HOE OM STYGENDE PRYSE TE HANTEER
Wees tevrede
Mense wat tevrede is, is gelukkig met wat hulle het. En soos hulle omstandighede verander, pas hulle hulle lewenstyl aan om binne hulle inkomste te lewe.
HOEKOM DIT SAAK MAAK
Jessica Koehler, ’n sielkundige, het gesê dat mense wat tevrede is, geneig is om ’n positiewer gesindheid te hê. Sy het ook gevind dat hulle minder jaloers is op ander mense. Daarom is dit nie verbasend dat mense wat tevrede is, gewoonlik gelukkiger en minder gestres is nie. Om die waarheid te sê, van die gelukkigste mense het min materiële besittings. Dit is veral die geval met dié wat op die belangrikste dinge in die lewe fokus, soos die vreugde wat hulle ervaar wanneer hulle tyd saam met familie en vriende spandeer.
WAT JY KAN DOEN
Vermy dit om vergelykings te maak. As jy jou beskeie lewenstyl vergelyk met die luukse lewenstyl wat iemand anders dalk het, kan jy ontevrede of selfs jaloers word. Wat meer is, sulke vergelykings wys nie altyd die realiteit nie. Party mense wat baie besittings het, kan eintlik diep in die skuld wees. Nicole, wat in Senegal bly, sê: “Ek het nie baie dinge nodig om gelukkig te wees nie. As ek tevrede is, kan ek gelukkig wees, selfs wanneer ander meer het as wat ek het.”
Probeer die volgende: Vermy advertensies of plasings op sosiale media wat die rykdom of uitspattige lewenstyle van ander mense beklemtoon.
Wees dankbaar. Mense wat dankbaar is, is meer geneig om tevrede te wees en dink gewoonlik nie dat hulle meer nodig het of verdien nie. Roberton, van Haïti, sê: “Ek neem die tyd om na te dink oor die goeie dinge wat ander vir my en my gesin gedoen het. Dan sê ek vir daardie mense hoe dankbaar ek is vir wat hulle gedoen het. Ek leer ook my agtjarige seun om dankie te sê vir alles wat hy ontvang.”
Probeer die volgende: Skryf elke dag iets neer waarvoor jy dankbaar is. Dit kan dalk goeie gesondheid, ’n hegte gesin, ware vriende of selfs ’n pragtige sonsondergang wees.
Partykeer is dit moeilik om tevrede te wees met wat ons het. Maar ons pogings is die moeite werd! As ons tevrede is, sal ons gelukkig wees – nog ’n eienskap wat geld nie kan koop nie.