Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 9/22 bl. 24-27
  • Vuur—vriend en vyand

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vuur—vriend en vyand
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vuur as vyand
  • Wanneer vuur ’n bedreiging is
  • Vuur as vriend
  • Die waarde van beheerde veldbrande
  • Nog baie om te leer
  • Brand! Watter brandblusser moet jy gebruik?
    Ontwaak!—2001
  • Wanneer vuur buite beheer raak
    Ontwaak!—1993
  • Voorkom brande in die huis
    Ontwaak!—1991
  • Wanneer ’n brand ’n skare bedreig
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 9/22 bl. 24-27

Vuur—vriend en vyand

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

VUUR kan ’n vriend of ’n vyand wees. Vuur kan nuwe lewe aan ’n landskap gee of dit verwoes. Groot brande kan uiters vernietigend en byna onbeheerbaar wees.

Een voorbeeld van die uitgebreide vernietiging wat deur vuur aangerig kan word, is wat in 1997 in Indonesië gebeur het. In daardie jaar is die land geteister deur bosbrande, wat groot skade aangerig het in die gebied, sowel as aan mense se gesondheid en die ekonomie. En verstikkende rook van daardie brande het na altesaam agt naburige lande versprei en nagenoeg 75 miljoen mense aangetas. Verslae toon dat 20 miljoen mense behandel is vir toestande soos asma, emfiseem en hartvatsiektes, asook oog- en velprobleme.

In Singapoer het besoedeling tot kommerwekkende vlakke gestyg. Die stad is deur ’n rookkombers bedek. Een inwoner wat bang was om haar lugversorgde huis te verlaat, het gekla: “Ons is almal gevangenes in ons huise.” Op die ergste dae kon mense nie die son deur die rook sien nie.

In die daaropvolgende jaar, 1998, moes 8 000 inwoners van Brits-Columbië, Kanada, noodgedwonge uit hulle huise vlug toe ’n verwoestende brand vinnig nader gekom het. Dit was maar een van bykans ’n duisend wat daardie jaar in Kanada gewoed het—waarvan 115 op een of ander stadium as buite beheer beskou is. Een brand in noordelike Alberta, Kanada, het 35 000 hektaar woudgebied verteer. ’n Inwoner het gesê: “Dit het gelyk asof ’n kernbom ontplof het. ’n Enorme swart wolk het oor die hele gebied gehang.”

Vuur as vyand

Vuur is ’n baie sterk natuurkrag. ’n Hewige bosbrand kan die landskap verander, die balans tussen plantsoorte versteur, die dierebevolking ontwrig en ook lewe en eiendom bedreig.

’n Ernstige brand kan erosie in die hand werk. Wanneer grond blootgestel word aan swaar reën, wat dikwels op ’n warm somer volg, word die kaal grond weggespoel. Dit het ’n skadelike uitwerking op plantsoorte. Party van die kwesbaarder plante ly as gevolg daarvan en gaan dood, terwyl ander goed aanpas. Ongelukkig is dié wat floreer, gewoonlik ongewenste onkruid, wat geneig is om inheemse plante te verdring.

Diere wat van spesifieke inheemse plante afhanklik is, word dan ook bedreig. In Australië kan inheemse bedreigde soogdiere soos koalas en kwasstertpossums maklik uitsterf as te veel van hulle natuurlike habitat deur brande vernietig word. Oor die afgelope 200 jaar het die Australiese vasteland 75 persent van sy reënwoude, 66 persent van sy boombedekking, 19 soogdiersoorte en 68 inheemse plantsoorte verloor, waarvan die meeste nêrens anders in die wêreld voorkom nie.

Namate stede al hoe verder in die omliggende boswêreld ingedring het, het die vernietigende uitwerking van bosbrande ’n groter gevaar vir mense geword. In Desember 1997 het meer as 250 000 hektaar in vlamme gestaan toe honderde brande in voorstede van Sydney, Australië, en in etlike klein dorpies om die Blue Mountains gewoed het. Ongeveer die helfte van daardie brande was buite beheer. Die brandweerkommissaris het gesê dat dit die ergste brande was wat hy in 30 jaar gesien het. Honderde mense moes hulle huise ontruim, waarvan party afgebrand het. Twee mense het ook in die brande gesterf. Die bosbrande, wat vermoedelik die werk van brandstigters was, het laat in Desember 2001 begin en 753 000 hektaar boswêreld verwoes.

Wanneer vuur ’n bedreiging is

Etlike faktore kan verantwoordelik wees vir onbeheerbare brande. Een natuurlike faktor is die El Nino-verwante weerpatroon, ’n klimaatverskynsel wat van tyd tot tyd warm, droë weerstoestande in verskeie wêrelddele veroorsaak. Enige land wat weens El Nino buiteseisoense droë weer ondervind, het die ideale toestande vir ’n brand.

Maar die onverstandige optrede van mense is meer dikwels die oorsaak van verwoestende brande. In baie lande is dit ’n misdaad om die veld opsetlik aan die brand te steek. Volgens skattings is brandstigting of ongelukke verantwoordelik vir meer as die helfte van die brande in staatswoude in Nieu-Suid-Wallis, Australië.

Nog iets wat tot ernstige brande kan lei, is die wanbestuur van die omgewing. As gevolg van ontbossing en houtkappery word woude vatbaarder vir vure. Die dooie plantmateriaal wat ’n brand kan voed, vermeerder weens die houtafval wat deur houtkappery agtergelaat word. Houtkappery veroorsaak ook dat daar openinge in die blaardak is, sodat sonlig op die dooie plantmateriaal skyn en dit uitdroog. Wanneer ’n vonk hierdie vlambare kombinasie aan die brand steek, kan die brand wat ontstaan, maklik buite beheer raak.

Ekonomiese oorwegings kan ook die probleem van groot brande vererger. In Indonesië word kap-en-brand-boerderymetodes al eeue lank gebruik sonder dat dit eintlik die balans van die natuur versteur het. Wanneer boere vuur versigtig en binne perke gebruik, het dit omtrent dieselfde uitwerking op die omgewing as natuurlike bosbrande. Maar in onlangse tye is tradisionele kap-en-brand-boerderymetodes op groter skaal beoefen en het dit ’n kommersiële bedryf geword. Met die groeiende wêreldwye vraag na produkte soos palmolie, is woude vernietig en met vinnig groeiende, winsgewende plante vervang. Die maklikste en goedkoopste manier om van die natuurlike plantegroei ontslae te raak, is om dit te verbrand. Gevolglik verbrand mense duisende hektaar woudgebied sonder om in ag te neem watter langtermynvoordele die bewaring van genoeg woudgebied inhou.

Vuur as vriend

Hoewel vuur verwoesting kan saai, kan dit ook ’n baie positiewe uitwerking op baie plant- en diersoorte hê. Trouens, dit kan selfs ’n noodsaaklike rol speel in die handhawing van die balans in die natuur. Hoe so?

Vuur is een van die mens se oudste vriende. Dit word gebruik om hom warm te hou, lig te voorsien en sy kos gaar te maak. Vuur is al eeue lank deel van die daaglikse roetine van Australiese inboorlinge. Vuur is so belangrik vir die Yanyuwa-volk dat hulle meer as tien woorde het om die verskillende soorte vuur en die uitwerking daarvan te beskryf. Hulle sal byvoorbeeld die woord kambambarra gebruik wanneer hulle van ’n bosbrand praat. Die woord warrman word gebruik om ’n gebied te beskryf wat heeltemal afgebrand is, wat ideaal is vir jag. Rook wat boontoe borrel en ’n wolk vorm, word rrumarri genoem.

Hierdie inboorlinge gebruik ’n metode wat al vuurstokboerdery genoem is. Hulle gebruik klein vuurtjies om te voorkom dat te veel dooie, droë plantmateriaal, die vernaamste brandstof tydens ’n veldbrand, opbou. Hierdie beheerde gebruik van vuur het die inboorlinge in staat gestel om ’n bestaan te voer terwyl hulle die habitat van die plante en diere bewaar het. Dit het ook die gevaar verminder dat mense deur gevaarlike veldbrande vasgekeer sal word.

Die waarde van beheerde veldbrande

Toe Europese nedersetters ’n bietjie meer as 200 jaar gelede in Australië aangekom het, het hulle hierdie delikate balans tussen die mens, die natuur en vuur begin versteur. Uit die Europese oogpunt moes vuur altyd onder beheer gehou word. Brande het al hoe minder geword, maar omdat die brandstof opgebou het, was die brande wat wel voorgekom het, groter en moeiliker om te beheer. Maar in onlangse jare het die owerheid by die gebruike van Australiese inboorlinge geleer en ’n strategie van beheerde veldbrande ontwikkel. Volgens hierdie metode word beheerde vure gebruik om vernietigende brande te voorkom. Klein vuurtjies word buite die veldbrandseisoen aangesteek. Hierdie vure beweeg stadig, brand laag en verwyder plantafval sonder om die bome te beskadig. Oor die algemeen word dit deur die aanddou geblus.

Die doel van brandbestryding deur middel van beheerde veldbrande is om lewe en eiendom te beskerm en terselfdertyd die diversiteit van inheemse plante en diere te bewaar. Beheerde veldbrande bekamp ook die vinnige verspreiding van onkruid wat nie inheems in die gebied is nie. Verder help dit om die verskeidenheid van habitats te onderhou wat nodig is vir die bewaring van inheemse diere.

Sekere plantsoorte is blykbaar van vuur afhanklik om hulle sade te laat ontkiem. Die doppe van party is so hard dat vuur nodig is om dit oop te breek sodat vog dit kan binnedring. Navorsing toon dat rook nodig is om sade te laat ontkiem. Daar is ongeveer 70 komponente in rook, waarvan stikstofdioksied een van die belangrikes is, wat vermoedelik aanleiding gee tot die ontkieming van sade.

Kort ná ’n brand is die grond ryk aan voedingstowwe soos stikstof en fosfor. Die brand stel voedingstowwe vry uit blare wat van plante afgeval het, laat meer sonlig tot op die grond deurdring en skep ’n ideale saadbed waarin nuwe plante kan wortelskiet. Wattelbome, of akasias, versprei byvoorbeeld hulle eie sade ná ’n brand en floreer in die toestande wat deur ’n brand geskep word.

Baie diere vind ook baat by die toestande ná ’n brand, veral by die nuwe plantegroei, wat sagter en sappiger is. Party soorte kangaroes en wallabies woon graag in woude waar brande gereeld voorkom, en daar word gesê dat hulle van vuur afhanklik is. Dit is omdat die plante wat hulle vir kos en skuiling gebruik van vuur afhanklik is vir vernuwing en gesonde groei.

Nog baie om te leer

Mense verstaan nou beter hoe vuur ons vriend en ons vyand kan wees, maar die uitwerking van vuur op die omgewing is kompleks, en daar is nog baie om te leer. Meer studie is nodig om uit te vind hoe vuur spesifieke plant- en diersoorte raak. Meer navorsing moet ook gedoen word oor die interaksie en uitwerking wat vuur op ons ekologie as ’n geheel het. Sommige van die vrae wat beantwoord moet word, is: Dra brande by tot die kweekhuiseffek? Watter uitwerking het rook op weerpatrone? Hoe reageer brande onder verskillende omstandighede?

Tans is daar rekenaarprogramme wat modelle genoem word, wat ontwerp is om te voorspel hoe brande reageer. Hulle ontleed data oor brandstof sowel as temperatuur, windsnelheid en ander weerstoestande. Ongelukkig is modelle deesdae nie altyd akkuraat nie, en hulle kan nie ongewone verskynsels soos flitsvure of skielike opvlammings voorspel nie. In Sydney se brande van 1997 het twee ervare brandweermanne hulle lewe verloor weens een van hierdie flitsvure, wat gepas “vingers van die dood” genoem word.

Dit kan besonder moeilik wees om te voorspel hoe groot brande sal reageer omdat hulle hulle eie weerstoestande kan skep, onder meer sterk winde, wolke en selfs donderstorms. Die rigting of snelheid van hierdie winde kan skielik verander, wat die vuur onstabiel maak. Navorsers hoop om huidige modelle te verbeter deur hierdie faktore in te sluit, sowel as ander inligting, soos die aard en helling van die terrein en die brandstofverspreiding.

In die Verenigde State het die Nasionale Sentrum vir Atmosferiese Navorsing (NCAR) in Colorado ’n projek aangepak om hierdie probleem op te los. Die NCAR het ’n C-130-vragvliegtuig toegerus met ultramoderne wetenskaplike toerusting en sewe rekenaarwerkstasies, wat alles deur goeie insulasie beskerm word. Die vliegtuig is ontwerp om oor brande te vlieg en data te versamel deur middel van sensors op die vlerke. Hierdie data word dan na die rekenaars gestuur vir verwerking. Die vliegtuig het ’n infrarooikamera wat Thermacam genoem word en kan toon wat die relatiewe intensiteit van elke deel van die vuur is. Sodoende leer wetenskaplikes van die NCAR om huidige modelle van hoe brande reageer, te verbeter.

Hierdie verbeterde modelle sal deskundiges hopelik in staat stel om brande doeltreffender te bestry. Die vermoë om akkuraat te voorspel hoe ’n brand sal reageer, kan ook die gevaar verminder waarvoor brandweermanne te staan kom terwyl hulle die gemeenskap beskerm.

Ja, vuur kan ’n vernietigende vyand wees wanneer dit buite beheer raak, maar dit kan ook ’n goeie vriend wees. Dit speel ’n noodsaaklike rol in die kringlope van die natuur wat die Skepper in werking gestel het om nuwe lewe aan die aarde te gee en te sorg dat daar altyd ’n gebalanseerde verskeidenheid plant- en dierelewe is.

[Prent op bladsy 25]

Elke vermy ’n brand in Montana se Bitterroot-riviervallei

[Erkenning]

John McColgan, BLM, Alaska Fire Service

[Prent op bladsy 26]

’n Beheerde veldbrand in Australië

[Erkenning]

Photo provided courtesy of Queensland Rural Fire Service

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel