Gevriesde druiwe wat “vloeibare goud” lewer
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
’n Yskoue winterdag in Kanada se Niagara-gebied maak dat talle geharde werkers die elemente trotseer en na die wingerd koers kies. Koue winde kan dit laat voel asof die temperatuur minus 40 grade Celsius is. Waarom is hierdie druiweplukkers dan so gewillig om in hierdie gure weer uit te gaan om gevriesde, verskrompelde druiwe bymekaar te maak wat so hard soos albasters is? Omdat daardie verskrompelde druiwe ’n baie soet wyn met ’n goue kleur lewer—yswyn.
Tyd en temperatuur
Die Amerikaanse skrywer Mark Twain het toeval “die grootste van alle uitvinders” genoem. Dit was ook so in 1794 in Frankeland, Duitsland, toe wynmakers ná ’n sneeustorm sap uit gevriesde druiwe gepars het. Die druiwe het ’n wyn met ’n verbasend hoë suikerinhoud gelewer; maar die hoë suurgehalte het die soetheid van die wyn getemper. Die wynmaker moet egter unieke uitdagings te bowe kom om elke jaar yswyn te produseer. Die temperatuur moet ’n hele paar dae lank onder -7 grade Celsius wees sodat die sap behoorlik kan vries. As dit skielik warmer word, sal dit die soet sap verdun. As dit te koud word, sal die harde druiwe baie min sap lewer wanneer dit gepars word. “Dit is nogal moeilik”, sê ’n wynmaker in die Niagara-gebied. “Dit moet net reg wees.”
Die klimaat in suidelike Kanada, veral in die Niagara-gebied, is ideaal vir die produsering van yswyn. Die temperatuur sal waarskynlik tussen November en Februarie tot onder -7 grade Celsius daal. Wynmakers was besonder suksesvol om yswyn van Riesling- en Vidaldruiwe te maak, hoewel ander variëteite ook al gebruik is. Ander lande produseer wel yswyn, maar Kanada het die wêreld se grootste produsent geword en het groot toekennings by verskeie internasionale wynkompetisies verwerf.
Waarom so soet?
Yswyn is so stroopsoet weens die suikerinhoud van die druiwesap. Druiwekorrels, wat uit 80 persent water bestaan, word gepluk en gepars terwyl dit gevries is. Wynmakers moet die druiwe buite pars of die wynkelder se deure ooplos om seker te maak dat die druiwe gevries bly. Die meeste van die water, wat teen ’n hoër temperatuur as die suikers vries, is in die vorm van ys. Wanneer die gevriesde druiwe dus gepars word, het die sap wat uitkom, ’n hoë suikerinhoud. Hierdie sap is, soos in een wynrubriek geskryf is, “ongelooflik soet”.
Interessant genoeg, hoewel Kanada bekend is vir sy yskoue winters, is die Niagara-gebied verder suid geleë as die beroemde Boergondië-gebied in Frankryk. Gevolglik is die Niagara-gebied, met sy lang, warm sonskyndae in Julie—wanneer die wingerd op sy beste groei—ideaal geleë om ’n yswyn met ’n hoë suikerinhoud te produseer. In die herfs is daar aansienlike klimaatswisselinge, wat die druiwe vog laat verloor en dit soeter maak.
’n Smakie van die “vloeibare goud”
Een kilogram gewone druiwe sal gewoonlik ’n bottel wyn van 750 milliliter lewer. Maar afhangende van die wind en die wintersonskyn lewer een kilogram yswyndruiwe, wat van hulle vog verloor het, moontlik net een vyfde van ’n bottel of selfs minder! Yswyn kan dus taamlik duur wees en word dikwels in halfbottels (375 milliliter) verkoop.
Volgens een wynmaker laat yswyn se boeket “’n mens aan lietsjies dink”, terwyl dit ook soos “tropiese vrugte, en ’n bietjie soos perske en mango” proe. Hoewel die soetheid en sterk smaak aanvanklik oorweldigend kan wees, “word die balans verkry deur die suurgehalte, wat die wyn ’n skoon, droë smaak gee”.
Yswyn is nie net in Kanada gewild nie. Dit word na baie lande uitgevoer, veral na Oos-Asië, en mense drink dit graag in die plek van konjak.
Interessant genoeg, volgens wynkelders in die Niagara-gebied het heelwat mense aangebied om met die yskoue oeswerk te help. Wat word hulle betaal? ’n Halfbottel “vloeibare goud”.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Druiwe: © Bogner Photography
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Julianna Hayes, BCWine.com