Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 6/22 bl. 26-27
  • ’n Unieke trop wilde wit beeste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Unieke trop wilde wit beeste
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hiërargie in die trop
  • Van nature wild
  • Die Kaapse buffel—’n samewerkende dier
    Ontwaak!—1993
  • Die bees met twee wollerige pelse
    Ontwaak!—2012
  • Die sebra—Afrika se wilde perd
    Ontwaak!—2002
  • Wanneer koeie met vakansie gaan!
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 6/22 bl. 26-27

’n Unieke trop wilde wit beeste

DEUR ONTWAAK-MEDEWERKER IN BRITTANJE

CHILLINGHAM-PARK, in die graafskap Northumberland waar Engeland met Skotland grens, is die tuiste van ’n klein trop wilde wit beeste. Elke jaar kom besoekers van heinde en verre om hulle te sien. Waarom? Omdat hierdie diere uniek is. Vandag is ek en my vrou onder die besoekers.

Hierdie wilde wit beeste is vermoedelik al ten minste van die 13de-eeu af in Chillingham, toe ’n parkmuur, wat ongeveer 600 hektaar omsluit, gebou is om wilde beeste vir voedsel aan te keer. Dié ongewone diere, wat nou tot 140 hektaar van die park beperk is, het almal rooi ore, swart pote en gespikkelde gesigte. Die spikkels verskyn wanneer hulle sowat twee jaar oud is en versprei met verloop van tyd oor die nek en skouers.

Die trop het blykbaar nog nooit ’n gekleurde, of selfs gevlekte, kalf voortgebring nie. Hulle is vermoedelik nie met enige makgemaakte beeste gekruis nie en verskil van die sowat duisend ander beeste van Chillingham-park wat nou in klein troppe regoor Brittanje en Noord-Amerika gevind kan word. Toetse het getoon dat hierdie trop se bloedgroep uniek is onder Wes-Europese beeste.

Die bulle se twee horings groei vorentoe en buitentoe, terwyl die koeie se horings agtertoe buig. Die vorm van die skedel en die manier waarop die horings groei, is soortgelyk aan dié van die oeros, die uitgestorwe wilde bees wat in eertydse Europese grottekeninge uitgebeeld word. Party kenners meen dat die beeste in Chillingham direkte afstammelinge is van die beeste wat eens op die Britse Eilande voorgekom het, maar hulle oorsprong is steeds onbekend.

Hiërargie in die trop

Ons sluit by die wildbewaarder van die trop in sy vierwielaangedrewe voertuig aan om hierdie diere van naderby te beskou. Ons ry vinnig afdraand oor ’n ruwe weiveld, en skielik sien ons die trop voor ons in die skadu van ’n klompie bome. Party kyk ons nuuskierig aan, soos beeste maar doen. Twee of drie van hulle stap stadig nader na ons voertuig en skuur met hulle enorme horings daarteen.

Die wildbewaarder wys vir ons die leier van die trop, die koningbul, soos hy bekend staan. Hy is die grootste en sterkste bul. Gedurende sy “heerskappy”, wat ongeveer drie jaar duur, sal net hy met die koeie paar. Dit wil voorkom of slegs die beste beskikbare gene op hierdie manier van jaar tot jaar oorgedra word. Geen bul word toegelaat om met sy eie kalwers te paar nie, en geen jong bul neem die leierskap by sy pa oor nie.

Van nature wild

Eens op ’n tyd was hierdie diere se grootste vyand die wolf, wat hoofsaaklik op die swakker beeste van die trop jag gemaak het, hoewel daar sedert die 16de eeu geen wolwe in Brittanje is nie. Die beeste gaan soms op loop as hulle skrik, en wanneer hulle uiteindelik tot stilstand kom, vorm die bulle instinktief ’n beskermende sirkel, met die koeie en hulle kalwers in die middel, waar hulle veilig is teen enige roofdiere.

Hierdie beeste is werklik wild, en daarom vind hulle nie juis baat by moderne boerderygebruike nie. Selfs in die winter wanneer daar min gras is, eet hulle slegs hooi en strooi en weier hulle om graan en veevoer te eet. Die kalfies is baie klein wanneer hulle gebore word, en daarom is daar min probleme wanneer koeie kalf; maar as daar probleme sou ontstaan, kan niks gedoen word nie, aangesien veeartse nie hulp kan verleen nie. As ’n mens aan een van die diere sou raak, sal hy glo deur die res van die trop doodgemaak word.

Koeie verlaat die trop wanneer hulle wil kalf en steek die kalfies vir die eerste week of wat weg. Dan nader die koei en die kalfie die trop, en die koningbul gaan haal hulle en bring hulle in die trop in. Daarna ruik die ander koeie aan die kalfie en inspekteer hom voordat hy in die trop toegelaat word. Wanneer hulle hom eers aanvaar het, skenk hulle nie juis verder aandag aan hom nie.

In 1967 het ’n ernstige bek-en-klou-seer-epidemie tot vier kilometer van Chillingham-park af gekom. Die park is inderhaas afgebaken, en die trop is gered. Later is daar besluit om ’n klein groepie beeste na Skotland te neem om ’n tweede trop as ’n maatreël teen uitwissing te vorm. Nie een van die diere is in hierdie geval verwerp nie, aangesien al die diere wat vir hierdie nuwe trop gekies is, saam hanteer is.

Ons het ons kort uitstappie om die wilde wit beeste te sien en iets oor hulle geskiedenis te leer, geniet. Miskien sal jy eendag self na hierdie unieke beeste in hulle vreedsame omgewing kan kom kyk.

[Foto-erkennings op bladsy 27]

Courtesy Chillingham Wild Cattle Association

Loaned by courtesy of Lawrence Alderson

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel