Die Teokratiese Bedieningskoolbiblioteek
1 Die apostel Paulus het Timotheus aangespoor om ‘aan te hou met voorlesing, vermaning en lering, en om oor die dinge wat hy geleer het te peins, daarin te lewe, sodat sy vooruitgang vir almal duidelik kon wees’ (1 Tim. 4:13,15, vgl. NW). Een manier waarop ons hierdie raad kan toepas, is deur persoonlike studie en navorsing. In hierdie opsig kan ’n goeie teokratiese biblioteek baie nuttig wees. Dit is goed om ons eie, persoonlike biblioteek by die huis te hê en te gebruik. Maar die Teokratiese Bedieningskoolbiblioteek in die Koninkryksaal het dalk bykomende naslaanwerke, veral vir nuweres wat nie persoonlike eksemplare van ouer publikasies het nie.
2 In 1944 is gemeentes aangespoor om ’n Teokratiese Bedieningskoolbiblioteek in die Koninkryksaal aan te skaf. Die doel van die biblioteek was om studente toegang tot die Genootskap se publikasies en ander naslaanwerke te verleen wat nuttig vir navorsing en Bybelstudie sou wees maar andersins onbekombaar was.—Hand. 17:3, NW.
WAT DAARIN MOET WEES
3 Watter publikasies moet in die Teokratiese Bedieningskoolbiblioteek wees? Aangesien die doel daarvan is om ons met Bybelstudie te help, moet dit die jongste publikasies van die Genootskap en verskeie Bybelvertalings bevat. ’n Goeie woordeboek kan ook voorsien word. (Kyk Vraebus, Koninkryksbediening vir Junie 1972.) Die Watch Tower Publications Index 1980-1985, wat vir navorsing en studie bedoel is, is ’n absolute moet in ’n goeie teokratiese biblioteek. Baie Koninkryksale het egter nie al die publikasies waarna die Index verwys nie. Ten einde meer materiaal beskikbaar te stel, beplan die Genootskap om die Watchtower-bundels vir die jare 1960 tot 1979 te herdruk, maar net in Engels. Dit sal ’n uitstekende toevoeging by daardie Teokratiese Bedieningskoolbiblioteke wees wat nog nie hierdie naslaanwerke het nie.
4 Die Teokratiese Bedieningskoolopsiener is vir die biblioteek verantwoordelik. ’n Bedieningskneg kan toegewys word om hom daarmee te help. Die skoolopsiener moet daarna streef om nuwelinge te help om te leer hoe hulle die biblioteek ten beste kan benut. Hy moet ook toesien dat gepaste nuwe publikasies toegevoeg word en dat die boeke duidelik gemerk is om te wys dat hulle die gemeente se eiendom is. Almal moet met die skoolopsiener saamwerk om die biblioteek netjies en in ’n goeie toestand te hou. As jy publikasies het wat jy aan die biblioteek wil skenk, kan jy die skoolopsiener laat weet watter jy het.
HOU DIT IN ’N GOEIE TOESTAND
5 Die skoolopsiener moet toesien dat die biblioteek gereeld nagegaan word om te sorg dat dit in ’n goeie toestand is en dat boeke, waar nodig, herstel of vervang word. Gebruik gerus enige van die publikasies in die biblioteek voor en na die vergaderinge. Geen boeke moet egter uit die Koninkryksaal verwyder word nie. As dit in ’n uitsonderlike geval nodig is, moet die saak met die skoolopsiener bespreek word. Wanneer meer as een gemeente in ’n Koninkryksaal byeenkom, moet elke gemeente sy eie Teokratiese Bedieningskoolbiblioteek hê.
6 Die Teokratiese Bedieningskoolbiblioteek is van groot nut. As ons van hierdie voorsiening gebruik maak om navorsing te doen, kan ons die vreugde smaak om die ‘verborge skatte’ van God se Woord, wat kennis, wysheid en onderskeidingsvermoë gee, te vind.—Spr. 2:4-6.