Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 5/22 bl. 6-11
  • Kan globalisasie werklik ons probleme oplos?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan globalisasie werklik ons probleme oplos?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die groeiende gaping
  • Die globalisasie van kultuur
  • Is globalisasie ’n oplossing?
  • Globalisasie—Die verwagtinge en die vrese
    Ontwaak!—2002
  • Globale handel—Hoe dit jou raak
    Ontwaak!—1999
  • Die globalisasie wat jou tot voordeel sal strek
    Ontwaak!—2002
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 5/22 bl. 6-11

Kan globalisasie werklik ons probleme oplos?

“Die wêreldgemeenskap van vandag is, soos die meeste ander gemeenskappe, alles behalwe ideaal; dit het baie tekortkominge. Die inwoners word nie almal regverdig behandel nie; hulle het nie dieselfde geleenthede nie. Miljoene het so min dat hulle nie eers dink dat hulle aan ’n gemeenskap behoort nie.”—“OUR GLOBAL NEIGHBOURHOOD.”

FATIMA, ’n inwoner van ’n groot stad in Afrika, ag haarself gelukkig. Ten minste het sy ’n yskas. Maar haar gesin se huis is net ’n staalpondokkie wat langs drie marmergrafte opgerig is. Soos ’n halfmiljoen ander inwoners, woon sy in ’n enorme begraafplaas. En selfs die begraafplaas is besig om vol te word. “Te veel mense trek in”, kla sy, “veral hier tussen die grafte.”

Ongeveer 15 kilometer van Fatima se huis af is ’n eksklusiewe nuwe behuisingskompleks, toegerus met elegante restaurante en ’n gholfbaan met 27 putjies. Een rondte gholf kos meer as die per capita- maandelikse inkomste in hierdie Afrikaland. Armoede het die stad nog altyd geteister, maar gholfbane—’n simbool van die elite—is ’n nuwigheid en terselfdertyd ’n oorsaak van irritasie. In ons wêreldgemeenskap is weelde en armoede onvriendelike bure.

Die Wadi Hadhramaut, wat deur die dorre land Jemen in die Midde-Ooste kronkel, is ’n ou karavaanroete waarlangs talle antieke stede geleë is. Met die eerste oogopslag lyk dit asof die tyd in hierdie afgeleë vallei stilgestaan het. Maar die uiterlike kan misleidend wees. In die nabygeleë stad Saiun het die museum die hulp van ’n universiteitsgegradueerde ingeroep om ’n webwerf voor te berei wat al sy waardevolle items katalogiseer. Hoewel die gegradueerde ’n plaaslike meisie is, het sy in Ohio, VSA, gestudeer. Deesdae kan mense sowel as idees in die wêreld rondbeweeg soos nooit tevore nie.

’n Paar duisend kilometer na die weste, in die Sahara, ry ’n konvooi van drie vragmotors op ’n afgeleë pad stadig in ’n suidelike rigting. Masjala, een van die bestuurders, verduidelik dat hy televisiestelle, video-opnemers en satellietskottels vervoer. Hy kyk na Amerikaanse nuusuitsendings om op hoogte van wêreldgebeure te bly. In my dorp “het ons almal satellietskottels”, verduidelik hy. Daar is min plekke op aarde wat buite die bereik van die wêreldmedia is.

Die voortdurende wêreldwye beweging van mense, idees, nuus, geld en tegnologie het ’n nuwe wêreldgemeenskap geskep wat voordele kan bring. Globalisasie help om die plaaslike kultuur in Jemen bekend te maak en stel Masjala in staat om tot R35 000 te verdien vir ’n rit van drie weke. Maar die geld kom nie by almal uit nie. Fatima en haar bure sit en kyk hoe ’n paar mense die voordele van globalisasie geniet, terwyl hulle in armoede vasgevang bly.

Hoewel ons wêreldgemeenskap alles behalwe ideaal is, is die proses van wêreldintegrasie waarskynlik onomkeerbaar. Sal mense hulle TV’s afskakel, hulle sellulêre telefone weggooi, hulle rekenaars vernietig en ophou om na ander lande te reis? Sal nasies probeer om hulleself heeltemal op politieke en ekonomiese gebied van die res van die wêreld te isoleer? Dit lyk baie onwaarskynlik. Niemand wil hê dat die voordele van globalisasie by hulle moet verbygaan nie. Maar wat van die probleme wat daarmee gepaardgaan? Dit veroorsaak toenemende kommer, en dit raak die lewens van duisende. Kom ons bespreek kortliks ’n paar van globalisasie se ernstiger newe-effekte.

Die groeiende gaping

Die verspreiding van die wêreld se rykdom was nog nooit regverdig nie, maar ekonomiese globalisasie het die kloof tussen die rykes en die armes vergroot. Dit lyk wel asof party ontwikkelende lande voordeel trek uit hulle integrasie in die wêreldekonomie. Deskundiges beweer dat die aantal mense in Indië wat onder die broodlyn lewe, gedurende die afgelope tien jaar van 39 persent tot 26 persent gedaal het en dat Asië in die geheel ’n soortgelyke verbetering gesien het. Een studie toon dat slegs 15 persent van die bevolking van Oos-Asië teen 1998 op $1 per dag gelewe het, in vergelyking met 27 persent tien jaar vroeër. Die wêreldwye prentjie is egter nie so rooskleurig nie.

In Afrika suid van die Sahara en party ander minder ontwikkelde streke het mense se inkomste oor die afgelope 30 jaar in werklikheid verminder. “Die internasionale gemeenskap . . . laat byna 3 miljard mense—byna die helfte van die hele mensdom—op $2 per dag of minder lewe in ’n wêreld van ongeëwenaarde rykdom”, sê Kofi Annan, die VN se sekretaris-generaal. Een van die hoofoorsake van hierdie ontsaglike maatskaplike kloof is finansiële eiebelang. “Regoor die wêreld skiet die private finansiële markte te kort wanneer dit by die brandarmes kom”, sê Larry Summers, voormalige Amerikaanse minister van finansies. “Hoofstroombanke soek nie besigheid in arm gemeenskappe nie—want die geld is nie daar nie.”

Die geweldige inkomstekloof tussen die rykes en die armes skei mense en selfs lande van mekaar. Nie lank gelede nie het die fortuin van die rykste man in die Verenigde State die gekombineerde netto bates van meer as 100 miljoen van sy mede-Amerikaners oortref. Globalisasie het ook bygedra tot die groei van internasionale maatskappye wat die wêreldmark vir sekere produkte feitlik oorgeneem het. In 1998, byvoorbeeld, het slegs tien maatskappye 86 persent van die telekommunikasiebedryf beheer, wat ’n omset van R3 biljoen het. Die ekonomiese krag van hierdie maatskappye is dikwels groter as dié van regerings en, soos Amnestie Internasionaal sê, “menseregte en arbeidsregte is vir hulle nie ’n hoë prioriteit nie”.

Dit is verstaanbaar dat menseregteorganisasies bekommerd is oor die feit dat soveel van die wêreld se rykdom in die hande van ’n paar bevoorregte mense is. Hoe sal jy daarvan hou om in ’n gemeenskap te woon waar die rykste 20 persent 74 keer meer as die armstes verdien? En danksy televisie weet die armste 20 persent van die mensdom presies hoe die rykes lewe, hoewel hulle besef dat die kanse skraal is dat hulle hulle eie lot sal kan verbeter. Sulke uiterste onregverdigheid in die wêreldgemeenskap saai ongetwyfeld baie saadjies van onrus en frustrasie.

Die globalisasie van kultuur

Nog iets wat kommer wek, het te doen met botsende kulture en die feit dat materialistiese waardes al hoe algemener word. Die uitwisseling van idees is ’n belangrike kenmerk van globalisasie, en niks simboliseer hierdie verskynsel beter as die Internet nie. Ongelukkig word die Internet nie net gebruik vir die verspreiding van voordelige inligting, kultuur en handel nie. Party webwerwe bevorder pornografie, rassisme of dobbelary. ’n Paar gee spesifieke instruksies oor hoe om tuisgemaakte bomme te vervaardig. Soos Thomas L. Friedman uitgewys het: “Op die Internet is moeilikheid net ’n paar muisklieke weg. Jy kan in ’n virtuele neo-Nazi-biersaal of in ’n pornograaf se biblioteek indwaal . . . en daar is niemand om jou te keer of reg te help nie.”

Televisie en films het ook ’n baie groot invloed op mense se denke. Die boodskappe op die wêreld se skerms kom dikwels uit Hollywood, die wêreld se vernaamste fantasiefabriek. Die waardes wat deur hierdie ontsaglike vermaaklikheidsbedryf uitgebeeld word, bevorder dikwels materialisme, geweld of onsedelikheid. Dit is moontlik heeltemal vreemd aan die plaaslike kultuur van baie lande in die wêreld. Nietemin vind regerings, onderwysers en ouers dit sonder uitsondering onmoontlik om die vloed te stuit.

“Ons is mal oor die Amerikaanse kultuur”, het ’n inwoner van Havana, Kuba, aan ’n Noord-Amerikaanse besoeker gesê. “[Ons] ken al julle Hollywoodsterre.” Die Westerse kultuur bevorder ook kitskos en koeldrank. ’n Sakeman van Maleisië het gesê: “Die mense hier is lief vir enigiets Westers, veral Amerikaans. . . . Hulle wil Westerse kos eet en soos Westerlinge lewe.” Die rektor van ’n kollege in Havana het gesê: “Kuba is nie meer ’n eiland nie. Daar is nie meer eilande nie. Daar is net een wêreld.”

Die verspreidende Westerse kultuur beïnvloed mense se verwagtinge en begeertes. Die Human Development Report 1998 het gesê: “‘Om by die bure by te hou’, beteken nie meer om die lewenstandaard van jou buurman te probeer ewenaar nie, maar beteken nou om die lewenstyl van die rykes en die beroemdes wat in rolprente en televisieprogramme uitgebeeld word, na te jaag.” Klaarblyklik sal die meeste mense nooit so ’n lewenstyl kan hê nie.

Is globalisasie ’n oplossing?

Soos baie van die mensdom se ondernemings, het globalisasie nuttige sowel as skadelike aspekte. Dit het party op ekonomiese gebied bevoordeel, en dit het ’n era van wêreldwye kommunikasie ingelui. Nietemin begunstig dit die rykes en die magtiges bo die armes en die behoeftiges. En misdadigers sowel as siektevirusse het meer baat gevind by globalisasie as regerings.—Sien die vensters op bladsye 8 en 9.

Globalisasie het die probleme wat reeds in ons onvolmaakte wêreld bestaan, grootliks vererger. In plaas van ’n oplossing vir die wêreld se probleme te bied, het dit deel van die probleem geword. Maatskaplike verdeeldheid het groter geword en frustrasie het toegeneem. Regerings in alle wêrelddele sukkel om die voordele van globalisasie te benut terwyl hulle hulle inwoners teen die gruwels daarvan beskerm. Sal hulle suksesvol wees? Kan globalisasie met ’n menslike sy die antwoord wees? Ons volgende artikel sal hierdie vrae ontleed.

[Vensters/Prente op bladsy 8, 9]

DIE GLOBALISASIE VAN MISDAAD EN TERRORISME

Ongelukkig kan die instrumente van die handel maklik in instrumente van misdaad omskep word. “Terwyl die internasionale korporasies die leiding geneem het in die georganiseerde poging om die wêreld se ekonomie te globaliseer, het ‘misdaad internasionaal’—die georganiseerde misdaadsindikate—gou daaruit munt geslaan”, verduidelik die Human Development Report 1999. Hoe het georganiseerde misdaad by globalisasie baat gevind?

Dwelmkartelle het ’n menigte nuwe geleenthede gevind om hulle winste van miljarde rande skoon te maak. Die uitskakeling van baie doeanekontroles en die toenemende beweging van mense maak dit ook makliker vir die kartelle om onwettige dwelms van een land of vasteland na ’n ander te vervoer. Interessant genoeg, gedurende die 1990’s het kokaïenproduksie verdubbel en opiumproduksie verdriedubbel. Internasionale Mafiagroepe het ook ’n winsgewende handel in prostitusie ontwikkel. Elke jaar verskeep hulle met hierdie doel sowat 500 000 vroue en meisies na Wes-Europa—die meeste van hulle teen hulle wil.

Misdaadsindikate, soos internasionale korporasies, het in onlangse jare hulle mag gekonsolideer. Baie funksioneer wêreldwyd, en tussen hulle maak hulle ’n geskatte bruto wins van R17,5 biljoen per jaar—meer as die bruto nasionale produk van Frankryk.a

Die Internet is ook ’n ideale instrument vir oneerlike rekenaarspesialiste. In 1995 het ’n rekenaarinbreker (hacker) inligting wat na bewering byna R12 miljoen werd is asook 20 000 private kredietkaartnommers gesteel. “Diefstal deur middel van nuwe tegnologie is minder van ’n waagstuk en is lonender”, het José Antonio Soler, ’n Spaanse bankier, verduidelik.

Terroriste maak ook gebruik van die instrumente van globalisasie. Danksy wêreldwye nuusdekking kan die ontvoering van ’n paar toeriste uit die Weste in ’n afgeleë uithoek van die planeet onmiddellik publisiteit aan feitlik enige politieke grief gee.

ONGEWENSTE “REISIGERS”

Siektes sowel as mense kan om die wêreld reis, en party van hulle is dodelik. “Die dramatiese toename in die wêreldwye beweging van mense, goedere en idees is die dryfkrag agter die globalisasie van siekte”, sê professor Jonathan M. Mann, ’n deskundige op die gebied van epidemies. “Die wêreld het vinnig baie vatbaarder geword vir die uitbarsting en ook vir die wêreldwye verspreiding van ou sowel as nuwe aansteeklike siektes.”

Die beste voorbeeld van hierdie wêreldwye vatbaarheid is die vigs-pandemie, wat nou elke jaar die lewe van omtrent driemiljoen mense eis. In party lande in Afrika vrees gesondheidswerkers dat die siekte uiteindelik twee derdes van al die jong mans en vroue sal doodmaak. “Ten spyte van millenniums van epidemies, oorloë en hongersnode was daar nog nooit in die geskiedenis sulke hoë sterftesyfers onder jong volwassenes nie”, berig die Verenigde Nasies se Gesamentlike MIV/vigs-program.

Mikrobes en virusse is nie die enigste ongewenste “wêreldreisigers” nie. Diere, plante en insekte het uit hulle normale habitat ontsnap en hulle in ander kontinente tuisgemaak. ’n Giftige slangsoort van Australië is tans besig om Pasifiese Eilande oor te neem, blykbaar deur op vliegtuie weg te kruip. Dit het reeds feitlik al die woudvoëls van Guam uitgewis. Die waterhiasint van Suid-Amerika het na 50 tropiese lande versprei, waar dit kanale oorgroei en visdamme vernietig. “‘Indringers’ kos die wêreldekonomie elke jaar moontlik miljarde dollars en versprei ook siektes en veroorsaak grootskaalse ekologiese vernietiging”, berig die International Herald Tribune.

[Voetnoot]

a “Bruto nasionale produk” verwys na die totale markwaarde van goedere en dienste wat ’n land in ’n jaar lewer.

[Prente]

GELDSMOKKELARY

In ’n vrag speelgoedbeertjies

KOKAÏENSMOKKELARY

Kokaïen ter waarde van R47 000 000 wat in ’n motorwoonwa by ’n grenspos gevind en gekonfiskeer is

BIOTERRORISME

Soldate soek na antraks op Capitol Hill, Washington, DC

BOMAANVALLE

’n Motorbom ontplof in Israel

WÊRELDWYE VERSPREIDING VAN VIGS

Die vigs-epidemie is so oorweldigend in Suid-Afrika dat party openbare hospitale mense wegwys

INDRINGING DEUR SPESIES

Bruin boomslange het die woudvoëls in Guam byna uitgewis

WATERHIASINT

Hierdie plant oorgroei kanale en rivieroewers in sowat 50 lande

[Erkennings]

Geld- en kokaïensmokkelary: James R. Tourtellotte and Todd Reeves/U.S. Customs Service; bioterrorisme: AP Photo/Kenneth Lambert; brandende bus: AP Photo/HO/Israeli Defense Forces; kind: AP Photo/Themba Hadebe; slang: Photo by T. H. Fritts, USGS; waterhiasint: Staff CDFA, California Dept. of Food & Agriculture, Integrated Pest Control Branch

[Prente op bladsy 7]

Ekonomiese globalisasie het die kloof tussen die rykes en die armes vergroot

[Erkenning]

UN PHOTO 148048/ J. P. Laffont - SYGMA

[Prente op bladsy 10]

Die Internet word gebruik om terrorisme te bevorder

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel