Godsdienste in Assisi op soek na vrede
“Nooit weer geweld nie! Nooit weer oorlog nie! Nooit weer terrorisme nie! Mag elke godsdiens in Gods naam geregtigheid en vrede, vergifnis en lewe asook liefde op die aarde tot stand bring!”—Pous Johannes-Paulus II.
ASSISI, ITALIË, 24 Januarie 2002—Verteenwoordigers van die wêreld se georganiseerde godsdienste het saamgekom om vir vrede te bid, vrede wat deur terrorisme, onverdraagsaamheid en ongeregtigheid bedreig word. Die Pous het die vergadering aangekondig sowat twee maande nadat die Tweelingtorings in die stad New York geval het. Baie godsdiensleiers het die Vatikaan se uitnodiging geesdriftig aangeneem.
Die Pous het by twee vorige geleenthede—een keer in 1986 en weer in 1993—’n biddag in dieselfde Italiaanse dorp gereël.a Meer as duisend joernaliste van oral in die wêreld het gekom om die vergadering van 2002 waar te neem. Baie godsdienste is in die gebede om vrede verteenwoordig—dié van die Christendom (Katolieke, Lutherane, Anglikane, Ortodokse lidmate, Metodiste, Baptiste, lidmate van Pinksterkerke, Mennoniete, Kwakers en ander), Islam, Hindoeïsme, Confucianisme, Sikhisme, Djainisme, Tenrikio, Boeddhisme, Judaïsme, tradisionele Afrikagodsdienste, Sjinto en Zoroastrisme. Daar was ook afvaardigings van ander godsdienste, sowel as ’n verteenwoordiger van die Wêreldraad van Kerke.
Verklarings in verband met vrede
Die dag het om 8:40 vm. begin, toe die “vredestrein” uit die klein Vatikaanse stasie weggetrek het. Die trein het uit sewe waens bestaan wat baie gerieflik ingerig is, en twee helikopters het dit vir beskerming begelei. Ná ’n rit van twee uur het die Pous en ander godsdiensleiers in Assisi aangekom. Daar was streng veiligheidsmaatreëls—ongeveer duisend polisiemanne het wag gestaan.
Die godsdiensleiers het op ’n ou stadsplein bymekaargekom waarop ’n yslike markiestent opgerig is. Binne het ’n groot, rooi V-vormige verhoog sitplek vir die godsdiensverteenwoordigers gebied, met die Pous in die middel. Aan die kant van die verhoog was daar ’n olyfboom—’n simbool van vrede. Voor die verhoog was daar ’n gehoor van meer as 2 000 sorgvuldig uitgesoekte gaste. Party van Italië se vernaamste amptenare het in die voorste ry gesit. Groot kore het tussen toesprake vredesange gesing. In ander dele van die dorp het duisende mense, veral jongmense, slagspreuke teen oorlog in verskeie tale vertoon en liedere oor vrede gesing. Baie het olyftakke gedra.
Nadat die Pous sy plek op die verhoog ingeneem het, het hy die lede van die verskillende godsdiensafvaardigings verwelkom. Toe is daar in Latyn ’n gesang gesing wat op Jesaja 2:4 gegrond is—wat ’n tyd voorspel wanneer ‘nasie nie teen nasie die swaard sal ophef nie’—en daarna het twaalf afgevaardigdes, elkeen in kenmerkende godsdiensdrag, plegtige verklarings in verband met vrede gemaak. Hier is ’n paar voorbeelde.
“Op hierdie geskiedkundige oomblik moet die mensdom gebare van vrede sien en woorde van hoop hoor.”—Kardinaal François Xavier Nguyên Van Thuân.
God “is nie ’n God van oorlog en konflik nie, maar ’n God van vrede”.—Ekumeniese patriarg Bartholomeus l.
“Godsdiensverskille moenie daartoe lei dat [mense] diegene wat anders is, ignoreer of selfs haat nie.”—Dr. Setri Nyomi, Wêreldraad van Gereformeerde Kerke.
“Geregtigheid en broederliefde is die twee onontbeerlike pilare van ware vrede onder mense.”—Hoofman Amadou Gasseto, verteenwoordiger van tradisionele Afrikagodsdienste.
“Net vrede is heilig, oorlog is nooit heilig nie!”—Andrea Riccardi, Katolieke Kerk.
Party afgevaardigdes het erken dat godsdienste ’n ernstige verantwoordelikheid dra omdat hulle onverdraagsaamheid en oorlog aanstook. Die verteenwoordiger van die Lutherse Wêreldfederasie het gemeld dat die wêreld “geskud [is] deur die intensiteit van die haat wat deur godsdiensfundamentalisme aangeblaas word”. ’n Verteenwoordiger van Judaïsme het gesê: “Godsdienste het gehelp om talle verskriklike en bloedige oorloë aan te stook.” ’n Hindoeafgevaardigde het gesê: “Die geskiedenis bring oor en oor gevalle aan die lig waarin selfverklaarde godsdiensredders godsdiens gebruik het om mag te bekom en verdeeldheid te saai.”
Nadat terrorisme en oorlog plegtig veroordeel is, het die afvaardigings weggegaan, elkeen na sy toegewese plek, om tot hulle onderskeie gode vir vrede te bid.
Gebede om vrede
Die verteenwoordigers van die Christendom se godsdienste het saam in die laer St. Francis-basiliek gebid, naby die graf wat die kerk sy naam gee. Die geleentheid het met ’n “Trinitariese smeekbede” deur die Pous en drie ander afgevaardigdes begin. Gebede is afgewissel met gesange en smeekbedes wat vrede verheerlik, asook met Skriflesing oor dieselfde onderwerp. Een gebed het gevra dat “’n onverdeelde geloof” tot stand gebring moet word. Ter afsluiting van die seremonie het die deelnemers die Onse Vader in Latyn gesing, gegrond op Matteus hoofstuk 6, verse 9 tot 13.
Afgevaardigdes van ander godsdiensgroepe het terselfdertyd op ander plekke gebid. In ’n saal wat in die rigting van Mekka kyk, het die Moslems Allah aangeroep terwyl hulle op matte gekniel het. Die Zoroastriste, wat naby die Djainas en Confuciane gebid het, het ’n heilige vuur aangesteek. Die afgevaardigdes wat tradisionele Afrikagodsdienste verteenwoordig het, het tot die geeste van hulle voorouers gebid. Die Hindoes het hulle gode om vrede gevra. Almal het hulle godhede volgens hulle eie ritusse aangeroep.
’n Gemeenskaplike verbondenheid tot vrede
Die afvaardigings het vir die afsluiting van die verrigtinge weer onder die markiestent vergader. Brandende lampe—wat die hoop op vrede voorstel—is plegtig deur monnike aan die afgevaardigdes gegee. Dit was ’n treffende toneel. Toe het verskeie lede van die afvaardigings ’n gemeenskaplike verbondenheid tot vrede gelees en elkeen ’n verskillende verklaring gemaak.
“As ’n mens vrede wil bou, moet jy jou naaste liefhê.”—Ekumeniese patriarg Bartholomeus I.
“Geweld en terrorisme is strydig met die ware gees van godsdiens.”—Dr. Konrad Raiser, afgevaardigde van die Wêreldraad van Kerke.
“Ons verbind ons daartoe om mense te onderrig om wedersydse respek en agting te toon.”—Bhai Sahibdji Mohinder Singh, verteenwoordiger van die Sikh-godsdiens.
“Vrede sonder geregtigheid is nie ware vrede nie.”—Ortodokse biskop Vasilios.
Laastens het die Pous die woorde in die inleiding van hierdie artikel gelees. Hierdie interkerklike vergadering het ten einde geloop met omhelsings onder die afgevaardigdes as simbool van vrede. Goed voorbereide, treffende woorde het met prag en praal gepaardgegaan. Maar wat was die reaksie op hierdie indrukwekkende geleentheid?
‘Of die daad by die woord gevoeg word’
Koerante en die televisie het die Pous se ondernemingsgees geprys. Party het die Pous selfs die “woordvoerder van die hele Christendom” genoem. Die Vatikaanse koerant L’Osservatore Romano het die dag in Assisi beskryf as ’n “mylpaal in die bou van ’n beskawing van vrede”. Die opskrif van die koerant Corriere dell’Umbria was “Assisi laat lig op vrede skyn”.
Nie alle waarnemers was so geesdriftig nie. Party was skepties, want die mensdom word nog steeds geteister deur oorloë wat in die naam van godsdiens gevoer word, ondanks vorige biddae om vrede in 1986 en 1993. Godsdienshaat het aanleiding gegee tot bloedige slagtings in Uganda, die voormalige Joego-Slawië, Indonesië, Pakistan, die Midde-Ooste en Noord-Ierland.
Die Italiaanse koerant La Repubblica het gesê dat party kritici die vergadering as “net ydel vertoon” afgemaak het. Volgens ’n lid van die Europese parlement sal godsdienstige mense net vrede bevorder as hulle “die Evangelie toepas”—dit wil sê as hulle lewe volgens die woorde “jy moet jou vyande liefhê, jy moet die ander wang draai”. Na sy mening “doen niemand” dit nie.
Die voorsitter van die Joodse Gemeenskappe van Italië het gesê dat “dit interessant sal wees om te sien wat nou gebeur, dit wil sê of die daad werklik by die woord gevoeg word en ’n grondige verandering plaasvind”. Die verteenwoordiger van die Italiaanse Boeddhiste het min of meer dieselfde gedagte uitgespreek, naamlik dat ’n mens moet “seker maak dat oproepe om vrede nie net goeie bedoelings bly nie”. ’n Joernalis wat vir die Italiaanse tydskrif L’Espresso skryf, het aan die hand gedoen dat die vergadering in Assisi ’n ander doel gedien het vir die godsdienste van die Christendom wat daar verteenwoordig was. Hy het dit “verenigde weerstand teen godsdienstige ontevredenheid, tugteloosheid en ongeloof” genoem, sowel as ’n poging om die “ernstige verwêreldliking” te bekamp wat Europa ondanks sy “Christelike verlede” teister.
Onder diegene wat die gebeurtenis skerper gekritiseer het, was Katolieke tradisionaliste, wat vrees dat hulle kerkleerstellings afgewater sal word. In ’n televisie-onderhoud het Vittorio Messori, ’n bekende Katolieke skrywer, die gevaar gemeld dat die gebeurtenis in Assisi die verskille tussen godsdienste kan verdoesel. Kerkowerhede het natuurlik voorsorg getref om nie die indruk te skep dat godsdienste vermeng word nie. Die Pous self het ’n verklaring gemaak om sulke aantygings te weerlê. Nogtans het die blote aard van die gebeurtenis baie mense laat dink dat die verskillende godsdienste eenvoudig verskillende maniere verteenwoordig om dieselfde hoër mag te nader.
Godsdiens en vrede
Maar wat kan georganiseerde godsdienste doen om vrede tot stand te bring? Die blote vraag is vir party mense ironies, want dit lyk of godsdienste meer doen om oorloë te veroorsaak as om dit te voorkom. Geskiedkundiges het al kommentaar gelewer oor hoe wêreldlike magte godsdiens gebruik het om oorlog aan te stook. Maar die vraag ontstaan: Waarom het godsdienste toegelaat dat hulle gebruik word?
Ten minste die godsdienste van die Christendom het ’n heilige voorskrif tot hulle beskikking wat hulle kon gehelp het om die skuld te vermy wat met oorlogvoering gepaardgaan. Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie (Johannes 15:19; 17:16). As die Christendom se godsdienste volgens hierdie woorde gelewe het, sou hulle nie met politieke magte saamgespan het en leërs en oorlog goedgekeur en geseën het nie.
As godsdiensleiers werklik wil lewe volgens die mooi woorde wat in Assisi gespreek is, sal hulle van politieke magte moet wegbly. En hulle sal hulle volgelinge die weë van vrede moet leer. Maar geskiedkundiges sê dat die mense wat die geweld in die wêreld pleeg, baie insluit wat in God glo—of ten minste sê dat hulle in hom glo. ’n Onlangse hoofartikel in ’n koerant het gesê: “Kort ná 11 Sept. het iemand hierdie gedagteprikkelende, dog ysingwekkende woorde op ’n muur in Washington, DC, geskryf: ‘Liewe God, red ons van die mense wat in u glo.’”
Te midde van al die prag en praal in Assisi het ’n paar moeilike vrae onbeantwoord gebly. Maar moontlik die belangrikste—of sorgwekkendste—vraag vir talle godsdienstige mense is: Waarom het God tot dusver klaarblyklik geweier om die gebede om vrede te verhoor wat deur die wêreld se godsdienste gedoen is?
[Voetnoot]
a Sien asseblief die Ontwaak! van 8 Junie 1987 vir meer inligting oor die biddag om vrede in 1986.
[Prent op bladsy 7]
Afgevaardigdes met brandende lampe—wat die hoop op vrede voorstel
[Erkenning]
AP Photo/Pier Paolo Cito
[Foto-erkenning op bladsy 5]
AP Photo/Pier Paolo Cito