Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 6/8 bl. 7-9
  • Veranderde waardes—Voel jy die verlies?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Veranderde waardes—Voel jy die verlies?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Regerings moet die voorbeeld stel
  • Koning Salomo se goeie voorbeeld
  • Koning Salomo se slegte voorbeeld
  • Die hedendaagse gebrek aan vertroue
  • Die wysheid van Salomo
    Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
  • Is hy ’n goeie voorbeeld vir jou of ’n waarskuwing?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ’N Regering wat Goddelike waardes sal handhaaf
    Ontwaak!—2003
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 6/8 bl. 7-9

Veranderde waardes—Voel jy die verlies?

“WAT is die grootste probleem waarvoor die land te staan kom?” Toe hierdie vraag aan respondente in die Verenigde State gestel is, het die meeste gesê dat die verval van gesins- en sedelike waardes vir hulle boaan of amper boaan die lys van bekommernisse was. Hulle is nie die enigstes wat so voel nie.

Die Paryse dagblad International Herald Tribune het byvoorbeeld gesê: “Daar is ’n duidelik merkbare hunkering, veral onder die jeug, na die een of ander soort verenigende toekomsblik, ’n stel erkende ideale waardeur die oorsake van hebsug, selfsug en ’n verlies aan gemeenskapsgevoel, wat lyk asof dit die wêreld oorneem, aangespreek en onder beheer gebring kan word. . . . Hierdie hewige debat oor die behoefte aan ’n wêreldetiek is ’n erkenning van die feit dat iets ontbreek.”

Dink jy dat regerings en wêreldleiers, insluitende sakeleiers, die nodige waardes het om ons na ’n gelukkiger, veiliger toekoms te lei? Voel jy, ten minste in ’n sekere mate, ’n verlies weens die veranderende waardes wat jy om jou sien?

Iets waaroor jy dalk baie besorg is, is jou persoonlike veiligheid. Woon jy in ’n gebied waar dit veilig is om jou huis oop te los? Voel jy gerus om saans in die strate van jou buurt rond te loop? As jy gelukkig genoeg is om in ’n gebied te woon waar daar nie oorlog, etniese onrus of noodlottige bendegevegte is nie, is jy dalk nog steeds bang dat jy die slagoffer van ’n aanval, aanranding, huisbraak of diefstal sal wees. Dit is te verstane dat dit tot angs en ’n gevoel van verlies kan lei.

Daarbenewens het jy dalk—ten minste in ’n sekere mate—die vertroue in ander verloor wat jy vroeër gehad het. Miskien het jy deur ondervinding, in jou beroeps- sowel as persoonlike lewe, gesien dat mense al hoe meer geneig is om jou kwaad aan te doen as dit hulle belange, selfs net in die geringste mate, bevorder.

Regerings moet die voorbeeld stel

Deur die geskiedenis heen is erken dat daar ’n noue verband is tussen die persoonlike waardes van ’n gemeenskap en die waardes waarvolgens die regering handel. Calvin Coolidge, wat later as president van die Verenigde State gedien het, het gesê: “Mense praat van natuurregte, maar ek daag enigiemand uit om te toon waar in die natuur enige regte ooit bestaan het of erken is voordat daar vir die verklaring en beskerming daarvan ’n behoorlik uitgevaardigde versameling ooreenstemmende wette gemaak is.”

Dit is uiteindelik die heersende regering—ongeag hoe dit aan bewind gekom het—wat burgerregte kan bevorder of verhinder, regte soos persvryheid, vryheid om te vergader, godsdiensvryheid en vryheid van spraak, om vry te wees van onwettige inhegtenisneming of teistering en om ’n billike verhoor te hê.

Abraham Lincoln, wat later die president van die Verenigde State geword het, het eenkeer gesê: “Die regmatige oogmerk van ’n regering is om vir ’n gemeenskap van mense te doen wat ook al gedoen moet word, maar wat hulle—in hulle afsonderlike en persoonlike hoedanigheid—glad nie of nie behoorlik vir hulleself kan doen nie.” Wanneer regerings werk om sulke edele doelwitte te bereik, is mense geneig om diegene te vertrou wat aan die bewind is.

Vandag lyk dit egter of sinisme en agterdog sulke vertroue vervang het. Volgens ’n onlangse studie in die Verenigde State het 68 persent van diegene wat ondervra is, gesê dat federale amptenare se etiese gebruike net gemiddeld of selfs swak is. In baie lande is staatsamptenare se openbare beeld groot skade berokken deur omkoopskandale en korrupsie op die hoogste vlak. Dit is te verstane dat dit by al hoe meer mense tot ’n gevoel van verlies gelei het.

Koning Salomo se goeie voorbeeld

’n Eertydse voorbeeld lig toe watter impak die waardes van heersers kan hê. Koning Salomo het van 1037 tot 998 v.G.J. oor die 12 stamme van Israel geheers. Sy vader, koning Dawid, was een van Israel se uitstaande konings. Die Bybel beeld Dawid uit as ’n liefhebber van waarheid en regverdigheid en bowenal as ’n man wat volle vertroue in sy God, Jehovah, gestel het. Dawid het dieselfde waardes aan Salomo oorgedra.

Die almagtige God het in ’n droom aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Vra! Wat moet ek jou gee?” (2 Kronieke 1:7). Salomo het nie groot rykdom, persoonlike aansien of politieke oorwinnings gevra nie, maar het getoon watter waardes vir hom kosbaar was deur wysheid, insig en ’n gehoorsame hart te vra sodat hy ’n goeie heerser oor die nasie Israel kon wees.

Watter uitwerking het Salomo se heerskappy op die mense gehad? God het hom met wysheid, aansien en persoonlike rykdom geseën—solank hy getrou gebly het aan die nasie se geestelike waardes. Argeologiese vondste getuig van die materiële voorspoed van Salomo se heerskappy. Die boek The Archaeology of the Land of Israel sê: “Die rykdom wat uit alle oorde in die koninklike hof ingestroom het, en die florerende handel . . . het ’n vinnige en merkbare omwenteling in elke faset van materiële ontwikkeling meegebring.”

Ja, die goeie heerskappy van Salomo het vrede, veiligheid en geluk vir sy onderdane beteken. “Juda en Israel het in veiligheid gewoon, elkeen onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo.”—1 Konings 4:20, 25.

Koning Salomo se slegte voorbeeld

Maar soos dit vandag die geval met die waardes van soveel leiers is, het Salomo se waardes ongelukkig later verander. Die Bybelverslag sê: “Hy het sewehonderd vrouens gehad, vorstinne, en driehonderd byvrouens; en sy vrouens het sy hart geleidelik laat afwyk. En toe Salomo oud word, het sy vrouens sy hart laat afwyk om ander gode te volg; en sy hart was nie volkome met Jehovah sy God soos die hart van sy vader Dawid nie.”—1 Konings 11:3, 4.

Watter uitwerking het koning Salomo se veranderde waardes op sy volk gehad? Al was Salomo baie bekwaam en wys, het hy gedurende die laaste deel van sy heerskappy ’n onderdrukkende heerser geword. Die groot uitgawes van sy regering het ’n geweldige las op die ekonomie van die land geplaas. Die arbeidsmag het ontevrede geraak. Politieke mededingers het die koning teëgestaan en sy koningskap probeer oorneem. Die nasie het sy gevoel van eenheid grotendeels verloor. Hoe ironies is dit tog dat Salomo self geskryf het: “Wanneer die regverdiges baie word, is die volk bly; maar wanneer ’n goddelose heers, sug die volk.”—Spreuke 29:2.

Kort ná Salomo se dood het politieke onrus en wantroue daartoe gelei dat die nasie verdeel is en het ’n tydperk van teëspoed, onenigheid en agteruitgang gevolg. Die Israeliete het ’n oorweldigende verlies gevoel. Hulle regering het sy waardes verander en nie meer die volk se belange op die hart gedra nie. Die eintlike probleem was dat hulle leiers Jehovah en sy wette geïgnoreer het. Die hele nasie het dus daaronder gely.

Die hedendaagse gebrek aan vertroue

Vandag skenk baie in regerings-, sake- en godsdienskringe min aandag aan die handhawing van hoë waardes. En dit het gelei tot ’n gevoel van verlies in die verstande en harte van die bevolking oor die algemeen. Regerings en ander leiers is al hoe minder in staat om hulle land se basiese probleme op te los.

Hulle kon byvoorbeeld nie ’n einde aan oorlog maak, keer dat die koste van gesondheidsorg styg of die slegte gevolge van die onwettige dwelmhandel teëwerk nie. En onderwysstelsels het ook agteruitgegaan. ’n Aantal regerings borg selfs georganiseerde dobbelary. Talle sake- en godsdiensleiers het mense eweneens heeltemal ontnugter omdat hulle korrup en onsedelik is. Dit is geen wonder nie dat daar ’n algemene gebrek aan vertroue is in die integriteit van diegene na wie mense kyk vir leierskap.

Is dit vir enige regering moontlik om basiese menseregte en waardes te beskerm en selfs die voorbeeld daarin te stel om dit te handhaaf? Ja, dit is moontlik. Ons laaste artikel sal verduidelik hoe.

[Lokteks op bladsy 7]

‘Dit lyk asof hebsug, selfsug en ’n verlies aan gemeenskapsgevoel die wêreld oorneem.’—INTERNATIONAL HERALD TRIBUNE

[Prente op bladsy 8]

Toe koning Salomo God se wette gehoorsaam het, het hy hoë waardes aan sy onderdane oorgedra

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel