Gebruik geneesmiddels verstandig
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË
DIE vrou het gekla dat sy hoofpyn en maagpyn het. Die dokter het kortliks met haar gepraat. Toe het hy ’n driedaagse kursus inspuitings vir malaria voorgeskryf asook parasetamol (asetaminofen) om die hoofpyn te stil, twee geneesmiddels om wat skynbaar ’n maagseer was te verlig, kalmeermiddels vir haar spanning en laastens, op die koop toe, ’n reeks multivitamiene. Die rekening was hoog, maar die vrou het nie gekla nie. Sy is daar weg, gelukkig en vol vertroue dat die geneesmiddels haar probleme sou oplos.
Sulke konsultasies is nie ongewoon in Wes-Afrika nie. ’n Opname in ’n groot land daar het getoon dat gesondheidswerkers in openbare gesondheidsentrums gemiddeld 3,8 verskillende geneesmiddels per pasiënt per besoek voorskryf. Trouens, vir baie mense is ’n goeie dokter een wat baie medisyne voorskryf.
Die Wes-Afrikaanse vertroue in medisyne is moontlik te verstane wanneer ’n mens in ag neem hoe die gesondheidsituasie voorheen was. Meer as 40 jaar gelede het skrywer John Gunther oor vroeëre tye geskryf: “Hierdie Slawekus het nie net . . . swartes doodgemaak nie; dit het wittes ook doodgemaak en is die deel van Afrika wat in legendes die ‘Wit man se graf’ genoem word. Die muskiet was, eeue lank, die onbetwiste koning van die Guineekus. Geelkoors, swartwaterkoors, malaria, was hierdie koning se uitgesoekte en bose wapens. Die onheilspellende dodelikheid van die Weskusklimaat is nie iets wat tot die verre verlede behoort nie, maar ’n lewende herinnering. ’n Gewilde staaltjie beskryf die konsulêre beampte wat, nie te lank gelede nie, navraag gedoen het oor sy pensioen toe hy uitvind dat hy na Nigerië verplaas sou word. ‘Pensioen?’ het sy hoof in die Ministerie van Kolonies gevra. ‘My liewe vriend, niemand wat na Nigerië gaan, leef ooit lank genoeg om af te tree nie.’”
Tye het verander. Vandag is daar geneesmiddels wat nie net die siektes bestry wat deur muskiete versprei word nie, maar ook baie ander siektes. Entstowwe alleen het die sterftesyfer as gevolg van masels, kinkhoes, klem-in-die-kaak en witseerkeel skerp laat daal. Danksy entstowwe is pokke uitgewis. Polio kan binnekort ook ’n siekte wees wat tot die verlede behoort.
Dit is geen wonder dat baie Afrikane vandag ’n innige vertroue in die waarde van geneesmiddels het nie. So ’n vertroue is natuurlik nie tot Wes-Afrika beperk nie. In die Verenigde State skryf dokters elke jaar meer as 55 miljard voorskrifte uit. In Frankryk koop mense elke jaar gemiddeld 50 dosies pille. En in Japan bestee die gemiddelde mens jaarliks meer as R1700 aan medisyne.
Voordele versus gevare
Hedendaagse geneesmiddels het die mensdom grootliks gehelp. Wanneer dit reg gebruik word, bevorder dit goeie gesondheid, maar wanneer dit verkeerd gebruik word, kan dit ’n mens benadeel en selfs doodmaak. In die Verenigde State beland daar byvoorbeeld ongeveer 300 000 mense jaarliks in die hospitaal weens ongunstige reaksies op geneesmiddels, en 18 000 sterf.
Ten einde geneesmiddels verstandig te gebruik, is dit belangrik om te besef dat daar altyd gevaar aan verbonde is. Enige geneesmiddel, selfs aspirien, kan skadelike newe-effekte veroorsaak. Die waarskynlikheid van newe-effekte is groter as jy verskeie geneesmiddels gelyktydig neem. Voedsel en drank beïnvloed ook die werking van ’n geneesmiddel in jou liggaam en kan die uitwerking daarvan verhoog of neutraliseer.
Daar is ander gevare. Jy kan allergies reageer op ’n sekere geneesmiddel. As jy die geneesmiddels nie neem soos dit voorgeskryf word nie—die regte dosis vir die regte tydsbestek—sal dit jou heel moontlik nie help nie en kan dit jou selfs kwaad doen. Dieselfde kan gebeur as jou dokter die verkeerde geneesmiddel of onnodige geneesmiddels voorskryf. Dit kan jou ook kwaad doen as jy geneesmiddels gebruik wat verval het, substandaard is of nagemaak is.
Om die gevare te verminder, moet jy soveel moontlik weet van enige geneesmiddel wat jy neem. Dit kan jou baie help as jy die feite ken.
Antibiotika—voordele en nadele
Sedert antibiotika ongeveer 50 jaar gelede ontwikkel is, het dit die lewe van miljoene mense gered. Dit het gevreesde siektes, soos melaatsheid, tering, longontsteking, skarlakenkoors en sifilis, onderdruk. Dit speel ook ’n belangrike rol in die genesing van ander infeksies.
Dr. Stuart Levy, ’n professor in medisyne aan die Mediese Fakulteit van die Tufts-universiteit in die Verenigde State, het gesê: “[Antibiotika] het ’n omwenteling in geneeskunde teweeggebring. Dit is die enkele agens wat mediese geskiedenis die meeste verander het.” ’n Ander kenner op mediese gebied sê: “Dit is die hoeksteen waarop die hedendaagse geneeskunde gebou is.”
Maar voordat jy jou na jou dokter haas en ’n voorraad vra, moet jy op die negatiewe sy daarvan let. Wanneer antibiotika verkeerd gebruik word, kan dit jou meer kwaad as goed doen. Dit is omdat antibiotika werk deur bakterieë in die liggaam aan te val en te vernietig. Maar dit vernietig nie altyd al die skadelike bakterieë nie; sekere bakteriesoorte weerstaan die aanval. Hierdie weerstandbiedende soorte bly nie net leef nie, maar vermeerder en word van persoon tot persoon oorgedra.
Penisillien was eens byvoorbeeld uiters doeltreffend om infeksie stop te sit. Tans bemark medisynemaatskappye ’n paar honderd verskillende soorte penisillien, deels as gevolg van ’n toenemende aantal weerstandbiedende bakteriesoorte.
Wat kan jy doen om probleme te voorkom? As jy antibiotika werklik nodig het, moet jy sorg dat dit deur ’n gekwalifiseerde dokter voorgeskryf word en dat dit van ’n erkende bron verkry word. Moenie daarop aandring dat jou dokter sonder meer antibiotika moet voorskryf nie—hy of sy wil dalk hê dat jy laboratoriumtoetse ondergaan om seker te maak dat die een wat voorgeskryf word die regte vir jou siekte is.
Dit is ook belangrik dat jy die regte dosis vir die regte tydsbestek neem. Jy moet die hele kursus antibiotika neem, selfs al voel jy beter voordat dit klaar is.
Is inspuitings beter as tablette?
“Ek wil ’n inspuiting hê!” Hierdie woorde word deur baie gesondheidswerkers in ontwikkelende lande gehoor. Die grondslag vir so ’n versoek is die mening dat die medisyne direk in die bloedstroom ingespuit word en ’n doeltreffender genesing bewerk as tablette of pille. In sommige lande is dit iets algemeens om ‘inspuitingdokters’ wat nie geregistreer is nie by die markte te sien.
Inspuitings hou gevare in wat met pille en tablette nie die geval is nie. As die naald nie skoon is nie, kan die pasiënt met hepatitis, klem-in-die-kaak en selfs vigs besmet word. ’n Vuil naald kan ook ’n pynlike abses veroorsaak. Gevare neem toe as die inspuiting deur ’n onbekwame persoon toegedien word.
As jy werklik ’n inspuiting nodig het, moet jy sorg dat dit toegedien word deur iemand wat medies bekwaam is. Maak vir jou beskerming altyd seker dat die naald sowel as die spuit steriel is.
Nagemaakte geneesmiddels
Die wêreldwye farmaseutiese bedryf het ’n groot omset, en volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) lewer dit elke jaar ongeveer R740 miljard op. Gewetenlose mense wat gretig is om die situasie uit te buit, het nagemaakte medisyne vervaardig. Nagemaakte geneesmiddels lyk soos egte geneesmiddels—so ook hulle etikette en verpakkings—maar hulle is waardeloos.
Hoewel nagemaakte medisyne oral is, is dit veral in die ontwikkelende wêreld algemeen beskikbaar, en dit bring tragiese gevolge mee. In Nigerië het 109 kinders aan nierversaking gesterf nadat hulle ’n pynstillende stroop gedrink het wat ’n industriële oplosmiddel bevat het. In Mexiko het mense wat brandwonde opgedoen het hewige velinfeksies gehad as gevolg van sogenaamde geneesmiddels wat saagsels, koffie en vullis bevat het. In Birma kon talle dorpenaars aan malaria gesterf het omdat hulle ’n nagemaakte geneesmiddel gedrink het wat nie malariakoors teëwerk nie. “Diegene wat die grootste gevaar loop”, sê die WGO, “is weer eens die armstes, wat soms dink dat dit ’n winskopie is wanneer hulle ’n oënskynlik doeltreffende geneesmiddel koop wat deur ’n gerespekteerde maatskappy vervaardig word.”
Hoe kan jy jou teen nagemaakte geneesmiddels beskerm? Maak seker dat dit wat jy koop van ’n betroubare bron afkomstig is, soos ’n hospitaalapteek. Moenie by straatsmouse koop nie. ’n Apteker in Beninstad, Nigerië, waarsku: “Vir straathandelaars is die verkoop van geneesmiddels net ’n geldmakery. Hulle deel geneesmiddels uit asof dit lekkergoed of koekies is. Die geneesmiddels wat hulle smous, is dikwels verouderd of nagemaak. Hierdie mense weet niks van die geneesmiddels wat hulle verkoop nie.”
Die probleem van armoede
Die mediese behandeling wat iemand ontvang, word dikwels bepaal deur hoeveel geld hy het. Om koste te besnoei en tyd te spaar, sal mense in ontwikkelende lande miskien die dokter uitskakel en direk na die apteek gaan om geneesmiddels te koop waarvoor hulle volgens die wet ’n voorskrif moet hê. Omdat hulle die geneesmiddel al tevore gebruik het of omdat vriende dit aanbeveel, weet hulle wat hulle vir hulle siekte wil hê. Maar wat hulle wil hê, is miskien nie wat hulle nodig het nie.
Mense probeer koste ook op ander maniere besnoei. ’n Dokter laat ’n laboratoriumtoets doen en skryf ’n sekere geneesmiddel voor. Die pasiënt neem die voorskrif na die apteek, maar vind dat dit baie kos. In plaas van meer geld bymekaar te skraap, sal mense dus dikwels ’n goedkoper geneesmiddel koop of net party van die voorgeskrewe geneesmiddels koop.
Het jy werklik medikasie nodig?
As jy werklik medisyne nodig het, moet jy uitvind wat jy neem. Moenie verleë voel om die dokter of die apteker uit te vra oor die geneesmiddel wat voorgeskryf is nie. Jy het die reg om te weet. Dit is per slot van rekening jou liggaam wat benadeel kan word.
Indien jy jou medikasie nie reg gebruik nie, sal jy dalk nie beter word nie. Jy moet weet hoeveel om te neem, wanneer om dit te neem en hoe lank om dit te neem. Jy moet ook weet watter kossoorte, drinkgoed en ander medisyne of bedrywighede jy moet vermy wanneer jy dit neem. En jy moet bewus wees van moontlike newe-effekte en wat om te doen as hulle voorkom.
Hou ook in gedagte dat geneesmiddels nie die oplossing bied vir elke mediese probleem nie. Jy het miskien glad nie medisyne nodig nie. Die tydskrif World Health, ’n publikasie van die WGO, sê: “Gebruik medisyne net wanneer dit nodig is. Rus, gesonde kos en baie drinkgoed is dikwels genoeg om ’n persoon te help om beter te word.”
[Venster/Prent op bladsy 12]
“Duisend kwale vereis duisend kure”, het ’n Romeinse digter sowat 2000 jaar gelede geskryf. Vandag sou die digter dalk geskryf het: ‘Duisend kwale vereis duisend pille’! Trouens, dit lyk of daar ’n pil vir byna enige kwaal, eg of denkbeeldig, is. Volgens die Wêreldbank is daar wêreldwyd ongeveer 100 000 soorte geneesmiddels, wat van meer as 5000 aktiewe stowwe gemaak word.
[Venster/Prent op bladsy 13]
Die verstandige gebruik van medikasie
1. Moenie verouderde geneesmiddels gebruik nie.
2. Koop by ’n betroubare bron. Moenie by straatsmouse koop nie.
3. Maak seker dat jy die aanwysings verstaan en volg.
4. Moenie geneesmiddels gebruik wat vir ’n ander persoon voorgeskryf is nie.
5. Moenie op inspuitings aandring nie. Geneesmiddels wat deur die mond ingeneem word, werk dikwels net so goed.
6. Hou medisyne op ’n koel plek, buite die bereik van kinders.