Wonderlike sintuie in die diereryk
TERWYL die muis rondskarrel op soek na kos, voel hy veilig in die donker. Maar hy is nie bewus van die groefkopadder se vermoë om die hitte te “sien” wat sy warm liggaam uitstraal nie—’n noodlottige fout. ’n Botvis is heeltemal weggesteek onder ’n laag sand in ’n haaitenk, waar ’n honger haai in sy rigting swem. Die haai kan nie die botvis sien nie; maar in ’n oogwink duik hy na onder, grawe hy met sy neus in die sand en verslind hy sy prooi.
Ja, die groefkopadder en die haai is voorbeelde van diere met gespesialiseerde sintuie wat mense nie het nie. Daarenteen het baie diere sintuie wat soos ons s’n is, maar wat sensitiewer is of ’n ander spektrum van prikkels kan waarneem. Oë is ’n goeie voorbeeld hiervan.
Oë wat ’n ander wêreld sien
Die verskillende kleure wat ons oë kan sien, is maar net ’n fraksie van die elektromagnetiese spektrum. Ons oë kan byvoorbeeld nie infrarooistraling, wat ’n langer golflengte as rooi lig het, sien nie. Maar groefkopadders het twee klein organe, of groewe, tussen hulle oë en neusgate waarmee hulle infrarooistraling kan waarneem.a Daarom kan hulle selfs in die donker ’n warmbloedige prooi raakpik.
Anderkant violet op die sigbare spektrum is ultravioletlig (UV-lig). Hoewel ons nie UV-lig kan sien nie, is dit sigbaar vir baie diere, insluitende voëls en insekte. Bye oriënteer hulleself byvoorbeeld met behulp van die son—selfs op ’n gedeeltelik bewolkte dag wanneer dit nie gesien kan word nie—deur ’n stukkie blou lug te vind en na die patroon te kyk wat deur gepolariseerde UV-lig gevorm word. Baie blomplante het patrone wat slegs in die UV-spektrum sigbaar is, en party blomme het selfs ’n “nektarmerker”—’n deel wat opvallend anders is omdat dit minder UV-lig as die res van die blom weerkaats—om vir insekte te wys waar die nektar is. Sekere vrugte en sade lok voëls op ’n soortgelyke manier.
Omdat voëls in die UV-spektrum sien en omdat hierdie lig hulle vere helderder laat lyk, lyk voëls waarskynlik kleurvoller vir mekaar as vir ons. Hulle neem ’n visuele “intensiteit waar wat ons ons glad nie kan voorstel nie”, het ’n voëlkundige gesê. Die vermoë om UV-lig te sien, help sekere soorte valke moontlik selfs om vleirotte te jag. Hoe so? Vleirotmannetjies, sê die tydskrif BioScience, “se urine en ontlasting, waarmee hulle hulle gebied merk, bevat chemiese stowwe wat UV absorbeer”. Voëls kan dus “gebiede identifiseer waar daar baie vleirotte is” en dan daar jag.
Waarom sien voëls so goed?
Voëls se gesigsvermoë is ’n wonder. “Die belangrikste rede hiervoor”, sê die boek All the Birds of the Bible, “is dat daar meer visuele selle in die beeldvormende weefsel aan die binnekant van die oog is as in dié van enige ander dier. Die aantal visuele selle bepaal die oog se vermoë om klein voorwerpe op ’n afstand te sien. Terwyl die retina van ’n mens se oog sowat 200 000 visuele selle per vierkante millimeter bevat, het die meeste voëls drie keer soveel, en valke, aasvoëls en arende het ’n miljoen of meer per vierkante millimeter.” Daarbenewens het party voëls ook nog twee foveae—gebiede waar beeldvorming die skerpste is—per oog, wat hulle ’n uitsonderlike sin van afstand en spoed gee. Voëls wat vlieënde insekte vang, het ook hierdie vermoë.
Voëls het ook ’n buitengewoon sagte lens waarmee hulle vinnig kan fokus. Dink net hoe gevaarlik dit sou wees om te vlieg—veral in woude en beboste gebiede—as niks duidelik sigbaar was nie. Ja, watter wysheid sien ons tog in die manier waarop voëls se oë ontwerp is!b
Die elektriese sintuig
Die scenario wat vroeër genoem is, waarby die botvis en die haai betrokke was, het werklik gedurende ’n wetenskaplike studie van haaie plaasgevind. Die navorsers wou weet of haaie en pylstertvisse die klein elektriese velde om lewende visse kan waarneem.c Om uit te vind of dit so is, het hulle elektrodes in die sand onder in die haaitenk weggesteek en ’n elektriese stroom daardeur gestuur. Wat was die gevolg? Wanneer die haai naby die elektrodes gekom het, het hy dit aangeval.
Haaie het ’n sogenoemde passiewe elektro-ontvangsvermoë; hulle neem elektriese velde waar net soos die oor klank passief hoor. Maar elektriese visse het ’n aktiewe elektro-ontvangsvermoë. Soos ’n vlermuis wat ’n akoestiese sein uitstuur en dan die eggo lees, stuur hierdie visse, afhangende van die spesie, elektriese golwe of pulse uit en dan vang hulle enige steurnisse in hierdie velde met spesiale reseptors op.d Elektriese visse kan dus hindernisse, moontlike prooi of selfs ’n maat identifiseer.
’n Ingeboude kompas
Dink net hoe nuttig dit sou wees as jou liggaam toegerus was met ’n ingeboude kompas. Jy sou nooit verdwaal nie. Wetenskaplikes het mikroskopiese magnetietkristalle, ’n natuurlike magnetiese stof, in verskillende diere, insluitende heuningbye en forelle, gevind. Die selle waarin hierdie kristalle is, is aan die senustelsel verbind. Gevolglik kan bye en forelle magnetiese velde waarneem. Trouens, bye gebruik die aarde se magnetiese veld om heuningkoeke te bou en te navigeer.
Navorsers het ook magnetiet in ’n soort bakterie gevind wat in afsaksels op die seebodem lewe. Wanneer die afsaksel versteur word, werk die aarde se magnetiese veld in op die magnetiet sodat die bakterieë hulle kan oriënteer en veilig kan terugswem na hulle tuiste op die seebodem. Anders sal hulle doodgaan.
Baie migrerende diere—insluitende voëls, seeskilpaaie, salms en walvisse—het dalk ook ’n magnetiese sintuig. Dit lyk egter of hulle nie net op hierdie sintuig staat maak nie, maar blykbaar verskeie sintuie gebruik om te navigeer. Byvoorbeeld, salms gebruik waarskynlik hulle skerp reuksin om die stroom te vind waarin hulle gebore is. Europese spreeus navigeer met behulp van die son; en party ander voëls met die sterre. Maar soos die sielkundeprofessor Howard C. Hughes in sy boek Sensory Exotica—A World Beyond Human Experience gesê het, “verstaan ons nog lank nie hierdie en ander geheime van die natuur nie”.
Ore om op trots te wees
In vergelyking met mense het baie diere ’n ongelooflike gehoorsin. Terwyl ons klanke tussen 20 en 20 000 hertz (siklusse per sekonde) kan hoor, kan honde klanke tussen 40 en 46 000 hertz en perde tussen 31 en 40 000 hertz hoor. Olifante en beeste kan selfs infrasoniese klanke (net onder die mens se gehoordrempel) van net 16 hertz hoor. Omdat lae frekwensies verder beweeg, kan olifante oor afstande van vier kilometer of meer kommunikeer. Trouens, party navorsers sê dat hierdie diere ons vroegtydig kan waarsku teen aardbewings en gevaarlike weerstoestande—wat beide infrasoniese klanke voortbring.
Insekte se gehoorvermoë strek ook oor ’n groot klankspektrum; party kan ultrasoniese klanke hoor wat meer as twee oktawe bo die mens se gehoordrempel is en ander kan infrasoniese klanke hoor. ’n Paar insekte hoor met behulp van dun, plat, oordromagtige membrane, wat op feitlik elke deel van die liggaam behalwe die kop gevind word. Ander het delikate haartjies wat nie net op klank reageer nie maar ook op die geringste bewegings in die lug, soos dié wat deur ’n mensehand veroorsaak word. Hierdie gevoeligheid verklaar waarom dit so moeilik is om ’n vlieg raak te slaan!
Dink hoe dit sou wees as jy ’n insek se voetstappe kon hoor! Dit is hoe goed die wêreld se enigste vlieënde soogdier—die vlermuis—kan hoor. Vlermuise het natuurlik gespesialiseerde gehoor nodig om in die donker te navigeer en insekte met behulp van eggo-opsporing, of sonar, te vang.e Professor Hughes sê: “Stel jou ’n sonarstelsel voor wat beter is as dié in ons mees gesofistikeerde duikbote. Stel jou nou voor dat hierdie stelsel deur ’n vlermuis gebruik word wat so klein is dat dit maklik in die palm van jou hand kan pas. Al die prosesse wat die vlermuis in staat stel om die afstand, spoed en selfs die soort insekprooi te identifiseer, vind plaas in ’n brein wat kleiner as jou duimnael is!”
Omdat presiese eggo-opsporing ook van die gehalte van die klanksein afhang, het vlermuise die “vermoë om die toonhoogte van hulle stem op maniere te beheer wat enige operasanger sou beny”, sê een naslaanwerk.f Party vlermuise kan blykbaar ook deur middel van buitengewone uitgroeisels op hulle neus klanke in ’n bepaalde rigting konsentreer. Al hierdie hulpmiddele maak hulle sonar so gesofistikeerd dat dit ’n “klankbeeld” van voorwerpe so fyn soos ’n mensehaar kan vorm!
Buiten vlermuise gebruik ten minste twee soorte voëls—windswaeltjies van Asië en Australië sowel as olievoëls van tropiese Amerika—ook eggo-opsporing. Maar dit lyk of hulle hierdie vermoë net gebruik vir navigasie in die donker grotte waar hulle slaap.
Sonar in die see
Tandwalvisse gebruik ook sonar, hoewel wetenskaplikes nog nie presies weet hoe dit werk nie. Dolfyne se sonar begin met ’n skerp klikgeluid, wat nie in die larinks nie, maar vermoedelik in die nasale stelsel voortgebring word. Die knop op ’n dolfyn se voorkop wat uit vetweefsel bestaan, konsentreer die klank sodat die dier ’n duidelike beeld van die gebied voor hom kan vorm. Hoe hoor dolfyne hulle eggo’s? Blykbaar nie met hulle ore nie, maar met hulle onderkaak en omliggende organe, wat verbind is met die middeloor. Dit is interessant dat hierdie deel dieselfde soort vet bevat as die vet in die dolfyn se voorkop.
Dolfyne se sonarklikgeluide kom verbasend ooreen met ’n wiskundige golfvorm wat ’n Gabor-funksie genoem word. Hierdie funksie, sê Hughes, bewys dat dolfyne se klikgeluide “in wiskundige terme ’n amper volmaakte sonarsein is”.
Dolfyne kan die klanksterkte van hulle sonarklikgeluide aanpas van ’n blote fluistering tot ’n oorverdowende 220 desibel. Hoe hard is dit? Wel, harde rockmusiek kan 120 desibel bereik en artillerievuur 130 desibel. Dolfyne se sonarseine is baie harder en hulle kan dus op 120 meter, en in stil water selfs verder, voorwerpe opspoor so klein soos ’n balletjie van agt sentimeter.
Word jy nie met ontsag en bewondering vervul as jy nadink oor die ongelooflike sintuie in die lewende wêreld nie? Nederige, ingeligte mense voel gewoonlik so—wat ons weer bring by die vraag oor hoe ons gemaak is. Ons sintuie lyk weliswaar soms onindrukwekkend in vergelyking met dié van sekere diere en insekte Nietemin is dit net ons wat geraak word deur wat ons in die natuur sien. Waarom het ons sulke gevoelens? En waarom probeer ons nie net om lewende dinge te verstaan nie maar ook om te begryp waarom hulle geskep is, en uit te vind wat ons plek in die skepping is?
[Voetnote]
a Daar is omtrent 100 soorte groefkopadders, insluitende mokassinslange, ratelslange en katoenbekslange.
b Lesers wat belangstel in ’n bespreking van evolusie teenoor intelligente ontwerp, kan gerus die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? lees, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
c Alle lewende diere, ook mense, bring ’n baie klein, maar waarneembare, elektriese veld voort wanneer hulle onder die water is.
d Die elektriese visse waarna ons hier verwys, wek slegs ’n baie klein elektriese lading op. Hulle moet nie verwar word met elektriese visse wat baie hoër stroomspannings opwek nie, soos sidderrôe en -ale (elektriese pylstertvisse en palings), wat hulle vyande en prooi skok. Sidderale kan selfs ’n perd doodskok!
e Die vlermuisfamilie bestaan uit ongeveer 1 000 spesies. In teenstelling met wat baie mense dink, het hulle almal goeie sig, maar nie almal gebruik eggo-opsporing nie. Party, soos vrugtevlermuise, gebruik hulle uitstekende nagsig om kos te vind.
f Vlermuise stuur ’n komplekse sein uit met ’n aantal frekwensiekomponente wat wissel van 20 000 tot 120 000 hertz of hoër.
[Venster/Prente op bladsy 9]
Insekte pas op!
“Elke dag net voor sononder vind iets merkwaardigs onder die golwende heuwels naby San Antonio, Texas [VSA], plaas”, sê die boek Sensory Exotica—A World Beyond Human Experience. “Op ’n afstand sal jy dalk dink dat jy ’n enorme swart wolk sien wat uit die dieptes van die aarde uitborrel. Maar dit is nie ’n rookwolk wat die skemerlug donker maak nie, maar die massa-uittog van 20 miljoen Mexikaanse bulvlermuis uit die dieptes van die Bracken-grot.”
Volgens ’n onlangser skatting is daar sowat 60 miljoen vlermuise wat uit die Bracken-grot uitvlieg. Hulle vlieg tot 3 000 meter hoog in die aandlug, waar hulle jag maak op hulle gunstelingkos, insekte. Hoewel die aandlug gevul moet wees met ’n roesemoes van ultrasoniese vlermuisstemme, is daar geen verwarring nie, want elkeen van hierdie unieke soogdiere is toegerus met ’n hoogs gesofistikeerde stelsel om sy eie eggo’s op te vang.
[Prent]
Bracken-grot
[Erkenning]
Courtesy Lise Hogan
[Prent]
Mexikaanse bulvlermuis—sonar
[Erkenning]
© Merlin D. Tuttle, Bat Conservation International, Inc.
[Prent op bladsy 7]
Heuningbye—sig en magnetiese sintuie
[Prent op bladsy 7]
Lammervanger—sig
[Prent op bladsy 7]
Rog—elektriese sintuig
[Prent op bladsy 7]
Haai—elektriese sintuig
[Prent op bladsy 7]
Spreeus—sig
[Prent op bladsy 7]
Salm—reuk
[Erkenning]
U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C.
[Prent op bladsy 7]
Seeskilpad—moontlik magnetiese sintuig
[Prent op bladsy 8]
Olifant—laefrekwensiegehoor
[Prent op bladsy 8]
Hond—hoëfrekwensiegehoor
[Prent op bladsy 9]
Dolfyne—sonar