Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/8 bl. 16-19
  • Kristalpaleise van die see

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kristalpaleise van die see
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorsprong en lewensiklus
  • Ysbergmigrasie
  • Hoe ysberge ons lewens raak
  • ’n Wonder van Jehovah se skepping
  • Antarktika—’n vasteland in die moeilikheid
    Ontwaak!—2000
  • Visvang op die ys—Waarom so gewild?
    Ontwaak!—2004
  • Bybelverhale in ys en sneeu
    Ontwaak!—2005
  • Die geskiedenis van roomys
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/8 bl. 16-19

Kristalpaleise van die see

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

“YSBERG reg voor!” skreeu die bekommerde uitkyker. Die bemanning op die skip se brug reageer onmiddellik. Die enjins word in trurat gesit om ’n botsing te voorkom. Maar dit is te laat. Die skip se stuurboordkant word onherstelbaar beskadig.

Binne drie uur verswelg die Noord-Atlantiese Oseaan dit wat destyds die wêreld se grootste luukse passasierskip was. Op 15 April 1912, net vyf dae nadat die Titanic op sy eerste seereis van Europa na Noord-Amerika vertrek het, kom dit op die seebodem tot rus, vier kilometer onder die oppervlak. Ongeveer 1 500 passasiers en bemanning sterf ter see.

En wat het van die enorme stuk ys oorgebly? Dit het feitlik onbeskadig gebly. Die Titanic het net met die punt daarvan gebots. Die volgende dag het soekers dit opgemerk terwyl dit suid in warmer waters ingedryf het, asof niks gebeur het nie. Die ysberg se einde, ’n geleidelike smelting in die uitgestrekte oseaan, sou gou vergete wees. Die ondergang van die Titanic word egter steeds as ’n traumatiese seeramp onthou.

Ysberge! Hulle is so aanloklik en majestueus, maar tog so onversetlik. Het jy hulle al ooit van naderby beskou en besef watter uitwerking hulle op die mens en die natuur het? Wil jy weet waarom en hoe hulle ontstaan? En wat word gedoen om mense op see teen die potensiële gevaar van ysberge te beskerm? (Sien venster “Internasionale Yswag”.)

Oorsprong en lewensiklus

Ysberge is soos enorme varswaterysblokkies. Hulle kom van gletsers en ysplate in die Noorde en in Antarktika. Het jy geweet dat die Antarktiese ysbedekking sowat 90 persent van die aarde se ysberge voortbring? Dit lewer ook die grootstes. Hierdie ysberge steek tot 100 meter bo die waterlyn uit en kan meer as 300 kilometer lank en 90 kilometer breed wees. Groot ysberge kan tussen 2 miljoen en 40 miljoen ton weeg. En soos sneeuvlokkies lyk elke ysberg verskillend. Party is afgeplat, of tafelvormig. Ander is wig-, spits- of koepelvormig.

Gewoonlik is net ongeveer een sewende tot een tiende van ’n ysberg bo die water sigbaar. Dit is veral waar van tafelvormige ysberge. Dit lyk nogal soos wanneer ’n ysblokkie in ’n glas water dryf. Maar hierdie verhouding van blootgestelde ys tot ondersese ys wissel na gelang van die vorm van die ysberg.

Antarktiese ysberge is geneig om tafelvormig en platsydig te wees, terwyl Arktiese ysberge dikwels ongelyk en toringvormig is. Hierdie laasgenoemdes, wat meestal van Groenland se groot ysbedekking af kom, hou die grootste gevaar vir die mens in, aangesien hulle in transatlantiese seeroetes kan indryf.

Presies hoe word ysberge voortgebring? In die noordelike en suidelike streke van die aarde oorskry die ophoping van sneeu en ysreën dikwels afsmelting en verdamping. Dit veroorsaak dat die lae sneeu wat op landoppervlaktes ontwikkel gletserys word. Jaar na jaar, namate meer sneeu en reën val, vind ’n voortdurende ophoping plaas. Dit skep ontsaglike ysvelde oor uitgestrekte landgebiede soos dié van Groenland. Uiteindelik word die ys so dik en hard dat dit die swaar gletser baie stadig van hoogliggende hange tot in valleie en eindelik tot in die see laat afgly. Bernard Stonehouse het hierdie verskuiwing in sy boek North Pole, South Pole beskryf en gesê: “Harde ys is elasties maar maklik vervormbaar; onder druk word die seshoekige kristalle daarvan in lyn gebring en gly dan op mekaar om die vloeiing en wegsakking te veroorsaak wat met gletsers gepaardgaan.”

Stel jou ’n rivier van ys voor wat baie stadig, soos koue melasse, oor ongelyke terrein beweeg. Hierdie reusagtige ysplaat, wat reeds diep vertikale krake het, sal verder beïnvloed word om iets buitengewoons voort te bring as dit eers die kuslyn bereik. Met die gesamentlike uitwerking van die styging en daling van die getye, bewegende golwe en onderwatererosie sal ’n reusagtige stuk varswaterys wat ongeveer 40 kilometer die see in kan strek met ’n groot lawaai van die gletser wegbreek. ’n Ysberg word gebore! Een waarnemer het dit as ’n “drywende kristalkasteel” beskryf.

In die Noordpool word daar jaarliks tussen 10 000 en 15 000 ysberge gevorm. Tog bereik betreklik min die suidelike waters langs die kus van Newfoundland. Wat gebeur met dié wat dit wel bereik?

Ysbergmigrasie

Nadat ysberge afgebreek het, neem die seestroom die meeste van hulle op ’n lang reis voordat dit party van hulle wes en suid laat draai en uiteindelik in die Labrador-see laat inbeweeg, wat die bynaam Ysbergstraat het. Ysberge wat behoue bly gedurende die ongeveer twee jaar waartydens hulle van hulle geboorteplek af tot in die oop Atlantiese Oseaan naby Labrador en Newfoundland dryf, het ’n kort lewensduur. Omdat hulle in warmer waters indryf, word hulle baie kleiner weens afsmelting, erosie en meer afbreking.

Op kenmerkende wyse smelt die ys gedurende die dag en versamel water in skeure. Gedurende die nag vries en sit die water in hierdie krake uit en veroorsaak dit dat stukke afbreek. Dit laat die vorm van die ysberg skielik verander en wysig die swaartepunt daarvan. Die ysmassa rol dan in die water om sodat ’n heeltemal nuwe ysbeeldwerk uitsteek.

Terwyl hierdie siklus voortduur en die yskastele deur splitsing nog kleiner word, maak hulle hulle eie ysberge wat ysbrokstukke, ongeveer so groot soos ’n gemiddelde huis, en ysbergies, ongeveer so groot soos ’n klein kamertjie, genoem word. Party kleiner ysbergies kan selfs in die vlak waters van die kuslyn en inhamme ronddryf.

Wat die omstandighede ook al mag wees, die omgewing in die suideliker waters sal veroorsaak dat die ysberg vinnig tot klein stukkies varswaterys verbrokkel en dan deel van die magtige oseaan word. Totdat dit gebeur, moet ysberge egter versigtig behandel word.

Hoe ysberge ons lewens raak

Vissermanne wat vir hulle bestaan op die oseaan staatmaak, is geneig om ysberge as ’n ergernis en ’n gevaar te beskou. Een visserman het gesê: “Die ysberg is dalk wat die toeriste graag wil sien, maar vir die visserman is dit ’n moontlike bedreiging.” Vissermanne het al teruggekeer om hul vangs na te gaan en dan gevind dat ’n ysberg, wat deur die gety en die seestroom meegevoer is, hulle kosbare nette en hulle vangs vernietig het.

Ysberge verdien respek. “Jy moet maar op ’n afstand bly”, sê die kaptein van ’n seilboot. “Ysberge is uiters onvoorspelbaar! Reusagtige dele kan van hoë ysberge afbreek, of wanneer dit die bodem tref, kan groot stukke afbreek en na jou toe opskiet. Die ysberg kan ook tol en rol, wat alles rampspoedig kan wees vir enigiemand wat dit te naby waag!”

Ysberge wat die seebodem skuur, is nog iets wat kommer wek. “As ’n ysberg se diepgang omtrent gelyk is aan die waterdiepte is dit bekend dat die onderkant daarvan lang en diep kanale uitgrawe. As dit gebeur waar daar vir olie geboor word, sal dit ’n verwoestende uitwerking hê op seebodeminstallasies soos die strukture wat oor oliebronne gebou word”, sê een waarnemer.

Teen dié tyd dink jy seker dat ons beter daaraan toe sou wees sonder ysberge. Maar die verhaal van die ysberg is hoegenaamd nie net negatief nie. Een Newfoundlander het gesê: “Jare gelede, voor verkoeling iets algemeens was, het mense in party klein kusdorpies klein stukkies van die ysberg gaan haal en dit in hulle putte gegooi om die water yskoud te hou. Nog ’n gebruik was om stukke ys van die ysberg in blikke saagsels te bewaar om met die vervaardiging van tuisgemaakte roomys te help.”

Toeriste word veral deur hierdie reusagtige berge van drywende gletserys aangetrek. Hulle soek uitkykpunte op Newfoundland se ongelyke kuslyn om ’n panoramiese uitsig oor die Atlantiese Oseaan te kry en hulle in hierdie seereuse te verlustig. Kameras klik om die oomblik op film vas te lê.

Ysberge het ook die potensiaal om ’n byna eindelose voorraad vars drinkwater te voorsien. Die suiwering en bottelering van ysbergwater kan in hierdie tyd van ongeëwenaarde waterbesoedeling uiteindelik ’n uitvoerbare onderneming word. Op groot skaal lyk dit dalk of ’n reusagtige “ysblokkie” eenvoudig opgespoor en vir verwerking hawe toe gesleep moet word. In werklikheid is dit ’n geweldige uitdaging waarvoor mense tot dusver nog lugtig is.

’n Wonder van Jehovah se skepping

Die Skepper van hemel en aarde vra: “Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn?” (Job 38:29). Elihu het geweet, want hy het vroeër gesê: “Deur die asem van God word ys gegee.”—Job 37:10.

Wanneer ons dus hierdie toringhoë, glinsterende wonders van die see aanskou, dink ons aan ons Skepper, wat hulle daar geplaas het. Ons sê soos die psalmis: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” Hy voeg by: “Wonderbaar is u werke!”—Psalm 104:24; 139:14.

Jehovah is waarlik ’n Skepper wat wonders verrig. Hoe graag wil ons hom tog beter leer ken! Ons kan dit doen deur op sy Woord ag te slaan.—Romeine 11:33.

[Venster op bladsy 18]

Internasionale Yswag

Ná die Titanic-passasierskipramp is die Internasionale Yswag (IYW) in 1914 gestig om die ligging van ysberge te bepaal, hulle beweging op grond van see- en windstrome te voorspel en dan yswaarskuwings aan die publiek te gee. Baie moeite is al gedoen om kennis van die kenmerke en gedrag van ys te versamel sodat beskerming teen hierdie kristalreuse van die see gebied kan word. Die tegnologie wat gebruik word, behels visuele en radarwaarneming deur vliegtuie, yswaarnemingsverslae deur kommersiële skepe, satellietfotografie en oseanografiese ontledings en voorspellings.

[Prent op bladsy 16, 17]

Spitsvormig

Koepelvormig

Tafelvormig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel