Die onderwys—Die bevrediging en die vreugde
“Waarom is ek nog steeds ’n onderwyseres? Die onderwys kan weliswaar moeilik en uitputtend wees, maar as ek sien hoe kinders opgewonde raak oor iets wat hulle geleer het en as ek sien hoe hulle vorder, motiveer dit my om voort te gaan.”—Leemarys, ’n onderwyseres in die stad New York.
ONDANKS al die uitdagings, terugslae en teleurstellings volhard miljoene onderwysers regoor die wêreld in die beroep wat hulle gekies het. En wat beweeg duisende studente om daarna te streef om as onderwysers te kwalifiseer as hulle weet dat hulle moontlik nie die nodige erkenning gaan kry nie? Wat laat hulle voortgaan?
Inna, ’n Russiese onderwyseres, het verduidelik: “Dit is ’n wonderlike ondervinding om jou voormalige leerlinge as volwassenes te sien, om hulle te hoor sê dat dit wat hulle by jou geleer het, hulle gehelp het. Dit is so aanmoedigend wanneer hulle sê dat hulle aangename herinneringe het van die jare wat hulle met jou deurgebring het.”
Giuliano, ’n onderwyser wat in die voorgaande artikels aangehaal is, het gesê: “Een van die dinge wat ’n mens die grootste bevrediging verskaf, is om te besef dat jy daarin geslaag het om ’n leerling se belangstelling in ’n onderwerp aan te wakker. Nadat ek byvoorbeeld ’n geskiedenisles aangebied het, het party leerlinge gesê: ‘Moet asseblief nie ophou nie. Vertel ons meer!’ Hierdie spontane uitdrukkings kan ’n vaal oggend by die skool ophelder omdat jy besef dat jy emosies in die kinders opgewek het wat vir hulle nuut is. Dit is wonderlik om te sien hoe hulle gesiggies ophelder omdat hulle ’n onderwerp verstaan.”
Elena, ’n onderwyseres in Italië, het gesê: “Ek dink dat ’n mens meer dikwels bevrediging put uit die klein, alledaagse dinge, uit die leerlinge se klein prestasies, en nie uit buitengewone prestasies wat ’n mens selde kry nie.”
Connie, ’n Australiër in haar vroeë dertigerjare, het gesê: “Dit beteken baie wanneer ’n leerling met wie jy ’n goeie onderwyser-leerling-verhouding gehad het, die tyd neem om ’n brief te skryf waarin hy waardering uitspreek vir jou pogings.”
Oscar, van Mendoza, Argentinië, voel dieselfde: “Wanneer my leerlinge my op straat of êrens anders raakloop en waardering uitspreek vir wat ek hulle geleer het, voel ek dat dit alles die moeite werd is.” Angel, van Madrid, Spanje, het gesê: “Nadat ek ’n deel van my lewe aan hierdie wonderlike maar moeilike beroep gewy het, verskaf dit my ongetwyfeld die grootste bevrediging om te sien hoe van my oudleerlinge eerlike mans en vroue word, deels as gevolg van my pogings.”
Leemarys, wat aan die begin aangehaal is, het gesê: “Ek voel werklik dat onderwysers unieke mense is. Ons is ook ’n bietjie mal om so ’n ontsaglike verantwoordelikheid te aanvaar. Maar as jy ’n verskil kan maak—hetsy dit met tien kinders of net een is—het jy jou werk gedoen, en daar is nie ’n lekkerder gevoel nie. Jy doen dit met vreugde.”
Het jy jou onderwysers bedank?
Het jy, as ’n leerling of ouer, al ooit ’n onderwyser bedank vir sy tyd, inspanning en die belangstelling wat hy getoon het? Of selfs ’n dankiesêkaartjie of -brief geskryf? Arthur, van Nairobi, Kenia, het ’n geldige punt gemaak: “Onderwysers floreer ook op lof. Die regering, ouers en leerlinge moet hulle en die diens wat hulle lewer, hoog op prys stel.”
Die skryfster en onderwyseres LouAnne Johnson het geskryf: “Vir elke negatiewe brief wat ek oor ’n onderwyser ontvang, ontvang ek ’n honderd positiewe briewe, wat my vermoede bevestig dat daar baie meer goeie onderwysers as slegtes is.” Dit is interessant dat baie mense selfs ’n speurder huur om “’n voormalige onderwyser te help opspoor. Mense wil hulle onderwysers opspoor en hulle bedank.”
Onderwysers lê die noodsaaklike grondslag vir ’n mens se opvoeding. Selfs die beste professors aan die vernaamste universiteite is baie verskuldig aan die onderwysers wat die tyd geneem en die moeite gedoen het om ’n begeerte na opvoeding, kennis en begrip by hulle aan te wakker en te ontwikkel. Arthur, in Nairobi, sê: “Die groot beleidbepalers in die openbare en privaatsektor is almal op die een of ander stadium in hulle lewe deur ’n onderwyser geleer.”
Hoe dankbaar moet ons tog wees teenoor daardie vroue en mans wat by ons die begeerte gewek het om te leer, wat die verstand en hart gestimuleer het, wat vir ons gewys het hoe om ons dors na kennis en begrip te les!
Hoeveel dankbaarder moet ons tog wees teenoor die Groot Opvoeder, Jehovah God, wat die woorde van Spreuke 2:1-6 geïnspireer het: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; as jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind. Want Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.”
Let op die voorwaardelike “as” wat drie keer in hierdie gedagteprikkelende teks voorkom. Dink net, as ons bereid is om daardie uitdaging te aanvaar, kan ons “die kennis van God vind”! Dit is ongetwyfeld die allerbeste opvoeding.
[Venster op bladsy 13]
’n Gelukkige ouer
Die volgende brief is deur ’n onderwyser in die stad New York ontvang:
“Ek wil jou graag uit die diepte van my hart en siel bedank vir wat jy vir my kinders gedoen het. Danksy jou sorg, goedhartigheid en vaardigheid het jy hulle gehelp om groot hoogtes te bereik wat ek seker is hulle nooit sonder jou sou kon bereik nie. Jy het my baie trots op my kinders gemaak—iets wat ek nooit sal vergeet nie. Die uwe, S. B.”
Ken jy ’n onderwyser wat jy kan aanmoedig?
[Prent op bladsy 12]
“Dit is wonderlik om te sien hoe hulle gesiggies ophelder omdat hulle ’n onderwerp verstaan.”—GIULIANO, ITALIË
[Prente op bladsy 13]
‘Dit beteken baie wanneer ’n leerling die tyd neem om ’n brief van waardering te skryf.’—CONNIE, AUSTRALIË