Globalisasie—Die verwagtinge en die vrese
“Globalisasie is die betekenisvolste ekonomiese gebeurtenis van ons tyd. . . . Dit bied nou ongeëwenaarde geleenthede aan miljarde mense regoor die wêreld.”—MARTIN WOLF, FINANSIËLE RUBRIEKSKRYWER.
“Ons, die bevolking van die aarde, is een groot gesin. Die tydperk wat ons nou binnegaan, bied nuwe uitdagings en nuwe wêreldprobleme, soos omgewingskatastrofes, die uitputting van hulpbronne, bloedige konflikte en armoede.”—EDUARD SJEVARDNADZE, PRESIDENT VAN GEORGIË.
IN Desember 1999 is ’n vergadering van die Wêreldhandelsorganisasie wat in Seattle, VSA, gehou is, deur ’n oproer ontwrig. Die polisie het traangas, rubberkoeëls en pepersproei gebruik om die orde te herstel. Uiteindelik het hulle honderde betogers gearresteer.
Wat het tot hierdie oproer in Seattle aanleiding gegee? ’n Hele lys bekommernisse oor werksekuriteit, die omgewing asook maatskaplike onregte. Maar om dit eenvoudig te stel, die betogers het globalisasie gevrees—die uitwerking daarvan op mense en op die planeet.
Hulle vrese het nie afgeneem nie. Sedert 1999 het anti-globalisasiebetogings in grootte en intensiteit toegeneem. In party gevalle probeer wêreldleiers hulle konferensies nou in afgesonderde plekke hou waar dit vir betogers moeilik sal wees om die verrigtinge te ontwrig.
Natuurlik beskou nie almal globalisasie as ’n bedreiging nie. Hoewel sommige dit as die vernaamste oorsaak van die wêreld se moeilikhede verdoem, loof ander dit as die wondermiddel teen die meeste van die wêreld se probleme. Die voortgesette debat lyk weliswaar vir die meeste mense, waarvan baie net ’n vae idee het van wat globalisasie is, nie juis betekenisvol nie. Maar ongeag wat jou standpunt is, globalisasie raak jou al klaar, en dit sal jou in die toekoms moontlik nog meer raak.
Wat is globalisasie eintlik?
“Globalisasie” is die term wat sommige gebruik om die toenemende wêreldwye onderlinge afhanklikheid tussen mense en lande te beskryf. Hierdie proses het die afgelope dekade of wat dramaties versnel, grotendeels weens die ontsaglike vooruitgang in die tegnologie. (Sien die venster op bladsy 5.) Gedurende hierdie tyd het die vyandelike blokke van die Koue Oorlog feitlik verdwyn, is handelsversperrings uit die weg geruim, is die wêreld se vernaamste finansiële markte besig om te integreer en het dit goedkoper en makliker geword om te reis.
Hierdie toenemende wêreldwye integrasie het ’n hele reeks gevolge gehad—op ekonomiese, politieke, kulturele en ekologiese gebied. Ongelukkig kan party van hierdie gevolge negatief wees. Die Verenigde Nasies se publikasie Human Development Report 1999 het verduidelik: “In alle wêrelddele is mense se lewens meer as ooit tevore op ’n dieperliggende vlak, in groter mate en direkter met mekaar verbind. Dit bied baie geleenthede, en dit gee nuwe mag aan die goeie en die slegte.” Soos baie menslike prestasies, het globalisasie ’n goeie en ’n slegte sy.
Verwagtinge van ’n welvarender wêreld
Globalisasie “het die wêreld wetenskaplik en kultureel verryk en het baie mense ook ekonomies bevoordeel”, sê die Nobelpryswenner in ekonomie, Amartya Sen. Die Human Development Report 1999 toon eweneens dat globalisasie “enorme potensiaal bied om armoede in die 21ste eeu uit te roei”. Die rede vir hierdie optimisme is die dramatiese toename in welvaart wat deur globalisasie meegebring is. Die gemiddelde gesin in vandag se wêreld verdien drie keer meer as wat dit 50 jaar gelede sou verdien het.a
Party ontleders sien ’n ander voordeel in ekonomiese integrasie: Hulle voel dat dit lande onwilliger sal maak om oorlog te voer. Thomas L. Friedman, in sy boek The Lexus and the Olive Tree, beweer dat globalisasie “groter aansporing gee om nie oorlog te maak nie en dat dit die koste van oorlog op meer maniere as in enige ander tyd in die moderne geskiedenis verhoog”.
Meer interaksie tussen mense het ook die potensiaal om wêreldwye eensgesindheid te verbeter. Party menseregteorganisasies kon die Internet gebruik om hulle saak doeltreffend te bevorder. Die internasionale verdrag van 1997 wat landmyne onwettig verklaar het, is byvoorbeeld gedeeltelik teweeggebring deur middel van elektroniese pos, wat gebruik is om verskillende ondersteuningsgroepe regoor die wêreld te mobiliseer. Hierdie voetsoolvlakbenadering is verwelkom as “’n nuwe manier om diplomatieke onderhandelinge op internasionale vlak te voer, met regerings en die burgerlike gemeenskap wat ten nouste saamwerk om ’n wêreldwye humanitêre krisis op te los”.
Ondanks hierdie positiewe resultate vrees baie mense steeds dat die skadelike gevolge van globalisasie swaarder weeg as die voordele.
Vrese vir ’n meer verdeelde wêreld
Moontlik die grootste bekommernis wat globalisasie meegebring het, is die manier waarop dit die kloof tussen die rykes en die armes vergroot het. Hoewel die rykdom in die wêreld ongetwyfeld vermeerder het, is dit nou in minder hande en minder lande. Die netto bates van die 200 rykste mense in die wêreld oortref nou die gekombineerde inkomste van 40 persent van die mense wat op die planeet woon—sowat 2,4 miljard mense. En terwyl die inkomste van mense in welgestelde lande voortdurend vermeerder, was daar oor die afgelope tien jaar in 80 verarmde lande in werklikheid ’n afname in die gemiddelde inkomste.
’n Ander groot bekommernis het te doen met die omgewing. Ekonomiese globalisasie word aangedryf deur markkragte wat meer in wins belangstel as in die beskerming van die planeet. Agus Purnomo, hoof van die Wêreld-natuurfonds in Indonesië, verduidelik die dilemma: “Ons is in ’n voortdurende wedloop met ontwikkeling. . . . Ek is bekommerd dat ons almal binne ’n dekade omgewingsbewus sal wees, maar dat daar niks sal oor wees om te beskerm nie.”
Mense is ook bekommerd oor hulle werk. Werk sowel as inkomste het in groter mate onseker geword, met internasionale maatskappysamesmeltings en intense mededinging wat maatskappye onder druk plaas om hulle bedrywighede eenvoudiger en doeltreffender te maak. Dit maak sin dat ’n maatskappy wat oor groter winste besorg is, werkers huur en ontslaan volgens die huidige behoeftes in die mark, maar dit kan ’n verwoestende uitwerking op mense se lewens hê.
Die globalisasie van geldmarkte het ’n verdere destabiliserende faktor voortgebring. Internasionale beleggers kan groot somme geld in ontwikkelende lande belê, maar hulle fondse dan skielik onttrek wanneer die ekonomiese vooruitsigte versleg. Sulke ontsaglike onttrekkings kan een land na die ander in ’n ekonomiese krisis dompel. Die geldkrisis in Oos-Asië gedurende 1998 het 13 miljoen mense hulle werk laat verloor. In Indonesië het selfs die werkers wat hulle werk behou het, gesien hoe die waarde van hulle inkomste gehalveer is.
Dit is dus verstaanbaar dat globalisasie vrese sowel as verwagtinge meebring. Het jy rede om globalisasie te vrees? Of kan jy verwag dat dit vir jou groter welvaart sal beteken? Het globalisasie ons rede gegee om optimisties te wees oor die toekoms? Ons volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.
[Voetnoot]
a Gemiddeldes, veral wêreldwye gemiddeldes, kan egter misleidend wees. In baie plekke het gesinne hoegenaamd geen vermeerdering in hulle inkomste oor die afgelope 50 jaar gesien nie, terwyl ander etlike kere meer as voorheen verdien.
[Lokteks op bladsy 3]
Die netto bates van die 200 rykste mense in die wêreld oortref die gekombineerde inkomste van 40 persent van die wêreld se bevolking
[Venster/Prente op bladsy 5]
DIE TEGNOLOGIE AGTER GLOBALISASIE
Gedurende die afgelope dekade het die tegnologie ’n omwenteling in kommunikasie teweeggebring. Toegang tot mense en inligting—op feitlik enige plek in die wêreld—het vinniger, goedkoper en makliker geword.
TELEVISIE Die meeste mense in die wêreld het nou toegang tot ’n televisie, al besit hulle nie self een nie. Teen 1995 was daar wêreldwyd 235 televisiestelle vir elke 1 000 mense, byna dubbel soveel as in 1980. ’n Klein satellietskottel kan mense wat in afgeleë gebiede woon, in staat stel om uitsendings van regoor die wêreld te ontvang. “Vandag kan geen land homself werklik van die wêreldmedia afsny nie”, sê Francis Fukuyama, ’n professor van politieke ekonomie.
INTERNET Sowat 300 000 nuwe gebruikers word elke week aan die Internet gekoppel. In 1999 is daar geskat dat 700 miljoen mense na verwagting teen die jaar 2001 gekoppel sou wees. “Die resultaat”, verduidelik die skrywer Thomas L. Friedman, “is dat daar nog nooit tevore in die geskiedenis van die wêreld soveel mense was wat soveel kon leer omtrent ander mense se lewens, produkte en idees nie.”
TELEFOON Veseloptiese kabels en satellietnetwerke het telefoonkoste drasties verminder. Die koste van ’n oproep van drie minute uit New York na Londen het van $245 in 1930 tot 35 sent in 1999 gedaal. Radionetwerke het die sellulêre telefoon so algemeen soos die rekenaar gemaak. Teen die einde van die jaar 2002 sal daar nagenoeg eenmiljard mense wees wat sellulêre telefone gebruik, en baie van hierdie gebruikers sal hulle telefone kan gebruik om toegang tot die Internet te verkry.
MIKROSKYFIE Al die bogenoemde hulpbronne, wat voortdurend verbeter word, is van die mikroskyfie afhanklik. Gedurende die afgelope 30 jaar het die verwerkingskrag van mikroskyfies elke 18 maande verdubbel. Nog nooit tevore is soveel inligting in so ’n klein ruimte geberg nie.