Die Groot Ierse Hongersnood—’n Epos van dood en emigrasie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND
IN DIE skadu van Ierland se “heilige” berg, Croagh Patrick,a staan ’n baie ongewone skip. Dit lyk soos ’n klein 19de-eeuse seilskip met sy boeg wat weswaarts na die Atlantiese Oseaan wys. Maar hierdie skip sal nooit uitvaar nie. Dit staan gegiet in beton. Oral tussen die maste is daar treffende voorstellings van mensegeraamtes.
Die skip is ’n groot beeldhouwerk van metaal wat amptelik in 1997 onthul is om een van die grootste tragedies in die geskiedenis van Ierland—die Groot Hongersnood—te herdenk. Die geraamtes en die skip is simbole van die dood en massaemigrasie wat die tragiese jare van 1845-50 gekenmerk het.
Ierland is natuurlik nie die enigste land wat ’n hongersnood ondervind het nie. Baie lande is al hierdeur geteister. Maar in baie opsigte was die Groot Ierse Hongersnood besonder tragies. In 1845 was Ierland se bevolking ongeveer agtmiljoen. Teen 1850 het sowat een en ’n half miljoen as gevolg van die hongersnood gesterf! Nog ’n miljoen het geëmigreer op soek na ’n beter lewe, hoofsaaklik na Brittanje of die Verenigde State. ’n Groot hongersnood? Beslis.
Wat het so ’n groot hongersnood veroorsaak? Watter hulp is aan die slagoffers verleen? Wat kan ons uit hierdie rampspoed leer? Om die antwoorde op hierdie vrae te verstaan, gaan ons eers kortliks kyk na hoe mense in Ierland in die jare voor die hongersnood gelewe het.
Voor die Groot Hongersnood
Teen die begin van die 19de eeu het Brittanje oor ’n groot deel van die aarde geheers. Dit het Ierland ingesluit. ’n Groot gedeelte van Ierland was in die besit van Engelse grondeienaars, waarvan baie in Engeland gewoon het. Hierdie afwesige grondeienaars het hoë huur van hulle Ierse huurders geëis en hulle min vir hulle arbeid betaal.
Duisende kleinboere, of bywoners, het in volslae armoede gelewe. Omdat die mense nie vleis of veel ander kos kon koop nie, het hulle die goedkoopste, maklikste en voedsaamste gewas geplant wat hulle onder hierdie omstandighede kon, die aartappel.
Die belangrikheid van die aartappel
Die aartappel is om en by 1590 na Ierland gebring. Dit was baie suksesvol omdat Ierland se nat en gematigde klimaat geskik was daarvoor, en die aartappel kon in baie skraal grond gekweek word. Dit is as kos vir mense en diere gebruik. Teen die middel van die 19de eeu is byna ’n derde van alle bewerkbare grond gebruik om aartappels te plant. Nagenoeg twee derdes daarvan was vir menslike gebruik. Die gemiddelde Ierse man het elke dag aartappels geëet—en omtrent niks anders nie!
Aangesien soveel mense geheel en al van die aartappel afhanklik was vir voedsel, was daardie situasie ’n sekere resep vir rampspoed. Wat sou gebeur as die oes misluk?
Eerste misoes
Die aartappeloes het voorheen af en toe misluk. Korttermynnoodmaatreëls het dit oorkom, en wanneer die volgende jaar se oes goed was, het mense nie baie swaargekry nie. Toe die aartappeloes dus in 1845 misluk, het die owerheid min rede tot kommer gesien.
Maar hierdie keer was sake baie ernstiger. Ons weet nou dat die swamsiekte, phytophthora infestans—andersins bekend as laatroes—die misoes van 1845 veroorsaak het. Hierdie luggedraagde swam het vinnig van een aartappelland na die ander versprei. Die besmette aartappels het letterlik in die grond gevrot, en dié wat gestoor is, het glo “weggekrimp”. Omdat net een soort aartappel geplant is, is die hele land se oes aangetas. En aangesien die saad vir die volgende jaar van daardie jaar se oes gekom het, het hierdie swam ook ’n verwoestende uitwerking op toekomstige oeste gehad.
Tweede misoes
Die swak gehalte saadaartappels wat gered kon word, is die volgende jaar, 1846, geplant, maar laatroes het hierdie tweede oes ook vernietig. Omdat daar niks oor was wat die moeite werd was om te oes nie, het baie plaaswerkers hulle werk verloor. Plaaseienaars kon dit eenvoudig nie bekostig om hulle te betaal nie.
Die regering het verskeie onderstandswerke geskep en baie van hierdie arm mense in diens geneem—hoofsaaklik om paaie te bou—sodat hulle vir hulle gesin kon sorg.
Party kon slegs in armhuise werk kry. Hierdie instellings het behoeftige mense in diens geneem. In ruil vir hulle arbeid het werkers kos en blyplek gekry. Die werk was hard. Hulle is dikwels verrotte kos gegee, en die blyplek was baie primitief. Party werkers het dit nie oorleef nie.
Hierdie maatreëls het wel ’n mate van verligting gebring. Maar die situasie sou nog erger word. Die winter van 1846/47 was bitter koud, en dit het die meeste van die werk buite beperk. Verskeie staatsinstellings het gratis kos uitgedeel. Maar ná twee jaar het die regering se geld vir hierdie noodlenigingswerk begin opraak, en al die hulp wat verleen is, was heeltemal onvoldoende vir die immertoenemende stroom fisies verswakte mense. Toe het nog ’n verwoestende slag Ierland getref.
Afwesige grondeienaars—waarvan baie self groot skuld gehad het—het steeds op huurgeld aangedring. Baie van die huurders kon nie betaal nie, en gevolglik is duisende van hulle land afgesit. Party huurders het eenvoudig hulle land verlaat en na die stede toe gegaan in die hoop om daar ’n beter lewe te lei. Maar waarheen sou hulle gaan, aangesien hulle geen kos, geen geld en geen blyplek gehad het nie? Vir al hoe meer mense het emigrasie die enigste opsie geword.
’n Groot emigrasie
Emigrasie was niks nuuts nie. Sedert die begin van die 18de eeu was daar voortdurend groepies mense wat uit Ierland na Brittanje en Amerika geëmigreer het. Ná die winter van 1845 het die groepies massas geword! Teen 1850 was 26 persent van die inwoners van New York Iers—daar was meer burgers van Ierse geboorte in New York as in Ierland se hoofstad, Dublin.
Gedurende die ses jaar van die hongersnood het vyfduisend skepe die gevaarlike tog van 5 000 kilometer oor die Atlantiese Oseaan afgelê. Baie van die skepe was oud. Party was voorheen slaweskepe. Hulle het net in gebruik gebly as gevolg van die noodsituasie. Daar is nie veel verbeteringe aan hulle kloustrofobiese woonkwartiere aangebring nie. Daar was geen sanitasie nie, en die passasiers moes met baie min kos klaarkom.
Duisende passasiers, wat reeds verswak is deur die hongersnood, het siek geword. Baie het gesterf terwyl hulle op die see was. In 1847 is skepe wat na Kanada op pad was, doodskisskepe genoem. Van die sowat 100 000 emigrante wat deur die skepe vervoer is, is meer as 16 000 op see dood of kort nadat hulle aan land gekom het. Briewe wat aan vriende en familie in Ierland gestuur is, het vertel van hierdie lewensgevaarlike toestande—maar die emigrante het steeds op ’n streep vertrek.
’n Paar grondeienaars het hulle voormalige huurders gehelp. Een het byvoorbeeld drie skepe gehuur en bygedra tot die reisgeld van ’n duisend van sy huurders. Maar die meeste emigrante moes sukkel om hulle eie reisgeld bymekaar te skraap. Dikwels kon net een of twee uit ’n groot gesin die reisgeld bekostig. Stel jou net die hartseer by die dokke voor terwyl duisende gesinslede afskeid neem—hulle sou mekaar waarskynlik nooit weer sien nie.
Siekte en ’n derde misoes
Nadat twee opeenvolgende aartappeloeste misluk het en massas van hulle grond afgesit is, het nog ’n slag die uitgedunde bevolking getref. Siekte! Tifus, disenterie en skeurbuik het nog lewens geëis. Baie van die oorlewendes het seker gedink dat dinge onmoontlik erger kon word, maar hulle was verkeerd.
Boere, wat deur ’n suksesvolle oes in 1847 aangemoedig is, het die oppervlakte van die grond waarop hulle aartappels geplant het, in 1848 verdriedubbel. Toe het ’n ramp hulle getref! Daardie somer was baie nat. Laatroes het die gewasse weer eens getref. Die oes het die derde keer in vier seisoene misluk. Staatsinstellings en welsynsorganisasies het breekpunt bereik. Selfs toe was die ergste nog nie verby nie. In 1849 het ’n choleraepidemie die lewens van nog 36 000 mense geëis.
Die daaropvolgende jare
Daardie epidemie was egter ’n keerpunt. Die volgende aartappeloes was suksesvol. Dinge het stadigaan verbeter. Die regering het nuwe wette uitgevaardig wat mense van alle skuld as gevolg van die hongersnood kwytgeskeld het. Die bevolking het weer begin toeneem. Hoewel die laatroes ’n paar oeste in die daaropvolgende jare aangetas het, was daar nooit weer sulke verskriklike toestande soos dié wat verantwoordelik was vir die verlies van meer as ’n kwart van Ierland se bevolking gedurende daardie tragiese jare van hongersnood nie.
Vandag is daar regoor Ierland vervalle klipmure en huise wat droewige herinneringe is aan die moeilike tye gedurende die wydverspreide Ierse verstrooiing. In die Verenigde State alleen is daar meer as 40 miljoen mense van Ierse herkoms. Die Amerikaanse president John F. Kennedy sowel as Henry Ford, die uitvinder van die Ford-motorvoertuig, was regstreekse afstammelinge van emigrante wat van Ierland af op hongersnoodskepe gevaar het.
Die herhaalde mislukking van die aartappeloes was natuurlik ’n groot faktor in hierdie hartseerverhaal van dood en emigrasie. Nog ’n belangrike faktor was wat die eertydse Bybelskrywer beskryf het toe hy gesê het dat ‘die mens oor die mens heers tot sy nadeel’ (Prediker 8:9). Gelukkig word ons in God se Woord, die Bybel, verseker dat die Skepper van die aarde en alles wat dit voortbring, ’n paradysagtige nuwe wêreld tot stand sal bring, wat vir almal blywende vrede en voorspoed sal meebring (2 Petrus 3:13). Die eertydse psalmis het ook voorspel: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.
[Voetnoot]
[Prent op bladsy 14]
’n Monument ter herinnering aan die Groot Hongersnood
[Prent op bladsy 15]
Op soek na aartappels, soos uitgebeeld in die “Illustrated London News”, 22 Desember 1849
[Prent op bladsy 16]
Klere word aan behoeftige gesinne uitgedeel
[Erkenning]
en bladsy 15: From the newspaper The Illustrated London News, December 22, 1849
[Prent op bladsy 16, 17]
“The Emigrant Ship” (Skildery deur Charles J. Staniland, ca. 1880)
[Erkenning]
Bradford Art Galleries and Museums, West Yorkshire, UK/Bridgeman Art Library
[Prent op bladsy 17]
Vervalle huise is ’n droewige herinnering aan die moeilike tye as gevolg van die jare van hongersnood
[Foto-erkenning op bladsy 14]
Boonste skets: Courtesy of the “Views of the Famine” Web site at http://vassun.vassar.edu/˜sttaylor/FAMINE