Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 3/8 bl. 25-27
  • Die eensame “dame” van die Bosporus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die eensame “dame” van die Bosporus
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë geskiedenis van die eiland
  • Hoe het die toring behoue gebly?
  • Haar veranderende rol
  • Die Maagdetoring vandag
  • Die Toring van Londen—’n Historiese herinnering aan ’n stormagtige verlede
    Ontwaak!—2004
  • Ware liefde is seëvierend!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Mense bou ’n groot toring
    My boek met Bybelverhale
Ontwaak!—2003
g03 3/8 bl. 25-27

Die eensame “dame” van die Bosporus

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TURKYE

SOOS ’n moeder wat by die ingang van haar huis vir haar geliefdes staan en wag om terug te keer, het sy honderde jare lank eensaam en verlate by die plek gestaan waar die Straat van Bosporus en die See van Marmara ontmoet. (Sien kaart.) Die snelvloeiende seestrome laat die golwe wat teen die rotse slaan soos fyn kant om die some van haar romp lyk. Vanuit haar uitkykpunt was hierdie “dame”—die Maagdetoring—’n swygende getuie van die verloop van die geskiedenis.

Deur die eeue heen het sy toegekyk hoe skepe vergaan, roofsugtige leërs strooptogte uitvoer in bloedige konflikte en die adellikes hulleself vermaak. Ja, wanneer die naam Istanboel genoem word, dink baie mense heel eerste aan hierdie toring, wat so simbolies van die ou stad is.

Dit is moeilik om die bekoring te beskryf wat die toring vir soveel mense het. Elke aand as dit skemer word, is daar iemand aan die Asiatiese kant wat oor die water na die Maagdetoring staar, met die silhoeët van die stad Istanboel in die agtergrond. Miskien is dit ’n ou man wat terugdink aan sy lewe of ’n jong man—vol hoop—wat droom oor wat die toekoms vir hom inhou. Of miskien dink ’n vrou wat haar geliefdes verloor het, dat die toring so eensaam lyk soos sy voel. Die Turkse digter Sunay Akın, wat dikwels in sy werke in vervoering raak oor die toring, het eenkeer gesê: “Die slegste uitsig oor Istanboel is vanaf die Maagdetoring, want dan kan jy nie die prag van die Maagdetoring sien nie.”

Dit is nie maklik om die geskiedenis van die toring na te speur nie. Trouens, hoe meer ’n mens in die verlede van hierdie “dame” van die Bosporus delf, hoe meer lyk dit of haar geskiedenis in die newels van tradisie en legende versluier is.

Vroeë geskiedenis van die eiland

Die vroegste bekende feite hou nie verband met die toring nie, maar eerder met die rotse waarop dit gebou is. In 411 v.G.J., gedurende die oorloë tussen Atene en Sparta, het Bisantium (nou Istanboel) die kant van die Spartane gekies. Die Europese kant van die Bosporus het dus onder Sparta se beheer gekom en die Asiatiese kant onder Atene s’n. Uiteindelik het Sparta die oorlog teen Atene verloor, maar vir eers het Atene nie verder teen Bisantium opgetree nie en verkies om eerder beheer van die Straat van Bosporus oor te neem en munt te slaan uit die belasting wat gehef is op skepe wat daardeur gevaar het. Vermoedelik het die Ateense generaal en politikus Alkibiades ’n belastingstasie op die rotse gebou. Daar is egter geen melding van ’n toring gedurende daardie tyd nie.

’n Paar jaar later het Bisantium self onder die gesag van Atene gekom. Uit vrees vir die bedreiging wat koning Filippus II van Masedonië ingehou het, het Atene 40 oorlogsgaleie na Bisantium gestuur om sy posisie daar te versterk. Admiraal Hares, die bevelvoerder van die vloot, is deur sy vrou vergesel, maar sy het later siek geword en in Chrusopolis (Üsküdar) gesterf. Admiraal Hares het ’n altaar vir haar gebou, en volgens legende is dit op die rotsagtige eilandjie opgerig waar die Maagdetoring later gebou is.

Hoe het die toring behoue gebly?

Die eerste keer dat iets soos ’n toring op die rotse gebou is, was volgens The Book of the Maiden’s Tower gedurende die bewind van Manuel I Comnenus (1143-80), toe ’n klein gebou wat soos ’n vesting gelyk het en met kanonne bewapen was, daar opgerig is.

Ná Istanboel in 1453 verower is, het die klein vesting behoue gebly en is dit nog steeds vir militêre doeleindes gebruik. Later is ’n ligtoring van hout bygevoeg, wat oor die See van Marmara uitgekyk het. Ná die verowering van Istanboel het die toring toegekyk terwyl nog bladsye van die mensegeskiedenis in bloed geskryf is—oorlogskepe in die Bosporus het teen mekaar opgetrek en soldate het swaardgevegte gevoer. Vragskepe vol buskruit en enigiets wat sou brand, is as wapens in hierdie aanvalle gebruik.

Deur die jare heen het die toring vernietigende aardbewings en brande getrotseer, totdat dit uiteindelik in 1720 feitlik afgebrand het. Damat Ibrahim Pasja het die toring toe met klip herbou en ’n loodbedekte toringspits met baie vensters bygevoeg. In 1829 is die toring gedurende ’n cholera-epidemie as ’n kwarantynhospitaal gebruik. Kort daarna in 1832 is die laaste groot herstelwerk gedurende die bewind van Mahmud II gedoen. In 1857 het die Ligtoringraad beheer oor die toring oorgeneem, en ’n Franse maatskappy is aangestel om dit in ’n werkende ligtoring te verander, wat in 1920 ten volle geoutomatiseer is. Die toring is byna ’n honderd jaar lank as ’n ligtoring gebruik.

Gedurende Ottomaanse tye is die toring hoofsaaklik in die nag as ’n ligtoring gebruik om rigting aan te dui; maar dit is ook in die dag gebruik wanneer dit mistig was. In stormagtige weer is klein bootjies by die toring vasgemaak sodat dit nie deur die golwe weggespoel is nie. Gedurende amptelike vieringe is kanonne van die toring afgevuur.

Van tyd tot tyd het die Ottomaanse Paleis die toring vir ’n heel ander doel gebruik. Staatsamptenare wat in ballingskap weggestuur of tereggestel sou word, is in die toring aangehou voordat hulle op hulle lang reis vertrek het of die doodstraf voltrek is.

Haar veranderende rol

Ná 1923 is die toring nie meer vir amptelike doeleindes gebruik nie, en dit het slegs as ’n ligtoring gedien. Gedurende die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog is die toring herstel en is die interne struktuur met beton versterk. Ná 1965, toe die toring aan die vloot oorgegee is, is dit ’n ruk lank as ’n militêre kommunikasiesentrum gebruik. Daarna, gedurende die laaste helfte van die 20ste eeu het internasionale seeverkeer deur die Bosporus toegeneem, met meer en groter skepe wat deur die seestraat gevaar het. Met die koms van die groot skepe het die era van eensame stilte vir die Maagdetoring geëindig. Ná 1983 is die toring deur die Turkse See-owerheid as ’n kontrolepunt gebruik om die verkeersvloei deur die seestraat te rig.

Vroeg in 1989 het ’n buitengewone nuusberig weer eens die aandag op die “dame” van die Bosporus gevestig. “Maagdetoring vergiftig”, was die opskrif van ’n berig, wat gesê het dat sianied, wat in skeepswerwe vir plaagbeheer op skepe gebruik is, in die toring geberg word. Die dodelike gif is voorheen in ’n gebou by die hawe gestoor wat kort tevore gesloop is, en dit is in die toring geberg “omdat daar geen ander plek was om dit te hou nie”. Die eensame “dame” van die Bosporus is sodoende vergiftig. En nog ernstiger, het die berig gesê, as daardie sianiedgas ontplof het, kon dit ’n ramp in Istanboel afgegee het. Nadat dit agt maande lank in die pers en op televisie in die kollig was, is die probleem uiteindelik opgelos toe die houers met sianied verskuif is.

Dit het niemand verbaas nie toe ’n groep jong digters in Mei 1992 na die Maagdetoring gegaan het en, met die ondersteuning van die burgemeester, aangekondig het dat hulle wou hê dat die verwaarloosde toring in ’n kultuursentrum omskep moes word. Dit was immers honderde jare lank ’n inspirasie vir talle digters en skrywers. Daarna was die toring ’n ruk lank vol lewe, met kuns- en foto-uitstallings, en ’n aantal konserte is daar gehou. Vir hierdie tydjie is die toring ’n “republiek van die poësie” verklaar.

Die Maagdetoring vandag

Met die doel om die toring vir besoekers oop te stel, is omvattende herstelwerk in 1999 gedoen. Toe dit voltooi is, is ’n aankondiging gemaak dat dit ’n jaar later as deel van ’n toerismeprojek as ’n restaurant en kultuursentrum oopgestel sou word. Vandag is daar ’n restaurant, ’n koffiehuis en kroeg, ’n uitkykplatform en ’n aandenkingswinkel wat oop is vir besoekers en toeriste. Klein bootjies bring mense van verskeie opklimplekke om Istanboel hiernatoe.

Baie mense het weliswaar nie hierdie kommersiële opknappingswerk verwelkom nie, maar die Maagdetoring het min, indien enige, van haar bekoring verloor. As jy ooit Istanboel besoek, moet jy beslis na die Maagdetoring gaan. Jy sal dit dalk geniet om in een van die talle teetuine aan die Asiatiese kant van Istanboel te sit, vanwaar jy die pragtige uitsig oor die Bosporus en die Maagdetoring kan bewonder. Miskien kan jy dan, net vir ’n oomblik of twee, terugdink aan die lang geskiedenis van hierdie waardige “dame” van die Bosporus.

[Kaarte op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

TURKYE

ISTANBOEL

SEE VAN MARMARA

Straat van Bosporus

SWART SEE

[Prent op bladsy 25]

Lito-afdruk, 19de eeu

[Prent op bladsy 26]

Restaurant

[Prent op bladsy 26]

Uitkykplatform

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel