Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 8/22 bl. 9-11
  • Hoe jy die probleme van ’n weggooigemeenskap die hoof kan bied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy die probleme van ’n weggooigemeenskap die hoof kan bied
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vermy vermorsing
  • Vermy hebsug
  • Leer om mededeelsaam te wees
  • Wees vergenoeg met noodsaaklikhede
  • Is daar ’n oplossing?
    Ontwaak!—2002
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
  • Ons lewe in ’n weggooigemeenskap
    Ontwaak!—2002
  • Wees tevrede
    Ontwaak!—2025
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 8/22 bl. 9-11

Hoe jy die probleme van ’n weggooigemeenskap die hoof kan bied

“IN DIE natuur . . . is daar nie iets soos afval nie.” Volgens die tydskrif Time is dit die mening van ’n gerespekteerde deskundige op die gebied van herwinning. Hy het verwys na die merkwaardige manier waarop dooie of afvalstowwe uit een deel van ’n ekosisteem altyd tot nut van ander dele gebruik word. Dieselfde deskundige meen volgens berig dat “die mens die natuur se vullisvrye weë kan navolg, maar dit sal vindingryke tegnologie en ’n groot verandering in gesindheid vereis”.

Die meeste van ons kan waarskynlik min doen om die een of ander vindingryke nuwe tegnologie te ontwikkel. Maar ons kan ons gesindheid beheer! En die regte gesindheid teenoor sekere grondbeginsels van goeie gedrag sal ons help om die probleme van ’n lewe in ’n weggooigemeenskap beter die hoof te bied.

Vermy vermorsing

Elke vyfde persoon op aarde gaan snags honger slaap. Hierdie wete behoort ons te laat besef hoe belangrik dit is om kos te waardeer en dit nie te vermors nie. ’n Egpaar wat ná 28 jaar van sendingwerk in Afrika na Europa teruggekeer het, het gesê dat een van hulle grootste uitdagings om weer aan hulle tuisland gewoond te raak, was om “mense se vermorsing van kos” te verwerk.

Verstandige ouers leer hulle kinders om nie meer in hulle bord te skep as wat hulle kan eet nie. Sodoende is daar minder vullis en vermorsing. Dit is beter om eers klein porsies te neem en later nog te vra. Ouers moet natuurlik die voorbeeld stel. Jesus het vir ons almal ’n voorbeeld gestel deur opregte waardering vir God se fisiese sowel as geestelike voorsienings te toon. Die Bybel wys dat Jesus glad nie kos vermors het nie—selfs al is dit wonderdadig in oorvloed voorsien!—Johannes 6:11-13.

Die beginsel om vermorsing te vermy, kan ook op klere, meubels en masjiene toegepas word. As ons dinge goed in stand hou en dit gebruik so lank as wat dit prakties is, toon dit dat ons waardeer wat ons het. Ons hoef nie ’n slagoffer te word van die advertensiewese se pogings om ons ontevrede te laat voel met wat ons het deur ons iets aan te bied wat groter, beter, vinniger of sterker is nie. Ons het natuurlik alle reg om besittings te vervang wat nog bruikbaar is. Maar voordat ons dit doen, moet ons dalk net ons gesindheid en beweegredes ondersoek.

Vermy hebsug

Terwyl die Israeliete op pad na die Beloofde Land deur die wildernis getrek het, is hulle kos in die vorm van manna gegee. Volgens die Bybelverslag is genoeg manna voorsien. Die Israeliete is egter gewaarsku om nie hebsugtig, of gulsig, te word nie; hulle moes net genoeg vir hulle onmiddellike behoeftes neem. Diegene wat ongehoorsaam was, het uitgevind dat dit nie betaal om gulsig te wees nie, want die manna wat oorgebly het, het wurms voortgebring en begin stink (Eksodus 16:16-20). Die Bybel draai nie doekies om nie maar veroordeel hebsug herhaaldelik ten sterkste.—Efesiërs 5:3.

Nie net die Bybel stel hierdie punt nie. Seneka, ’n eerste-eeuse Romeinse filosoof en toneelskrywer, het byvoorbeeld besef dat ’n hebsugtige mens nooit tevrede is nie. Hy het gesê: “Vir hebsug is die hele natuur te min.” Erich Fromm, ’n filosoof van die 20ste eeu, het ’n soortgelyke gevolgtrekking gemaak: “Hebsug is ’n bodemlose put wat ’n mens afmat in ’n eindelose poging om in die behoefte te voorsien sonder om ooit bevredig te word.” Behalwe om hebsug en vermorsing te vermy, is daar ’n paar positiewe stappe wat baie gekies het om te doen.

Leer om mededeelsaam te wees

Voordat jy artikels weggooi wat nog in ’n goeie toestand is, kan jy gerus dink wie dit graag sal wil hê. Wanneer kinders byvoorbeeld uit hulle klere uitgroei, kan jy jou afvra of ander kinders miskien nog baie nut daaruit kan kry as dit vir hulle gegee word. Kan jy iets soortgelyks doen met ander besittings wat nog waarde het, maar wat jy nie meer so dikwels soos vroeër gebruik nie? Deel die vreugde wat ’n artikel jou gegee het deur dit vir iemand anders te gee. Die Amerikaanse skrywer en humoris Mark Twain het eenkeer geskryf: “Om vreugde ten volle te geniet, moet jy iemand hê om dit mee te deel.” Miskien het jy al ondervind dat gedeelde vreugde dubbele vreugde is. Deur op dié manier mededeelsaam te wees, help jy boonop om die negatiewe gevolge van ’n weggooimentaliteit teë te werk.

Mededeelsaamheid is ’n deug wat die Bybel sterk aanbeveel (Lukas 3:11; Romeine 12:13; 2 Korintiërs 8:14, 15; 1 Timoteus 6:18). Hoeveel beter sou die wêreld tog gewees het as almal daarin bereid was om mededeelsaam te wees!

Wees vergenoeg met noodsaaklikhede

Iemand wat vergenoeg is, is gelukkig. Dit is ’n algemene waarheid. ’n Griekse spreekwoord sê: “Hy wat nie met ’n bietjie vergenoeg is nie, sal nie met enigiets vergenoeg wees nie.” En die Japannese sê: “Hy wat nie vergenoeg is nie, is arm.” Die Bybel beveel ook vergenoegdheid sterk aan. Ons lees: “Dit is ongetwyfeld ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—1 Timoteus 6:6-8; Filippense 4:11.

Dit kan natuurlik “’n groot verandering in gesindheid” vereis om vergenoeg te wees met wat ons het. ’n Jong vrou met die naam Susanne het onlangs besef dat sy so ’n verandering moet aanbring. Sy het gesê: “Aangesien ek nie alles kon kry wat ek wou hê nie, het ek besluit dat ek moet leer om te wil hê wat ek het. Nou is ek gelukkig en vergenoeg.”

Vergenoegdheid lei werklik tot geluk. Professor Argir Hadjihristef, ’n Bulgaarse deskundige op die gebied van veroudering, sê: “Die grondliggende kwaad is eerstens dat ’n mens nie vergenoeg is met die bietjie wat jy het nie.” Hy het na die gesondheidsvoordele van vergenoegdheid verwys en bygevoeg: “Iemand wat nie beter as sy bure probeer lewe nie, wat nie altyd meer en meer probeer aanskaf nie, lewe sonder mededinging en gevolglik sonder spanning. En dit is goed vir die senuwees.”

Ja, ’n weggooigemeenskap kan nooit ware geluk bring nie. En nog minder kan ’n weggooimentaliteit! Dit lyk of al hoe meer mense dit begin verstaan. Verstaan jy dit?

[Prent op bladsy 9]

Kinders moet leer hoe om kos nie te vermors nie

[Prent op bladsy 9]

Jesus het ’n goeie voorbeeld gestel deur vermorsing te vermy

[Prent op bladsy 10]

Gee eerder goed wat jy nie meer gebruik nie, vir ander as om dit weg te gooi

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel