Ons beskou die wêreld
‘Drome van rykdom’
Aggressiewe reklame het talle arm mense mislei om te glo dat dobbelary hulle van armoede sal bevry, hoewel die kanse om enige beduidende bedrag te wen in werklikheid baie klein is, berig die Times of Zambia. Volgens die artikel “laat loteryadvertensies mense droom van rykdom, weelde en ’n lewe wat oornag probleemvry is”, terwyl “die geringe kanse om te wen selde genoem word”. Die koerant sê ten slotte: “Ongeag watter argumente aangevoer word, dobbelary is ’n skaamtelose bedrogspul en moet onwettig verklaar word in enige gemeenskap wat sedelike standaarde het.”
Bang vir die donker
“Kinders is banger vir die donker as wat hulle ouers was omdat die toenemende gebruik van kunsmatige lig beteken dat hulle selde aan algehele donkerte blootgestel word”, volgens ’n verslag in The Times van Londen. Die sielkundige en skrywer Aric Sigman het navorsing ontleed wat toon dat byna twee derdes van kinders onder tien daarop aandring om met ’n naglig te slaap. Hy beweer dat kinders se verbeelding onderdruk word omdat hulle nie genoeg aan donkerte blootgestel word nie—selfs snags wanneer hulle slaap. “Kinders se verbeelding moet ruimte gegee word om te ontwikkel”, sê die verslag. “Dit kan baie stimulerend vir hulle wees om in die donker te speel omdat die beelde wat hulle skep, uniek sal wees.” Maar vandag maak “kitsklaar beelde wat deur die televisie, rolprente en rekenaarspeletjies in kinders se verstande ingeprent word”, hulle bang. Dr. Sigman sê: “Dit klink dalk ouderwets om te sê, lees meer en kyk minder televisie, maar daar is rede om dit te herhaal.”
Antarktiese ysbank verbrokkel
Gedurende ’n tydperk van slegs 35 dae wat aan die einde van Januarie 2002 begin het, het ’n deel van die Larsen B-ysbank wat 3 250 vierkante kilometer groot is, aan die oostelike kant van die Antarktiese Skiereiland opgebreek en duisende drywende ysberge gevorm, berig die Universiteit van Colorado se Nasionale Sentrum vir Sneeu- en Ysdata. ’n Groot deel van Antarktika word omsluit deur dik ysplate wat deur gletsers gevoed word, maar die ysplate op die skiereiland het gekrimp as gevolg van ’n patroon van klimaatsverwarming wat sedert die laat 1940’s daar ondervind word. Omdat die ysbank dryf, sal die verbrokkeling daarvan nie die seevlak noemenswaardig laat styg nie. Maar “ysbanke dien as ’n stutmuur, of remstelsel, vir gletsers”, sê die verslag. “Wanneer die ysbanke weggebreek het, kan die gletsers . . . meer ys in die oseaan begin stort as wat dit as sneeu versamel.” Die redes vir die verwarming is nog onduidelik, en die data kan verwarrend wees. Behalwe vir die skiereiland “toon die res van Antarktika geen tekens van wydverspreide verwarming nie”, sê The New York Times. Trouens, party studies toon dat die vasteland in sy geheel moontlik gedurende die afgelope 35 jaar afgekoel het.
China se ruimteprogram
Op 1 April 2002 het China se onbemande ruimteverkenningstuig Sjenzhou III ná ’n week lange sending suksesvol in Binne-Mongolië geland, berig BBC News. Aan boord was daar ’n “nagemaakte mens”—’n pop met sensors om suurstofvlakke en die temperatuur te monitor sodat lewensondersteuningstelsels getoets kon word wat moontlik op toekomstige bemande vlugte gebruik sal word. Chinese ruimtevaartamptenare het aangekondig dat hulle teen 2005 ’n man in die ruimte wil plaas. “Die langtermyndoelwit wat die Chinese ruimteagentskap vir hulleself gestel het, is om teen 2010 mense op die Maan te plaas”, sê die verslag.
Vir budjies maak vere die voël
Hoe kies budgerigars (budjies) of grasparkiete ’n maat? Dit hou moontlik verband met hoe helder die voëls se vere gloei. Budjies se vere bevat ’n chemiese stof wat ultravioletlig absorbeer en dit teen ’n langer golflengte terugstraal, wat die vere met ’n fluoressent rooigeel kleur laat gloei. Dr. Justin Marshall van die Universiteit van Queensland, Australië, en sy kollegas, het sonskermmiddel aan die vere van wilde budjies gesmeer om hierdie fluoressent effek te verdof. “Die vaal voëls was minder aantreklik vir lede van die ander geslag”, berig The Sydney Morning Herald. Marshall het gesê dat helder kleure waarskynlik toon dat ’n voël gesond is. Hoewel die liggame van sekere ander diere fluoressent stowwe bevat, het Marshall gesê dat dit “vir die eerste keer bewys dat fluoressensie in die diereryk gebruik word”, sê die Herald.
Bedreigde leeus
“Leeus kan dalk binnekort in groot dele van Afrika uitsterf”, berig die tydskrif New Scientist. ’n Bevolking van 500 tot 1 000 leeus is nodig om ongeveer 100 teelpare te hê—genoeg om inteling te voorkom. Volgens die Wêreldbewaringsunie is die leeubevolking in Wes- en Sentraal-Afrika baie kleiner as dit. “Dit is ’n ernstige situasie”, sê Hans Bauer van die Universiteit van Leiden in Nederland. “Die toekoms van elke bevolking is onseker.” Die hoofrede vir die afname is die mens se indringing in die diere se habitat. Leeus het ’n baie groot jaggebied nodig—tot 200 vierkante kilometer vir een mannetjie. “Die leeu is ’n noodsaaklike spesie”, waarsku Bauer. “Dit is ’n teken—die feit dat leeus nou bedreig word, kan beteken dat ander spesies moontlik in 20 tot 30 jaar bedreig sal word.”
Sonbedgevare
“Die kanse om velkanker te kry, is twee keer groter onder mense wat sonbeddens gebruik, en jongmense verkeer in selfs groter gevaar”, berig The Guardian van Londen. Professor Margaret Karagas, van die Dartmouth-universiteit se Mediese Fakulteit, New Hampshire, VSA, het onderhoude gevoer met 1 500 mense tussen die ouderdomme van 25 en 74, waarvan meer as die helfte pas gediagnoseerde velkankerpasiënte is. Die kanse om kanker te kry, het “met tot 20 persent [toegeneem] vir elke dekade van sonbedgebruik voor 50-jarige ouderdom”, sê The Times van Londen. Professor Karagas sê: “Sonlampe boots die sonlig na [met] ’n intense, gekonsentreerde dosis ultravioletstraling.” In Brittanje is daar nou drie keer soveel sterftes weens velkanker as wat daar in die 1960’s was; en in Skotland is daar vier keer meer as wat daar toe was. Kenners sê dat die sterftes veroorsaak is deur groter blootstelling aan ultravioletstraling as gevolg van sonbaaiery en die gebruik van sonlampe. “Daar bestaan nie so iets soos veilige sonbaaiery nie”, het ’n woordvoerder van Cancer Research UK gesê. “Sonbrand is eintlik die liggaam se reaksie op beskadiging van die DNS.”
“Watertorings” in gevaar
Die helfte van die wêreldbevolking is afhanklik van vars water van berg-ekosisteme, sê The Toronto Star van Kanada. Hierdie bergreekse, wat tydens die VN se Jaar van Berge in ’n Verenigde Nasies-verslag die “watertorings van die wêreld” genoem is, word ernstig bedreig. Volgens die Star word die skade aangerig deur “klimaatveranderinge, besoedeling, gewapende konflikte, bevolkingsaanwas, ontbossing en uitbuiting deur die landbou-, myn- en toerismebedryf”. Die verslag waarsku dat “hierdie agteruitgang tot meer oorstromings, grondstortings en hongersnood sal lei”, sê die koerant.
Alkoholverslawing
Een uit elke 13 mense in Brittanje is nou verslaaf aan alkohol, berig The Independent van Londen, wat beteken dat alkoholverslawing “twee keer algemener as verslawing aan dwelms of voorskrifmedisyne is”. Van 1994 tot 1999 het sterftes wat direk aan alkoholmisbruik toegeskryf word—insluitende sterftes weens hartsiekte, sirrose van die lewer en alkoholvergiftiging—met nagenoeg 43 persent toegeneem. Alkoholverwante motorongelukke het van 10 100 in 1998 tot 11 780 in 2000 toegeneem en was verantwoordelik vir 1 uit 7 padsterftes. Sestig persent van werkgewers het probleme met werknemers wat te veel drink, en 40 persent van diegene wat geweldsmisdade pleeg, doen dit onder die invloed van alkohol. Eric Appleby, direkteur van die Britse liefdadigheidsorganisasie Alcohol Concern, het gesê: “Die geweldige omvang van die probleem in terme van die impak daarvan op mense se gesondheid, verhoudings en geldmiddele, om nie eers te praat van die impak op openbare dienste nie, . . . beklemtoon die behoefte aan dringende, gesamentlike optrede.”