Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 10/22 bl. 15-17
  • Hier kom die kleinbloupikkewyne!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hier kom die kleinbloupikkewyne!
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Nie net oulike voëls nie”
  • ’n Volmaakte “reddingsbaadjie”
  • Hulle skakel met die land
  • Hier kom hulle!
  • Klein pikkewyne—groot vrae
  • Die keiserpikkewyn se verekleed
    Ontwaak!—2013
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
  • ’n Verbasende keiser
    Ontwaak!—2000
  • Kommunikasie—Noodsaaklik vir die aarde se web van die lewe
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 10/22 bl. 15-17

Hier kom die kleinbloupikkewyne!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

DIE opgewonde skare hou hulle asem op. Hulle kyk met afwagting in die verte of daar enige teken van die hoofspelers is. Die kollig val skielik op ’n klein figuurtjie wat aan die kant van die water verskyn. Die opgewondenheid onder die skare word al hoe groter namate een na die ander hulle verskyning maak. Die aandvertoning het begin. Hier kom Phillip-eiland se kleinbloupikkewyne!a

Pikkewyne het vir die eerste keer onder die wêreld se aandag gekom toe die beroemde ontdekkingsreisigers Vasco da Gama en Ferdinand Magellaan in die 16de eeu die groot suidelike oseane bevaar het. Die mens het aanvanklik gewonder presies hoe om die pikkewyn te klassifiseer. Hy het vere soos ’n voël, hy swem soos ’n vis en hy loop op land soos ’n dier. Die vere het uiteindelik die probleem opgelos. Net voëls het vere—’n voël moet dit dus wees. Hierdie familie van loopvoëls bestaan uit 18 verskillende spesies, wat wissel van die statige keiserpikkewyn en die adéliepikkewyn van Antarktika tot die ekwatoriale Galapagos-pikkewyn.

Wil jy graag ’n kolonie pikkewyne in hulle natuurlike habitat besoek? Kom dan na Phillip-eiland toe—wat net 140 kilometer suidoos van die moderne stad Melbourne, Australië, geleë is. Sowat 500 000 besoekers stroom elke jaar hierheen om deur hierdie klein wonder bekoor te word. Wat maak die kleinbloupikkewyne van Phillip-eiland so geliefd?

“Nie net oulike voëls nie”

Kleinbloupikkewyne, met hulle formele swart-en-wit veredrag, wen gou die harte van hulle toeskouers. Aangesien hulle sowat 33 sentimeter lank is en net omtrent ’n kilogram weeg, is hulle die wêreld se kleinste pikkewyne. Maar moenie dat dit jou om die bos lei nie! Al is hulle so klein, het hulle groot uithouvermoë.

“Kleinbloupikkewyne is nie net oulike voëls nie”, verduidelik professor Mike Cullen, wat die pikkewynkolonie op Philip-eiland al meer as 20 jaar lank bestudeer. Hoewel hierdie pikkewynspesie die kleinste is, raas hulle ook die meeste. Snags weergalm die kolonie van die gegrom, gekrys, geskree en gekras terwyl pikkewyne hulle neste teen oortreders beskerm, na ’n potensiële maat soek of ’n “kooroefening” saam met hulle maats geniet.

Toe kleinbloupikkewyne in 1780 vir die eerste keer beskryf is, is hulle gepas Eudyptula minor genoem, wat in Grieks “bekwame klein duiker” beteken. Met hulle stroombelynde, torpedovormige liggaam, hulle gladde, waterdigte vere en hulle vlerkagtige vinpote lyk dit of hulle letterlik deur die water vlieg.

’n Volmaakte “reddingsbaadjie”

Wanneer hierdie pikkewyne na kos soek, kan hulle tot 100 kilometer per dag swem en, indien nodig, dae of weke lank in die see bly. Hoe slaap hulle in die see? Die antwoord lê in hulle merkwaardig ontwerpte vere. Pikkewyne het ’n dik laag dons- en ineengeskakelde vere, wat drie tot vier keer digter is as dié van vlieënde voëls. Vasgevangde lug onder hierdie laag dien as isolasie vir die voël en stel hom in staat om te dryf—baie soos ’n reddingsbaadjie. ’n Pikkewyn kan dus maklik in die see slaap terwyl hy soos ’n kurk op die water dobber, met sy vinpote uitgestrek as stabiliseerders en sy snawel veilig bo die wateroppervlak.

Selfs die pikkewyn se digte laag vere sal hom natuurlik nie beskerm as dit nat word in die koue water waarin die voël na kos soek nie. Maar dit is geen probleem vir die pikkewyn nie—’n spesiale olieklier bo die voël se stert skei vloeibare was af. Terwyl die pikkewyn sy vere met sy snawel glad stryk, smeer hy hierdie was aan sy vere om dit waterdig, skoon en gesond te hou. Geen skubaduiker kan ’n duikpak hê wat beter ontwerp is vir die lewe in die see nie.

Veroorsaak die tekort aan vars water in die see enige probleme vir hierdie seedier? Twee uniek ontwerpte kliere, wat reg bo elke oog geleë is, ontsout die seewater. Deur eenvoudig sy snawel te skud, raak die pikkewyn deur elke neusgat van die ongewenste sout ontslae.

Daarbenewens het pikkewyne oë wat spesiaal ontwerp is om net so goed onder die water as bo die water te sien. Dit is duidelik dat hierdie dier volmaak toegerus is vir die seelewe. Maar gelukkig vir ons bring die kleinbloupikkewyne nie al hulle tyd in die see deur nie.

Hulle skakel met die land

Phillip-eiland en die nabygeleë vasteland het ’n ruwe, sanderige kuslyn wat met digte gras en blaarryke plante bedek is. Dit vorm ’n ideale habitat vir die kolonie van 26 000 kleinbloupikkewyne. Lewe begin in ’n nes wat die ouers moeisaam in ’n kussandduin uitgegrawe het. ’n Pasgelêde eier kan ’n paar dae lank koud, en tog lewensvatbaar, bly voordat albei ouers pligsgetrou beurte maak om die eier uit te broei. Broeivoëls het aan die onderkant van hulle buik ’n spesiale broeikol wat ryk is aan bloedvate. Wanneer ’n eier uitgebroei word, swel hierdie deel op met warm bloed, en sodoende word die hitte uitgestraal wat noodsaaklik is vir die eier om te ontwikkel. Die kol krimp tussen broeiperiodes sodat die vere die voël weer waterdig maak en die volwasse pikkewyn na die see kan terugkeer om te eet.

Wanneer die kuiken uitgebroei het, groei hy baie vinnig. Binne net agt tot tien weke is die jong pikkewyn so groot soos ’n volgroeide pikkewyn en gereed vir die see. “Dit is merkwaardig dat jong pikkewyne uitgaan en lang tye in die see deurbring, gewapen met niks meer as ’n voortreflike stel fisiologiese toerusting . . . en instinkte waarmee hy aan die lewe moet bly nie”, sê die boek Little Penguin—Fairy Penguins in Australia.

Gedurende die volgende jaar of drie kan jong pikkewyne duisende kilometers ver swerf, terwyl hulle die meeste van hulle tyd in die see deurbring. Dié wat dit oorleef, keer gewoonlik terug na hulle tuiskolonie om te broei—binne 500 meter van die plek waar hulle uitgebroei het. Hoe vind hulle hulle pad huis toe? Party beweer dat pikkewyne hulle koers met behulp van die son bepaal en ’n ingeboude biologiese klok gebruik wat vergoed vir die son se beweging deur die hemelruim. Ander glo dat pikkewyne bekende geografiese bakens herken. Hoe dit ook al sy, dit is die skouspel van hierdie seediere se terugkeer landwaarts ná ’n lang reis of ná ’n harde dag se visvangs wat skares mense na Phillip-eiland toe lok.

Hier kom hulle!

Wanneer dit skemer word, wag honderde opgewonde besoekers om na die aandvertoning van die pikkewyne te kyk. Die pikkewyne het lank reeds agter die brekende branders bymekaargekom in groot groepe, of swerms, wat uit honderde voëls bestaan. Die strand is met verskeie spreiligte belig. ’n Ligte briesie waai, en klein golfies klots teen die kuslyn. Die toeskouers begin twyfel. Waar is die pikkewyne? Sal hulle aan land kom? Dan verskyn die eerste kleinbloupikkewyne terwyl hulle senuweeagtig aan die kant van die water aanskuifel. Hulle skrik skielik en verdwyn in die branders. Omdat die pikkewyne moet oppas vir roofdiere, soos arende, bly hulle op hulle hoede. Hulle verskyn gou weer en kry geleidelik meer vertroue. Uiteindelik kom een dapper pikkewyn uit die water en waggel vinnig oor die strand na die beskutting van die duine. Die ander in sy groep volg kort op sy hakke. Hulle ignoreer die ligte en toeskouers en loop oor die strand, terwyl hulle die indruk van ’n lewendige optog skep.

Nadat hulle die veiligheid van die duine bereik het, ontspan die pikkewyne sigbaar en kom hulle in groter groepe bymekaar om hulle vere glad te stryk. Die een groep na die ander steek die strand só oor en gaan staan dan vir ’n oomblik stil om by die bure te kuier en met hulle te “gesels” voordat hulle huis toe gaan. Vir party beteken dit ’n stewige stap, ’n gehop en ’n geklouter teen ’n 50 meter hoë krans voordat hulle hulle lêplek bereik.

Klein pikkewyne—groot vrae

Soos ander diere regoor die wêreld kom kleinbloupikkewyne voor talle uitdagings te staan, waarvan baie met die mens verband hou. Gevare sluit in oliestortings deur verbygaande skepe, ’n habitat wat krimp weens mensebedrywighede en roofdiere wat in die gebied ingebring word, soos jakkalse en huisdiere.

Prysenswaardige pogings is al aangewend om iets omtrent hierdie probleme te doen. In onlangse jare het die aantal kleinbloupikkewyne in Phillip-eiland se Pikkewynreservaat gestabiliseer. “Ons is besig om die stryd te wen . . . maar stadig”, sê professor Cullen. Hy voeg by: “Die grootste uitdaging waarmee ons nou te kampe het, is om die kleinbloupikkewyn se kosvoorraad te verseker . . . , en dit hou verband met die lot van die oseane en die mensdom as geheel.” Die uitwerking van aardverwarming en klimaatverskynsels, soos El Nino, op die oseaan se kosvoorraad skep groot probleme wat navorsers nou indringend ondersoek.

Die bevindinge van hierdie navorsing sal ongetwyfeld ons waardering vergroot vir die uiteenlopende en tog brose planeet wat ons deel. Danksy die mens se liefdevolle besorgdheid oor die natuurlewe op Phillip-eiland, kan jy dalk ook eendag die geleentheid hê om onder die toeskouers te wees wat opgewonde fluister: “Hier kom die kleinbloupikkewyne!”

[Voetnoot]

a Kleinbloupikkewyne word ook dwergpikkewyne genoem.

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

PHILLIP-EILAND

[Prente op bladsy 16, 17]

Toeskouers, stoele en spreiligte—alles is gereed vir ’n aandvertoning van die pikkewyne

[Prente op bladsy 17]

Van kuiken tot volgroeide voël in net tien weke

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Foto’s: Photography Scancolor Australia

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Foto’s op bladsye 16 en 17: Photography Scancolor Australia

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel