Spesiale gawes wat ons uniek maak
‘Die wetenskaplike bestudeer die natuur omdat hy genot daaruit put, en hy put genot daaruit omdat dit pragtig is.’—JULES-HENRI POINCARÉ, ’N FRANSE WETENSKAPLIKE EN WISKUNDIGE (1854-1912).
POINCARÉ het ’n diepe waardering gehad vir die prag van die sigbare wêreld, veral “daardie dieperliggende prag” van harmonie en orde wat by wetenskaplikes byval vind. Maar ’n mens hoef nie ’n wetenskaplike te wees om die prag en orde om ons te waardeer nie. Ongeveer 3 000 jaar gelede is die psalmis Dawid diep getref deur die ontwerp in die skepping—veral die ontwerp van die menseliggaam. Hy het derhalwe gebid: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet.”—Psalm 139:14.
Sulke gevoelens van bewondering en ontsag is eie aan die mens; dit is iets wat nie eers die intelligentste dier ooit sal kan ervaar nie. Maar ons belangstelling in die sigbare wêreld gaan selfs verder as dit. Denkende mense van alle ouderdomme het al gevra: Wat is die oorsprong van die merkwaardige ontwerp van lewende dinge? Waarom bestaan lewende dinge in die eerste plek? En waar pas ons in alles in? Die wetenskap en selfondersoek kan nie hierdie vrae beantwoord nie. Maar die Bybel, wat deur God geïnspireer is, gee wel bevredigende antwoorde.—2 Petrus 1:20, 21.
Hierdie eeue oue heilige boek verduidelik dat ons unieke menslike eienskappe het omdat ons “na God se beeld” geskep is—wat beteken dat ons ons Skepper se persoonlikheidseienskappe kan weerspieël (al is dit tot ’n mindere mate) (Genesis 1:27). Hoewel ons dus nie die oë van ’n arend het nie, kan ons versiende wysheid aan die dag lê. Ons gehoor kan dalk nie met ’n vlermuis s’n vergelyk nie, maar ons geniet dit om te gesels en na musiek en die aangename klanke van die natuur te luister. En hoewel ons nie ’n ingeboude kompas het nie, kry ons die heel beste raad vir die lewe as ons ons na God se Woord, die Heilige Bybel, wend.—Spreuke 3:5, 6.
Die feit dat ons na God se beeld geskep is, verklaar ook waarom net ons ’n geestelike behoefte het. “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie,” het Jesus gesê, “maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). Voed jy jou gereeld met hierdie verkwikkende woorde deur die Bybel te lees?
Wanneer ons geestelikheid deur God se Woord gevoed word, kan ons ’n begrip van sake kry wat ons nooit deur net ons fisiese sintuie sou kon kry nie. Hoe so? Deurdat ons geloof opgebou word. Ware geloof wat op die Bybel gebaseer is, stel ons in staat om die onsigbare God te “sien”—soos Moses gedoen het—en ook om Sy voorneme vir die toekoms te onderskei.—Hebreërs 11:1, 27.
’n Wonderlike toekoms vir diegene wat God “sien”
Die Bybel leer ons dat die Skepper, Jehovah God, lief is vir die aarde en al die lewende dinge daarop, veral godvresende mense. Gevolglik belowe hy om alle goddelose mense te vernietig, insluitende die hebsugtiges wat die ‘aarde verderf’ (Openbaring 11:18; Psalm 37:10, 11; 2 Tessalonisense 1:8). Daarna sal hy ewige lewe gee aan mense wat hom liefhet en gehoorsaam. Daarbenewens sal hulle help om die hele planeet in ’n paradys te omskep wat wemel van lewe. Wat ’n wonderlike vooruitsig!—Lukas 23:43.
Stel jou voor wat jy sal kan doen en ontdek wanneer jy eindelose lewe en blakende gesondheid geniet! “Die natuur”, het ’n wetenskaplike geskryf, “sal tot in alle ewigheid ’n onuitputlike bron van nuwe dinge, rykdom en skoonheid bly.” Die Bybel stel dit so: “Alles het [God] mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.”—Prediker 3:11.
Hoe kan jy deel wees van die Paradys wat in die Bybel beskryf word? Deur nou oor God se voorneme te leer en in ooreenstemming daarmee op te tree. “Dít beteken die ewige lewe,” het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
[Prent op bladsy 10]
Gebruik jou sintuie om waardering vir die Skepper op te bou
[Prent op bladsy 11]
Die beste manier om jou Skepper te leer ken, is om die Bybel te lees