Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 2/8 bl. 14-15
  • ’n Heining wat die weer beïnvloed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Heining wat die weer beïnvloed
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verlore stryd
  • ’n Monument van die mens se deursettingsvermoë
  • Nie ’n volslae mislukking nie
  • ’n Onvoorsiene invloed op die weer
  • Konyne en paddas—Indringers in ’n vasteland
    Ontwaak!—2005
  • Bly in God se liefde
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Voeg ’n tikkie kleur by
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 2/8 bl. 14-15

’n Heining wat die weer beïnvloed

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

DIT het die staat Wes-Australië vroeër van bo tot onder verdeel. Toe hierdie 1 830 kilometer lange heining van hout en draad in 1907 voltooi is, was dit die langste struktuur van sy soort in die wêreld. Die amptelike naam was die No. 1 Rabbit Proof Fence (Konynheining nr. 1).

Soos die naam te kenne gee, is die heining aanvanklik opgerig om die plaag konyne te keer wat gedurende die laat 19de eeu na die weste van Australië gestroom het. ’n Groot deel van hierdie honderd jaar oue versperring bestaan vandag nog. Maar in onlangse jare het wetenskaplikes om ’n heeltemal ander rede groot belangstelling daarin getoon. Dit lyk of hierdie mensgemaakte versperring plaaslike weerpatrone indirek beïnvloed.

Kom ons kyk na die geskiedenis van hierdie merkwaardige struktuur voordat ons bespreek hoe ’n heining van bietjie hoër as ’n meter so ’n invloed kan hê.

’n Verlore stryd

In die stryd om die konyne te keer, het tot 400 werkers tussen 1901 en 1907 geswoeg om die konynheining op te rig. “Sowat 8 000 ton boumateriaal is per skip vervoer en toe per spoor na depots gestuur voordat spanne perde, kamele en esels dit na die afgeleë bouterreine geneem het”, sê die Wes-Australiese Landboudepartement.

Werkers het die plantegroei in ’n drie meter breë strook aan weerskante van die heining verwyder. Van die afgekapte bome is as heiningpale gebruik, en waar daar geen bome was nie, is ysterpale gebruik. Toe die heining klaar was, was daar nie net ’n versperring vir konyne nie, maar ook ’n grondpad wat oor die hele vasteland gestrek het.

Die heining het soos ’n yslike net gewerk, deurdat dit die konyne in vangkampe ingelei het, waar hulle doodgegaan het. Maar die konyne het oor dele van die heining geklim. Hoe? In hulle onstuitbare trek na die weste het baie oor die karkasse van ander konyne wat hoog teen die draad opgehoop was, geklim en op hierdie manier oor die heining gekom. Nog twee heinings is opgerig wat uit die eerste heining vertak. Die gesamentlike netwerk van heinings het oor 3 256 kilometer gestrek.

’n Monument van die mens se deursettingsvermoë

’n Handjie vol heiningpatrolleerders, soos F. H. Broomhall, het hierdie ontsaglike versperring gepatrolleer. In sy boek The Longest Fence in the World sê Broomhall: “Die pligte van die patrolleerder . . . was om die Heining en die pad wat langs dit loop, in stand te hou . . . , om bossies en bome tot die vereiste breedte weerskante van die Heining af te kap [en] om die hekke, wat ongeveer 20 myl [32 kilometer] van mekaar af was, in ’n goeie toestand te hou en om [konyne] uit die vangkampe te verwyder.”

Die heiningpatrolleerder het seker een van die eensaamste werke in die wêreld gehad. Met net sy kamele as geselskap moes elke patrolleerder na kilometers van die heining omsien, wat gelyk het of dit tot by die horison strek en geen einde het nie. Party patrolleerders het nie eers die geselskap van kamele gehad nie, aangesien hulle met ’n fiets op die hobbelrige paaie al langs hulle deel van die heining moes ry. Vandag word die oorblywende deel van die heining in die betreklike gerief van vierwielaangedrewe voertuie gepatrolleer.

Nie ’n volslae mislukking nie

Hoewel die heining miskien nie die konynplaag gestuit het nie, was dit ’n doeltreffende versperring teen ’n ander probleemdier—een van Australië se inheemse voëls, die emoe. In 1976 het meer as 100 000 van hierdie groot, nievlieënde voëls besluit om na die vrugbare landerye wes van die heining te trek. Die heining het hulle vordering gestuit, en hoewel 90 000 voëls van kant gemaak moes word, is ’n groot deel van daardie jaar se oes teen ’n ramp beskerm.

Sedert daardie krisis is 1 170 kilometer van die heining versterk of geskuif om Wes-Australië se kwesbare landerye teen trekkende emoes en swerwende troppe wildehonde te beskerm.a Gevolglik het die heining ’n skeidslyn geword. Oos van die heining lê die onbewerkte wildernis van Australië se hartland. In die weste is die netjiese landerye wat die mens aangeplant het.

’n Onvoorsiene invloed op die weer

Dit is hierdie groot verskil in die plantegroei wat moontlik verklaar waarom die heining blykbaar die weer beïnvloed. Die wetenskaptydskrif The Helix sê: “Hoe ongelooflik dit ook al klink, reënval het oos van die heining toegeneem en wes van die heining afgeneem.” Die inheemse plantegroei in die ooste het dus ’n konstante natuurlike watervoorraad, terwyl boere in die weste al hoe meer op besproeiing moet staatmaak. Die tydskrif gee ’n moontlike rede vir hierdie veranderinge en verduidelik: “Die gesaaides met hulle vlak wortels in die bewerkte gebiede wasem nie soveel water uit soos die inheemse plantegroei met hulle dieper wortels nie.”

Tom Lyons, ’n professor in weerkunde, lewer kommentaar oor nog ’n faktor en sê: “Ons teorie is dat die inheemse plantegroei, omdat dit soveel donkerder as die landerye is, meer hitte in die atmosfeer vrystel wat tot . . . lugstrome aanleiding gee, wat weer tot wolkvorming bydra.”

Die konynheining het miskien nie die boere van Wes-Australië teen die konynplaag beskerm nie, maar die invloed wat dit blykbaar op die weer het en die lesse wat dit ons leer oor hoe belangrik langtermyngrondbestuur is, kan in die toekoms dalk nog nuttig wees.

[Voetnoot]

a Hierdie heining staan nou bekend as die State Barrier Fence.

[Kaart op bladsy 14, 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Konynheining nr. 1

[Prent op bladsy 15]

Konyne

[Prent op bladsy 15]

’n Heiningpatrolleerder, vroeg in die 20ste eeu

[Prent op bladsy 15]

Emoes

[Prent op bladsy 15]

Die Konynheining nr. 1 strek oor 1 833 kilometer en was vroeër die langste ononderbroke heining in die wêreld. Die heining skei die wildernis van die landerye en beïnvloed sodoende die weer

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Alle kleurfoto’s: Department of Agriculture, Western Australia; middel bo: Courtesy of Battye Library Image number 003582D

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel