Skatte Gevind in die Hawe van Pêrels
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
BROOME is ’n dorp in die noordweste van Australië wat tussen ’n massa sand en ’n massa water lê. In die suidooste strek die Groot Sandwoestyn hom na die middel van Australië uit. In die weste reik die Indiese Oseaan tot aan die kus van Afrika. Hierdie noordwestelike hoek van die vasteland word dikwels deur siklone geteister.
In die verlede was daar sulke ryk pêreloesterbeddens onder Broome se tropiese golwe dat Broome as die Hawe van Pêrels bekend gestaan het. Seerowers, slawe en pêrelmagnate maak deel uit van Broome se kleurryke geskiedenis.
’n Seerower se ontdekking
Hoewel die Nederlander Dirck Hartog hierdie afgeleë hoek van die wêreld in 1616 verken het, was die weskus van Australië tot 1688 nog betreklik onbekend. In dié jaar het die Engelse skrywer, kunstenaar en seerower William Dampier toevallig op hierdie kus afgekom terwyl hy aan boord van die seerowerskip Cygnet was. Terug by die huis het Dampier ’n boek oor sy wedervaringe uitgegee. Sy beskrywings en tekeninge het die verbeelding van sy medelandgenote so aangegryp dat die Britse vloot hom ’n skip gegee het met die opdrag om ’n ontdekkingsreis te onderneem na Nieu-Holland, soos Australië destyds bekend gestaan het.
Dampier se ekspedisie aan boord van die vloot se skip Roebuck is as ’n mislukking beskou. Geen nuwe land is ontdek nie, en die seereis het tot ’n einde gekom toe sy verrottende skip uitmekaargeval en gesink het. Dampier het dit oorleef, en in die aantekeninge van sy reis het hy die ontdekking van perlemoen gemeld.
Rykdom wat met bloed en knope verkry is
Eers 160 jaar later het mense die waarde van Dampier se ontdekking besef. In 1854 het hulle pêrels begin oes in die gebied wat Dampier Shark-baai genoem het, maar hierdie onderneming het net gedeeltelik geslaag. Intussen is die reusagtige oester Pinctada maxima in die nabygeleë waters van Nichol-baai ontdek. Die skulp van hierdie oester wat op ’n grootbord pas, het die beste perlemoen ter wêreld gelewer—’n hulpbron wat gesog was vir die vervaardiging van knope.
Teen die 1890’s is daar elke jaar perlemoen ter waarde van ongeveer 140 000 Engelse pond van Broome se oesterbeddens af na Engeland verskeep. Hoewel talle waardevolle pêrels in die skulpe gevind is, was hierdie juwele ’n byvoordeel. Die skulp self het die vroeë pêrelmagnate die meeste rykdom laat verwerf—rykdom waarvoor daar dikwels met bloed betaal is.
Aanvanklik het die pêrelmagnate die plaaslike inboorlinge omgepraat of gedwing om pêrelduikers te word, ’n werk wat die inboorlinge gou onder die knie gekry het. Maar pêrelduikery is ’n gevaarlike werk, en ’n aantal duikers het verdrink of is deur haaie doodgemaak. Baie duikers het ook gesterf weens die haglike werkstoestande waaronder hulle werkgewers hulle gedwing het om te werk. Duikers is uit Maleisië en Java ingevoer om die getalle van die inboorlingwerkers aan te vul. Toe die vlakker oesterbeddens uitgeput was, is die dieper beddens bereik met behulp van die duikhelm wat kort tevore uitgevind is.
Bankrotskap tref “Sodom en Gomorra”
Broome se vloot skepe om pêrels uit te duik, het tot meer as 400 toegeneem. Asiatiese, Europese en inboorlingkulture het tot ’n unieke en dikwels wettelose mengelmoes gelei. Die heersende sosiale klimaat word goed deur een pêrelduiker beskryf: “Broome [was] ’n welgestelde, sondige en verdraagsame gemeenskap waarin die Geestelikes se gereelde verwysings na Sodom en Gomorra as gepaste lof vir die stad se vooruitgang beskou is en nie as waarskuwings oor toekomstige Goddelike vergelding nie.”
Maar toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het die wêreldhandel in perlemoen ineengestort, en Broome was skielik bankrot. Tussen die wêreldoorloë was daar ’n kort oplewing in die bedryf, maar ná die Tweede Wêreldoorlog is Broome nog ’n swaar slag toegedien. Plastiek is uitgevind, en plastiese knope het gou die vraag na perlemoen laat afneem.
‘Diamante van die see’ word vervaardig
Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het ’n Australiese afvaardiging die pêrelkweekplase by Ago, Japan, besoek. Daar het Kokitsji Mikimoto die kuns vervolmaak om pêrels te kweek deur korreltjies kunsmatig in oesters in te plant. Die boek Port of Pearls sê dat Mikimoto vir die Australiërs gesê het dat “nog beter pêrels in hulle eie warm waters in die groter Australiese [oester]skulp gekweek kan word”. Sy raad is gevolg, en teen die 1970’s het Australiese oesters van die wêreld se grootste en waardevolste gekweekte pêrels opgelewer.
Terwyl pêrels wat in baie wêrelddele gekweek word, ’n grootte van 11 millimeter in deursnee bereik, kan Suidseepêrels 18 millimeter groot word. Net een snoer van hierdie groot pêrels kan meer as R5 000 000 werd wees. Dit is geen wonder dat hierdie ronde juwele diamante van die see genoem word nie!
[Prente op bladsy 14]
William Dampier
’n Pêrelduiker maak pêrelskulpe bymekaar in kuswaters noord van Broome
’n Deskundige haal ’n pêrel uit ’n oester
Een van die oorspronklike pêrelskepe wat weer seewaardig gemaak is
Pêrels kom in verskillende kleure voor (foto is vergroot)
[Erkennings]
William Dampier: By permission of the National Library of Australia - Rex Nan Kivell Collection, NK550; duiker: © C. Bryce - Lochman Transparencies; halssnoer en deskundige: Courtesy Department of Fisheries WA, J. Lochman; skip: Courtesy Department of Fisheries WA, C. Young; naby foto van pêrels: Courtesy Department of Fisheries WA, R. Rose