Ons beskou die wêreld
Ysbere op ‘dun ys’
“Die ysbeer se bestaan word ernstig bedreig deur klimaatsverwarming”, sê Duitsland se Nassauische Neue Presse in ’n berig oor ’n studie deur die Wêreld-natuurfonds (WWF). Volgens die WWF krimp die Arktiese see-ys, of pakys—die vernaamste habitat en jagveld van ysbere—as gevolg van warmer weer. Kenners sê dat die gemiddelde lugtemperatuur oor die Noordpoolstreek “gedurende die laaste 100 jaar met 5 grade [Celsius] gestyg het”. Wat meer is, “pakys het oor die laaste 20 jaar met 6 persent verminder”, en “teen die jaar 2050 kan daar verwag word dat see-ys in die somer met 60 persent sal afneem”. Minder see-ys en langer yslose tye gee die ysbere minder geleentheid om te jag en die nodige vetreserwes op te bou. Dragtige wyfies en welpies kry die swaarste. In party gebiede “oorleef minder as die helfte van alle welpies die langer yslose tye”, berig die koerant. Ander gevare wat die bere bedreig, is “jagtery, giftige chemiese stowwe en oliebesoedeling”.
Bloekombome versteur selfoonseine
“In baie dele van [die staat Nieu-Suid-Wallis] is selfoontorings baie minder doeltreffend as dié in Europa en die Verenigde State”, sê die Australiese koerant Sydney Morning Herald. Dit is veral ’n probleem langs die Murrayrivier in die suide van die staat. Hoewel die gebied redelik gelyk is, “is dit daarvoor bekend dat oproepe afgesny word of nooit eers begin nie”. Volgens die verslag is “die digte groepe rooibloekoms wat langs die Murrayrivier groei”, blykbaar daarvoor verantwoordelik. Roger Bamber, ’n direkteur van ’n telekommunikasiemaatskappy, “meen dat daar iets omtrent die vorm, grootte en voginhoud van bloekomblare is wat veroorsaak dat dit die radiofrekwensieseine van selfone baie beter kan absorbeer as die blare van ander bome”, sê die Herald.
Bloedoortappings kan longe beskadig
“Mense wat bloedprodukte ontvang, veral produkte wat plasma bevat, loop gevaar om oortappingsverwante akute longbeserings (TRALI) op te doen”, sê FDA Consumer, ’n tydskrif van die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad. Hierdie toestand kan tot die dood lei as dit nie geïdentifiseer en reg behandel word nie. “TRALI kan voorkom wanneer witbloedselteenliggaampies in die skenker se bloed ’n reaksie het met die ontvanger se witbloedselle; dit veroorsaak ’n verandering in die longweefsel wat vog na die longe deurlaat. Die meeste skenkers wie se bloed tot TRALI-reaksies gelei het, is vroue met meer as twee kinders of skenkers wat al baie oortappings gehad het.” Die simptome “sluit koors, kortasemigheid en ’n daling in bloeddruk in. Op x-strale lyk die ontvanger [van die oortapping] se longe dikwels heeltemal wit.”
Vergiftigde bye
“Sal ons tien jaar van nou af enige Franse heuning kan eet?” vra die Franse nuustydskrif Marianne. Miljoene bye gaan elke lente dood van vergiftiging, met die gevolg dat die landwye produksie van heuning van 45 000 ton in 1989 tot 16 000 ton in 2000 afgeneem het. ’n Byeboer het in een week al 450 van sy byekorwe—22 miljoen bye—verloor! Baie heuningboere blameer chemiese stowwe wat in die landbou gebruik word, soos insekdoders, veral die goedkoper en giftiger produkte wat onwettig ingevoer word. Party boere het selfs ou motorolie of bleikmiddel by hulle plaagdoders gevoeg om dit beter te laat werk! As niks hieromtrent gedoen word nie, “bestaan die gevaar dat Franse heuning bloot ’n legende sal word”, sê Marianne.
Kinders onseker oor die dood
“Dink jy dat iemand wat dood is, weer lewend gemaak kan word?” Professor Hirosji Nakamoera van Japan se Vroue-universiteit het hierdie vraag aan 372 leerlinge in die hoër grade van die laerskool gestel. ’n Derde het ja geantwoord en nog ’n derde was onseker, berig die koerant Sankei Sjimboen van Tokio. “Hierdie beskouing van die dood kom dalk van rekenaarspeletjies waarin ’n mens net die terugstelknoppie hoef te druk om weer voor te begin, selfs al het die held gesterf”, sê die koerant. Volgens die professor toon die opname “dat baie leerlinge selfs in die hoër grade van die laerskool ’n verkeerde begrip het van wat die dood werklik beteken”. Hy stel voor dat ouers hulle kinders oor die dood leer deur hulle bloot te stel aan die dood van troeteldiere en hulle sterwende familielede te laat besoek.
Europa polio-vry verklaar
Vir die 870 miljoen mense van die Europese Streek is die verklaring in Junie 2002 dat die streek polio-vry is “die nuwe millennium se belangrikste mylpaal op die gebied van openbare gesondheid”, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. Die Europese Streek, wat uit 51 lidstate bestaan, “is al meer as drie jaar lank vry van inheemse poliomiëlitis”. Dit is die resultaat van ’n 14 jaar lange projek om polio uit te wis deur gekoördineerde nasionale immuniseringsveldtogte. Die siekte is reeds in die Amerikas en die eilande in die westelike Stille Oseaan uitgewis. Polio, wat hoogs aansteeklik is en tot algehele verlamming en selfs die dood kan lei, word veroorsaak deur ’n virus wat die senustelsel aanval. Tans kan dit voorkom maar nie genees word nie.
Kritieke watertekort
“Tensy daar dringend opgetree word, sal meer as die helfte van die wêreldbevolking teen 2032 deur watertekorte geraak word, wat ernstige gesondheidsprobleme sal veroorsaak”, sê BMJ (voorheen British Medical Journal). ’n Studie deur die Verenigde Nasies het bevind dat die aantal mense wat veiliger water geniet “toegeneem het van 4,1 miljard in 1990 tot 4,9 miljard in 2000, [maar] dat 1,1 miljard mense in die ontwikkelende wêreld nog steeds nie toegang tot veilige drinkwater het nie. Altesaam 2,4 miljard mense het tans nie geskikte sanitêre geriewe nie.” Dit lei “jaarliks tot viermiljard gevalle van diarree en 2,2 miljoen sterftes”, om nie eers te praat van die lyding wat veroorsaak word deur ingewandswurms, bilharzia en tragoom nie.
Plaasvervanger vir vel
Die vel is die grootste orgaan in die liggaam en is die liggaam se eerste verdediging teen siektedraende organismes, ontwatering en hipotermie. Daarom verkeer mense met brandwonde en suikersiektelyers met oop sere in groot gevaar. Vel van mensekadawers word dikwels as ’n plaasvervanger gebruik, maar dit is nie geredelik beskikbaar nie. Ander nadele is dat veloorplantings siektes kan oordra en dat dit deur die liggaam verwerp kan word. The News van Mexikostad berig dat biomateriaal uit die dunderm van varke met welslae as weefseloorplantings gebruik word op pasiënte met wonde wat nie genees nie. Interessant genoeg is die deel van die varkderm wat gebruik word, die dundermonderslymvlies, baie soortgelyk aan mensvel en is dit volop. Rekonstruktiewe chirurg Jorge Olivares, wat eksperimente doen met hierdie plaasvervanger vir vel, sê: “Die pasiënte wat ek behandel het, het byna geen littekens nie, en die wonde genees gewoonlik binne ’n paar weke. Die grootste voordeel is dat die pasiënte byna onmiddellike verligting kry van hulle pyn en ontsteking.”
Vier maande op die oop see
Tauaea Raioaoa, ’n 56-jarige visserman, het vier maande lank op die Stille Suidsee gedryf, sê ’n berig in die Tahitiaanse koerant Les Nouvelles de Tahiti. Hy het Tahiti op 15 Maart 2002 verlaat “aan boord van sy [agt meter] lange groen boot, met die naam ‘Tehapiti’, maar ’n ent van die kus van Tahiti af het die motor onklaar geraak”. Nadat hy ongeveer 1 200 kilometer gedryf het, is hy op 10 Julie naby Aitutaki, een van die Cook-eilande, opgetel. Hy het meer as 20 kilogram ligter geweeg as toe hy vertrek het. Raioaoa, ’n gesoute en vindingryke visserman, het aan die lewe gebly “deur rou of gedroogde vis te eet en reënwater in ’n emmer en yshouer op te vang”.