Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 6/8 bl. 8-11
  • Die wetenskap en godsdiens word versoen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wetenskap en godsdiens word versoen
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voortgesette soektog
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
  • Hoe het die heelal en lewe ontstaan?
    Ontwaak!—2002
  • Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Hoe die wetenskap jou lewe raak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 6/8 bl. 8-11

Die wetenskap en godsdiens word versoen

“Die wetenskap en godsdiens [word] nie meer as onverenigbaar beskou nie.”—The Daily Telegraph, Londen, 26 Mei 1999.

BEIDE die wetenskap en godsdiens, in hulle edelste vorme, is op soek na die waarheid. Die wetenskap ontdek ’n wêreld van ongelooflike orde, ’n heelal met duidelike tekens van intelligente ontwerp. Ware godsdiens maak hierdie ontdekkings betekenisvol deur te leer dat die verstand van die Skepper verantwoordelik is vir die ontwerp wat in die fisiese wêreld gesien kan word.

“Ek vind dat godsdiens my baie groter waardering gee vir die wetenskap”, sê Francis Collins, ’n molekulêre bioloog. Hy sê verder: “Wanneer ek iets oor die menslike genoom ontdek, kry ek ’n gevoel van ontsag vir die raaisel van lewe en sê ek vir myself: ‘Dit is ongelooflik, en om te dink, net God het dit voorheen geweet.’ Dit is ’n wonderlike en hartroerende gewaarwording, wat my help om God te waardeer en die wetenskap vir my selfs bevredigender maak.”

Wat sal ’n mens help om die wetenskap en godsdiens te versoen?

’n Voortgesette soektog

Aanvaar die beperkinge: Die einde van ons soeke na antwoorde oor die oneindige heelal, ruimte en tyd is nie in sig nie. Die bioloog Lewis Thomas het gesê: “Daar sal geen einde aan hierdie proses wees nie, aangesien ons so ’n uiters nuuskierige spesie is en dinge verken, navors en probeer verstaan. Ons sal nooit al die antwoorde vind nie. Ek kan my nie ’n tyd voorstel wanneer almal ’n sug van verligting sal slaak en sal sê: ‘Nou verstaan ons alles’ nie. Dit sal vir ons ’n raaisel bly.”

Wanneer dit by godsdienswaarheid kom, is die soeke ook eindeloos. ’n Bybelskrywer, Paulus, het geskryf: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld . . . Nou ken ek net gedeeltelik.”—1 Korintiërs 13:12, Die Bybel, 1983.

Gedeeltelike kennis van wetenskaplike sowel as godsdiensvrae verhinder ons egter nie om aan die hand van die beskikbare feite tot juiste gevolgtrekkings te kom nie. Ons het nie ’n grondige kennis van die oorsprong van die son nodig om heeltemal seker te wees dat dit môre gaan opkom nie.

Ondersoek die feite: In ons soeke na antwoorde moet ons deur heilsame beginsels gelei word. Tensy ons bly by bewyse wat aan die hoogste standaarde voldoen, kan ons maklik mislei word in ons soeke na wetenskaplike en godsdienswaarheid. Nie een van ons kan natuurlik eers begin om al die wetenskaplike kennis en idees, wat vandag groot biblioteke vul, te ondersoek nie. Daarenteen voorsien die Bybel ’n bruikbare versameling van geestelike leringe wat ons kan ondersoek. Wat die Bybel sê, word deeglik bevestig deur die feite.a

Maar wanneer dit by kennis oor die algemeen kom, is ywerige inspanning nodig om tussen feite en spekulasie, tussen die werklikheid en bedrog te onderskei—in beide die wetenskap en godsdiens. Soos die Bybelskrywer Paulus gemaan het, moet ons “die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’” verwerp (1 Timoteus 6:20). Om die wetenskap en die Bybel te versoen, moet ons die feite eerlik ondersoek en sodoende gissings en spekulasie vermy en moet ons vasstel hoe elke feit die ander ondersteun en aanvul.

Wanneer ons byvoorbeeld verstaan dat die Bybel die woord “dag” gebruik om verskillende tydperke aan te dui, begryp ons dat die verslag van die ses skeppingsdae in Genesis nie noodwendig bots met die wetenskaplike gevolgtrekking dat die aarde ongeveer vier en ’n half miljard jaar oud is nie. Volgens die Bybel het die aarde ’n onbepaalde tyd lank bestaan voordat die skeppingsdae begin het. (Sien die venster “Die skeppingsdae—24 uur elk?”) Selfs as die wetenskap sy siening verander en ’n ander ouderdom vir ons planeet aangee, sal wat die Bybel sê, nog steeds geldig wees. Die wetenskap weerspreek nie die Bybel nie, maar voorsien in werklikheid in hierdie en baie ander gevalle oorvloedige aanvullende inligting oor die fisiese wêreld van vandag sowel as die verlede.

Geloof, nie liggelowigheid nie: Die Bybel leer ons dinge omtrent God en sy voornemens wat ons nêrens anders kan kry nie. Waarom moet ons dit vertrou? Die Bybel self nooi ons om die akkuraatheid daarvan te ondersoek. Beskou byvoorbeeld die geskiedkundige egtheid, die praktiese waarde, die eerlikheid van die skrywers en die integriteit daarvan. ’n Mens kan vaste geloof in die Bybel as die Woord van God verkry as jy die akkuraatheid daarvan ondersoek, waaronder verklarings van ’n wetenskaplike aard en, wat selfs oortuigender is, die onfeilbare vervulling van honderde profesieë deur die eeue heen en tot in ons dag. Geloof in die Bybel is nie liggelowigheid nie, maar ’n gegronde vertroue in die akkuraatheid van skriftuurlike verklarings.

Respekteer die wetenskap; erken godsdiensoortuiging: Jehovah se Getuies nooi onbevooroordeelde mense, hetsy hulle wetenskaplik of godsdienstig ingestel is, om opreg te soek na die waarheid in albei sfere. Die Getuies bevorder in hulle gemeentes ’n gesonde respek vir die wetenskap en die bewese bevindings daarvan, sowel as ’n diepe oortuiging dat godsdienswaarheid net in die Bybel gevind kan word, wat onomwonde en met oorvloedige bewyse verklaar dat dit die Woord van God is. Die apostel Paulus het gesê: “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God.”—1 Tessalonisense 2:13.

Maar net soos met die wetenskap, het skadelike leuens en gebruike godsdiens binnegedring. Daarom is daar ware godsdiens en valse godsdiens. Dit is waarom baie mense georganiseerde hoofstroomgodsdienste verlaat het om lede te word van die Christengemeente van Jehovah se Getuies. Hulle is teleurgestel omdat hulle vorige godsdienste nie bereid was om mensetradisies en mites ten gunste van geopenbaarde waarheid te verwerp nie.

Daarbenewens is ware Christene se lewe werklik betekenisvol en doelgerig omdat hulle ’n diepgaande kennis het van die Skepper, soos hy in die Bybel geopenbaar word, en van sy voorneme vir die mensdom sowel as die planeet waarop ons lewe. Jehovah se Getuies het bevredigende, redelike, Bybelse antwoorde op vrae gekry soos: Waarom is ons hier? Waarheen gaan ons? Hulle sal jou met graagte daarvan vertel.

[Voetnoot]

a Sien Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 10]

Die skeppingsdae—24 uur elk?

Sommige fundamentaliste beweer dat die skeppingsleer, en nie evolusie nie, voormenslike geskiedenis verduidelik. Hulle voer aan dat die hele fisiese skepping tussen 6 000 en 10 000 jaar gelede in net ses dae van 24 uur elk geskep is. Maar deur dit te doen, bevorder hulle ’n onskriftuurlike lering wat daartoe gelei het dat baie mense al die Bybel bespot het.

Is ’n dag in die Bybel altyd ’n letterlike tydperk van 24 uur? Genesis 2:4 praat van “die dag toe Jehovah God die aarde en die hemel gemaak het”. Hierdie een dag sluit al ses skeppingsdae van Genesis hoofstuk 1 in. Volgens die gebruik in die Bybel is ’n dag ’n afgemete tydperk en kan dit ’n duisend jaar of etlike duisende jare lank wees. Elke skeppingsdag van die Bybel kon dus duisende jare lank gewees het. Daarbenewens het die aarde alreeds bestaan voordat die skeppingsdae begin het (Genesis 1:1). Wat hierdie punt betref, is die Bybelverslag dus verenigbaar met ware wetenskap.—2 Petrus 3:8.

In ’n kommentaar oor die bewering dat die skeppingsdae letterlik net 24 uur lank was, het die molekulêre bioloog Francis Collins gesê: “Die skeppingsleer het ernstige begrippe van geloof meer skade aangedoen as enigiets anders in die hedendaagse geskiedenis.”

[Venster op bladsy 11]

Is die wetenskap op ’n hoër morele vlak as godsdiens?

Dit is te verstane dat talle mense wat wetenskaplik ingestel is, godsdiens verwerp het omdat dit wetenskaplike vooruitgang teëstaan, ’n droewige geskiedenis het en skynheilig en wreed is. John Postgate, ’n professor van mikrobiologie, sê: “Die wêreld se godsdienste was . . . verantwoordelik vir die gruwels van menseofferandes, kruistogte, pogroms en inkwisisies. Hierdie donkerder sy van godsdiens het in die hedendaagse wêreld gevaarlik geword. Want in teenstelling met die wetenskap is godsdiens nie neutraal nie.”

Postgate vergelyk dit met die veronderstelde rasionaliteit, objektiwiteit en dissipline van die wetenskap en beweer dat “die wetenskap op ’n hoër morele vlak is”.

Is die wetenskap werklik op ’n hoër morele vlak as godsdiens? Die antwoord is nee. Postgate self erken dat “wetenskaplike gemeenskappe ook nie vry is van jaloesie, hebsug, vooroordeel en afguns nie”. Hy voeg by dat “’n paar wetenskaplikes getoon het dat hulle moord sal pleeg in die naam van navorsing, soos in Nazi-Duitsland en Japan se gevangeniskampe gebeur het”. En toe National Geographic ’n ondersoekende verslaggewer aangestel het om uit te vind hoe dit gebeur het dat ’n vervalste verslag oor ’n fossiel in die tydskrif gepubliseer is, het die verslaggewer gepraat van “’n verhaal van dwase geheimhouding en misplaaste vertroue, van konflik tussen opgeblase ego’s, selfverheffing, wensdenkery, naïewe veronderstellings, menslike foute, hardkoppigheid, manipulasie, skinderpraatjies, leuens [en] korrupsie”.

En dit is natuurlik die wetenskap wat die mensdom afgryslike oorlogswapens gegee het, soos siekteorganismes wat as wapens gebruik kan word, gifgas, missiele, “slim” bomme en kernbomme.

[Prent op bladsy 8, 9]

Miernewel (Menzel 3), vanuit Hubble-ruimteteleskoop

[Erkenning]

NASA, ESA and The Hubble Heritage Team (STScI/AURA)

[Prente op bladsy 9]

Die wetenskap het ’n wêreld met duidelike tekens van intelligente ontwerp ontdek

[Prent op bladsy 10]

Jehovah se Getuies bevorder respek vir ware wetenskap sowel as geloof in die Bybel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel