“Die verwoestendste pandemie in die mensegeskiedenis”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
“Geen oorlog op aarde is so vernietigend soos die vigs-pandemie nie.”—AMERIKAANSE MINISTER VAN BUITELANDSE SAKE COLIN POWELL.
DIE eerste amptelike verslag oor vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) het in Junie 1981 verskyn. “Nie een van ons wat in die vroeë dae van vigs met die siekte gewerk het, kon ons voorstel dat die epidemie sulke afmetings sou aanneem nie”, sê Peter Piot, uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Gesamentlike MIV/vigs-program (UNAIDS). In 20 jaar het dit die grootste pandemie nog geword, en alles dui daarop dat dit sal voortgaan om uit te brei.
Volgens skatting is meer as 36 miljoen mense met MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) besmet, en nog 22 miljoen is reeds aan vigs-verwante oorsake dood.a In die jaar 2000 het daar wêreldwyd driemiljoen mense aan vigs gesterf, die hoogste syfer vir een jaar sedert die epidemie uitgebreek het. Dit is ten spyte van behandeling met antiretrovirale middels, veral in welgestelder lande.
Vigs teister Afrika
Afrika suid van die Sahara, waar ongeveer 25,3 miljoen besmet is, het die episentrum van die pandemie geword. In die jaar 2000 het daar in hierdie streek alleen 2,4 miljoen aan vigs-verwante oorsake gesterf, wat 80 persent van die wêreldtotaal is. Vigs is die vernaamste doodsoorsaak in die streek.b
Meer mense is in Suid-Afrika besmet as in enige ander land in die wêreld, ’n geskatte 4,7 miljoen. Elke maand word 5 000 MIV-positiewe babas hier gebore. In sy toespraak by die 13de Internasionale Vigs-konferensie, wat in Julie 2000 in Durban gehou is, het oudpresident Nelson Mandela gesê: “Ons was geskok om uit te vind dat 1 uit 2, met ander woorde die helfte, van ons jongmense in Suid-Afrika aan vigs sal sterf. Die skrikwekkendste ding is dat al hierdie besmettings, waarvan die statistiek ons vertel, en die gepaardgaande menselyding . . . verhoed kon, en kan, word.”
Vigs se aanslag in ander lande
Die aantal besmettings neem ook vinnig toe in Oos-Europa, Asië en op die Karibiese Eilande. Aan die einde van 1999 was 420 000 in Oos-Europa besmet. Teen die einde van die jaar 2000 het daardie syfer volgens ’n konserwatiewe skatting tot 700 000 toegeneem.
’n Opname wat in ses groot Amerikaanse stede gedoen is, het getoon dat 12,3 persent van jong homoseksuele mans MIV-positief is. Verder het slegs 29 persent van diegene wat MIV-positief is, geweet dat hulle besmet is. Die epidemioloog wat die opname gelei het, het gesê: “Dit was baie ontmoedigend om uit te vind dat so min MIV-positiewe mans geweet het dat hulle besmet is. Dit beteken dat mense wat onlangs besmet is, die virus onwetend oordra.”
By ’n vergadering van vigs-deskundiges in Mei 2001 in Switserland is hierdie siekte “die verwoestendste pandemie in die mensegeskiedenis” genoem. Soos vroeër gesê is, is vigs se aanslag in Afrika suid van die Sahara veral vernietigend. Ons volgende artikel bespreek die redes hiervoor.
[Voetnote]
a Hierdie syfers is skattings wat deur UNAIDS bekend gemaak is.
[Lokteks op bladsy 3]
‘Die skrikwekkendste ding is dat al hierdie besmettings en menselyding verhoed kon, en kan, word.’—NELSON MANDELA
[Prent op bladsy 2, 3]
Baie mense wat met MIV besmet is, weet dit nie
[Foto-erkenning op bladsy 3]
UN/DPI Photo 198594C/Greg Kinch