Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/8 bl. 20-22
  • Die fassinerende wêreld van wurms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die fassinerende wêreld van wurms
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eenvoudige brein, verstommende talente
  • Waarom so slymerig?
  • ’n Planeet wat wemel van flukse grondbewerkers
  • Benutting van wurmkrag
  • Die Guinee-wurm—sy laaste dae
    Ontwaak!—1993
  • Balolo—“kaviaar van die Stille Oseaan”
    Ontwaak!—2002
  • Die seebodem—Sy geheime word onthul
    Ontwaak!—2000
  • Mopaniewurms, enigiemand?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/8 bl. 20-22

Die fassinerende wêreld van wurms

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

KONINGIN KLEOPATRA van Egipte het hulle heilig verklaar. Aristoteles het hulle die ingewande van die aarde genoem. Charles Darwin het gedink dat hulle ’n belangrike rol in die geskiedenis van die wêreld gespeel het. Vir watter diertjie het hierdie beroemde mense soveel bewondering gehad? Die nederige erdwurm.

Soos jy sal sien, is wurms werklik bewonderenswaardig. Ja, hulle is slymerig en wriemel, maar selfs hierdie eienskappe, waarvan ’n mens dalk nie hou nie, kan jou met ontsag vervul as jy die wurm ’n bietjie beter leer ken. Al wat jy moet doen om die fassinerende wêreld van wurms te betree, is om te buk en ’n kluit stukkend te breek of ’n laag verrotte blare om te woel.

Eenvoudige brein, verstommende talente

As jy ’n erdwurm van naderby bekyk, sal jy sien dat sy liggaam uit ringvormige segmente bestaan wat soos ’n ry klein wieletjies lyk wat styf teen mekaar gedruk is. Elke segment het twee groepe spiere. Een groep lê net onder die vel en vorm ’n ring om die wurm. Onder hierdie laag is die tweede groep spiere wat in die lengte van die wurm loop. Die wurm beweeg deur hierdie verskillende groepe spiere saam te trek en te ontspan, wat in die een segment na die ander ’n ritmiese golfbeweging voortbring wat deur sy liggaam rimpel.

As jy ’n erdwurm in jou hand hou, sal dit heel waarskynlik rondkrul en wriemel. Die wurm doen dit omdat sy liggaam vol sintuigselle is—tot 1 900 op net een segment. Hierdie reseptors stel die wurm in staat om te voel, te proe en lig waar te neem.

Die wurm druk klein, haaragtige uitsteeksels wat borselhaartjies genoem word teen die grond. Elke segment van die wurm het groepe borselhaartjies wat amper soos roeispane werk. Die wurm druk dit in die grond in en trek hom vorentoe, waarna hy dit weer intrek. Die wurm kan in albei rigtings “roei” deur een groep borselhaartjies op ’n slag te gebruik, of as hy skrikgemaak word, kan hy een punt van sy liggaam in die grond anker terwyl hy die ander punt vinnig terugtrek. Die fyn tydsberekening wat dit verg om so te kan “roei”, sal ’n Olimpiese roeispan jaloers maak.

As ’n voël die agterste segmente van ’n wurm afbyt, groei dit eenvoudig weer by party soorte—maar daar groei nooit meer segmente as wat verloor is nie. Blykbaar bring elke segment ’n klein elektriese lading voort en groei die verlore segmente terug totdat ’n voorafbepaalde maksimum lading bereik word.

Die duisende sintuigselle en die komplekse spierstelsels is met die serebrale senuknoop verbind, wat by die mondgedeelte van die wurm aangetref word. Eksperimente het getoon dat wurms nie net fisiese talente het nie, maar dat hulle ook ’n beperkte vermoë het om te onthou en selfs kan leer om gevaar te vermy.

Waarom so slymerig?

Die slymerige vel van die wurm, wat baie mense laat gril, stel die diertjie in werklikheid in staat om asem te haal. Die wurm se vel is poreus, en bloedvate na aan die vel neem suurstof op uit die lug of uit suurstofhoudende water en gee terselfdertyd koolstofdioksied af. Maar gaswisseling is net moontlik as die vel klam is. As ’n wurm uitdroog, sal hy geleidelik versmoor.

As ’n wurm daarenteen gedurende swaar reën in sy tonnel vasgekeer word, sal die suurstof in die water gou opraak. Dit is een rede waarom wurms ná ’n reënbui na die oppervlak kom. Hulle sal versmoor as hulle nie uitkom nie.

’n Planeet wat wemel van flukse grondbewerkers

Daar is meer as 1 800 soorte erdwurms op ons planeet. Hulle kom oral voor behalwe in die droogste en koudste plekke op aarde. Onder die grasvlaktes van Suid-Afrika kan daar 70 wurms per vierkante meter grond wees, terwyl daar op ’n woudvloer in Kanada meer as 700 wurms per vierkante meter kan wees.

In Nieu-Seeland word erdwurms in drie hoofgroepe ingedeel. Die eerste groep bestaan uit wurms wat vinnig voortplant en beweeg en tussen verrottende organiese materiaal op die oppervlak lewe. Die tweede en wydverspreidste groep bestaan uit wurms wat horisontale tonnels in die bogrond grawe. Die derde groep wurms grawe vertikale tonnels in die grond en kan ’n hele paar jaar lank—’n wurm se hele lewe—in een tonnel deurbring. Hulle is die kragmanne van die wurmwêreld. Hulle het sterk ringvormige spiere om hulle kop waarmee hulle die grond kan wegstoot en hulle tonnels kan oopkou. Een van die grootste wurms in die wêreld kom in suidelike Australië voor. Hierdie yslike wurm kan tot meer as 1,2 meter lank word en 500 gram weeg.

Terwyl wurms deur die grond beweeg, is hulle soos klein grondbewerkers. Hulle kou deur mis, grond en verrottende plantmateriaal en skei ’n afvalproduk in ontsaglike hoeveelhede uit wat wurmgietsels genoem word. Volgens skatting skei die wurms wat onder die groen velde van Engeland aan die werk is, jaarliks sowat 20 ton gietsels per hektaar uit. Die wurms in die Nylvallei is selfs indrukwekkender. Hierdie wurms kan tot 2 500 ton gietsels per hektaar uitskei. Wanneer wurms die grond bewerk, word dit beter belug, kan dit meer water hou en word dit vrugbaarder.

Wetenskaplikes het ontdek dat die wurm se spysverteringstelsel voedingstowwe omsit in ’n vorm wat plante kan opneem, en daarom is wurmgietsels ryk aan plantkos. Daarbenewens word talle skadelike mikro-organismes in verrottende mis en plantmateriaal vernietig wanneer dit deur die wurm se ingewande beweeg. Wurms maak dus die grond skoon terwyl hulle eet. Hulle is die ideale herwinningsmasjien, aangesien hulle op afval floreer en terselfdertyd voedsame kos vervaardig.

Benutting van wurmkrag

Die wurm se merkwaardige herwinningsvermoë word deur die afvalverwerkingsbedryf benut. ’n Maatskappy in Australië gebruik altesaam 500 miljoen wurms in verskillende afvalverwerkingsaanlegte. Die wurms word in spesiaal ontwerpte beddings gehou en word varkmis of menslike uitwerpsels gevoer wat met snipperpapier en ander organiese materiaal gemeng is. Hierdie wurms verorber elke dag tussen 50 en 100 persent van hulle liggaamsgewig en skei ’n voedingsryke plantkos uit wat op groot skaal bemark word.

Studies het getoon dat wurms moontlik ook as iets anders gebruik kan word—as voedselbron. Wurms bevat dieselfde voordelige aminosure as beesvleis. In gedroogde vorm bevat dit 60 persent proteïen en 10 persent vet sowel as kalsium en fosfor. In party lande eet mense reeds erdwurmpasteie. In ander wêrelddele word erdwurms gebraai en selfs rou geëet.

Hoewel wurms moontlik nooit die gewildste diertjies in die wêreld sal word nie, sou die wêreld beslis nie dieselfde gewees het sonder hulle nie. Wanneer jy dus weer ’n rustige landskap bewonder, kan jy gerus dink aan al die bedrywige erdwurms onder jou voete wat daardie pragtige landskap bewerk, bemes en so mooi hou.

[Diagram/Prente op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die bou van ’n erdwurm

Epidermis

Lengtespier

Borselhaarspier

Borselhaartjies

Kringspier

Blaas

Spysverterings-kanaal

Senustring

[Erkennings]

Lydekker

J. Soucie © BIODIDAC

[Prent op bladsy 20]

Wurms “roei” deur die grond met hulle borselhaartjies

[Prent op bladsy 21]

Wurms bewerk die grond, wat dit vrugbaarder maak

[Prent op bladsy 21]

Die yslike Gippsland-wurm, ’n bedreigde spesie in Australië, kan tot meer as 1,2 meter lank word

[Erkenning]

Courtesy Dr A. L. Yen

[Prent op bladsy 22]

Wurms sit afval in ’n voedingsryke plantkos om

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel