Balolo—“kaviaar van die Stille Oseaan”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FIDJI
HOU jy van seekos? Kom dan saam met ons na ’n dorpie op een van die buite-eilande van tropiese Fidji, waar ’n eksotiese fees op ons wag. Terwyl ons na die sagte geklots van die golwe teen die vlerkkano’s luister, sien ons ’n lovo, ’n ondergrondse oond wat op die strand uitgegrawe is. ’n Vuur is gemaak om spesiaal uitgesoekte klippe te verhit waarop die hoofgereg gaargemaak sal word.
Maar wie bring die hoofgereg? Niemand nie! Ons gaan wag vir die hoofgereg om na ons toe te kom. As jy vermoed dat daar iets ongewoons omtrent hierdie maaltyd is, is jy reg. Die fees waarna ons so uitsien, is ’n bord wriemelende, heerlike wurms! Hierdie bruinrooi (mannetjie) en blougroen (wyfie) seewurms word die kaviaar van die Stille Oseaan genoem. Hier op die Fidji-eilande word hierdie ongewone gereg balolo genoem.a
Een of twee keer per jaar, vir een tot drie nagte gedurende die derde kwartier van die maan, dryf die balolo-wurms in groot getalle na die seeoppervlak.b Die voorspelbaarheid van hierdie broeityd word nie ten volle verstaan nie, maar wetenskaplikes meen dat dit moontlik verband hou met die stygende seetemperature, die maan en getye of die aantal dagligure. Daar is verskillende metodes om hierdie voorspelling te maak, soos om die weer waar te neem, te kyk na wanneer sekere plante blom en te let op verskeie seetoestande. In onlangser tye het mariene bioloë balolo-voorspellings op maanfases en die maansiklus gebaseer.c
In die dorpie word sangers wat deur ukuleles en kitare begelei word, onderbreek deur die aankondiging dat die wurms begin verskyn het. Kom ons sluit aan by die mans, vroue en kinders wat na die rif toe gaan. Party dra ’n helderkleurige isulu (’n oorslaanromp wat deur mans en vroue gedra word) en ’n pragtige salusalu (’n welriekende blomkrans). Hierdie mense is buitengewoon mooi aangetrek as ’n mens in ag neem dat hulle op pad is om wurms in die see te gaan vang.
Daar is baie wat met hulle kano’s uitgaan, maar ons besluit om by die groep aan te sluit wat in die water inloop. Kort voor lank is ons tot by ons middellyf in die warm tropiese water. Skielik sien ons dat derduisende wurms oral om ons na die oppervlak begin dryf!
Nou word ons ook meegesleur deur die opgewondenheid van hierdie gebeurtenis, wat al “een van die vreemdste verskynsels in die natuurgeskiedenis van die Stille Suidsee” genoem is. Hierdie kriewelende wurms word op elke denkbare manier gevang wanneer hulle die oppervlak bereik—emmers, handnette, muskietnette, mandjies van geweefde kokosblare en selfs net met die hand. Een besoeker het gesien hoe ’n Fidjiaanse man met ’n bos krullerige hare sy kop in die wriemelende massa insteek en die wurms wat in sy hare verstrengeld geraak het, in ’n boot afskud! Party kan nie langer wag nie en begin onmiddellik aan hulle vangs proe, en ons kan sien hoe hulle aan die wurms smul terwyl hulle dit insamel.
Dit lyk of hierdie unieke gebeurtenis net so gou verby is as wat dit begin het—ten minste vir nog ’n jaar. Ons besluit om liewer nie die rou wurms te eet nie, maar sluit by ons vriende op die strand aan vir ons eerste smakie van hierdie “kaviaar van die Stille Oseaan” wanneer dit uit die ondergrondse oond kom. Balolo is ryk aan vitamiene en minerale en kan gekook, gebak of gebraai word. Wanneer dit gaargemaak is, hou dit vir ’n week of meer. Ons moet egter sê dat nie almal van die vissmaak sal hou nie.
Dit is tyd om te gaan en ons bedank ons vriende vir hulle hartlike eilandgasvryheid. Wanneer ons dink aan hoe die balolo-wurms na die seeoppervlak dryf, die voorspelbaarheid daarvan en die interafhanklikheid van alle lewende dinge op die rif, word ons met ontsag vervul vir die Skepper van sulke uiteenlopende lewensiklusse.—Openbaring 4:11.
As jy beplan om die Fidji-eilande te besoek, sal jy miskien hierdie heerlike polychaete-wurms wil proe. Of miskien verkies jy om iets anders te eet! Ongeag wat jy doen, jy kan seker wees dat die eilandbewoners gedurende die balolo-seisoen sal wag vir die verskyning van hierdie fassinerende “kaviaar van die Stille Oseaan”.
[Voetnote]
a Ander tale, insluitende Engels, gebruik die Samoaanse naam palolo.
b Iets soortgelyks gebeur op ander plekke in die suidelike en westelike streke van die Stille Oseaan, insluitende die Cook-eilande, Samoa, die Salomon-eilande, Tonga en Vanuatu. Volgens berig kom dieselfde verskynsel ook onder verwante polychaete-wurms in ander wêrelddele voor, insluitende die Maleisiese eilandgroep, die Golf van Mexiko, die Karibiese Eilande en Japan.
c ’n Maansiklus is ’n tydperk van 19 jaar.
[Venster/Prent op bladsy 11]
Eet hulle werklik wurms?
Jy sal dalk verbaas en verlig wees om te weet dat hierdie ongewone jagtog nie is soos wat dit lyk nie. Kom ons kyk waarom.
Die stertgedeelte van die balolo-wurms verander heeltemal en ontwikkel vinnig in voortplantingsorgane wat epitoke genoem word. Dit bevat geslagselle wat gamete genoem word. Die stertgedeelte, kompleet met oë en roeispaanagtige ledemate, breek los van die wurm en dryf na die seeoppervlak. As dit nie deur ’n honger mens of seedier geëet word nie, ontplof die oplosbare omhulsels en stel dit die eiers en sperm vry wat hulle “toevallige” ontmoeting op ’n vindingryke manier moontlik maak. Die ontsaglike getalle verseker dat daar genoeg bevrugte eiers sal wees, al word baie van die epitoke deur mense en diere gevang. Dié wat as vryswemmende larwes aan die lewe bly, vind ’n geskikte plek op die koraal, waar hulle hulle lewensiklus begin.
Wanneer ons dus balolo eet, eet ons slegs die stertgedeeltes van die wurms wat nog op die rif lewe.
[Foto-erkennings op bladsy 10]
Bo: Sekove Bigitibau; links, middel en bladsy 11: Paul Geraghty