bediening in Swede ná die Tweede Wêreldoorlog

[Prent op bladsy 31]

Saam met my man

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel