Tienmiljoen boeke in ’n glashuis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK
WANNEER ’n besoeker met die houttrap na die winderige esplanade oploop, kan hy nie anders as om beïndruk—selfs oorweldig—te voel deur die vier glasgeboue wat bo hom uittoring nie. Dit is voorwaar ’n buitengewone kompleks. Dit is die ultramoderne Nasionale Biblioteek van Frankryk, wat op die oewer van die Seine geleë is. In ’n sekere opsig is dit al eeue lank in wording.
Vroeë begin
In 1368 het Karel V byna 1 000 manuskripte in ’n toring by die Louvre-vesting in Parys versamel. Maar dit was eintlik eers ná die Honderdjarige Oorlog dat die konings van Frankryk ’n permanente versameling begin opbou het. Geskenke en erflatings deur diegene wat die koning se guns wou wen, het die biblioteek se versameling vergroot, asook boeke wat deur reisigers en ambassadeurs of deur soldate as oorlogsbuit van Europese lande en die Ooste teruggebring is. Toe het koning Frans I die pligleweringstelsel begin deur ’n wet in die 16de eeu uit te vaardig wat vereis het dat die Koning se Biblioteek ’n eksemplaar ontvang van elke boek wat uitgegee is.
Nadat die Koning se Biblioteek in verskillende koninklike wonings in die provinsies gehuisves is, is dit weer na Parys verskuif, waar dit gedurende die Godsdiensoorloë (1562-98) geplunder is. Die biblioteek het in 1721 ’n permanenter tuiste gevind. Nadat daar gedurende die Franse Revolusie op kerklike en aristokratiese versamelings beslag gelê is, het die biblioteek honderdduisende boeke, manuskripte en afdrukke ontvang. Hoewel dit van onskatbare waarde was, het hierdie toevoegings die ernstige gebrek aan ruimte in die bestaande fasiliteit baie duidelik gemaak.
Oorweldigende groei
In 1868 is ’n leeskamer wat deur nege glaskoepels bedek is, gebou en ingewy. Hierdie leeskamer, wat deur die argitek Henri Labrouste ontwerp is, het plek vir 360 lesers gehad en het sowat 50 000 boeke bevat. Ekstra boekrakke het plek vir nog eenmiljoen boeke gehad. Maar binne ses dekades was daar meer as driemiljoen boeke in hierdie biblioteek!
Talle opknappings en uitbreidings kon nie byhou by die ekstra drie kilometer rakruimte wat elke jaar nodig was vir die boeke en tydskrifte wat ingestroom het nie. Uiteindelik, in 1988, het president François Mitterrand ’n projek aangekondig om “die grootste en modernste biblioteek in die wêreld” te bou. Die doel was om “alle kennisvelde te dek, vir almal toeganklik te wees, die modernste dataversendingstegnologie te gebruik, van ver af geraadpleeg te kan word en met ander Europese biblioteke verbind te wees”.
’n Internasionale kompetisie is gehou om ’n ontwerp vir die nuwe biblioteek te vind. Byna 250 voorstelle is ontvang. Uiteindelik is die ontwerp van ’n onbekende Franse argitek Dominique Perrault gekies. Sy konsep was ’n reusevoetstuk met ’n toring op elke hoek in die vorm van ’n regopstaande oop boek. Kritici het die spot gedryf met die idee om boeke in glastorings te hou—sonverhitte oonde, het hulle dit genoem—waar die boeke aan sonlig en hitte blootgestel sou word. Hulle het tot ’n vergelyk gekom en besluit dat houtpanele agter die vensters geïnstalleer sou word om die boeke te beskerm en dat die waardevolste dokumente op rakke in die voetstuk gehou sou word.
’n Moeilike verskuiwing
Nog ’n uitdaging was die verskuiwing van meer as tienmiljoen boeke, waarvan baie maklik beskadig kon word en uiters seldsaam is, soos die biblioteek se twee eksemplare van Gutenberg se Bybel. Vorige verskuiwings was nie sonder voorvalle nie. Volgens iemand wat gesien het hoe die boeke in 1821 verskuif is, het baie boeke van die perdekarre af in die modder geval. Hierdie keer sou die verskuiwing meer wetenskaplik gedoen word.
In 1998 het ’n span kenners die enorme taak aangepak om miljoene boeke te verskuif. Om enige skade, diefstal of verlies te voorkom, is die boeke in geseëlde waterdigte, vuurvaste en skokabsorberende kabinette vervoer. Tien vragmotors, wat as ’n bykomende veiligheidsmaatreël nie gemerk is nie, het byna ’n jaar lank die verkeersopeenhopings waarvoor Parys so bekend is, getrotseer om elke dag tussen 25 000 en 30 000 boeke na hulle nuwe tuiste te neem.
’n Skatkamer van kennis
Die nuwe biblioteek is in twee vlakke verdeel. Die haut-de-jardin (die boonste tuin) het 1 600 sitplekke vir die algemene publiek en is ontwerp om mense vrye toegang tot sowat 350 000 boeke te gee. Die rez-de-jardin (die laer tuin) het 2 000 sitplekke, wat vir navorsers bedoel is.
Die biblioteek is om ’n miniatuurwoud gebou. Die dekor van rooi matte en houtmuurpanele en -meubels dra verder by tot ’n warm, ontspanne atmosfeer, wat konsentrasie en studie bevorder. Daar is ’n oudiovisuele vertrek waar besoekers toegang het tot CD-ROM’s, films, oudio-opnames en duisende digitale beelde en boeke.
Die Biblioteek van Frankryk sal vir byna 50 jaar genoeg rakruimte vir nuwe boeke hê. ’n Mens kan nie anders as om verwonderd te staan oor die onvermoeide inspanning wat nodig was om so ’n skatkamer van kennis te bou en te bewaar nie!
[Prent op bladsy 24]
Die leeskamer in 1868
[Erkenning]
© Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris
[Foto-erkenning op bladsy 25]
©Alain Goustard/BNF. Argitek: Dominique Perrault. © 2002 Artists Rights Society (ARS), New York/ADAGP, Paris