Hoe het die heelal en lewe ontstaan?
“Die wetenskap sonder godsdiens is onbevredigend, godsdiens sonder die wetenskap is blind.”—Albert Einstein.
ONS lewe in ’n tyd waarin verstommende dinge op ’n ongekende skaal plaasvind. Nuwe sterrekundige ontdekkings dwing sterrekundiges om hulle beskouings te verander oor die ontstaan van ons heelal. Baie mense word deur die kosmos gefassineer en vra die ou vrae wat weens ons bestaan daarin gevra word: Hoe het die heelal en lewe tot stand gekom, en waarom?
Selfs wanneer ons in die ander rigting kyk—binne-in onsself—laat die onlangse kartering van die menslike genetiese kode die volgende vrae ontstaan: Hoe is die tallose lewensvorme geskep? En wie, indien enigiemand, het dit geskep? Die ongelooflike kompleksiteit van ons genetiese bloudruk het ’n Amerikaanse president beweeg om te sê dat “ons die taal leer waarin God lewe geskep het”. Een van die hoofwetenskaplikes wat by die genetiese ontsyfering betrokke was, het nederig opgemerk: “Ons het die eerste blik op ons eie instruksieboek gekry, iets waarmee slegs God voorheen bekend was.” Maar die vrae bestaan nog steeds—hoe en waarom?
“Twee vensters”
Sommige wetenskaplikes beweer dat die werking van die heelal deur rasionele ontleding verduidelik kan word, wat geen ruimte vir Goddelike wysheid laat nie. Maar baie mense, insluitende wetenskaplikes, is nie gemaklik met so ’n beskouing nie. Hulle probeer agter die waarheid kom deur na die wetenskap sowel as godsdiens te kyk. Hulle meen dat die wetenskap oor die hoe van ons bestaan en die kosmos om ons gaan, terwyl godsdiens hoofsaaklik oor die waarom gaan.
Die fisikus Freeman Dyson het hierdie tweeledige benadering soos volg verduidelik: “Die wetenskap en godsdiens is twee vensters waardeur mense kyk om die groot heelal daarbuite te probeer verstaan.”
Die skrywer William Rees-Mogg het gesê: “Die wetenskap bemoei hom met die meetbare en die godsdiens met die onmeetbare.” Hy het gesê: “Die wetenskap kan net so min die bestaan van God bewys of weerlê as wat dit enige sedelike of estetiese konsep kan bewys of weerlê. Daar is geen wetenskaplike rede om ’n mens se naaste lief te hê of menselewe te respekteer nie . . . Om te redeneer dat niks bestaan wat nie wetenskaplik bewys kan word nie, is die grootste fout denkbaar, want dit sal byna alles wat ons in die lewe waardeer, uitskakel, nie net God of die mensegees nie, maar ook liefde en poësie en musiek.”
Die “godsdiens” van die wetenskap
Dit lyk of wetenskaplikes se teorieë dikwels op veronderstellings berus wat die een of ander soort geloof vereis. Wanneer dit byvoorbeeld by die oorsprong van lewe kom, hou die meeste evolusioniste aan idees vas wat geloof in sekere “leerstellings” vereis. Feite en teorieë word gemeng. En wanneer wetenskaplikes hulle gesag gebruik om mense blinde geloof in evolusie te laat stel, impliseer hulle in werklikheid: ‘Jy is nie vir jou sedelike gedrag verantwoordelik nie omdat jy bloot die produk van biologie, chemie en fisika is.’ Die bioloog Richard Dawkins sê dat daar in die heelal ‘geen ontwerp, geen doel, geen kwaad en geen goedheid is nie, net betekenislose onverskilligheid’.
Om sulke opvattings te bevorder, verkies party wetenskaplikes om ander wetenskaplikes se uitgebreide navorsing te ignoreer wat die teoretiese grondslag vir hulle teorieë oor die oorsprong van lewe weerspreek. Selfs al veronderstel ons dat miljarde jare verbygegaan het, is daar reeds bewys dat dit ’n wiskundige onmoontlikheid is dat die komplekse molekules wat nodig is om ’n werkende lewende sel te vorm, toevallig kon ontstaan.a Die dogmatiese teorieë oor die oorsprong van lewe wat in baie handboeke verskyn, moet dus as ongegrond beskou word.
Om te glo dat lewe deur blinde toeval ontstaan het, verg meer geloof as om in die skepping te glo. Die sterrekundige David Block het gesê: “Iemand wat nie aan ’n Skepper glo nie, het meer geloof nodig as iemand wat wel aan hom glo. ’n Persoon wat sê dat God nie bestaan nie, maak ’n wilde, onbevestigde stelling—’n stelling wat op geloof gebaseer is.”
Wetenskaplike ontdekkings kan ’n gevoel van ontsag by party wetenskaplikes wek. Albert Einstein het erken: “Jy sal onder die briljantste wetenskaplikes beswaarlik iemand vind wat nie sy eie godsdiensgevoel het nie. . . . [Hierdie] godsdiensgevoel word uitgedruk deur ’n ekstatiese verwondering oor die harmonie van natuurwette, wat getuig van ’n intelligensie wat so voortreflik is dat al die stelselmatige dinkwerk en aktiwiteite van mense ’n uiters onbeduidende nabootsing in vergelyking daarmee is.” Maar dit laat wetenskaplikes nie noodwendig aan ’n Skepper, ’n persoonlike God, glo nie.
Die perke van die wetenskap
Dit is gepas om ’n behoorlike respek vir wetenskaplike kennis en prestasies te hê. Maar hoewel die wetenskap ’n instrument is waardeur kennis ingewin kan word, sal baie saamstem dat dit nie die enigste bron van kennis is nie. Die doel van die wetenskap is om verskynsels in die sigbare wêreld te beskryf en om te help verklaar hoe hierdie dinge plaasvind.
Die wetenskap help ons om ’n beter begrip te hê van die fisiese heelal, wat alle waarneembare dinge insluit. Maar dit maak nie saak hoe diep wetenskaplike navorsing delf nie, dit kan nooit die vraag oor die doel van alles beantwoord nie—naamlik, waarom die heelal in die eerste plek bestaan.
“Daar is party vrae wat wetenskaplikes nooit sal kan beantwoord nie”, sê die skrywer Tom Utley. “Die Oerknal het dalk 12 miljard jaar gelede plaasgevind. Maar waarom het dit plaasgevind? . . . Hoe het die deeltjies in die eerste plek daar gekom? Wat het voor dit bestaan?” Utley maak die gevolgtrekking: “Dit lyk . . . duideliker as ooit tevore dat die wetenskap nooit die mens se honger na antwoorde sal bevredig nie.”
Wetenskaplike kennis wat deur sulke weetgierigheid opgedoen is, weerlê nie die feit dat ons ’n God nodig het nie; inteendeel, dit help eerder om te bevestig in wat ’n ongelooflik komplekse, gekompliseerde en ontsagwekkende wêreld ons lewe. Vir talle denkende mense maak dit sin om die gevolgtrekking te maak dat die natuurwette en chemiese reaksies, sowel as DNS en die verbasende verskeidenheid lewensvorme, alles daarop dui dat daar ’n Skepper is. Daar is geen onweerlegbare getuienis wat die teendeel bewys nie.
‘Daar steek iets in geloof’
As ’n Skepper vir die bestaan van die heelal verantwoordelik is, kan ons nie verwag om hom of sy voornemens te verstaan deur teleskope, mikroskope of ander wetenskaplike instrumente te gebruik nie. Dink byvoorbeeld aan ’n pottebakker en ’n vaas wat hy gemaak het. Ongeag hoe deeglik ons die vaas ondersoek, ons sal nooit die rede kan vasstel waarom dit gemaak is nie. Vir die antwoord sal ons die pottebakker self moet vra.
Die molekulêre bioloog Francis Collins verduidelik hoe geloof en geestelikheid kan help om die leemte te vul wat deur die wetenskap gelaat word: “Ek sou nie verwag dat godsdiens die regte instrument is om die volgorde van die menslike genoom te bepaal nie, en net so sou ek nie verwag dat die wetenskap die instrument is om die bonatuurlike te probeer verstaan nie. Maar oor die werklik interessante groter vrae, soos ‘Waarom is ons hier?’ of ‘Waarom het mense ’n behoefte aan geestelikheid?’ vind ek dat die wetenskap te kort skiet. Baie bygelowe het ontstaan en dan weer verdwyn. Geloof het nie, wat te kenne gee dat daar iets daarin steek.”
’n Verduideliking word gegee
Wanneer ware godsdiens ’n antwoord verstrek op die vraag waarom en verduidelik wat die doel van die lewe is, voorsien dit ook standaarde vir waardes, sedelikheid en etiek, sowel as riglyne vir die lewe. Die wetenskaplike Allan Sandage het dit so gestel: “Ek raadpleeg nie ’n biologieboek om uit te vind hoe ek moet lewe nie.”
Miljoene mense regoor die wêreld meen dat hulle uitgevind het waarheen hulle kan gaan om te leer hoe hulle moet lewe. Hulle voel ook dat hulle werklik bevredigende antwoorde op die volgende vrae gevind het: Waarom is ons hier? En waarheen gaan ons? Daar is antwoorde op hierdie vrae. Maar waar is dit? In die oudste en wyds verspreide heilige boek, die Bybel.
Die Bybel sê vir ons dat God die aarde spesifiek met die mens in gedagte voorberei het. Jesaja 45:18 sê aangaande die aarde: ‘God het dit nie verniet geskep nie, maar het dit gevorm om bewoon te word.’ En hy het die aarde met alles toegerus wat mense nodig sou hê, nie net om te lewe nie, maar ook om die lewe ten volle te geniet.
Mense is bestuurderskap oor die aarde gegee en moes dit “bewerk en daarvoor . . . sorg” (Genesis 2:15). Die Bybel verduidelik ook dat kennis en wysheid gawes van God is en dat ons liefde en geregtigheid teenoor mekaar moet bewys (Job 28:20, 25, 27; Daniël 2:20-23). Gevolglik kan mense slegs ’n doel in die lewe vind wanneer hulle leer oor God se voorneme vir hulle en dit aanvaar.b
Hoe kan ’n moderne denker die skynbare kloof tussen wetenskaplike rede en godsdiensoortuiging oorbrug? Watter rigsnoere kan ’n mens help om dit reg te kry?
[Voetnote]
a Sien Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, hoofstuk 3, “Wat is die oorsprong van lewe?” uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Sien die brosjure Wat is die doel van die lewe?—Hoe kan jy dit vind?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp.
[Venster/Prente op bladsy 7]
Wat party wetenskaplikes sê
Sommige mense neem aan dat die meeste wetenskaplikes kwessies oor geestelikheid en die teologie vermy omdat hulle nie godsdienstig is nie of verkies om nie by die wetenskap-versus-godsdiens-geskil betrokke te raak nie. Dit beskryf wel sommige wetenskaplikes, maar beslis nie almal nie. Let op wat die volgende wetenskaplikes te sê gehad het.
“Die heelal het ’n begin gehad, maar wat wetenskaplikes nie kan verduidelik nie, is waarom. Die antwoord is God.” “Ek beskou die Bybel as ’n boek van waarheid en wat deur God geïnspireer is. Daar moet intelligensie agter die kom-pleksiteit van lewe wees.”—Ken Tanaka, planetêre geoloog by die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames.
“Die kloof tussen die verskillende soorte kennis (wetenskaplik en godsdienstig) is ietwat kunsmatig. . . . Kennis van die Skepper en kennis van die skepping is nou verwant.”—Enrique Hernández, navorser en professor by die Departement van Fisika en Teoretiese Chemie, Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko.
“Namate ons al hierdie inligting [oor die menslike genoom] versamel, sal dit die kompleksiteit, die onderlinge afhanklikheid van hierdie inligting aan die lig bring. Dit sal toon dat die oorsprong die gevolg van ’n intelligente skepper, ’n intelligente persoon, is.”—Duane T. Gish, biochemikus.
“Daar is geen teenstrydigheid tussen die wetenskap en godsdiens nie. Albei is op soek na dieselfde waarheid. Die wetenskap toon dat God bestaan.”—D.H.R. Barton, chemieprofessor, Texas.
[Erkennings]
NASA/U.S. Geological Survey
Foto: www.comstock.com
NASA and The Hubble Heritage Team (STScI/AURA)
[Prente op bladsy 5]
Kan wetenskaplike navorsing verduidelik waarom ons hier is?
[Erkenning]
Courtesy Arecibo Observatory/David Parker/Science Photo Library
[Foto-erkenning op bladsy 6]
Sterre op bladsye 2, 3, 5 en boaan bladsy 7: National Optical Astronomy Observatories