Die huwelik moet ’n permanente verbintenis wees
TE OORDEEL na hoe baie rolprente eindig, is die huwelik ’n begeerlike doel om na te streef. Die man en vrou kom dikwels uiteindelik by mekaar uit, trou en lewe lank en gelukkig saam. In rolprente is dit gewoonlik die einde van die verhaal.
In die werklike lewe is die troue nie die einde nie, maar die begin van ’n nuwe lewe saam. En hopelik, soos Prediker 7:8 sê, ‘is die uiteinde van die saak beter as sy begin’.
’n Permanente verbintenis
Versiendheid is nodig. ’n Huwelik moet stewige fondamente hê om blywend en bevredigend te wees. Anders kan die spanning wat ná die troue ondervind word, baie meer wees as die spanning voor die troue. ’n Christen kan nie trou en dink: ‘As dit nie uitwerk nie, kan ek altyd skei’ nie. Die huwelik moet as ’n permanente verbintenis beskou word.
Jesus het dit duidelik gemaak dat die huwelik permanent moet wees toe hy ’n vraag beantwoord het oor die gepastheid van egskeiding. Hy het gesê: “Het julle nie gelees dat [God] wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:4-6.
Ná die troudag
Daar is al tereg gesê dat die huwelik, naas toewyding aan God, die belangrikste stap in ’n Christen se lewe is. Met toewyding smee ’n mens ’n ewige band met die Skepper, en deur middel van doop maak ’n mens dit in die openbaar bekend. Die huwelik is die openbare bekendmaking van ’n verbintenis met iemand anders—’n ewige verbintenis. Dit is ondenkbaar om jou aan God toe te wy of om ’n huweliksband te smee terwyl jy ernstige bedenkinge het. Daarom is dit goed as diegene wat dit oorweeg om te trou, hulle toekomstige maat se oortuigings, doelwitte, gesindhede en geaardheid sorgvuldig ondersoek.
Terwyl jy vir die troue voorberei, is goedhartigheid, bedagsaamheid en die gees van samewerking belangrik. Sulke eienskappe is selfs belangriker daarna om ’n sukses van die huwelik te maak. Die pasgetroude paartjie is verlief, maar ná die troue moet hulle onthou dat die liefde van dag tot dag ‘nie sy eie belang soek nie’. Wanneer dit jaar ná jaar konsekwent toegepas word, ‘faal die liefde nooit nie’ (1 Korintiërs 13:5, 8). Met ’n blywende liefde sal dit makliker wees om sulke eienskappe soos lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—wat vrugte van God se gees is—aan die dag te lê. Hierdie eienskappe is nodig vir ’n suksesvolle huwelik.—Galasiërs 5:22, 23.
Die uitdaging is om aan te hou om hierdie eienskappe ná die troudag te openbaar. Maar die sleutel tot sukses om hierdie goeie eienskappe te openbaar, is dit: Wees lief vir die persoon met wie jy getrou het, en wees bereid om opofferings te maak.
Jesus het gesê die grootste gebod vir die mens is om Jehovah lief te hê, en hy het gesê die tweede grootste gebod is dit: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). ’n Getroude persoon se intiemste naaste is sy of haar huweliksmaat, want niks op aarde kan twee mense verenig soos die huwelik nie.
Maar ’n blote fisiese verhouding kan nie op sigself emosionele harmonie waarborg nie. Die feit dat twee mense een vlees word, beteken nie altyd dat hulle eendersdenkend is nie. Om die grootste bevrediging te verskaf, moet die seksuele verhouding ook gepaardgaan met hierdie tweede element—die eenwording van harte en voornemens. Om opofferings vir die ander persoon te maak, is gewoonlik die prys wat betaal moet word om van die huwelik ’n sukses te maak. Wie moet die opofferings maak? Die man? Die vrou?
Betoon liefde en eer
God se Woord beveel: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Indien moontlik, moet jy die opoffering maak selfs voordat jou maat jou vra om dit te doen. As ’n mens per slot van rekening iets kry nadat jy herhaaldelik daarvoor moes vra, het dit alreeds van sy waarde verloor. Elke huweliksmaat moet eerder die gewoonte aankweek om die inisiatief te neem om eer aan die ander persoon te betoon.
Mans word byvoorbeeld beveel om “aan [die vrou] eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, . . . sodat [hulle] gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7). As ’n man nie aan sy vrou eer bewys nie, sal selfs sy gebede tot God nadelig daardeur geraak word. Wat beteken dit egter om jou vrou te eer? Dit beteken om haar te alle tye in aanmerking te neem, na haar menings te luister, haar dikwels die eerste keuse in verskeie aangeleenthede te gee. En die vrou kan die man op dieselfde manier eer deur haar in te span om ’n samewerkende lewensmaat te wees.—Genesis 21:12; Spreuke 31:10-31.
God se Woord sê: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen.” Hoe lief het Christus sy volgelinge gehad? Hy was bereid om vir hulle te sterf. Die Bybel sê ook vir mans: “Elkeen van julle moet . . . afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself” (Efesiërs 5:28-33). En God se Woord sê vir vroue “om hulle mans lief te hê, . . . terwyl hulle hulle aan hulle eie mans onderwerp, sodat die woord van God nie gesmaad sal word nie”.—Titus 2:4, 5.
Laat ruimte vir foute
Aangesien alle mense in onvolmaaktheid gebore word, gaan hulle foute maak (Romeine 3:23; 5:12; 1 Johannes 1:8-10). Maar moenie foute vergroot nie; slaan eerder ag op die volgende Bybelraad: “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes” (1 Petrus 4:8). Die beste manier om klein foutjies te hanteer, is om daarvan te vergeet, dit oor te sien. Dit kan ook waar wees van ernstiger foute. Kolossense 3:12-14 sê: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”
Hoe dikwels moet ons die klein foute en tekortkominge van ons huweliksmaat vergewe? Petrus het vir Jesus gevra: “‘Here, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?’ Jesus het vir hom gesê: ‘Ek sê vir jou: Nie “tot sewe keer” nie, maar “tot sewe-en-sewentig keer”’” (Matteus 18:21, 22). Aangesien Jesus dit van diegene buite die huweliksband gesê het, hoeveel te meer moet huweliksmaats mekaar nie vergewe nie!
Hoewel die huweliksreëling in onlangse jare uit alle oorde aangeval is, sal die huwelik op die lange duur voortbestaan omdat dit deur God ingestel is en alles wat hy instel, “baie goed” is (Genesis 1:31). Dit sal nie tot niet gaan nie. En dit kan ’n sukses wees, veral onder diegene wat God se gebooie respekteer en onderhou. Maar die uitdaging is: Sal die twee persone die belofte gestand doen wat hulle op hulle troudag gemaak het om mekaar lief te hê en te koester? Dit kan ongetwyfeld ’n uitdaging wees, en jy sal jou dalk moet inspan om ’n sukses daarvan te maak. Maar die resultate sal die moeite werd wees!
[Venster op bladsy 10]
Wanneer Egpare Skei Of Uitmekaar Gaan
God, die Insteller van die huwelik, het bedoel dat dit ’n permanente verbintenis moet wees. Maar is daar enige skriftuurlike rede vir ’n persoon om van sy of haar maat te skei—met die moontlikheid om weer te trou? Jesus het hierdie vraag beantwoord toe hy gesê het: “Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg” (Matteus 19:9). Seksuele ontrouheid van ’n maat is die enigste grond vir ’n egskeiding wat die onskuldige maat toelaat om weer te trou.
Hoewel die Bybel se woorde in 1 Korintiërs 7:10-16 toelaat dat huweliksmaats uitmekaar kan gaan, moedig dit hulle aan om bymekaar te bly. Party meen dat hulle, nadat hulle baie hard probeer het om hulle huwelik te red, nie anders kan as om uitmekaar te gaan nie. Watter aanvaarbare skriftuurlike gronde kan daar vir so ’n stap wees?
Een is die opsetlike versuim om die gesin te onderhou. Wanneer ’n man trou, neem hy die verantwoordelikheid op hom om sy vrou en kinders te onderhou. Die man wat opsetlik versuim om in hulle materiële lewensbenodigdhede te voorsien, het “die geloof verloën en is . . . erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Dit is dus moontlik om uitmekaar te gaan.
’n Ander grond is uitermatige fisiese mishandeling. As ’n man sy vrou dus fisies mishandel, kan die slagoffer haar man verlaat (Galasiërs 5:19-21; Titus 1:7). “[God se] siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.
Nog ’n grond om uitmekaar te gaan, is die algehele ingevaarstelling van ’n gelowige se geestelikheid—sy verhouding met God. Wanneer ’n maat se teenstand, wat dalk fisiese verhindering insluit, dit onmoontlik gemaak het om ware aanbidding te beoefen en die gelowige se geestelikheid in gevaar gestel het, het sommige gelowiges dit nodig gevind om hulle huweliksmaat te verlaat.a—Matteus 22:37; Handelinge 5:27-32.
Maar as ’n mens onder sulke omstandighede skei, sal jy nie vry wees om met iemand anders te trou nie. Volgens die Bybel is die enigste geoorloofde grond vir egskeiding wat ’n mens toelaat om weer te trou, egbreuk of “hoerery”.—Matteus 5:32.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 1 November 1988, bladsye 22-3, vir ’n bespreking van skeiding.
[Prent op bladsy 9]
Die huwelik moet as ’n permanente verbintenis beskou word
[Prent op bladsy 10]
Jesus het gesê dat ons “sewe-en-sewentig keer” moet vergewe