Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 3/8 bl. 7-11
  • Die onderwys—Die opofferings en die gevare

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die onderwys—Die opofferings en die gevare
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebrek aan respek
  • Dwelms en geweld
  • Vuurwapens in skole?
  • Kinders met babas
  • “Verheerlikte babaoppassers”
  • Waarom die tekort aan onderwysers?
  • Te min onderwysers, te veel leerlinge
  • Waarom ’n onderwyser wees?
    Ontwaak!—2002
  • Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Die onderwys—Die bevrediging en die vreugde
    Ontwaak!—2002
  • Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?
    Jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 3/8 bl. 7-11

Die onderwys—Die opofferings en die gevare

“Daar word so baie van die onderwys verwag, maar so dikwels ontvang die toegewyde onderwysers in ons skole nie veel openbare . . . lof vir hulle pogings nie.”—Ken Eltis, Universiteit van Sydney, Australië.

’N MENS moet erken dat die onderwys, wat al ’n “uiters belangrike beroep” genoem is, baie uitdagings bied—van onvoldoende salarisse tot ongeskikte toestande in die klaskamer; van ’n magdom papierwerk tot oorvol klaskamers; van oneerbiedigheid en geweld tot die onverskilligheid van ouers. Hoe bied party onderwysers hierdie uitdagings die hoof?

’n Gebrek aan respek

Ons het vir vier onderwysers van die stad New York gevra wat hulle as groot probleme beskou. Hulle het eenparig geantwoord: “’n Gebrek aan respek.”

Volgens William, van Kenia, het daar ook in Afrika ’n verandering plaasgevind wat dit betref. Hy het gesê: “Dissipline is aan die afneem onder die kinders. Toe ek grootgeword het [hy is nou in sy veertigerjare], was onderwysers van die mees gerespekteerde mense in die swart gemeenskap. Die onderwyser was altyd deur oud en jonk as ’n rolmodel beskou. Hierdie respek is aan die afneem. Die Westerse kultuur is stadig besig om jongmense te beïnvloed, selfs in die landelike gebiede van Afrika. Rolprente, video’s en leesstof beeld ’n gebrek aan respek vir gesag as iets heldhaftigs uit.”

Giuliano, ’n onderwyser in Italië, sê: “Kinders word beïnvloed deur die gees van opstandigheid, weerspannigheid en ongehoorsaamheid wat die hele samelewing oorheers.”

Dwelms en geweld

Ongelukkig het dwelms ’n probleem in skole geword—in so ’n mate dat die Amerikaanse onderwyseres en skryfster LouAnne Johnson skryf: “Die voorkoming van dwelmmisbruik is deel van byna elke skoolleerplan, en dit begin in die kleuterskool. [Ons kursiveer.] Kinders weet baie meer van dwelms . . . as die meeste volwassenes.” Sy sê verder: “Leerlinge wat verlore, ongeliefd, eensaam, verveeld of onseker voel, sal heel waarskynlik met dwelms eksperimenteer.”—Two Parts Textbook, One Part Love.

Ken, ’n onderwyser in Australië, het gevra: “Hoe moet ons onderwysers ’n negejarige leer wat deur die toedoen van sy eie ouers met dwelms kennis gemaak het en nou daaraan verslaaf is?” Michael, wat in sy dertigerjare is, gee klas by ’n hoërskool in Duitsland. Hy skryf: “Wat dwelmhandel betref, weet ons maar alte goed dat dit bestaan; die skuldiges word net selde vasgetrek.” Hy meld ook die gebrek aan dissipline en sê dat dit “gesien kan word in ’n algemene vernielsugtigheid”, en sê verder: “Tafels en mure word besmeer, en toerusting word beskadig. Van my leerlinge het al met die polisie te doen gekry weens winkeldiefstal of soortgelyke oortredings. Dit is geen wonder dat daar ook soveel diefstal by skole is nie!”

Amira gee onderwys in die staat Guanajuato, Mexiko. Sy erken: “Ons kom te staan voor probleme soos geweld en dwelmverslawing in die gesin wat die kinders regstreeks raak. Hulle word in ’n milieu groot waar hulle vuil taal en ander slegte gewoontes aanleer. Armoede is ook ’n groot probleem. Hoewel skoolopleiding hier gratis is, moet die ouers die aantekeningboeke, penne en ander benodigdhede koop. Maar hulle moet eers kos koop.”

Vuurwapens in skole?

In die Verenigde State het onlangse skietvoorvalle by skole die feit beklemtoon dat vuurwapenverwante geweld ’n groot probleem in die land is. Een verslag sê: “Daar word geskat dat 135 000 vuurwapens elke dag na die land se 87 125 openbare skole gebring word. Om die aantal vuurwapens in skole te verminder, maak amptenare gebruik van metaalverklikkers, sekuriteitskameras, spesiaal opgeleide honde wat vuurwapens uitsnuffel, sluitkasklopjagte, identiteitskaarte en ’n verbod om boeksakke skool toe te bring” (Teaching in America). Sulke veiligheidsmaatreëls laat die vraag ontstaan: Praat ons van skole of gevangenisse? Die verslag sê ook dat meer as 6 000 leerlinge al geskors is omdat hulle vuurwapens skool toe geneem het!

Iris, ’n onderwyseres in die stad New York, het aan Ontwaak! gesê: “Die leerlinge smokkel wapens in die skole in. Die metaalverklikkers hou nie die wapens uit nie. Vandalisme is nog ’n groot probleem in die skool.”

Pligsgetroue onderwysers vind dit moeilik om in hierdie wettelose milieu skool te hou en waardes by leerlinge in te boesem. Dit is geen wonder dat baie onderwysers aan depressie en uitbranding ly nie. Rolf Busch, president van die Onderwysersvereniging in Turinge, Duitsland, het gesê: “Byna ’n derde van die eenmiljoen onderwysers in Duitsland word siek weens spanning. Hulle voel uitgebrand weens hulle werk.”

Kinders met babas

’n Ander groot probleem is die feit dat adolessente seksueel aktief is. George S. Morrison, die skrywer van Teaching in America, sê van daardie land: “Sowat 1 miljoen tieners (11 persent van 15- tot 19-jarige meisies) word elke jaar swanger.” Van al die ontwikkelde lande het die Verenigde State die hoogste syfer vir tienerswangerskappe.

Hierdie situasie word deur Iris bevestig, wat gesê het: “Al waaroor die adolessente praat, is seks en partytjies. Dit is ’n obsessie. En nou het ons Internet op die skool se rekenaars! Dit beteken dat leerlinge toegang het tot kletskamers en pornografie.” Angel, van Madrid, Spanje, het gesê: “Seksuele promiskuïteit is ’n werklikheid onder die leerlinge. Ons het al gevalle gehad van leerlinge wat op ’n baie vroeë ouderdom swanger geword het.”

“Verheerlikte babaoppassers”

’n Ander klagte van party onderwysers is dat baie ouers nie hulle verantwoordelikheid nakom om hulle kinders by die huis op te voed nie. Onderwysers meen dat kinders heel eerste deur hulle ouers geleer moet word. Goeie maniere en etiket moet by die huis begin. ’n Mens kan verstaan waarom Sandra Feldman, president van die Amerikaanse Federasie van Onderwysers, sê dat “onderwysers . . . meer soos ander beroepsmense behandel moet word en nie soos verheerlikte babaoppassers nie”.

Ouers ondersteun dikwels nie die dissipline wat by die skool gegee word nie. Leemarys, wat in die vorige artikel aangehaal is, het aan Ontwaak! gesê: “As jy onbeheerbare kinders by die skoolhoof rapporteer, word jy sommer gou-gou deur die ouers aangeval!” Busch, wat vroeër aangehaal is, het die volgende oor moeilike leerlinge gesê: “Gesinsopvoeding is besig om te verdwyn. Jy kan nie meer aanneem dat die meeste kinders uit gesinne kom met ’n goeie, redelike opvoeding nie.” Estela, van Mendoza, Argentinië, het gesê: “Onderwysers is bang vir die leerlinge. As ons hulle lae punte gee, gooi hulle ons met klippe of val hulle ons aan. As ons ’n motor het, beskadig hulle dit.”

Is dit dan enigsins verbasend dat daar in baie lande ’n tekort aan onderwysers is? Vartan Gregorian, president van die Carnegie-korporasie van New York, het gewaarsku: “Ons [Amerikaanse] skole sal gedurende die volgende dekade tot 2,5 miljoen nuwe onderwysers nodig hê.” Groot stede “is naarstiglik op soek na onderwysers uit Indië, die Wes-Indies, Suid-Afrika, Europa en enige ander plek waar goeie onderwysers gevind kan word”. Dit beteken natuurlik dat daardie lande heel moontlik ’n tekort aan onderwysers sal hê.

Waarom die tekort aan onderwysers?

Josjinori, ’n Japannese onderwyser met 32 jaar ondervinding, het gesê dat “die onderwys ’n edele werk met ’n goeie dryfveer is, en mense het groot respek daarvoor in die Japannese samelewing”. Ongelukkig is dit nie die geval in elke kultuur nie. Gregorian, wat vroeër aangehaal is, het ook gesê dat onderwysers “nie dieselfde respek, erkenning en vergoeding as ander beroepsmense kry nie. . . . In die meeste [Amerikaanse] state is salarisse in die onderwys laer as dié van enige ander beroep wat ’n baccalaureus- of meestersgraad vereis.”

Ken Eltis, wat in die begin aangehaal is, het geskryf: “Wat gebeur wanneer onderwysers uitvind dat talle betrekkings wat baie laer kwalifikasies vereis, ’n aansienlik beter inkomste as die onderwys bied? Of wanneer leerlinge vir wie hulle net twaalf maande gelede klasgegee het . . . meer verdien as wat hulle nou of selfs moontlik in vyf jaar sal verdien? Om tot so ’n besef te kom, moet tog sekerlik ’n onderwyser se gevoel van eiewaarde ’n knou gee.”

William Ayers het geskryf: “Onderwysers word min betaal . . . Ons verdien gemiddeld ’n kwart van wat regsgeleerdes betaal word, die helfte van wat rekenmeesters maak, minder as vragmotorbestuurders en skeepswerfwerkers. . . . Daar is geen ander beroep wat soveel vereis en so min geldelike vergoeding bied nie” (To Teach—The Journey of a Teacher). Janet Reno, voormalige Amerikaanse prokureur-generaal, het in November 2000 oor dieselfde onderwerp gesê: “Ons kan mense maan toe stuur. . . . Ons betaal ons atlete groot salarisse. Waarom kan ons nie ons onderwysers betaal nie?”

“Onderwysers word oor die algemeen te min betaal”, het Leemarys gesê. “Ná al my jare van studie kry ek nog steeds net ’n klein jaarlikse salaris hier in die stad New York, met al die spanning en gesukkel wat met die lewe in ’n groot stad gepaardgaan.” Valentina, ’n onderwyseres in St. Petersburg, Rusland, het gesê: “’n Onderwyser het ’n ondankbare werk sover dit inkomste betref. Salarisse was nog altyd onder die standaardminimum.” Marlene, van Chubut, Argentinië, voel dieselfde: “Lae salarisse dwing ons om op twee of drie plekke te werk, wat beteken dat ons van die een plek na die ander moet rondhol. Ons kan werklik nie so ons beste lewer nie.” Arthur, ’n onderwyser van Nairobi, Kenia, het aan Ontwaak! gesê: “Met die ekonomie wat agteruitgaan, is my lewe as ’n onderwyser nie maklik nie. Soos baie van my kollegas sal erken, het die karige besoldiging mense nog altyd ontmoedig om ons beroep te betree.”

Diana, ’n onderwyseres van die stad New York, het gekla oor die magdom papierwerk wat onderwysers ure lank besig hou. ’n Ander onderwyser het geskryf: “Die grootste deel van my dag word aan herhaling en roetinewerk gewy.” ’n Algemene klagte was: “Daar is soveel vorms wat ingevul moet word, daardie ellendige vorms—die hele dag lank.”

Te min onderwysers, te veel leerlinge

Berthold, van Düren, Duitsland, noem nog ’n algemene klagte: “Die klasse is te groot! Daar is tot 34 leerlinge in party klasse hier. Dit beteken dat ons nie aandag kan skenk aan leerlinge met probleme nie. Hulle word oor die hoof gesien. Individuele behoeftes word verwaarloos.”

Leemarys, wat vroeër aangehaal is, het verduidelik: “Buiten ouers wat nie omgee nie, was my grootste probleem verlede jaar dat ek 35 kinders in my klas gehad het. Stel jou voor hoe dit is om met 35 sesjariges te werk!”

Iris het gesê: “Hier in New York is daar ’n tekort aan onderwysers, veral vir wiskunde en wetenskap. Hulle kan beter betrekkings êrens anders kry. Die stad het dus baie buitelandse onderwysers in diens geneem.”

Dit is duidelik dat die onderwys ’n veeleisende beroep is. Hoe bly onderwysers dan gemotiveerd? Waarom gaan hulle voort en volhard hulle? Ons laaste artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Lokteks op bladsy 9]

Daar word geskat dat 135 000 vuurwapens elke dag na Amerikaanse skole gebring word

[Venster/Prent op bladsy 10]

Wat maak van iemand ’n suksesvolle onderwyser?

Hoe sal jy ’n goeie onderwyser beskryf? Is dit iemand wat ’n kind kan help om sy geheue te verbeter sodat hy feite kan onthou en toetse kan slaag? Of is dit iemand wat ’n mens leer om vrae te vra, te dink en te redeneer? Wie help ’n kind om ’n beter burger te word?

“Wanneer ons as onderwysers besef dat ons en ons leerlinge spanmaats is in die lang en ingewikkelde reis deur die lewe, wanneer ons hulle met die waardigheid en respek begin behandel wat hulle as mense verdien, dan is ons besig om waardige onderwysers te word. Dit is hoe eenvoudig, en terselfdertyd hoe moeilik, dit is.”—To Teach—The Journey of a Teacher.

’n Goeie onderwyser sien die potensiaal in elke leerling en weet hoe om dit te ontwikkel en te laat floreer. William Ayers het die opmerking gemaak: “Ons moet ’n beter manier vind, ’n manier wat op sterk punte, ondervindinge, vaardighede en vermoëns voortbou . . . Ek onthou die versoek van ’n Indiane-ouer wie se vyfjarige seun as ’n ‘stadige leerling’ bestempel is: ‘Wind-Wolf ken die name en trekroetes van meer as veertig voëls. Hy weet dat ’n volmaak gebalanseerde arend dertien stertvere het. Wat hy nodig het, is ’n onderwyser wat sy volle potensiaal ken.’”

Om die beste uit elke kind te kry, moet die onderwyser uitvind wat hom of haar interesseer of motiveer en probeer agterkom hoe die kind dink. En ’n toegewyde onderwyser moet lief wees vir kinders.

[Erkenning]

United Nations/Photo by Saw Lwin

[Venster op bladsy 11]

Moet dit altyd pret wees om te leer?

Die onderwyser William Ayers het ’n lys met tien mites oor die onderwys gemaak. Een van hulle is: “Goeie onderwysers maak dit pret om te leer.” Hy sê verder: “Pret lei die aandag af en is vermaaklik. Narre is pret. Grappies kan pret wees. Om te leer, kan boeiend, interessant, verbasend, verwarrend, fassinerend en dikwels baie aangenaam wees. As dit pret is, is dit goed. Maar dit hoef nie pret te wees nie.” Hy sê ook: “Die onderwys verg omvattende kennis, bekwaamheid, vaardigheid, oordeelsvermoë en begrip—met ’n bedagsame, liefdevolle persoon wat die middelpunt daarvan vorm.”—To Teach—The Journey of a Teacher.

Soemio, van die stad Nagoja, Japan, vind hierdie probleem onder sy leerlinge: “Baie hoërskoolleerlinge stel in niks belang tensy dit prettig is en geen inspanning verg nie.”

Rosa, ’n voorligtingsonderwyseres van Brooklyn, New York, het gesê: “Die algemene gesindheid onder die leerlinge is dat dit vervelig is om te leer. Die onderwyser is vervelend. Hulle dink dat alles pret moet wees. Hulle besef nie dat die voordele wat ’n mens uit jou studies put, afhang van hoeveel jy jou inspan nie.”

Die obsessie met pret maak dit moeiliker vir jongmense om hulle in te span en opofferings te maak. Soemio, wat hierbo aangehaal is, het gesê: “Dit kom daarop neer dat hulle nie aan die langtermyngevolge kan dink nie. Baie min hoërskoolleerlinge besef dat hulle, as hulle nou hard werk vir iets, in die toekoms die vrugte daarvan sal pluk.”

[Prent op bladsy 7]

DIANA, VSA

[Prent op bladsy 8]

‘Dwelmhandel is algemeen, maar die skuldiges word selde vasgetrek.’—MICHAEL, DUITSLAND

[Prent op bladsy 8]

“Ons kom te staan voor probleme soos geweld en dwelmverslawing in die gesin.”—AMIRA, MEXIKO

[Prent op bladsy 9]

‘Onderwysers moet meer soos ander beroepsmense behandel word en nie soos verheerlikte babaoppassers nie.’—SANDRA FELDMAN, PRESIDENT VAN DIE AMERIKAANSE FEDERASIE VAN ONDERWYSERS

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel