Wat word van die water?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
PANIEK! Dit was my eerste reaksie. ’n Grys vloeistof wat uit die afvoergat in my badkamervloer opgeborrel het, het gedreig om my woonstel in ’n stinkende moeras te verander. Ek het die loodgieter dringend geskakel om te kom help. Terwyl ek moedeloos gewag het, met my mond droog van senuweeagtigheid en water wat my kouse stadig deurweek, het ek gewonder: ‘Waar kom al hierdie water vandaan?’
Terwyl die loodgieter besig was om die verstopping uit die afvoerpyp te verwyder, het hy verduidelik: “Die gemiddelde stadsbewoner gebruik 200 tot 400 liter water per dag. Vir elke man, vrou en kind spoel sowat 100 000 liter per jaar in die afvoerpyp af.” Ek het gevra: “Hoe kan ek soveel water gebruik? Ek drink dit beslis nie!” “Nee”, het hy geantwoord, “maar elke dag stort of bad jy, spoel jy die toilet en gebruik jy miskien ’n wasmasjien of ’n skottelgoedwasser. Op hierdie en ander maniere veroorsaak die hedendaagse lewenswyse dat ons twee keer soveel water as ons grootouers gebruik.” Die vraag het toe by my opgekom: ‘Wat word van al daardie water?’
Ek het uitgevind dat die water wat ons elke dag laat wegloop, baie verskillend behandel word na gelang van die land of selfs die stad waar ons woon. In party lande is dit nou ’n saak van lewe en dood. (Sien die vensters op bladsy 27.) Kom saam met my op ’n toer deur ons plaaslike afvalwatersuiweringsaanleg en vind self uit wat van die water word en waarom dit die moeite werd is om mooi te dink voordat jy goed in die afvoerpyp of toilet laat afspoel, ongeag waar jy woon.
By die suiweringsaanleg
Ek weet jy dink dat ’n afvalwatersuiweringsaanleg nie na ’n aantreklike plek klink om te besoek nie. Ek stem saam. Tog vertrou die meeste van ons op so ’n aanleg om te verhoed dat ons stad in sy eie afval verdrink—en ons almal speel ’n rol daarin om hierdie aanlegte behoorlik te laat werk. Ons bestemming is die vernaamste suiweringsaanleg by Malabar, net suid van die beroemde Sydney-hawe. Hoe kom die water van my badkamer af tot by die aanleg?
Wanneer ek die toilet spoel, die wasbak laat leegloop of stort, vloei die water na die afvalwatersuiweringsaanleg. Ná ’n tog van 50 kilometer sluit hierdie water aan by die 480 miljoen liter wat elke dag in die suiweringsaanleg instroom—elke minuut die hoeveelheid water wat twee Olimpiese swembaddens sal vol maak.
Ross, die aanleg se gemeenskapskakelbeampte, het verduidelik waarom hierdie suiweringsaanleg nie sleg lyk of ruik nie en het vir my gesê: “Die grootste deel van die aanleg is onder die grond. Dit stel ons in staat om die gasse vas te keer en dit deur ’n pyp na die lugsuiweringstoestelle (’n ry reusagtige, potvormige skoorstene) te stuur, wat die slegte reuke neutraliseer. Die gesuiwerde lug word dan in die atmosfeer vrygestel. Hoewel daar duisende huise om die aanleg is, kry ek net ongeveer tien oproepe per jaar waarin mense oor ’n slegte reuk kla.” Natuurlik is die volgende plek waarheen Ross ons neem die bron van daardie “slegte reuk”.
Wat is afvalwater?
Terwyl ons dieper in die aanleg afgaan, vertel ons gids ons: “Afvalwater is 99,9 persent water plus menseafval, chemikalieë en verskillende ander stukkies en brokkies. Die afvalwater wat van huise en nywerhede oor ’n gebied van 55 000 hektaar met pype van 20 000 kilometer bymekaargebring word, kom die aanleg twee meter onder seespieël binne. Hier gaan dit deur ’n reeks roosters wat lappe, klippe, papier en plastiek verwyder. Daarna laat lugborrels in die gruistenks die organiese stowwe in die water dryf, en die swaarder gruis sak af na die bodem. Al hierdie anorganiese afval word bymekaargemaak en na ’n stortterrein gestuur. Die res van die afvalwater word na die besinkingstenks 15 meter hoër gepomp.”
Hierdie tenks beslaan ’n gebied wat ongeveer so groot soos ’n sokkerveld is, en hier besef jy hoeveel die bure sou kla as die lugsuiweringstelsel nie so doeltreffend was nie. Terwyl die water stadig deur die tenks vloei, dryf olie en vet na die oppervlak en word dit verwyder. Die fyn vaste stowwe, wat slyk genoem word, sak af na die bodem, en groot meganiese lemme skraap die besinksel na waar dit weggepomp word vir verdere suiwering.
Die gesuiwerde afvalwater vloei uit na die see deur ’n drie kilometer lange ondergrondse uitlooptonnel. Daar styg die water na die seebodem en vloei in die see in, 60 tot 80 meter onder die golwe. Sterk seestrome versprei die afvalwater, en die natuurlike ontsmettende eienskap van soutwater voltooi die suiweringsproses. Die slyk wat by die suiweringsaanleg oorbly, word in groot tenks ingepomp, wat anaërobiese verteerders genoem word, waar mikro-organismes die organiese stowwe tot metaangas en ’n bestendiger slyk afbreek.
Van slyk tot grond
Met ’n sug van verligting volg ek Ross terug boontoe na die vars lug, en ons klim tot bo-op een van die lugdigte slyktenks. Hy sê verder: “Die metaan wat deur die mikro-organismes voortgebring word, word gebruik om elektriese opwekkers aan te dryf en voorsien meer as 60 persent van die aanleg se krag. Die bestendiger slyk word ontsmet en kalk word bygevoeg, wat dit verander in ’n nuttige stof wat ryk is aan plantvoedingstowwe wat biovastestowwe genoem word. Die Malabar-rioolwatersuiweringsaanleg alleen lewer elke jaar 40 000 ton biovastestowwe op. Tien jaar gelede is die onbehandelde slyk verbrand of in die see gestort; nou word hierdie hulpbron beter benut.”
Ross gee vir my ’n brosjure wat verduidelik: “Woude van [Nieu-Suid-Wallis] toon ’n groeitoename van tussen 20 en 35 persent nadat biovastestowwe gebruik is.” Dit sê ook dat die kweking van ‘koring in grond waarby biovastestowwe gevoeg is, opbrengste met tot 70 persent laat toeneem het’. Ek sien dat ’n kompos van biovastestowwe nou veilig genoeg is om as bemesting vir die blomme in my tuin te gebruik.
Weggespoel en vergete?
Aan die einde van die toer herinner ons gids my daaraan dat verf, plaagdoders, medisyne of olie wat in die afvoerpyp afgegooi word, die mikro-organismes by die suiweringsaanleg kan laat doodgaan en sodoende die herwinningsproses kan ontwrig. Hy beklemtoon dat ‘olie en vet ons loodgieterspype geleidelik verstop net soos dit ons slagare verstop en dat weggooibare doeke, lap en plastiek wat in die toilet weggespoel word, nie werklik weg is nie. Dit verstop eerder die pype.’ Soos ek uitgevind het, kan vullis wel weggespoel word, maar wanneer die water in die afvoerpyp opstoot, is dit gou nie meer vergete nie. Wanneer jy dus weer stort, die toilet spoel of ’n wasbak laat leegloop, kan jy gerus dink aan wat van die water word.
[Venster/Prent op bladsy 25]
Van afvalwater tot drinkwater
Die etlike miljoene inwoners van die Orange-distrik—’n gebied met ’n lae reënval in Kalifornië, in die Verenigde State—vind baat by ’n gevorderde oplossing vir die afvalwaterprobleem. Hulle miljoene liters afvalwater word nie elke dag regstreeks in die see gestort nie, maar die meeste daarvan word weer by die watervoorraad gevoeg. Dit word al baie jare lank deur ’n afvalwatersuiweringsaanleg gedoen. Ná die oorspronklike suiwering word die afvalwater ’n tweede en derde keer behandel. Dit beteken dat die water gesuiwer word sodat dit so skoon soos gewone drinkwater is. Dit word dan met diepputwater gemeng en gaan in die grondwaterkom in. Daar vul dit die kom aan en verhoed dit ook dat soutwater insypel en die grondwaterreservoir bederf. Hierdie ondergrondse voorraad voorsien in tot 75 persent van die distrik se algehele waterbehoeftes.
[Venster op bladsy 27]
Vyf maniere om water te spaar
◼ Vervang lekkende wassers—’n kraan wat lek, kan 7 000 liter per jaar mors.
◼ Maak seker dat jou toilet nie lek nie—dit kan 16 000 liter per jaar mors.
◼ Sit ’n stortspreikop in wat water spaar. ’n Gewone spreikop laat 18 liter per minuut deur; ’n laevloeispreikop gee 9 liter per minuut. ’n Gesin van vier sal tot 80 000 liter per jaar spaar.
◼ As jy ’n dubbelspoeltoilet het, kan jy gerus die halfspoelknop gebruik wanneer dit gepas is—dit spaar meer as 36 000 liter per jaar vir ’n gesin van vier.
◼ Sit ’n belugter aan jou krane—dit is redelik goedkoop en verminder die vloei van water met die helfte sonder om bruikbaarheid te verminder.
[Venster op bladsy 27]
Wêreldkrisis oor afvalwater
“Meer as 1,2 miljard mense het nog steeds nie toegang tot skoon drinkwater nie, terwyl 2,9 miljard nie toegang tot voldoende sanitêre geriewe het nie, wat daartoe lei dat 5 miljoen mense, hoofsaaklik kinders, elke jaar aan watergedraagde siektes sterf.”—Die Tweede Wêreldforum oor Water wat in Den Haag in Nederland gehou is.
[Diagram/Prente op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die afvalwatersuiweringsproses by Malabar (Vereenvoudigde voorstelling)
1. Afvalwater kom die aanleg binne
2. Roosters
3. Gruistenks
4. Na die stortterrein
5. Besinkingstenks
6. Na die see
7. Anaërobiese verteerders
8. Elektriese opwekkers
9. Opgaartenk vir biovastestowwe
[Prente]
Anaërobiese verteringstenks omskep die slyk in nuttige kunsmis en metaangas
Metaangas word gebrand om elektrisiteit op te wek