Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/22 bl. 4-9
  • Waarom so kontroversieel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom so kontroversieel?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Embrionale stamselle
  • Waarom kommerwekkend?
  • Volwasse stamselle
  • Gesondheidsgevare en regeneratiewe geneeskunde
  • Nog ’n lang pad voor
  • Mediese wonder, etiese mynveld
    Ontwaak!—2002
  • Is enige lewensvorm werklik eenvoudig?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Die selle se vermoë om te spesialiseer
    Is dit ontwerp?
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/22 bl. 4-9

Waarom so kontroversieel?

IN DIE hande van ’n vaardige vakman kan ’n sagte stuk klei in feitlik enige voorwerp gevorm word. Embrionale stamselle is die lewende ekwivalent van daardie sagte stuk klei; dit het die potensiaal om in feitlik enige van die meer as 200 soorte selle van die menseliggaam te ontwikkel. Hoe gebeur dit? Kom ons kyk wat met ’n pas bevrugte eiersel gebeur.

Kort ná bevrugting begin ’n eiersel verdeel. By mense vorm ’n klein balletjie selle wat ’n blastosist genoem word, ná sowat vyf dae van selverdeling. Dit is basies ’n hol sfeer wat bestaan uit ’n buitenste sellaag en ’n klein trossie van ongeveer 30 selle wat die binneste selmassa genoem word en aan die binnewand van die sfeer geheg is. Die buitenste sellaag word die plasenta; die binneste selmassa die menslike embrio.

Maar in die blastosiststadium het die selle van die binneste selmassa nog nie in spesifieke soorte selle, soos senuwee-, nier- of spierselle, ontwikkel nie. Gevolglik word dit stamselle genoem. En omdat feitlik al die verskillende soorte liggaamselle daaruit ontwikkel, word dit as pluripotent beskryf. Om te verstaan waarom stamselle soveel opgewondenheid en meningsverskille uitlok, sal dit goed wees om te kyk wat navorsers tot dusver gedoen het en wat hulle doelwitte is. Kom ons begin by embrionale stamselle.

Embrionale stamselle

Die verslag Stem Cells and the Future of Regenerative Medicine sê: “In die laaste 3 jaar het dit moontlik geword om hierdie [menslike embrionale] stamselle uit die blastosist te verwyder en dit in ’n ongedifferensieerde toestand in selkultuurlyne in die laboratorium te bewaar.”a Eenvoudig gestel, embrionale stamselle kan gekweek word sodat dit in ’n onbeperkte aantal identiese selle verdeel. Embrionale stamselle wat van muise verkry en die eerste keer in 1981 gekweek is, het miljarde identiese selle in die laboratorium voortgebring!

Omdat al hierdie selle ongedifferensieerd bly, hoop wetenskaplikes dat hulle met die regte biochemiese aktiveerders stamselle kan manipuleer om in feitlik al die soorte selle te ontwikkel wat nodig is vir weefselvervangingsbehandeling. Eenvoudig gestel, stamselle word beskou as ’n potensiële bron van onbeperkte ‘liggaamsonderdele’.

In twee studies het navorsers embrionale stamselle gemanipuleer om insulienvervaardigende selle te word, wat toe in diabetiese muise oorgeplant is. In een studie is die simptome van diabetes omgekeer, maar in die ander het die nuwe selle nie genoeg insulien vervaardig nie. In soortgelyke studies het wetenskaplikes ’n mate van sukses daarin gehad om senuwerking in gevalle van rugmurgbeserings te herstel en die simptome van Parkinson se siekte teë te werk. “Hierdie studies bied hoop”, sê die Nasionale Akademie vir Wetenskappe, “maar dit lewer nie afdoende bewys dat soortgelyke behandelings vir mense sal werk nie.” Maar waarom is navorsing oor menslike embrionale stamselle so kontroversieel?

Waarom kommerwekkend?

Die grootste beswaar is dat die embrio in werklikheid vernietig word wanneer embrionale stamselle geoes word. Dit, verduidelik die Nasionale Akademie vir Wetenskappe, “maak dit onmoontlik vir ’n menslike embrio om ’n ten volle ontwikkelde mens te word. Vir diegene wat glo dat ’n menselewe met die oomblik van bevrugting begin, skend ESS-navorsing [“embrionale stamsel”-navorsing] beginsels wat dit onaanvaarbaar maak om menselewe te vernietig of dit vir enige ander doeleinde te gebruik, ongeag hoe edel daardie doeleinde is.”

Waar kry laboratoriums die embrio’s waaruit stamselle verkry word? Gewoonlik by klinieke waar vroue eierselle vir kunsmatige bevrugting skenk. Oorblywende embrio’s word gewoonlik gevries of weggegooi. Een kliniek in Indië gooi elke jaar meer as 1 000 menslike embrio’s weg.

Hoewel navorsing oor embrionale stamselle voortgesit word, spits party navorsers hulle toe op ’n baie minder kontroversiële soort stamsel—die volwasse stamsel.

Volwasse stamselle

“Die volwasse stamsel”, sê die Nasionale Gesondheidsinstitute (NIH) in die Verenigde State, “is ’n ongedifferensieerde (ongespesialiseerde) sel wat in gedifferensieerde (gespesialiseerde) weefsel gevind word”, soos beenmurg, bloed en bloedvate, die vel, die rugmurg, die lewer, die maagdermkanaal en die pankreas. Volgens aanvanklike navorsing het dit gelyk of volwasse stamselle baie meer beperk is as embrionale stamselle. Maar volgens latere bevindinge uit proefnemings met diere lyk dit of sekere soorte volwasse stamselle tot weefsel kan ontwikkel wat verskil van die weefsel waaruit dit verkry is.

Volwasse stamselle wat uit bloed en beenmurg verkry is en hemopoïetiese stamselle (HSS’e) genoem word, het die vermoë om “hulleself voortdurend in die beenmurg te hernieu en in al die soorte selle te differensieer wat in die bloed gevind word”, sê die Nasionale Akademie vir Wetenskappe. Hierdie soort stamsel is reeds gebruik om leukemie en ’n aantal ander bloedsiektes te behandel.b Party wetenskaplikes beweer ook nou dat HSS’e blykbaar ontwikkel tot niebloedselle, soos lewerselle en selle wat ooreenkom met neurone en ander soorte selle wat in die brein gevind word.

Navorsers in die Verenigde State het ’n ander soort stamsel gebruik wat uit die beenmurg van muise verkry is en het blykbaar nog ’n belangrike deurbraak gemaak. Hulle studie, wat in die tydskrif Nature gepubliseer is, het getoon dat hierdie selle blykbaar “net so veelsydig soos embrionale stamselle” is, volgens The New York Times. “In beginsel”, voeg die artikel by, kan hierdie volwasse stamselle “alles doen wat van embrionale stamselle verwag word”. Maar navorsers wat met volwasse stamselle werk, kom nog steeds voor groot struikelblokke te staan. Hierdie selle is seldsaam en moeilik om te identifiseer. Aan die ander kant sal enige mediese voordele wat moontlik daaruit voortspruit, nie die vernietiging van menslike embrio’s tot gevolg hê nie.

Gesondheidsgevare en regeneratiewe geneeskunde

Watter soort stamselle ook al vir behandelings gebruik word, dit sal nog steeds ernstige tekortkominge hê—selfs al bemeester wetenskaplikes die prosesse waaruit weefsel vir oorplanting verkry word. ’n Groot struikelblok is dat die pasiënt se immuunstelsel vreemde weefsel verwerp. Tans word sterk middels toegedien wat die immuunstelsel onderdruk, maar sulke middels het ernstige newe-effekte. Hierdie probleem kan moontlik deur genetiese manipulering oorkom word as stamselle gewysig kan word sodat weefsel wat daardeur gevorm is, nie deur die nuwe gasheer as vreemde weefsel geïdentifiseer word nie.

’n Ander moontlikheid is dalk om stamselle van die pasiënt se eie weefsel te gebruik. In vroeë kliniese eksperimente is hemopoïetiese stamselle reeds op hierdie manier gebruik om lupus te behandel. Diabetes kan op soortgelyke maniere behandel word, solank die nuwe weefsel nie vatbaar is vir dieselfde outo-immuunaanval wat moontlik die siekte in die eerste plek veroorsaak het nie. Mense met sekere hartkwale kan moontlik ook by stamselbehandeling baat vind. Een voorstel is dat pasiënte wat hiervoor vatbaar is, hulle eie stamselle voor die tyd kan skenk sodat dit gekweek en later gebruik kan word om beskadigde hartweefsel te vervang.

In ’n poging om die probleem van immuunverwerping op te los, het sommige wetenskaplikes selfs voorgestel om pasiënte te kloon, maar om die klone dan net tot die blastosiststadium te laat ontwikkel, wanneer embrionale stamselle geoes kan word. (Sien die venster “Hoe ’n kloon gemaak kan word”.) Weefsel wat van hierdie stamselle gekweek word, se genetiese samestelling sal identies wees aan dié van die skenker-ontvanger en sal dus nie ’n immuunreaksie veroorsaak nie. Behalwe dat dit vir baie mense uit ’n sedelike oogpunt afstootlik is, sal dit tevergeefs wees om ’n geneties oorgedraagde, of oorerflike, siekte met sulke kloning te probeer genees. Die Nasionale Akademie vir Wetenskappe het die immuunprobleem opgesom toe hulle gesê het: “Voordat oorgeplante selle vir regeneratiewe geneeskunde gebruik kan word, moet ons ’n manier vind om te voorkom dat dit verwerp word; dit is een van die grootste uitdagings vir navorsers in hierdie veld.”

Met embrionale stamseloorplanting bestaan die gevaar ook dat gewasse kan vorm, veral ’n gewas wat ’n teratoom genoem word en “monstergewas” beteken. Hierdie gewas kan bestaan uit verskillende soorte weefsel, soos vel, haar, spier, kraakbeen en been. Gedurende normale groei, volg selverdeling en -spesialisasie ’n definitiewe genetiese program. Maar hierdie prosesse kan skeef loop wanneer stamselle uit die blastosist verwyder, kunsmatig gekweek en later in ’n lewende mens of dier ingeplant word. Dit is nog een van die groot struikelblokke wat navorsers te bowe moet kom om die geweldig komplekse prosesse van selverdeling en -spesialisasie kunsmatig te bemeester.

Nog ’n lang pad voor

Die verslag Stem Cells and the Future of Regenerative Medicine sê: “Weens ’n wanbegrip oor die vlak van kennis dink baie mense dalk verkeerdelik dat die algemene kliniese toepassing van nuwe behandelings binnekort ’n werklikheid sal wees. Trouens, stamselnavorsing staan nog in sy kinderskoene, en daar is groot leemtes in kennis wat gevul moet word voordat nuwe behandelings met behulp van volwasse of embrionale stamselle ’n werklikheid kan word.” Dit is duidelik dat daar meer vrae as antwoorde is. Party wetenskaplikes “staal hulle [selfs] vir ’n negatiewe reaksie as hulle nie met behandelings vorendag kom nie”, sê ’n berig in The New York Times.

Afgesien van stamselnavorsing, het die geneeskunde in onlangse dekades op baie gebiede groot vooruitgang gemaak. Maar soos ons gesien het, laat sommige van hierdie deurbrake ingewikkelde sedelike en etiese kwessies ontstaan. Waarheen kan ons ons dus wend vir betroubare leiding oor hierdie sake? Daarbenewens word behandelings en medikasie ook duurder namate navorsing meer gesofistikeerd en duurder raak. Party navorsers het reeds geskat dat stamselbehandeling miljoene rande per pasiënt kan kos. Maar miljoene mense kan reeds nie stygende mediese koste en versekeringspremies bekostig nie. Wie sal dus werklik daaruit voordeel trek as en wanneer die stamselrevolusie klinieke bereik? Net die tyd sal leer.

Waarvan ons egter seker kan wees, is dat geen behandeling wat sy oorsprong by die mens het, siekte en die dood uit die weg sal ruim nie (Psalm 146:3, 4). Net ons Skepper het die mag om dit te doen. Maar is hy van voorneme om dit te doen? Die volgende artikel gee die Bybel se antwoord op hierdie vraag. Dit bespreek ook hoe die Bybel ons kan lei deur die doolhof van al hoe ingewikkelder sedelike en etiese kwessies wat vandag ontstaan, selfs dié van ’n mediese aard.

[Voetnote]

a Die verslag is in 2001 voorberei deur verskeie komitees en rade vir die Nasionale Akademie vir Wetenskappe in die Verenigde State.

b Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1985, bladsy 30, vir ’n bespreking van skriftuurlike en ander kwessies wat met beenmurgoorplantings verband hou.

[Venster/Prent op bladsy 6]

’n Ander bron van stamselle

Behalwe volwasse en embrionale stamselle is embrionale kiemselle ook al geïsoleer. Embrionale kiemselle word verkry uit die selle in die gonadale rant van ’n embrio of ’n fetus, waaruit eier- of spermselle voortspruit. (Die gonadale rant word die eierstokke of testikels.) Hoewel embrionale kiemselle in baie opsigte van embrionale stamselle verskil, is albei pluripotent, met ander woorde, feitlik alle soorte selle kan daaruit ontwikkel. Hierdie vermoë maak pluripotente selle uiters geskik vir die ontwikkeling van ongekende mediese behandelings. Maar die opgewondenheid oor sulke potensiële behandelings word gedemp omdat die bron van hierdie selle so ’n kontroversiële kwessie geword het. Dit word verkry van afgedryfde fetusse of van embrio’s. Fetusse en embrio’s word dus vernietig om hierdie selle te verkry.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Hoe ’n kloon gemaak kan word

In onlangse jare het wetenskaplikes verskillende soorte diere gekloon. In 2001 het ’n laboratorium in die Verenigde State selfs ’n mens probeer kloon, maar dit was onsuksesvol. Een manier waarop wetenskaplikes klone maak, is deur middel van ’n proses wat kernoordrag genoem word.

Hulle neem eerstens ’n onbevrugte eiersel van ’n vroulike dier (1) en verwyder die selkern (2), wat die DNS bevat. Daarna neem hulle ’n geskikte liggaamsel van die dier wat gekloon gaan word, soos ’n velsel (3), waarvan die kern die genetiese bloudruk van die dier bevat. Hierdie sel (of net sy kern) word in die ontkernde eiersel ingeplant en ’n elektriese stroom word daardeur gestuur (4). Dit laat die sel en die eiersel se sitoplasma saamsmelt (5). Met sy nuwe kern verdeel die eiersel nou en groei dit asof dit bevrug was (6), en ’n kloon van die dier waaruit die liggaamsel verkry is, begin ontwikkel.c

Die embrio kan dan in die baarmoeder van ’n surrogaatmoeder ingeplant word (7), waar dit, in die uitsonderlike geval wanneer niks verkeerd loop nie, tot volle ontwikkeling kom. Andersins word die embrio slegs gehou totdat die binneste selmassa gebruik kan word om embrionale stamselle te oes wat in ’n kultuurmedium bewaar kan word. Wetenskaplikes dink dat hierdie proses met mense behoort te werk. Trouens, die bogenoemde poging om ’n mens te kloon, is gedoen met die doel om embrionale stamselle te verkry. Kloning wat met hierdie doel gedoen word, word terapeutiese kloning genoem.

[Voetnoot]

c Dolly die skaap was die eerste soogdier wat van ’n volgroeide sel gekloon is. Wetenskaplikes het die kern van ’n melkkliersel van ’n volwasse skaap in ’n ontkernde eiersel ingeplant.

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

1 → 2 → 3 → 4 → 5 → 6 → 7

[Diagram op bladsy 7]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Embrionale stamselle (Vereenvoudig)

Bevrugte eier (dag 1)

↓

Vier selle (dag 3)

↓

Blastosist met binneste stamselmassa (dag 5)

↓

Gekweekte stamselle

↓

Meer as 200 verskillende soorte selle in die menseliggaam

→ Skildklierselle

→ Pankreassel (kan help om diabetes te genees)

→ Pigment-selle

→ Rooibloed-selle

→ Nierselle

→ Skelet-spierselle

→ Hartspierselle (kan ’n beskadigde hart genees)

→ Longsel

→ Senusel (kan gebruik word om Alzheimer en Parkinson se siekte asook rugmurg-beserings te behandel)

→ Velselle

[Erkennings]

Blastosist en gekweekte stamselle: University of Wisconsin Communications; alle ander kunswerk: © 2001 Terese Winslow, assisted by Lydia Kibiuk and Caitlin Duckwall

[Diagram op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Volwasse stamselle (Vereenvoudig)

Stamselle wat in beenmurg gevind word

→ Limfosiete

→ Eosinofiel

→ Rooibloed-selle

→ Bloed-plaatjies

→ Monosiet

→ Basofiel

→ Potensieel baie ander selle

→ Senusel

[Erkenning]

© 2001 Terese Winslow, assisted by Lydia Kibiuk and Caitlin Duckwall

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel