Crazy Horse—’n berg word in ’n monument omskep
WAT het ’n briljante jong selfopgeleide Pools-Amerikaanse beeldhouer beweeg om die taak aan te pak om ’n berg in ’n afbeelding van ’n gerespekteerde Indianekryger te omskep? Dit was nie ’n haastige besluit nie, want Korczak Ziolkowski—dit was die beeldhouer se naam—het sewe jaar geneem om tot die besluit te kom.
In 1939 het Korczak ’n brief ontvang van ’n ou Lakota-Indianehoofman, Henry Standing Bear, wat in Suid-Dakota se Pine Ridge-Indianereservaat gewoon het. Die hoofman het hom gevra om ’n gedenkteken in die Black Hills van Suid-Dakota op te rig vir een van die legendariese Indianehoofmanne. Die Lakota-Indianestam beskou die Black Hills as heilige Indianegebied, en hulle was ongelukkig toe die beeldhouer Gutzon Borglum sy reusebeeldhouwerk van vier Amerikaanse presidente op Rushmoreberg, reg in die middel van hulle heilige Black Hills, voltooi het. Hoofman Standing Bear het aan Korczak geskryf: “Ek en my medehoofmanne wil hê die wit mense moet weet dat die rooihuide ook groot helde het.”
Waarom Crazy Horse?
Waarom het hulle Crazy Horse gekies?a Robb DeWall verduidelik: “Dit was die Indiane wat Crazy Horse vir die gedenkteken gekies het. Crazy Horse was die beliggaming van ’n ware Indiaan—’n buitengewone dapper kryger en ’n briljante militêre taktikus, blykbaar die eerste Indiaan wat die lokvalstelsel gebruik het. Hy . . het nooit ’n verdrag geteken nie en het nooit in die reservaat gaan woon nie.”
Wat het Korczak die idee vir sy ontwerp gegee? Hy het ’n storie gehoor oor Crazy Horse se antwoord aan ’n wit handelaar wat hom gespot het omdat hy nie in die reservaat wou gaan woon toe die meeste van die Lakota dit reeds gedoen het nie. Die handelaar het gevra: “Waar is jou land nou?” Crazy Horse “het na die horison gekyk, met sy vinger oor sy perd se kop gewys en trots gesê: ‘My land is waar my voorouers begrawe lê.’”
Die ligging van die gedenkteken
Die eerste taak was om die berg te kies wat omskep sou word in die grootste beeldhouwerk in die wêreld, selfs groter as dié by nabygeleë Rushmoreberg. In 1947 het Korczak en hoofman Standing Bear uiteindelik op ’n geskikte berg besluit. Dit was ’n bergpiek wat 200 meter hoog en 2 050 meter bo seevlak is. Korczak het dit Thunderheadberg genoem weens die ongewone wolkformasies wat partykeer bo die berg gevorm het. Hoe sou hulle toestemming kry om hierdie berg in ’n reusemonument vir ’n Indiaan te omskep?
DeWall verduidelik in die boek Korczak—Storyteller in Stone: “Enigeen kon aansoek doen vir ’n mynkleim in die Black Hills en in werklikheid die grond ‘besit’ solank $100 se waardasiewerk elke jaar gedoen is. Korczak het dit ironies gevind dat die staat nie omgegee het of die berg uiteindelik soos ’n Indiaan op ’n perd sou lyk nie, solank hy net elke jaar die vereiste waardasiewerk gedoen het.”
Hoeveel van die berg moes verwyder word?
Korczak, wat beperkte middele gehad het, het ’n reusetaak gehad, en aan die begin het hy alleen gewerk. Die eerste dinamietontploffing op 3 Junie 1948 het net tien ton rots weggeskiet. Van daardie eerste ontploffing tot 1994 is daar volgens skatting 8,4 miljoen ton rots uit die berg weggeskiet. Etlike honderde Indiane het die eerste ontploffing bygewoon, insluitende vyf van die nege oorlewendes van die bekende Slag van die Little Bighorn (25 Junie 1876).b
Korczak was ’n vasberade en toegewyde man. Hy het bome in die omgewing afgekap waarmee hy 741 trappe na die top van die berg gebou het, waar hy beplan het om die perd se kop met dinamiet uit te skiet en uit te kap. Hy het krag nodig gehad vir die boorhamer. Daarvoor het hy ’n ou petrolkompressor gebruik. Korczak moes ’n pyp, wat 8 sentimeter dik was, 620 meter ver oor die berg lei tot waar hy geboor het. Wanneer die kompressor sonder waarskuwing gaan staan het, moes hy teen al 741 trappe afklim om weer die motor aan die gang te kry. Die meeste wat hy op een dag heen en weer geklim het, was nege keer! Hy kon dit nie bekostig om iemand te betaal om die kompressor aan die gang te hou nie. Dit is duidelik dat hy groot stamina en vasbeslotenheid gehad het.
In 1951 het hy 660 liter wit verf gebruik om ’n buitelyn van die beplande beeldhouwerk teen die berghang te verf. Dit het dit vir besoekers makliker gemaak om die eindproduk te visualiseer.
’n Tragedie en ’n krisis
Gedurende die 1970’s en vroeë 80’s het Korczak hom daarop toegespits om genoeg rots uit te skiet om met die vorm van die perd se kop te begin. Hy het reeds twee hartaanvalle gehad (1968 en 1970). In die somer van 1982 het hy ’n suksesvolle vierdubbele hartomleidingsoperasie gehad. Toe was daar ’n tragedie—Korczak is skielik in Oktober van dieselfde jaar op die ouderdom van 74 oorlede. Wat sou nou met die ontsaglike Crazy Horse-projek gebeur? Sou dit tot ’n einde kom noudat die beeldhouer dood was?
Korczak het nooit verwag om sy werk self te voltooi nie. Hy het geweet dat dit meer as een leeftyd sou neem om die projek te voltooi en het dus gedetailleerde planne vir die werk gemaak. Sy vrou, Ruth, en hulle tien kinders was net so verbind tot die voltooiing van die monument as wat hy was. Ruth was van die begin af betrokke by die projek en het hom gehelp met sy berekeninge en ook in die fisiese aspekte van die werk.
Sy eerste prioriteit was om die perd se kop te voltooi. Maar sy dood het daardie plan verander. In 1987 het sy weduwee asook die direkteure van die niewinsgewende stigting, besluit om eers Crazy Horse se gesig te voltooi. Wat was die rede vir daardie verandering? Aangesien die gesig baie kleiner as die perd se kop was, sou dit vinniger en goedkoper voltooi kon word. Dit sou die publiek ook gouer ’n herkenbaarder beeld gee en miskien openbare steun vir die projek bevorder.
Ongelooflike dimensies
Crazy Horse se kop is 26,7 meter hoog en 18 meter wyd. Daar word beweer dat “al vier 20 meter hoë koppe op Rushmoreberg binne-in Crazy Horse se kop sal pas, en daar sal nog plek oor wees”! Volgens party bronne sal Crazy Horse, met sy uitgestrekte linkerarm en sy perd, die grootste beeldhouwerk in die wêreld wees—172 meter hoog en 195 meter lank. Die arm self sal 69 meter lank wees, en die wysvinger 11,4 meter lank en 3 meter dik.
Korczak wou nie staatsfondse vir sy projek aanvaar nie. By twee geleenthede het die staat hom 10 miljoen dollar aangebied, maar hy het dit geweier. DeWall sê dat Korczak “onwrikbaar gebly het by sy filosofie van vrye ondernemerskap. Gedurende sy leeftyd het hy meer as vyfmiljoen dollar op sy eie ingesamel en aan Crazy Horse bestee.” Hy het nie ’n salaris getrek nie en het nie ’n persoonlike uitgawerekening gehad nie.
Vandag moet motorgroepe toegangsgeld betaal terwyl individue en motorfietse minder betaal. Tans besoek meer as ’n miljoen mense Crazy Horse elke jaar. Baie toerusting en geld is al geskenk wat gehelp het om die projek aan die gang te hou.
Die Indianemuseum
By die Crazy Horse-terrein is daar die indrukwekkende Indianemuseum van Noord-Amerika, wat met plaaslike hout gebou is. Dit bevat duisende Indianeartefakte wat baie van die meer as 500 stamme van Noord-Amerika verteenwoordig. Daar is ook ’n groot biblioteek van naslaanwerke oor Amerikaanse Indiane, wat studente en geleerdes kan raadpleeg.
Amerikaanse Indiane, soos Priscilla Engen en Freda Goodsell (Oglala-Lakota), is ook byderhand om vrae te beantwoord en meer inligting te gee oor die kuns- en handewerk wat uitgestal word. Donovin Sprague, ’n universiteitsdosent en lid van die Miniconjou, ’n Lakota-stam, kan tydens besoeke geraadpleeg word. Hy is die agter, agterkleinseun van hoofman Hump, wat in 1876 deelgeneem het aan die Slag van die Little Bighorn.
Die toekoms van die Crazy Horse-gedenkteken?
’n Nuwe tuiste word beplan vir die museum. Korczak se oorspronklike idee was om die museum nader aan die voet van die monument en in die styl van ’n Navaho-hogan te hê. Dit sal ’n multiverdiepinggebou wees wat 110 meter in deursnee is. Daar is ook planne vir ’n universiteit en mediese opleidingsentrum vir Noord-Amerikaanse Indiane. Maar voor hierdie groot planne verwesenlik kan word, moet die Crazy Horse-monument self eers voltooi word. Hoe lank gaan dit neem? Korczak se vrou, Ruth, sê: “Ons kan nie enige datum noem nie, aangesien daar te veel veranderlikes is—die weer, hoe straf die winters is, finansies en ander faktore. Die belangrikste van alles is dat ons aanhou vordering maak om ons einddoel te bereik.”
[Voetnote]
a As ’n jong man was Crazy Horse (ca. 1840-77) bekend as His Horse Stands in Sight. “Dit was waarskynlik voor sy twintigste jaar dat hy die naam Crazy Horse [Tasunke Witko, Lakotataal] gekry het, en so het hy die derde, en die laaste, een in sy familie met daardie naam geword.” Sy pa en oupa voor hom het ook daardie naam gehad.—Encyclopedia of North American Indians.
b By daardie historiese veldslag het ’n gemengde leër van sowat 2 000 Teton Sioux (Lakotas) en Cheyennes luitenant-kolonel George Armstrong Custer en sy eenheid van 215 berede soldate uitgewis en die kavallerieversterkings onder majoor Marcus Reno en kaptein Frederick Benteen verslaan. Crazy Horse was een van die Indianeleiers in daardie veldslag.
[Prent op bladsy 14, 15]
Skaalmodel van Crazy Horse met die perd se kop wat teen die berghang geverf is
[Erkenning]
Bladsye 2 en 15: Korczak, Sculptor © Crazy Horse Memorial Fnd.
[Prent op bladsy 15]
Korczak en hoofman Henry Standing Bear op 3 Junie 1948. Agter hulle is die marmerskaalmodel en die berg voordat dinamietskietery begin het
[Erkenning]
Foto: Crazy Horse Memorial archives
[Prent op bladsy 16]
Die Ziolkowski-gesin. Vierde van regs is Ruth, Korczak se weduwee
[Erkenning]
Crazy Horse photo
[Prent op bladsy 17]
Binnekant van die Indianemuseum
[Prent op bladsy 16, 17]
Jaarlikse optog na die gesig van Crazy Horse
[Erkenning]
Foto’s deur Robb DeWall, met vergunning van Crazy Horse Memorial Foundation (niewinsgewend)
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Foto deur Robb DeWall, met vergunning van Crazy Horse Memorial Foundation (niewinsgewend)