Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/8 bl. 4-8
  • Vigs versprei in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vigs versprei in Afrika
  • Ontwaak!—2002
  • Soortgelyke materiaal
  • Vooruitgang in die stryd teen vigs
    Ontwaak!—2004
  • Genesing vir vigs—Dringend nodig!
    Ontwaak!—2004
  • Vigs—Hoe om dit te bestry
    Ontwaak!—1998
  • “Die verwoestendste pandemie in die mensegeskiedenis”
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/8 bl. 4-8

Vigs versprei in Afrika

“Ons het te doen met ’n soort hedendaagse apokalips.”

DAARDIE woorde van Stephen Lewis, die VN se spesiale verteenwoordiger vir MIV/vigs in Afrika, beskryf die vrese wat baie oor die vigs-situasie in Afrika suid van die Sahara het.

Verskeie faktore dra by tot die verspreiding van MIV. En vigs het weer ander probleme vererger. Die toestande wat in party Afrikalande en ander wêrelddele heers waar vigs sy greep verstewig, hou dikwels met die volgende faktore verband.

Sedelikheid. Aangesien MIV hoofsaaklik deur seksuele kontak versprei word, bevorder ’n gebrek aan duidelike sedelike standaarde blykbaar die verspreiding van die siekte. Baie meen egter dat dit nie prakties is om aan te beveel dat ongetroudes hulle van geslagsomgang onthou nie. “Dit sal nie werk om net vir tieners te sê dat hulle nie seks moet hê nie”, skryf Francois Dufour in The Star, ’n Johannesburgse koerant. “Hulle word daagliks gebombardeer met seksuele beelde wat vir hulle sê hoe hulle moet lyk en hoe hulle moet optree.”

Dit lyk of hierdie waarneming deur die gedrag van jongmense bevestig word. ’n Opname in een land het byvoorbeeld getoon dat ongeveer ’n derde van jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 17 al geslagsomgang gehad het.

Verkragting is beskryf as ’n nasionale krisis in Suid-Afrika. ’n Berig in die Johannesburgse koerant The Citizen het gesê dat dit “so algemeen is dat dit elke ander gesondheidsgevaar oorskadu waarmee die vroue, en ook al hoe meer kinders, van hierdie land te kampe het”. Dieselfde berig het gesê: “Die verkragting van kinders het in onlangse tye verdubbel . . . Hierdie dade word blykbaar gepleeg as gevolg van die mite dat ’n MIV-draer genees sal word as hy ’n maagd verkrag.”

Seksueel oordraagbare siekte (SOS). Daar is ’n hoë voorkomssyfer van SOS’e in die streek. Die South African Medical Journal het gesê: “As iemand ’n SOS het, is sy kanse om met MIV-1 besmet te word, 2 tot 5 keer groter.”

Armoede. Baie lande in Afrika is in armoede vasgevang, en dit skep ’n gunstige klimaat vir die verspreiding van vigs. Wat dalk in ontwikkelde lande as basiese noodsaaklikhede beskou word, is nie in die meeste ontwikkelende lande beskikbaar nie. Groot gemeenskappe het nie elektrisiteit nie en geen toegang tot skoon drinkwater nie. In landelike gebiede is daar min of geen paaie nie. Baie mense lei aan wanvoeding, en daar is min mediese fasiliteite.

Vigs het ’n negatiewe impak op die sake- en nywerheidsektor. Namate meer werknemers besmet word, word mynmaatskappye deur verlore produksie geraak. Party oorweeg maniere om van hulle werksaamhede te outomatiseer en te meganiseer om hiervoor te vergoed. Volgens ’n skatting het die aantal vigs-gevalle in die jaar 2000 onder werknemers by een platinummyn byna verdubbel, en ongeveer 26 persent van die werkers was besmet.

’n Hartseer gevolg van vigs is die groot aantal kinders wat wees gelaat word wanneer hulle ouers aan die siekte sterf. Behalwe dat hierdie kinders hulle ouers en finansiële sekuriteit verloor, moet hulle ook die stigma verduur wat met vigs gepaardgaan. Uitgebreide familie of gemeenskappe is dikwels te arm of ongewillig om te help. Baie weeskinders hou op om skool toe te gaan. Party word prostitute en versprei sodoende die siekte verder. Verskeie lande het staats- of privaat programme op die been gebring om hierdie weeskinders te help.

Onkunde. ’n Groot aantal mense met MIV weet nie dat hulle besmet is nie. Baie wil nie daarvoor getoets word nie weens die stigma wat aan die siekte kleef. “Mense met MIV, of wat dit vermoedelik het, word soms by gesondheidsorgfasiliteite weggewys, behuising en werk geweier, deur hulle vriende en kollegas verwerp, versekeringsdekking afgewys of nie toegelaat om ander lande binne te gaan nie”, het ’n persverklaring van die Verenigde Nasies se Gesamentlike MIV/vigs-program (UNAIDS) gesê. Party is selfs vermoor toe hulle MIV-status bekend geword het.

Kultuur. In baie Afrika-kulture is vroue dikwels nie in ’n posisie om hulle maats oor buite-egtelike verhoudings uit te vra, seksuele kontak te weier of veiliger seksuele gebruike voor te stel nie. Kulturele beskouings weerspieël dikwels dat mense onkundig is oor vigs en die feite daaroor ontken. Die siekte word byvoorbeeld soms aan die toorkuns toegeskryf, en toordokters word moontlik geraadpleeg.

Onvoldoende mediese fasiliteite. Mediese fasiliteite wat reeds beperk is, word as gevolg van vigs selfs verder oorbelas. Twee groot hospitale berig dat meer as die helfte van hulle binnepasiënte MIV-positief is. Die hoof- mediese beampte van een hospitaal in KwaZulu-Natal het gesê dat sy sale 140 persent vol is. Soms moet twee pasiënte ’n bed deel, en ’n derde sal op die vloer onder die bed lê!—South African Medical Journal.

So tragies soos die situasie in Afrika is, is daar rede om te glo dat dit erger kan word. “Dit is nog die vroeë stadiums van die epidemie”, het Peter Piot van UNAIDS gesê.

Dit is duidelik dat sommige lande die siekte probeer beveg. En in Junie 2001 het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering vir die eerste keer ’n spesiale konferensie gehou om MIV/vigs te bespreek. Sal mensepogings suksesvol wees? Sal die vernietigende aanslag van vigs uiteindelik gestuit word?

[Venster/Prent op bladsy 5]

DIE VIGS-MIDDEL NEVIRAPIEN EN SUID-AFRIKA SE DILEMMA

Wat is nevirapien? Die joernalis Nicole Itano sê dat dit “’n antiretrovirale middel is wat volgens toetse die kanse dat vigs [van ’n moeder] na haar kind oorgedra word met die helfte kan verminder”. ’n Duitse farmaseutiese maatskappy het aangebied om dit vir die volgende vyf jaar kosteloos aan Suid-Afrika te voorsien. Maar teen Augustus 2001 het die regering nog nie die aanbod aanvaar nie. Wat is die probleem?

Suid-Afrika het 4,7 miljoen MIV-positiewe mense, meer as enige ander land in die wêreld. The Economist van Londen het in Februarie 2002 berig dat Suid-Afrika se president Thabo Mbeki “nie oortuig is van die algemeen aanvaarde beskouing dat vigs deur MIV veroorsaak word nie” en “onseker is oor die koste, veiligheid en nut van vigs-middels. Hy het dit nie verbied nie, maar Suid-Afrikaanse dokters word afgeraai om dit te gebruik.” Waarom is dit ’n groot rede tot kommer? Omdat duisende babas elke jaar in Suid-Afrika met MIV gebore word en 25 persent van swanger vroue die virus het.

As gevolg van hierdie teenstrydige beskouings is ’n regsaak aanhangig gemaak om die regering te dwing om nevirapien te versprei. Suid-Afrika se Konstitusionele Hof het in April 2002 sy uitspraak gelewer. Ravi Nessman sê in The Washington Post dat die hof beslis het dat “die regering die middel beskikbaar moet stel by gesondheidsentrums wat bevoeg is om dit toe te dien”. Hoewel die Suid-Afrikaanse regering die middel reeds by 18 loodssentrums regoor die land beskikbaar gemaak het, word daar gesê dat hierdie nuwe beslissing hoop bied vir al die MIV-positiewe swanger vroue in die land.

[Venster/Prent op bladsy 6]

’N SLINKSE VIRUS NEEM DIE SEL GEVANGE

Tree vir ’n oomblik in die mikroskopiese wêreld van die menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV). ’n Wetenskaplike het gesê: “Nadat ek baie jare lank virusdeeltjies onder ’n elektronmikroskoop ondersoek het, is ek nog steeds verwonderd en opgewonde oor die presisie en ingewikkelde ontwerp van iets wat so geweldig klein is.”

’n Virus is kleiner as ’n bakterie, wat weer baie kleiner is as die gemiddelde mensesel. Volgens een kenner is MIV so klein dat “230 miljoen [MIV-deeltjies] op die punt aan die einde van hierdie sin sal pas”. ’n Virus kan nie vermenigvuldig nie tensy dit ’n gasheersel binnedring en die sel se hulpbronne oorneem.

Wanneer MIV die menseliggaam binnedring, kom dit te staan voor die formidabele verdedigingsmeganismes van die immuunstelsel.a ’n Verdedigingstelsel wat bestaan uit witbloedselle, word in die beenmurg vervaardig. Die witbloedselle sluit twee hoofsoorte limfosiete in, wat as T-selle en B-selle bekend staan. Ander witbloedselle word fagosiete, of “vreetselle”, genoem.

Die verskillende soorte T-selle het verskillende funksies. Dié wat helper-T-selle genoem word, speel ’n belangrike rol in die oorlogstrategie. Helper-T-selle help om vreemde indringers te identifiseer en gee instruksies vir die vervaardiging van selle wat die vyand aanval en vernietig. MIV val veral hierdie helper-T-selle aan. Moord-T-selle word geaktiveer om besmette liggaamselle te vernietig. B-selle vervaardig teenliggaampies wat ingespan word in die stryd teen infeksies.

’n Slinkse strategie

MIV word as ’n retrovirus geklassifiseer. Die genetiese bloudruk van MIV is in die vorm van RNS (ribonukleïensuur) en nie DNS (deoksiribonukleïensuur) nie. MIV behoort tot ’n spesifieke subgroep retrovirusse wat as lentivirusse bekend staan omdat dit lank rustend kan bly voordat ernstige siektesimptome verskyn.

Wanneer MIV eers die gasheersel binnegedring het, kan dit die sel se meganisme tot sy eie voordeel gebruik. Dit “herprogrammeer” die DNS van die sel om MIV baie kere te repliseer. Maar voor dit kan gebeur, moet MIV ’n ander “taal” gebruik. Dit moet sy eie RNS in DNS verander sodat dit deur die gasheersel gelees en verstaan kan word. Om dit te doen, gebruik MIV ’n virale ensiem wat trutranskriptase genoem word. Mettertyd gaan die sel dood, maar eers nadat dit duisende MIV-deeltjies vervaardig het. Hierdie pas vervaardigde deeltjies besmet ander selle.

Wanneer die aantal helper-T-selle aansienlik gedaal het, kan ander agense die liggaam sonder weerstand oorweldig. Die besmette persoon kry allerhande siektes en infeksies. Hy het nou volskaalse vigs. MIV het daarin geslaag om die hele immuunstelsel lam te lê.

Dit is ’n vereenvoudigde verduideliking. ’n Mens moet in gedagte hou dat daar baie dinge is wat navorsers nie oor die immuunstelsel sowel as die werking van MIV weet nie.

Hierdie klein virus het byna twee dekades lank die verstandelike vermoëns en fisiese hulpbronne van die voorste mediese navorsers regoor die wêreld in beslag geneem, en groot onkoste was daaraan verbonde. Gevolglik is baie al omtrent MIV geleer. Die chirurg dr. Sherwin B. Nuland het ’n paar jaar gelede gesê: “Die hoeveelheid inligting wat . . . oor die menslike immuniteitsgebrekvirus ingewin is en die vooruitgang wat daarin gemaak is om ons teen die aanslag daarvan te beskerm, is niks minder as ongelooflik nie.”

Nietemin gaan die vernietigende aanslag van vigs teen ’n onrusbarende pas voort.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 2001, bladsye 13-15.

[Prent]

MIV dring die limfosiete van die immuunstelsel binne en herprogrammeer hulle om MIV te vervaardig

[Erkenning]

CDC, Atlanta, Ga.

[Prent op bladsy 7]

Duisende jongmense lewe wel volgens Bybelstandaarde

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel