Sal vigs gestuit word? Indien wel, hoe?
IN BAIE Afrikalande word die vigs-epidemie al lank ontken. Dit is ’n onderwerp waaroor party mense liewer nie wil praat nie. Maar in onlangser jare is daar probeer om veral die jeug op te voed en om openhartige kommunikasie aan te moedig. Hierdie pogings het beperkte sukses gehad. Mense se lewenswyses en gebruike is diep gewortel, en dit is moeilik om veranderinge teweeg te bring.
Mediese vooruitgang
Op mediese gebied het wetenskaplikes baie oor MIV geleer en middels ontwikkel wat talle mense se lewe verleng het. ’n Kombinasie van ten minste drie antiretrovirale middels, wat beskryf word as hoogs aktiewe antiretrovirale behandeling, is met welslae gebruik.
Hoewel dit mense nie genees nie, het hierdie middels die sterftesyfer van MIV-lyers verminder, veral in ontwikkelde lande. Baie mense beklemtoon hoe belangrik dit is om hierdie middels aan ontwikkelende lande te voorsien. Maar die middels is duur, en die meeste mense in hierdie lande kan dit glad nie bekostig nie.
Dit het die volgende kwessie laat ontstaan: Is finansiële gewin belangriker as menselewe? Die direkteur van Brasilië se program oor MIV/vigs dr. Paulo Teixeira het die bestaan van hierdie situasie erken: “Ons kan nie net ter wille van baie groter winste duisende mense aan hulle lot oorlaat weens ’n gebrek aan lewensnoodsaaklike geneesmiddels nie.” Hy het bygevoeg: “Ek voel baie sterk daaroor dat kommersiële belange nie bo etiese en humanitêre oorwegings gestel moet word nie.”
’n Paar lande het besluit om van die patente van groot farmaseutiese maatskappye te ignoreer en generiese weergawes van party geneesmiddels teen ’n baie laer prys te maak of in te voer.a Volgens ’n studie is die “minimumpryse [van generiese middels] 82% laer as die Amerikaanse standaardpryse”, berig die South African Medical Journal.
Uitdagings wat behandeling bied
Mettertyd het die groot farmaseutiese maatskappye vigs-middels baie goedkoper aan behoeftige ontwikkelende lande begin aanbied. Dit is gedoen in die hoop dat baie meer mense die middels sal kan gebruik. Maar daar is groot struikelblokke wat oorkom moet word om sulke middels vryelik beskikbaar te maak in ontwikkelende lande. Een struikelblok is die koste wat daaraan verbonde is. Selfs teen drasties verminderde pryse is die middels nog gans te duur vir die meeste mense wat dit nodig het.
Nog ’n probleem is dat dit nie maklik is om die middels toe te dien nie. Baie pille moet daagliks op spesifieke tye geneem word. As dit nie volgens voorskrif geneem word nie of as die kursus onderbreek word, kan dit lei tot die ontwikkeling van soorte MIV wat teen geneesmiddels bestand is. Dit is moeilik om seker te maak dat mense die regte dosisse neem weens die toestande in Afrika, waar daar dalk ’n tekort aan voedsel, ’n gebrek aan skoon drinkwater en min mediese fasiliteite is.
Daarbenewens moet diegene wat die middels gebruik, gemonitor word. As hulle weerstand opbou, moet die kombinasie van middels verander word. Ervare mediese personeel is hiervoor nodig, en die toetse is duur. Die middels het ook newe-effekte, en vorme van die virus wat bestand is teen geneesmiddels, is besig om te ontwikkel.
Die VN se Algemene Vergadering het in Junie 2001 by ’n spesiale vergadering oor vigs voorgestel dat ’n Wêreldgesondheidsfonds gestig word om ontwikkelende lande te help. Daar is gereken dat tussen $7 miljard en $10 miljard hiervoor nodig is. Tot dusver is die beloofde skenkings vir hierdie fonds baie minder as die teikenbedrag.
Wetenskaplikes het groot verwagtinge om ’n entstof te vind, en verskeie entstowwe word in verskillende lande getoets. Selfs as hierdie pogings suksesvol is, sal dit etlike jare neem voor ’n entstof ontwikkel en getoets is en daar gewaarborg kan word dat dit veilig is vir algemene gebruik.
Sommige lande, soos Brasilië, Thailand en Uganda, het al heelwat sukses met behandelingsprogramme gehad. Brasilië het vigs-verwante sterftes met die helfte verminder deur plaaslik vervaardigde middels te gebruik. Botswana, ’n klein land wat die finansiële middele het, probeer om antiretrovirale middels aan almal wat dit in die land nodig het, te verskaf en noodsaaklike gesondheidsorgfasiliteite te voorsien.
Die oorwinning oor vigs
Vigs verskil in een belangrike opsig van party ander epidemies: Dit kan voorkom word. As mense bereid is om volgens basiese Bybelbeginsels te lewe, kan hulle in baie, indien nie alle gevalle nie, besmetting vermy.
Die Bybel se sedelike standaarde is duidelik. Diegene wat nie getroud is nie, moenie geslagsomgang hê nie (1 Korintiërs 6:18). Huweliksmaats moet getrou wees aan mekaar en nie egbreuk pleeg nie (Hebreërs 13:4). Gehoorsaamheid aan die Bybel se bevel om jou van bloed te onthou, dien ook as ’n beskerming.—Handelinge 15:28, 29.
Diegene wat reeds besmet is, kan groot vreugde en vertroosting vind as hulle kennis opdoen oor die siektevrye wêreld wat God vir die nabye toekoms belowe het, en hulle lewe dan na God se vereistes skik.
Die Bybel verseker ons dat al die mensdom se probleme, insluitende siekte, uiteindelik tot ’n einde sal kom. Hierdie belofte word in die boek Openbaring gemaak: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’”—Openbaring 21:3, 4.
Hierdie versekering is nie net vir diegene wat duur medikasie kan bekostig nie. Die profetiese belofte van Openbaring hoofstuk 21 word in Jesaja 33:24 bevestig: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.” Dan sal al die aarde se bewoners gehoorsaam wees aan God se wette en volmaakte gesondheid geniet. Die vernietigende aanslag van vigs—en alle ander siektes—sal dus vir ewig gestuit word.
[Voetnoot]
a Generiese middels is namaaksels van middels wat deur ander farmaseutiese maatskappye gepatenteer is. Lidlande van die Wêreldhandelsorganisasie het die reg om in noodsituasies patente op middels ter syde te stel.
[Venster/Prente op bladsy 9, 10]
DIT WAS DIE WARE GENESING WAARNA EK GESOEK HET
Ek woon in Suider-Afrika en is 23 jaar oud. Ek onthou die dag toe ek uitgevind het dat ek MIV-positief is.
Ek was saam met my ma in die spreekkamer toe die dokter vir ons vertel het. Dit was die hartseerste nuus wat ek nog gehoor het. Ek was verward. Ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink die laboratorium het miskien ’n fout gemaak. Ek was sprakeloos en het nie geweet wat om te doen nie. Ek wou huil, maar ek kon nie. Die dokter het oor die antiretrovirale middels en oor ander dinge met my ma begin praat, maar ek was te geskok om enigiets in te neem.
Ek het besef dat ek moontlik besmet is deur iemand by die universiteit waar ek ’n student was. Ek wou baie graag met iemand praat wat my situasie sou verstaan, maar ek kon aan niemand dink nie. Ek het gevoel dat ek niks werd en ’n mislukking is. Hoewel my gesin my ondersteun het, het ek hopeloos en bang gevoel. Soos enige ander jongmens het ek soveel drome gehad. Ek het nog net twee jaar oorgehad voordat ek my B.Sc.-graad sou kry, maar daardie hoop is verpletter.
Ek het die voorgeskrewe antiretrovirale middels begin neem en ook na vigs-voorligters gegaan, maar ek het nog steeds depressief gevoel. Ek het tot God gebid om my te help om die ware Christelike godsdiens voor my dood te vind. Ek het aan ’n Pinksterkerk behoort, maar niemand van die kerk het my eers besoek nie. Ek wou die waarheid weet oor waar ek ná my dood sou gaan.
Een oggend vroeg in Augustus 1999 het twee van Jehovah se Getuies aan my deur geklop. Ek was baie siek daardie dag, maar ek kon darem regop sit in die sitkamer. Die twee dames het hulle voorgestel en gesê dat hulle mense help om die Bybel te bestudeer. Wat ’n verligting was dit tog toe my gebede uiteindelik verhoor is. Maar teen daardie tyd was ek so swak dat ek nie kon lees of lank kon konsentreer nie.
Nietemin het ek vir hulle gesê dat ek graag die Bybel wil bestudeer, en hulle het gereël om my weer te kom sien. Maar voordat hulle teruggekom het, is ek ongelukkig weens my depressie na ’n psigiatriese hospitaal geneem. Ek is drie weke later ontslaan en was verlig om uit te vind dat die Getuies nie van my vergeet het nie. Ek onthou dat een van hulle my gereeld besoek het om te sien hoe dit met my gaan. Ek het liggaamlik ’n bietjie aangesterk, en teen die einde van die jaar het ek die Bybel begin bestudeer. Maar dit was nie vir my maklik nie, want my toestand was onstabiel. Die persoon wat met my studeer het, was egter simpatiek en geduldig.
Ek was baie beïndruk toe ek oor Jehovah en sy eienskappe in die Bybel leer, sowel as wat dit werklik beteken om hom te ken en om daarna uit te sien om vir ewig te lewe. Vir die eerste keer het ek ook verstaan waarom die mens ly. Dit het my baie bly gemaak om oor God se Koninkryk te leer, wat binnekort alle menseregerings sal vervang. Dit het my beweeg om my lewe heeltemal te verander.
Dit was die ware genesing waarna ek gesoek het. Hoe vertroostend was dit tog om te besef dat Jehovah my nog steeds liefhet en vir my omgee! Voorheen het ek gedink dat God my haat en dat dit die rede was waarom ek die siekte gekry het. Maar ek het geleer dat Jehovah liefdevol voorsiening gemaak het vir die vergifnis van sonde op grond van die losprysoffer van Jesus Christus. Ek het toe geweet dat God omgee, soos 1 Petrus 5:7 sê: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle.’
Ek probeer werklik hard om so na as moontlik aan Jehovah te kom deur die Bybel elke dag te bestudeer en vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Hoewel dit nie altyd maklik is nie, werp ek al my sorge in gebed op Jehovah en vra ek hom vir krag en om my te vertroos. Lede van die gemeente ondersteun my ook, en daarom is ek gelukkig.
Ek neem gereeld saam met die plaaslike gemeente aan die evangelisasiewerk deel. Ek wil ander geestelik help, veral dié wat hulle in ’n soortgelyke situasie as ek bevind. Ek is in Desember 2001 gedoop.
[Prent]
Dit het my baie bly gemaak om oor God se Koninkryk te leer
[Prent op bladsy 8, 9]
Vigs-voorligtingspan in Botswana
[Prent op bladsy 10]
Op die paradysaarde sal almal volmaakte gesondheid geniet