Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 3/22 bl. 31
  • Sonskyndae lei tot ’n beter nagrus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sonskyndae lei tot ’n beter nagrus
  • Ontwaak!—2002
  • Soortgelyke materiaal
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2000
  • Slaap—Luukse of noodsaaklikheid?
    Ontwaak!—2003
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Afgesonderd maar nie vergete nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 3/22 bl. 31

Sonskyndae lei tot ’n beter nagrus

SUKKEL jy om te slaap? Dan is die probleem dalk dat jy nie gedurende die dag aan genoeg helder lig blootgestel word nie, veral as jy ’n bejaarde is. Navorsers in Japan het onlangs ’n studie gedoen van inwoners in verpleeginrigtings wat aan slaaploosheid ly, en hulle het gevind dat die inwoners se slaaploosheid verband gehou het met die feit dat hulle daagliks aan te min lig blootgestel word. Terselfdertyd het bloedtoetse getoon dat hierdie bejaarde inwoners lae vlakke van die hormoon melatonien gehad het.

Melatonien word deur die pineaalklier in die brein afgeskei. Onder normale omstandighede veroorsaak die daaglikse siklus van melatonienafskeiding dat die melatonienvlak in die bloed “hoog gedurende die nag en byna onwaarneembaar gedurende die dag is”, sê die verslag in The Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism. Maar wanneer bejaardes nie gedurende die dag aan genoeg lig blootgestel word nie, daal die melatonienvlak in hulle bloed. Vir die liggaam vervaag dit blykbaar die onderskeid tussen dag en nag, wat die navorsers meen die gehalte van slaap beïnvloed.

Toe die bejaardes wat aan slaaploosheid ly, vier uur lank teen die middel van die dag (tienuur tot twaalfuur en tweeuur tot vieruur) vir vier weke aan helder kunsmatige lig blootgestel is, het hulle melatonienafskeiding gestyg “tot vlakke wat soortgelyk is aan dié in die jonger kontrolegroep”, sê die verslag.a Hulle het terselfdertyd ook beter geslaap.

Hierdie bevindings het die navorsers “tot die gevolgtrekking laat kom dat bejaarde mense, veral BS’e [bejaardes wat aan slaaploosheid ly], wat die meeste van hulle daaglikse lewe in kamerlig deurbring, moontlik nie aan genoeg lig blootgestel word om hulle etmaalritme [hulle liggaam se interne klok] te reguleer nie”. Omdat party bejaardes melatonienaanvullings as ’n slaapmiddel neem, sê die verslag: “As ’n mens die moontlike newe-effekte van langdurige melatonientoediening in ag neem, is blootstelling aan middagson dalk ’n meer gewenste, doeltreffender, veiliger en meer gekontroleerde terapeutiese hulpmiddel vir BS’e met ’n lae melatonienvlak.”

As jy dus die grootste deel van die dag binnenshuis is en aan slaaploosheid ly, kan jy gerus ’n bietjie meer tyd buite deurbring—of jy kan ten minste gedurende die dag soveel lig as moontlik in jou huis laat inskyn en jou slaapkamer gedurende die nag donker hou. Jy vind dalk dat sonskyndae tot ’n beter nagrus lei.

[Voetnoot]

a Die studie het twee kontrolegroepe ingesluit: tien jongmense en tien gesonde bejaarde inwoners van dieselfde verpleeginrigting as dié wat aan slaaploosheid gely het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel