’n Unieke Mediterreense natuurreservaat
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
DUISENDE jare lank het die lande om die Middellandse See hulle woude afgekap, toegelaat dat hulle weivelde oorbewei word en party van die wilde diere so gejag dat hulle op die randjie van uitsterwing was. Vandag is daar nog net ’n paar ongerepte gebiede in die streek oor. Maar in een deel van Spanje het ’n sameloop van omstandighede daartoe gelei dat ’n klein gebied so te sê ongeskonde gebly het. Die naam daarvan is Monfragüe, wat “Ruwe Berg” beteken.
Die feit dat hierdie deel van Spanje so afgeleë is, sou egter op sigself nie genoeg wees om die habitat te beskerm nie. Gelukkig het die boere wat in die gebied rondom Monfragüe gewoon het, ’n metode van veeteelt beoefen wat ’n baie belangrike rol gespeel het in die bewaring van ’n kosbare deel van die uitgestrekte inheemse woude wat vroeër die Mediterreense heuwels bedek het. Die bewaarde bosland het as die dehesa, of “bosryke weiveld”, bekend gestaan.
’n Ekologiese boerderymetode
Die boere van Extremadura (die deel in Spanje waar Monfragüe geleë is) het eeue gelede besef dat die immergroen eikewoude wat die land bedek, noodsaaklike skaduwee en kos vir hulle kuddes kon voorsien.a Hulle het dus nie al die bome afgekap om weiveld te voorsien nie, maar het genoeg eikebome gelos om ’n oop bosland te skep. Hulle het die bome ook gesnoei sodat hulle takke kon uitsprei. Die skaduwee van hierdie indrukwekkende eikebome het die groen weivelde onder hulle beskerm, en die oorvloed akkers wat hulle dra, het voedsame kos vir die vee en varke voorsien. Aangesien hierdie dehesa gehelp het om ’n aansienlike deel van die oorspronklike bome te bewaar, kon baie inheemse voël- en diersoorte behoue bly.
Twee riviere, die Taag en die Tiétar, vloei deur die dehesa en kalwe diep klowe uit totdat hulle uiteindelik onder die spits van Monfragüe ontmoet. In 1979 het die ongerepte gebied wat aan hierdie twee riviere grens en wat verseker het dat die oorspronklike Mediterreense woud beter as enige ander bewaar is, uiteindelik ’n natuurreservaat geword. Die park is gestig omdat Monfragüe op die oomblik beskou word as een van die plekke waar die Mediterreense ekosisteem die beste bewaar is.
Voëls van die Bybel
Hoewel die park oor ’n betreklike klein gebied strek, dien dit as ’n toevlugsoord vir die muskeljaatkat, die edelhert, die wildevark en die ontwykende Spaanse los, een van die mees bedreigde soogdiere in Europa. Maar aangesien die meeste van hulle nagdiere is, is dit baie waarskynliker dat ’n dagbesoeker die pragtige roofvoëls sal sien wat volop in die gebied voorkom. Die meeste van hierdie Mediterreense roofvoëls is ook soortgelyk aan dié van Bybellande.
In die middel van die 19de eeu het die natuurkenner H. B. Tristram feitlik oral waar hy in Palestina gereis het, gansgiere in die lug sien sirkel. Dieselfde kan van Monfragüe gesê word, waar 400 pare nesmaak op die rotslyste wat oor die Taag- en Tiétarrivier uitkyk. Aan die einde van die dag sirkel tientalle aasvoëls bo hulle gemeenskaplike neste en lyk hulle groot silhoeëtte soos spikkels teen die aandhemel.b
Witooievaars, wat hulle neste op ou geboue in baie dele van Europa bou, maak nog steeds hulle nes in eikebome in die omgewing van Monfragüe, waar hulle floreer (Psalm 104:17). Dit is nie net ooievaars wat die warm lugstrome benut nie, maar ook keiser- en goudarende, wat geduldig hoog in die lug sweef en “in die verte kyk” terwyl hulle voortdurend na prooi soek.—Job 39:27-29.
Die rooiwoue is ratser en meer volop as die arende, en hulle getalle neem gedurende die somermaande vinnig toe. Die skerpsiende swartwoue vlieg ook gedurig oor die park se riviere en bly altyd op die uitkyk na vis wat hulle uit die water kan vang.—Job 28:7.
Ander roofvoëls, soos die ooruil en die nonnetjie-uil, begin teen skemeraand vlieg. Die ooruil maak sy nes op die eensame rotskranse van Monfragüe, ’n habitat soortgelyk aan die verlate ruïnes van eertydse Babilon, waar die profeet Jesaja voorspel het die ooruil sou woon.—Jesaja 13:21.
Die reservaat word bewaar en herstel
Veldblomme gee kleur aan die park, veral in die lente. Die delikate wit blomme van die kliproos, tesame met trossies pers laventelblomme, bedek feitlik al die hange waar daar nie bome is nie. En wanneer die somer nader kom, versier die alomteenwoordige papawers die groen weivelde met helderrooi kleurspatsels.
Die bewaring van hierdie kosbare habitat is nou van die grootste belang vir die parkowerheid. Met dié doel voor oë is hulle besig om inheemse boomsoorte te plant om die ingevoerde denne- en bloekombome te vervang wat nie die park se natuurlewe tot voordeel strek nie. Hulle werk ook saam met die plaaslike boere om die omliggende dehesas te beskerm en moedig hulle aan om weer eikebome te plant wanneer dit ook al nodig is. Hopelik sal hierdie maatreëls die voortbestaan van hierdie unieke Mediterreense natuurreservaat verseker.
[Voetnote]
a Die vernaamste immergroen eikeboomsoorte in Spanje is die kurkeik en die Holm-eikeboom. Soortgelyke immergroen eikeboomsoorte het in Bybeltye oral in Palestina voorgekom.
b Die gansgier het ’n vlerkspan van tot 2,8 meter en is een van die grootste voëls van Eurasië.
[Prente op bladsy 16, 17]
Van links na regs: Beeste wat in die oop bosland wei, ’n muskeljaatkat en ’n edelhert
[Prent op bladsy 18]
Monniksgier
[Prent op bladsy 18]
Ooruil
[Prent op bladsy 18]
Goudarend
[Erkenning]
Foto’s: Cortesía de GREFA